Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 79

Daniël in die leeukuil

Daniël in die leeukuil

O AARDE! Dit lyk of Daniël in groot moeilikheid is. Maar die leeus maak hom nie seer nie! Weet jy hoekom nie? Wie het Daniël hier by al hierdie leeus gesit? Kom ons vind uit.

Die koning van Babilon is nou ’n man met die naam Dariʹus. Hy hou baie van Daniël omdat Daniël so goed en wys is. Dariʹus stel Daniël as ’n belangrike heerser in sy koninkryk aan. Dit maak ander mans in die koninkryk jaloers op Daniël.

Daarom gaan hulle na Dariʹus toe en sê: ‘Ons wil hê, o koning, dat u ’n wet moet maak wat sê dat niemand 30 dae lank tot enige god of mens behalwe u, o koning, mag bid nie. As enigiemand daaraan ongehoorsaam is, moet hy vir die leeus gegooi word.’ Dariʹus weet nie hoekom hierdie mans wil hê dat hierdie wet gemaak moet word nie. Maar hy dink dit is ’n goeie idee, en daarom laat hy die wet opskryf. Nou kan die wet nie verander word nie.

Wanneer Daniël van die wet hoor, gaan hy huis toe en bid, net soos hy nog altyd gedoen het. Die slegte mans weet dat Daniël nie sal ophou om tot Jehovah te bid nie. Hulle is bly, want dit lyk of hulle plan om van Daniël ontslae te raak, werk.

Wanneer koning Dariʹus uitvind hoekom hierdie mans wou hê dat hierdie wet gemaak moes word, is hy baie jammer. Maar hy kan nie die wet verander nie; daarom moet hy beveel dat Daniël in die leeukuil gegooi word. Maar die koning sê vir Daniël: ‘Ek hoop jou God, wat jy dien, sal jou red.’

Dariʹus is so ontsteld dat hy daardie nag nie kan slaap nie. Die volgende oggend hardloop hy na die leeukuil toe. Jy kan hom daar sien. Hy roep uit: ‘Daniël, kneg van die lewende God! Kon die God wat jy dien, jou van die leeus red?’

‘God het sy engel gestuur’, antwoord Daniël, ‘en die leeus se bekke gesluit sodat hulle my nie seergemaak het nie.’

Die koning is baie bly. Hy beveel dat Daniël uit die kuil gehaal moet word. Dan laat hy die slegte mans wat van Daniël ontslae probeer raak het, vir die leeus gooi. Nog voordat hulle die grond raak, val die leeus hulle aan en breek hulle al hulle bene.

Dan skryf koning Dariʹus aan al die mense in sy koninkryk: ‘Ek beveel dat almal Daniël se God moet respekteer. Hy doen groot wonderwerke. Hy het Daniël van die leeus gered.’