Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 88

Johannes doop vir Jesus

Johannes doop vir Jesus

SIEN jy die duif bokant die man se kop? Die man is Jesus. Hy is nou omtrent 30 jaar oud. En die man by hom is Johannes. Ons het alreeds iets oor hom geleer. Onthou jy dat Maria by haar familielid Elisabet gaan kuier het en dat die baba binne-in Elisabet van vreugde gespring het? Daardie ongebore baba was Johannes. Maar wat doen Johannes en Jesus nou?

Johannes het Jesus nou net onder die water van die Jordaanrivier ingedruk. Dit is hoe ’n mens gedoop word. Hy word eers onder die water ingedruk en dan weer uitgebring. Omdat Johannes dit met mense doen, word hy Johannes die Doper genoem. Maar hoekom het Johannes vir Jesus gedoop?

Wel, Johannes het dit gedoen omdat Jesus na hom toe gekom het en gevra het dat Johannes hom moet doop. Johannes doop mense wat wil wys dat hulle jammer is oor die slegte dinge wat hulle gedoen het. Maar het Jesus ooit iets slegs gedoen waaroor hy moet jammer wees? Nee, Jesus het nooit so iets gedoen nie, want hy is God se Seun uit die hemel. Hy het om ’n ander rede vir Johannes gevra om hom te doop. Kom ons kyk wat daardie rede is.

Voordat Jesus hier na Johannes toe gekom het, was hy ’n timmerman. ’n Timmerman is iemand wat goed soos tafels en stoele en banke van hout maak. Maria se man, Josef, was ’n timmerman, en hy het Jesus geleer om ook een te wees. Maar Jehovah het nie sy Seun na die aarde toe gestuur om ’n timmerman te wees nie. Hy het ’n spesiale werk vir hom, en die tyd het gekom dat Jesus dit moet begin doen. Om te wys dat hy nou gekom het om sy Vader se wil te doen, vra Jesus vir Johannes om hom te doop. Is God bly daaroor?

Ja, hy is, want wanneer Jesus uit die water opkom, sê ’n stem uit die hemel: ‘Dit is my Seun, wat ek goedgekeur het.’ Dit lyk ook asof die hemel oopgaan en hierdie duif na Jesus toe afkom. Maar dit is nie ’n regte duif nie. Dit lyk net soos een. Dit is eintlik God se heilige gees.

Jesus het nou baie om oor te dink, en daarom gaan hy vir 40 dae na ’n eensame plek toe. Daar kom Satan na hom toe. Satan probeer drie keer om Jesus te kry om iets te doen wat teen God se wette is. Maar Jesus weier om dit te doen.

Daarna gaan Jesus terug, en hy ontmoet ’n paar mans wat sy eerste volgelinge, of dissipels, word. Party van hulle se name is Andreʹas, Petrus (wat ook Simon genoem word), Filippus en Nataʹnael (wat ook Bartolomeʹus genoem word). Jesus en hierdie nuwe dissipels gaan na Galileʹa toe. In Galileʹa bly hulle in Kana, Nataʹnael se tuisdorp. Daar gaan Jesus na ’n groot troue toe en doen hy sy eerste wonderwerk. Weet jy wat dit is? Hy verander water in wyn.