Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Geeste het nie op die aarde geleef en gesterf nie

Geeste het nie op die aarde geleef en gesterf nie

Geeste bestaan! In die onsigbare geesteryk is daar goeie sowel as slegte geeste. Is hulle mense wat op die aarde geleef en gesterf het?

Nee, hulle is nie. Wanneer iemand sterf, gaan hy of sy nie, soos baie mense dink, na die geesteryk nie. Hoe weet ons dit? Omdat die Bybel so sê. Die Bybel is ’n boek van waarheid wat van die enigste ware God kom, wie se naam Jehovah is. Jehovah het mense geskep; hy weet goed wat met hulle gebeur wanneer hulle sterf.—Psalm 83:18, NW; 2 Timotheüs 3:16.

Adam het uit stof gekom en het tot stof teruggekeer

Die Bybel sê dat God Adam, die eerste mens, “uit die stof van die aarde” geformeer het (Genesis 2:7). God het hom in die Paradys, die tuin van Eden, geplaas. As Adam aan Jehovah se wet gehoorsaam was, sou hy nie gesterf het nie; hy sou vandag nog op die aarde geleef het. Maar toe Adam God se wet opsetlik verbreek het, het God vir hom gesê: “Jy [sal] terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”—Genesis 3:19.

Wat beteken dit? Wel, waar was Adam voordat Jehovah hom uit die stof geskep het? Hy was nêrens nie. Hy was nie ’n ongebore gees in die hemel nie. Hy het nie bestaan nie. Toe Jehovah dus gesê het dat Adam ‘na die aarde sal terugkeer’, het hy bedoel dat Adam sou sterf. Hy het nie na die geesteryk gegaan nie. By sy dood het Adam weer eens leweloos geword en nie meer bestaan nie. Die dood is die afwesigheid van lewe.

Maar wat van ander wat gesterf het? Bestaan hulle ook nie meer nie? Die Bybel antwoord:

  • “Alles [mense sowel as diere] gaan na een plek toe; alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug.”—Prediker 3:20.

  • “Die dooies weet glad niks nie.”—Prediker 9:5.

  • “Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn.”—Prediker 9:6.

  • “Daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk [die graf] waar jy heengaan nie.”—Prediker 9:10.

  • “[Die mens] keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.”—Psalm 146:4.

Net die lewendes kan hierdie dinge doen

Is dit vir jou moeilik om hierdie tekste te aanvaar? Indien wel, dink hieraan: In talle gesinne verdien die man geld om sy gesin te onderhou. Wanneer die man sterf, kry sy gesin gewoonlik swaar. Soms het sy vrou en kinders nie eers genoeg geld om kos te koop nie. Miskien sal die man se vyande hulle mishandel. Vra jou nou af: ‘As daardie man in die geestewêreld voortleef, waarom hou hy nie aan om vir sy gesin te sorg nie? Waarom beskerm hy sy gesin nie teen slegte mense nie?’ Dit is omdat die Skrif dit reg het. Daardie man is leweloos; hy kan niks doen nie.—Psalm 115:17.

Die dooies kan nie dié help wat honger ly of wat slagoffers van mishandeling is nie

Beteken dit dat die dooies nooit weer sal lewe nie? Nee, dit is nie die geval nie. Ons sal later oor die opstanding praat. Maar dit beteken wel dat die dooies nie weet wat jy doen nie. Hulle kan jou nie sien, hoor of met jou praat nie. Jy hoef nie vir hulle bang te wees nie. Hulle kan jou nie help nie, en hulle kan jou nie skaad nie.—Prediker 9:4; Jesaja 26:14NW.