Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 102

Jesus lewe

Jesus lewe

WEET jy wie die vrou en die twee mans is? Die vrou is Maria Magdaleʹna, ’n vriendin van Jesus. En die mans met die wit klere is engele. Hierdie klein kamertjie waar Maria inkyk, is die plek waar Jesus se liggaam ná sy dood gesit is. Dit is ’n graf. Maar nou is die liggaam nie meer daar nie! Wie het dit gevat? Kom ons kyk.

Nadat Jesus doodgegaan het, sê die priesters vir Pilatus: ‘Toe Jesus nog gelewe het, het hy gesê dat hy ná drie dae opgewek sal word. Beveel dan dat die graf bewaak moet word. Dan kan sy dissipels nie sy lyk steel en sê dat hy uit die dode opgewek is nie!’ Pilatus sê vir die priesters om soldate te stuur om by die graf wag te hou.

Maar baie vroeg op die derde dag ná Jesus se dood verskyn ’n engel van Jehovah skielik. Hy rol die klip voor die graf weg. Die soldate is so bang dat hulle nie kan beweeg nie. Wanneer hulle uiteindelik by die graf inkyk, is die lyk weg! Party van die soldate gaan in die stad in en vertel die priesters daarvan. Weet jy wat doen die slegte priesters? Hulle betaal die soldate om te lieg. ‘Julle moet sê: “Sy dissipels het in die nag gekom en die lyk gesteel terwyl ons geslaap het”’, sê die priesters vir die soldate.

Intussen kom ’n paar vriendinne van Jesus na die graf toe. Hoe verbaas is hulle tog toe hulle sien dat dit leeg is! Skielik verskyn twee engele in helder klere. ‘Waarom soek julle hier na Jesus?’ vra hulle. ‘Hy is opgewek. Gaan gou en vertel dit vir sy dissipels.’ Hoe vinnig hardloop die vroue tog! Maar terwyl hulle op pad is, keer ’n man hulle voor. Weet jy wie dit is? Dit is Jesus! ‘Gaan vertel dit vir my dissipels’, sê hy.

Wanneer die vroue vir die dissipels vertel dat Jesus lewe en dat hulle hom gesien het, kan die dissipels dit amper nie glo nie. Petrus en Johannes hardloop na die graf toe om self te kyk, maar die graf is leeg! Wanneer Petrus en Johannes weggaan, bly Maria Magdaleʹna agter. Dit is wanneer sy inkyk en die twee engele sien.

Weet jy wat met Jesus se liggaam gebeur het? God het dit laat verdwyn. God het Jesus nie opgewek in die vleeslike liggaam waarin hy doodgegaan het nie. Hy het vir Jesus ’n nuwe geesliggaam gegee, soos die engele in die hemel het. Maar om vir sy dissipels te wys dat hy lewe, kan Jesus ’n liggaam aanneem wat mense kan sien, soos ons sal leer.