Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 59

Hoekom Dawid moet vlug

Hoekom Dawid moet vlug

NADAT Dawid vir Goʹliat doodgemaak het, bring Abner, die hoof van Israel se leër, hom na Saul toe. Saul is baie tevrede met Dawid. Hy gee hom ’n belangrike posisie in sy leër en laat hom in die koning se huis woon.

Later, wanneer die leër terugkom ná ’n geveg teen die Filistyne, sing die vroue: ‘Saul het duisende doodgemaak, maar Dawid tienduisende.’ Dit maak Saul jaloers, want hulle gee meer eer aan Dawid as aan Saul. Maar Saul se seun Joʹnatan is nie jaloers nie. Hy is baie lief vir Dawid, en Dawid is ook lief vir Jonatan. Daarom belowe die twee mekaar dat hulle altyd vriende sal wees.

Dawid kan baie goed op die harp speel, en Saul hou van die musiek wat hy speel. Maar eendag laat Saul se jaloesie hom iets verskrikliks doen. Terwyl Dawid op die harp speel, vat Saul sy spies en gooi dit terwyl hy sê: ‘Ek sal Dawid teen die muur vaspen!’ Maar Dawid koes en die spies mis hom. Later gooi Saul Dawid weer met sy spies mis. Dawid weet nou dat hy baie versigtig moet wees.

Onthou jy die belofte wat Saul gemaak het? Hy het belowe dat hy vir die man wat Goʹliat doodmaak, sy dogter sal gee om mee te trou. Saul sê uiteindelik vir Dawid dat hy sy dogter Migal kan kry, maar hy moet eers 100 Filistyne doodmaak. Dink net daaraan! Saul hoop eintlik dat die Filistyne vir Dawid sal doodmaak. Maar dit gebeur nie, en Saul gee toe maar sy dogter om Dawid se vrou te wees.

Eendag sê Saul vir Joʹnatan en al sy knegte dat hy Dawid wil doodmaak. Maar Joʹnatan sê vir sy pa: ‘Moenie iets slegs aan Dawid doen nie. Hy het nog nooit teen u gesondig nie. Alles wat hy gedoen het, was eerder vir u ’n groot hulp. Hy het sy lewe gewaag toe hy Goʹliat doodgemaak het, en toe u dit gesien het, was u bly.’

Saul luister na sy seun, en hy belowe om niks slegs aan Dawid te doen nie. Dawid word teruggebring, en hy dien Saul weer in sy huis net soos vroeër. Maar eendag terwyl Dawid musiek speel, gooi Saul weer sy spies na Dawid. Dawid koes, en die spies tref die muur. Dit is die derde keer! Dawid weet nou dat hy moet vlug!

Daardie nag gaan Dawid na sy eie huis toe. Maar Saul stuur ’n paar mans om hom dood te maak. Migal weet wat haar pa beplan. Daarom sê sy vir haar man: ‘As jy nie vannag vlug nie, sal jy môre dood wees.’ Daardie nag help Migal vir Dawid om deur ’n venster te ontsnap. Omtrent sewe jaar lank moet Dawid in die een plek na die ander wegkruip sodat Saul hom nie in die hande kan kry nie.