Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 08

Jy kan Jehovah se vriend wees

Jy kan Jehovah se vriend wees

Jehovah wil hê dat jy hom beter moet leer ken. Hoekom? Hy hoop dat jy sy vriend sal wil wees wanneer jy meer leer oor sy eienskappe, oor hoe hy dinge doen en oor wat hy vir jou wil hê. Kan jy regtig God se vriend wees? (Lees Psalm 25:14.) Wat kan jy doen om sy vriend te word? Die Bybel gee die antwoorde op daardie vrae en wys hoekom vriendskap met Jehovah die belangrikste verhouding is wat jy kan hê.

1. Wat nooi Jehovah jou om te doen?

“Kom nader aan God, en hy sal nader aan [jou] kom” (Jakobus 4:8). Wat beteken dit? Jehovah nooi jou om sy vriend te word. Vir party mense is dit dalk moeilik om te glo dat hulle God se vriend kan wees omdat hulle hom nie kan sien nie. Maar in sy Woord, die Bybel, sê Jehovah vir ons alles wat ons moet weet oor watter soort persoon hy is sodat ons nader aan hom kan kom. Wanneer ons God se boodskap aan ons in die Bybel lees, word ons vriendskap met Jehovah sterker, al het ons hom nog nooit gesien nie.

2. Hoekom is Jehovah die beste Vriend wat jy kan hê?

Niemand is liewer vir jou as Jehovah nie. Hy wil hê dat jy gelukkig moet wees en dat jy met hom moet praat wanneer jy ook al hulp nodig het. Die Bybel sê: “Gee al [jou] bekommernisse oor aan God, want hy gee om vir [jou]” (1 Petrus 5:7). Jehovah is altyd gereed om sy vriende te ondersteun, hulle te vertroos en na hulle te luister. – Lees Psalm 94:18, 19.

3. Wat verwag Jehovah van sy vriende?

Jehovah is lief vir alle mense, “maar hy is ’n goeie vriend van dié wat reg lewe” (Spreuke 3:32). Jehovah verwag dat sy vriende moet probeer om dinge te doen wat hy sê goed is. Hy verwag ook dat hulle moet probeer om nie dinge te doen wat hy sê sleg is nie. Party mense voel dalk dat hulle nooit alles sal kan doen wat Jehovah wil hê hulle moet doen nie en dat hulle nie alle slegte dinge kan vermy nie. Maar Jehovah is genadig. Hy aanvaar enige iemand wat regtig lief is vir Hom en wat sy bes doen om Hom tevrede te stel. – Psalm 147:11; Handelinge 10:34, 35.

SOEK DIEPER

Leer meer oor hoe jy Jehovah se vriend kan word, en vind uit hoekom hy die beste Vriend is wat jy kan hê.

4. Abraham was Jehovah se vriend

Die Bybelverslag oor Abraham (wat ook Abram genoem word) help ons om te verstaan wat dit beteken om God se vriend te wees. Lees oor Abraham in Genesis 12:1-4. Bespreek dan hierdie vrae:

  • Wat het Jehovah vir Abraham gesê om te doen?

  • Wat het Jehovah hom belowe?

  • Wat het Abraham toe gedoen?

5. Wat Jehovah van sy vriende verwag

Ons verwag gewoonlik sekere dinge van ons vriende.

  • Watter dinge wil jy hê moet jou vriende vir jou doen of verwag jy van hulle?

Lees 1 Johannes 5:3, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Wat verwag Jehovah van sy vriende?

As ons aan Jehovah gehoorsaam wil wees, sal ons dalk ons gedrag of ons persoonlikheid moet verander. Lees Jesaja 48:17, 18, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Hoekom vra Jehovah sy vriende om veranderinge te maak?

’n Goeie vriend sal ons herinner aan dinge wat ons kan beskerm en kan help. Jehovah doen dieselfde vir sy vriende

6. Wat Jehovah vir sy vriende doen

Jehovah help sy vriende om hulle probleme te hanteer. Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vraag.

  • Hoe het Jehovah die vrou in die video gehelp om haar negatiewe gedagtes en emosies te hanteer?

Lees Jesaja 41:10, 13, en bespreek dan hierdie vrae:

  • Wat belowe Jehovah om vir al sy vriende te doen?

  • Dink jy dat Jehovah ’n goeie Vriend sal wees? Hoekom?

Goeie vriende help jou wanneer jy dit nodig het. Jehovah sal jou ook help

7. As ons Jehovah se vriend wil wees, moet ons met hom praat en na hom luister

Vriende kom nader aan mekaar wanneer hulle met mekaar praat. Lees Psalm 86:6, 11, en bespreek dan hierdie vrae:

  • Hoe kan ons met Jehovah praat?

  • Hoe praat Jehovah met ons?

Ons praat met Jehovah wanneer ons bid. Hy praat met ons wanneer ons die Bybel lees

PARTY MENSE SÊ: “Dis onmoontlik om God se vriend te wees.”

  • Watter teks sal jy gebruik om te wys dat ons Jehovah se vriend kan wees?

WAT ONS GELEER HET

Jehovah wil jou Vriend wees, en hy sal jou help om nader aan hom te kom.

Hersiening

  • Hoe help Jehovah sy vriende?

  • Hoekom sê Jehovah vir sy vriende om veranderinge te maak?

  • Dink jy dat Jehovah te veel van sy vriende verwag? Hoekom, of hoekom nie?

Doelwit

LEER MEER

Hoe kan vriendskap met God jou lewe verander?

“Jehovah—’n God wat ons beslis wil leer ken” (Die Wagtoring, 15 Februarie 2003)

Leer hoe om God se vriend te word.

“Hoe kan ek God se vriend word?” (Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2, hoofstuk 35)

Vind uit hoekom een vrou voel dat haar vriendskap met Jehovah haar gered het.

“Ek wou nie doodgaan nie!” (Die Wagtoring, nr. 1 2017)

Luister na tieners wat vertel hoe hulle oor Jehovah voel.

Wat beteken dit om God se vriend te wees? (1:46)