Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 100

Jesus in die tuin

Jesus in die tuin

NADAT Jesus en sy apostels uit die bokamer weggegaan het, gaan hulle na die tuin van Getseʹmane toe. Hulle het al baie keer hiernatoe gekom. Jesus sê nou vir hulle om wakker te bly en te bid. Dan gaan hy ’n entjie verder en buig met sy gesig tot op die grond om te bid.

Later kom Jesus terug na waar sy apostels is. Wat dink jy doen hulle? Hulle slaap! Drie keer sê Jesus vir hulle dat hulle moet wakker bly, maar elke keer wanneer hy terugkom, is hulle aan die slaap. ‘Hoe kan julle op so ’n tyd slaap?’ sê Jesus wanneer hy die laaste keer terugkom. ‘Die uur het gekom dat ek aan my vyande oorgegee moet word.’

Op daardie oomblik kan die geraas van ’n groot skare gehoor word. Kyk! Die mense kom met swaarde en knuppels! En hulle dra fakkels om lig te gee. Wanneer hulle nader kom, loop iemand uit die skare uit tot by Jesus. Hy soen hom, soos jy hier kan sien. Die man is Judas Iskaʹriot! Hoekom soen hy vir Jesus?

Jesus vra: ‘Judas, verraai jy my met ’n soen?’ Ja, die soen is ’n teken. Dit sê vir die mense saam met Judas dat dit Jesus is, die man na wie hulle soek. Dan staan Jesus se vyande nader om hom te gryp. Maar Petrus gaan nie toelaat dat hulle Jesus sommer so wegvat nie. Hy gryp die swaard wat hy saamgebring het en slaan na die man naby hom. Die swaard mis die man se kop net-net en kap sy regteroor af. Maar Jesus raak aan die man se oor en maak dit gesond.

Jesus sê vir Petrus: ‘Sit jou swaard terug. Dink jy nie dat ek my Vader kan vra om duisende engele te stuur om my te red nie?’ Ja, hy kan! Maar Jesus vra God nie om enige engele te stuur nie, want hy weet dat die tyd gekom het vir sy vyande om hom te vang. Daarom laat hy hulle toe om hom weg te neem. Kom ons kyk wat nou met Jesus gebeur.