Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL 5

Hoe om vreedsame verhoudings met julle familielede te behou

Hoe om vreedsame verhoudings met julle familielede te behou

“Beklee julle dan . . . met . . . goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid.”—Kolossense 3:12

’n Huwelik skep ’n nuwe gesin. Hoewel jy jou ouers altyd sal liefhê en sal respekteer, is jou maat nou die belangrikste persoon in jou lewe. Vir party van jou familielede kan dit moeilik wees om dit te aanvaar. Maar Bybelbeginsels kan julle help om ’n balans te vind, sodat julle vreedsame verhoudings met julle familielede kan behou terwyl julle hard werk om julle huwelik op te bou.

1 BEHOU DIE REGTE BESKOUING VAN JOU FAMILIE

WAT DIE BYBEL SÊ: “Eer jou vader en jou moeder” (Efesiërs 6:2). Ongeag hoe oud jy is, jy moet jou ouers altyd eer en respekteer. Jy moet besef dat jou maat ook, as ’n seun of dogter, aan sy of haar ouers aandag moet skenk. “Die liefde is nie jaloers nie”; moet dus nooit bedreig voel deur die verhouding wat jou maat met hulle het nie.—1 Korintiërs 13:4; Galasiërs 5:26.

WAT JY KAN DOEN:

  • Vermy veralgemenings, soos om te sê: “Jou gesin kraak my altyd af” of “Jou ma hou nooit van wat ek doen nie”

  • Probeer om dinge vanuit jou maat se oogpunt te sien

2 WEES FERM WANNEER NODIG

WAT DIE BYBEL SÊ: “’n Man [sal] sy vader en sy moeder verlaat, en hy sal sy vrou aankleef en hulle sal een vlees word” (Genesis 2:24). Wanneer jy trou, sal jou ouers moontlik voel dat hulle nog steeds vir jou verantwoordelik is en sal hulle dalk meer betrokke by jou huwelik wil wees as wat hulle behoort te wees.

Jy en jou maat moet saamstem oor watter perke julle vir hulle sal stel en dit dan liefdevol met hulle bespreek. Julle kan eerlik en reguit wees sonder om ongeskik te wees (Spreuke 15:1). Nederigheid, sagmoedigheid en geduld sal julle help om ’n hegte verhouding met julle familielede op te bou en aan te hou om “mekaar in liefde [te] verdra”.—Efesiërs 4:2.

WAT JY KAN DOEN:

  • As jy besorg is oor hoeveel die familielede by julle lewe betrokke is, moet jy dit met jou maat bespreek wanneer dinge kalm is

  • Kom ooreen oor hoe julle hierdie sake gaan hanteer