Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Wonderlike toekoms

’n Wonderlike toekoms

Satan en die demone sal binnekort gebind word

Satan en sy demone sal die mensdom nie veel langer mislei nie. Jehovah het hulle reeds uit die hemel gewerp (Openbaring 12:9). In die nabye toekoms sal God weer eens teen Satan en sy demone optree. In ’n gesig van God het die apostel Johannes gesê: “En ek het ’n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ’n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp—die ou slang wat die duiwel en die Satan is—en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie” (Openbaring 20:1-3). Later sal die Duiwel en sy demone vir ewig vernietig word.—Openbaring 20:10.

Slegte mense op die aarde sal ook vernietig word.—Psalm 37:9, 10; Lukas 13:5.

Die dooies sal weer lewe!

Die dooies sal opstaan en weer op die aarde lewe

Nadat Satan en die demone verwyder is, sal Jehovah talle seëninge oor die mensdom bring. Jy sal onthou dat die dooies leweloos is, nie bestaan nie. Jesus het die dood met slaap vergelyk—’n diep slaap sonder drome (Johannes 11:11-14). Hy het dit daarmee vergelyk omdat hy geweet het dat die tyd sou kom wanneer diegene wat in die dood slaap tot die lewe opgewek sal word. Hy het gesê: “Daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is . . . sal uitgaan.”—Johannes 5:28, 29; vergelyk Handelinge 24:15.

Hulle sal hier op die aarde opgewek word. Pleks van aankondigings dat mense gesterf het, sal vreugdevolle berigte vertel van diegene wat tot die lewe opgewek is! Wat ’n vreugde sal dit tog wees om geliefdes uit die graf te verwelkom!