Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 87

Jong Jesus in die tempel

Jong Jesus in die tempel

KYK na die jong seun wat met hierdie ouer mans praat. Hulle is leermeesters in God se tempel in Jerusalem. En die seun is Jesus. Hy is al heelwat groter. Hy is nou 12 jaar oud.

Die leermeesters is baie verbaas dat Jesus so baie weet van God en van die dinge wat in die Bybel geskrywe is. Maar hoekom is Josef en Maria nie ook hier nie? Waar is hulle? Kom ons vind uit.

Elke jaar bring Josef sy gesin na Jerusalem toe vir die spesiale fees wat die Pasga genoem word. Dit is ’n lang reis van Naʹsaret na Jerusalem. Niemand het ’n motor nie, en daar is geen treine nie. In daardie dae was daar nog nie sulke goed nie. Die meeste mense loop, en dit vat omtrent drie dae om by Jerusalem te kom.

Josef het nou al ’n groot gesin. Dit wil sê, Jesus het jonger broers en susters wat opgepas moet word. Wel, hierdie jaar het Josef en Maria met hulle kinders die lang reis terug na Naʹsaret begin. Hulle dink dat Jesus by die ander mense is wat saam met hulle reis. Maar wanneer hulle teen die aand stop, kan hulle Jesus nie kry nie. Hulle soek na hom onder hulle familielede en vriende, maar hy is nie by hulle nie! Daarom gaan hulle terug na Jerusalem toe om daar na hom te soek.

Uiteindelik kry hulle Jesus hier by die leermeesters. Hy luister na hulle en vra vrae. En al die mense is verbaas oor hoe wys Jesus is. Maar Maria sê: ‘Kind, hoekom het jy dit aan ons gedoen? Ek en jou pa was baie bekommerd oor jou en het na jou gesoek.’

‘Hoekom het julle na my gesoek?’ antwoord Jesus. ‘Het julle nie geweet dat ek in die huis van my Vader moet wees nie?’

Ja, Jesus hou baie daarvan om te wees waar hy van God kan leer. Is dit nie hoe ons ook moet voel nie? In Naʹsaret gaan Jesus elke week na vergaderinge om te aanbid. Omdat hy altyd mooi geluister het, het hy baie dinge uit die Bybel geleer. Laat ons soos Jesus wees en sy voorbeeld navolg.