Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die demone moedig opstand teen God aan

Die demone moedig opstand teen God aan

Party gebruike is gegrond op die leuen dat die dooies ons kan sien

Maar waarom probeer Satan en sy demone so hard om mense te mislei? Omdat hulle wil hê dat ons ons by hulle moet skaar in hulle opstand. Hulle wil hê dat ons hulle moet aanbid. Hulle wil hê dat ons hulle leuens moet glo en dinge moet beoefen wat Jehovah nie goedkeur nie. Baie van hierdie dinge sluit gebruike in wat met die dooies verband hou.

Die dood van ’n geliefde is ’n emosioneel pynlike ondervinding, en dit is normaal en gepas om uiting te gee aan droefheid. Toe sy vriend Lasarus gesterf het, het Jesus “geween”.—Johannes 11:35.

Daar is baie gebruike wat met die dood verband hou, en hulle is oor die hele wêreld baie uiteenlopend. Baie van hulle is nie in stryd met Bybelbeginsels nie. Sommige gebruike is egter gegrond op die idee dat die dooies voortleef en dat hulle die lewendes kan sien. Lykwake, onbeteuelde roubedryf en oordadige begrafnisseremonies is almal gegrond op die vrees om die geeste van die dooies te mishaag. Maar aangesien die dooies ‘glad niks weet nie’, bevorder diegene wat sulke dinge beoefen Satan se leuens.—Prediker 9:5.

Ander gebruike is gegrond op die leuen dat die dooies ons hulp nodig het

Ander gebruike of seremonies kom van die opvatting dat die dooies hulp van die lewendes nodig het en dat hulle die lewendes skade sal aandoen as hulle nie gepaai word nie. In sommige lande word daar 40 dae of ’n jaar ná iemand se dood fees gevier en offerandes gebring. Dit is veronderstel om die afgestorwene te help om in die geesteryk ‘in te gaan’. ’n Ander algemene gebruik is om kos en drank aan die dooies te offer.

Hierdie dinge is verkeerd, want hulle bevorder Satan se leuens oor die dooies. Sal dit Jehovah se goedkeuring wegdra as ons iets te doen het met gebruike wat op die leringe van demone gegrond is? Nooit!—2 Korinthiërs 6:14-18.

Knegte van die ware God neem glad nie deel aan gebruike wat Satan se leuens ondersteun nie. Hulle lê hulle eerder liefdevol daarop toe om die lewendes te help en hulle te troos. Hulle weet dat net Jehovah iemand kan help as hy eers gesterf het.—Job 14:14, 15.

Spiritisme word deur God veroordeel

Party mense kom direk of deur ’n menslike medium met demone in aanraking. Dit word spiritisme genoem. Voedoe, toorkuns, goëlery, waarsêery en die raadpleging van die dooies is almal vorme van spiritisme.

God is teen hierdie slegte dinge. Hy vereis uitsluitlike toegewydheid aan hom alleen.—Exodus 20:5, “NW”

Die Bybel veroordeel hierdie dinge en sê: “Daar mag niemand by jou gevind word . . . wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, of wat met besweringe omgaan, of wat ’n gees van ’n afgestorwene vra of ’n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ’n gruwel.”—Deuteronomium 18:10-12.

Waarom rig Jehovah so ’n ernstige waarskuwing aan ons teen hierdie gebruike?

Ter wille van ons welsyn waarsku Jehovah ons teen alle vorme van spiritisme. Hy is lief vir mense en gee vir hulle om, en hy weet dat diegene wat met demone deurmekaar raak stellig sal ly.

Een van hierdie mense was Nilda, wat in Brasilië ’n geesmedium was. Die demone het haar lewe versuur. Sy vertel: “Die geeste . . . het in my ingevaar en my gehiet en gebied. Die een oomblik was ek by my bewussyn en die volgende oomblik in ’n beswyming, en ek is in ’n inrigting opgeneem vir sielkundige probleme. Die demone het my só vervolg dat my senuwees aangetas is. Ek het kalmeermiddels geneem en het knaend begin drink en rook. Dit het jare lank aangehou.”

Diegene wat spiritisme beoefen, vaar dikwels sleg. Hulle kan hulle huis, hulle vryheid en selfs hulle lewe verloor

Nilda het mettertyd met die hulp van Jehovah en sy Getuies op aarde van die demone se invloed losgebreek en lei nou ’n sinvolle, heilsame lewe. Sy sê: “Ek waarsku almal om nooit, nie eers vir een oomblik nie, met die [bose] geeste deurmekaar te raak nie.”