DEEL 9
Aanbid Jehovah as ’n gesin
“Aanbid . . . die Een wat die hemel en die aarde . . . gemaak het.”—Openbaring 14:7
Soos jy in hierdie brosjure gesien het, bevat die Bybel baie beginsels wat jou en jou gesin sal help. Jehovah wil hê dat julle gelukkig moet wees. Hy belowe dat “al hierdie ander dinge . . . vir julle bygevoeg [sal] word”, as julle sy aanbidding eerste stel (Matteus 6:33). Hy wil werklik hê dat jy sy vriend moet wees. Maak van elke geleentheid gebruik om jou vriendskap met God op te bou. Dit is die grootste voorreg wat ’n mens kan hê.—Matteus 22:37, 38.
1 VERSTERK JOU VERHOUDING MET JEHOVAH
WAT DIE BYBEL SÊ: “‘Ek sal vir julle ’n vader wees, en julle sal vir my seuns en dogters wees’, sê Jehovah” (2 Korintiërs 6:18). God wil hê dat jy ’n hegte vriendskap met hom moet ophou. Gebed is een manier waarop jy dit kan doen. Jehovah nooi jou om ‘onophoudelik te bid’ (1 Tessalonisense 5:17). Hy wil graag hoor wat jou diepste gedagtes en bekommernisse is (Filippense 4:6). Wanneer jy saam met jou gesin bid, sal hulle sien hoe werklik God vir jou is.
Moenie net met God praat nie, maar luister ook na hom. Jy kan dit doen deur sy Woord en ons Bybelpublikasies te bestudeer (Psalm 1:1, 2). Peins oor wat jy leer (Psalm 77:11, 12). Om na God te luister, behels ook dat jy Christelike vergaderinge gereeld bywoon.—Psalm 122:1-4.
Om met ander oor Jehovah te praat, is nog ’n belangrike manier om jou verhouding met hom te versterk. Hoe meer jy dit doen, hoe nader sal jy aan hom kom.—Matteus 28:19, 20.
WAT JY KAN DOEN:
-
Sit elke dag tyd opsy om die Bybel te lees en te bid
-
As ’n gesin moet julle geestelike bedrywighede bo vermaak en ontspanning stel
2 GENIET JULLE GESINSAANBIDDING
WAT DIE BYBEL SÊ: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jakobus 4:8). Stel ’n spesifieke tyd vir julle gesinsaanbidding vas en hou dit gereeld (Genesis 18:19). Maar dit is nie al wat nodig is nie. God moet deel van julle daaglikse lewe wees. Versterk jou gesin se verhouding met God deur oor hom te praat “wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op die pad loop en wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan” (Deuteronomium 6:6, 7). Stel jou dit ten doel om te wees soos Josua, wat gesê het: “Wat my en my huis betref, ons sal Jehovah dien.”—Josua 24:15.
WAT JY KAN DOEN:
-
Stel ’n gereelde opleidingsprogram saam wat die behoeftes van elke gesinslid in ag neem