Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die demone beweer valslik dat die dooies voortleef

Die demone beweer valslik dat die dooies voortleef

Die Bybel sê dat Satan “die hele wêreld verlei” (Openbaring 12:9). Satan en sy demone wil nie hê dat ons God se Woord, die Bybel, moet glo nie. Hulle probeer mense wysmaak dat die dooies iewers in die geesteryk voortleef. Kom ons kyk hoe hulle dit doen.

Valse godsdiens

Mense, diere, visse en voëls—almal is siele

Baie godsdienste leer dat elke mens ’n siel het wat na die geesteryk gaan wanneer die liggaam sterf. Hulle sê dat die liggaam sterf maar dat die siel nie sterf nie. Boonop beweer hulle dat die siel nie kán sterf nie, dat dit onsterflik is.

Maar dit is nie wat God se Woord leer nie. Die Bybel toon dat die siel die mens is, nie iets binne ’n mens nie. Waar die Bybel die skepping van Adam beskryf, sê dit byvoorbeeld: “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword” (Genesis 2:7). Adam het dus nie ’n siel gekry nie; hy was ’n siel.

Diere word ook siele genoem.—Genesis 1:20, 21, 24, 30NW.

Aangesien die Bybelwoord “siel” die mens self beteken, moet dit ons nie verbaas as ons leer dat siele kán sterf en wel sterf nie. Die Skrif sê:

  • “Die siel wat sondig, dié moet sterwe.”Esegiël 18:4.

  • “En Simson het gesê: ‘Laat my siel sterf saam met die Filistyne.’”—Rigters 16:30NW.

  • “Is dit geoorloof om op die sabbat ’n goeie daad te doen of ’n slegte daad te doen, om ’n siel te red of dood te maak?”Markus 3:4, NW.

Die Bybel toon dat die siel nie onsterflik is nie

Ander tekste toon dat siele vernietig kan word (Genesis 17:14), deur die swaard verslaan kan word (Josua 10:37), kan verstik (Job 7:15, NW) en kan verdrink (Jona 2:5). Die siel sterf dus.

As jy die Bybel van voor tot agter deurlees, sal jy nooit die uitdrukking “onsterflike siel” vind nie. Die mensesiel is nie ’n gees nie. Die leerstelling van die onsterflike siel is nie ’n Bybelleerstelling nie. Dit is ’n lering van Satan en sy demone. Jehovah haat alle godsdiensleuens.—Spreuke 6:16-19; 1 Timotheüs 4:1, 2.

Geesmediums

Die demone gee in werklikheid voor dat hulle geeste van die dooies is

Nog ’n manier waarop Satan mense verlei, is deur mediums. ’n Medium is iemand wat boodskappe direk van die geestewêreld kan ontvang. Baie mense, mediums inkluis, glo dat hierdie boodskappe van geeste van die dooies kom. Maar soos ons in die Bybel gesien het, is dit onmoontlik.—Prediker 9:5, 6, 10.

Van wie kom hierdie boodskappe dan? Die demone self! Die demone kan iemand dophou terwyl hy lewe; hulle weet hoe die persoon gepraat het, hoe hy gelyk het, wat hy gedoen het en wat hy geweet het. Dit is vir hulle dus maklik om mense wat gesterf het na te boots.—1 Samuel 28:3-19.

Valse stories

’n Ander manier waarop Satan die leuen oor die dooies bevorder, is deur valse stories. Sulke stories veroorsaak dikwels dat mense Bybelwaarheid die rug toekeer.—2 Timotheüs 4:4, NW.

Party dink dat hulle mense gesien het wat uit die dood teruggekeer het

In Afrika is daar baie stories oor mense wat lewend gesien is nadat hulle gesterf het. Dit is kenmerkend dat hulle gesien word ver weg van waar die persoon geleef het. Maar vra jou af: ‘Is dit redelik dat iemand, as hy die mag het om uit die dood uit terug te kom, sal terugkeer na ’n plek ver weg van sy familie en vriende?’

Kan dit ook wees dat die persoon wat gesien is net soos die persoon lyk wat gesterf het? Twee Christenbedienaars wat in ’n plattelandse gebied gepreek het, het byvoorbeeld opgemerk dat ’n ou man hulle al ’n paar uur lank agtervolg het. Toe hulle hom daaroor uitvra, het hulle uitgevind dat die man gedink het dat een van die bedienaars sy broer was wat ’n paar jaar vantevore gesterf het. Hy het hom natuurlik misgis, maar hy het geweier om te glo dat hy hom misgis het. Stel jou die storie voor wat die ou man later vir sy vriende en bure vertel het!

Gesigte, drome en stemme

Die demone verlei deur drome, gesigte en stemme

Jy weet ongetwyfeld van vreemde dinge wat mense gesien, gehoor of gedroom het. Sulke bonatuurlike ondervindinge is dikwels skrikwekkend vir diegene wat dit het. Marein, wat in Wes-Afrika gewoon het, het gereeld die stem van haar oorlede ouma gehoor wat haar in die nag geroep het. Marein het verskrik geskreeu en haar hele gesin wakker gemaak. Sy het uiteindelik van haar verstand af geraak.

As die dooies werklik voortgeleef het, is dit redelik dat hulle hulle geliefdes sal verskrik? Natuurlik nie. Die bron van sulke teisterende boodskappe is die demone.

Maar wat van boodskappe wat skynbaar nuttig en vertroostend is? ’n Voorbeeld is Gbassay, van Sierra Leone, wat siek was. Sy het ’n droom gehad waarin haar oorlede vader aan haar verskyn het. Hy het haar opdrag gegee om na ’n sekere boom te gaan, ’n blaar te neem, dit met water te meng en dit te drink. Sy moes met niemand praat totdat sy dit gedoen het nie. Sy het dit gedoen en gesond geword.

’n Ander vrou het gesê dat haar man een nag aan haar verskyn het nadat hy gesterf het. Sy het gesê dat hy baie goed gelyk het en pragtige klere aangehad het.

Sulke boodskappe en gesigte is skynbaar goed en nuttig. Is hulle van God? Nee, hulle is nie. Jehovah is “die God van waarheid” (Psalm 31:5, NW). Hy sal nooit onderneem om ons te bedrieg of te mislei nie. Net die demone doen dit.

Maar is daar goeie demone? Nee. Al lyk dit soms of hulle behulpsaam is, is hulle almal sleg. Toe die Duiwel met Eva gepraat het, het hy vriendelik geklink (Genesis 3:1). Maar wat het met haar gebeur nadat sy na hom geluister en gedoen het wat hy gesê het? Sy het gesterf.

Satan het gesê Eva sou nie sterf nie. Eva het hom geglo, maar sy het uiteindelik gesterf

Jy weet dat dit nie ongewoon vir ’n slegte persoon is om vriendelik te wees met diegene wat hy wil mislei en bedrieg nie. “Wit tande, swart hart”, sê ’n spreekwoord van Afrika. En God se Woord sê: “Die Satan self verander hom in ’n engel van die lig.”—2 Korinthiërs 11:14.

God tree nie meer met mense op aarde in verbinding deur drome, gesigte of stemme uit die geestewêreld nie. Hy lei en onderrig hulle deur die Bybel, waardeur ’n mens “vir elke goeie werk volkome toegerus” kan word.—2 Timotheüs 3:17.

Wanneer Jehovah ons dus teen die liste van die Duiwel waarsku, doen hy dit omdat hy ons liefhet. Hy weet die demone is gevaarlike vyande.