VERHAAL 85
Jesus word in ’n stal gebore
WEET jy wie hierdie babatjie is? Ja, dit is Jesus. Hy is nou net in ’n stal gebore. ’n Stal is waar diere gehou word. Maria lê Jesus in die krip neer, die plek waarin die voer vir donkies en ander diere gesit word. Maar hoekom is Maria en Josef hier by die diere? Dit is mos nie die plek vir ’n baba om gebore te word nie, of hoe?
Nee, dit is nie. Maar hulle is hier omdat die heerser van Rome, keiser Augustus, ’n wet gemaak het dat elkeen moet teruggaan na die stad waar hy gebore is, sodat sy naam in ’n boek geskryf kan word. Wel, Josef is hier in Betlehem gebore. Maar toe hy en Maria hier aankom, was daar nêrens vir hulle ’n kamer nie. Daarom moes hulle hier by die diere kom bly. En op hierdie einste dag is Jesus gebore! Maar soos jy kan sien, makeer hy niks nie.
Kan jy die herders sien wat na Jesus toe kom? Hulle het in die nag hulle skape in die veld opgepas, en ’n helder lig het rondom hulle geskyn. Dit was ’n engel! Die herders was baie bang. Maar die engel het gesê: ‘Moenie bang wees nie! Ek het vir julle goeie nuus. Christus die Here is vandag in Betlehem gebore. Hy sal die mense red! Julle sal hom in doeke toegedraai en in ’n krip kry.’ Skielik het daar baie engele gekom en God begin loof. Toe het hierdie herders dadelik na Jesus gaan soek, en nou het hulle hom gekry.
Weet jy hoekom Jesus so spesiaal is? Weet jy wie hy regtig is? Onthou jy dat ons jou in die eerste verhaal in hierdie boek van God se eerste Seun vertel het? Hierdie Seun het saam met Jehovah gewerk toe hy die hemel en die aarde en alle ander dinge gemaak het. Wel, dit is wie Jesus is!
Ja, Jehovah het die lewe van sy Seun uit die hemel geneem en dit binne-in Maria gesit. Dadelik het ’n baba binne-in haar begin groei net soos ander babas in hulle ma’s groei. Maar hierdie baba was God se Seun. Uiteindelik is Jesus hier in ’n stal in Betlehem gebore. Kan jy nou verstaan hoekom die engele so bly was om vir mense te vertel dat Jesus gebore is?