Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 49

Hoe kan jou gesin gelukkig wees? – Deel 1

Hoe kan jou gesin gelukkig wees? – Deel 1

Pasgetroudes hoop dat die geluk wat hulle op hulle troudag gevoel het, vir ewig sal hou. En dit kan. Christene wat al lank getroud is en wat hard gewerk het om die Bybel se raad toe te pas, weet dat dit moontlik is.

1. Watter raad gee die Bybel vir mans?

Jehovah het die man as die hoof van die gesin aangestel. (Lees Efesiërs 5:23.) Jehovah verwag van hom om besluite te maak wat goed sal wees vir die gesin. Die Bybel sê vir mans: “Hou aan om julle vrouens lief te hê” (Efesiërs 5:25). Wat beteken dit? ’n Goeie man behandel sy vrou liefdevol, wanneer hulle by die huis is en wanneer hulle by ander mense is. Hy probeer haar veilig en gelukkig hou, en hy doen sy bes om fisies en emosioneel vir haar te sorg (1 Timoteus 5:8). Maar die belangrikste van alles is, hy help haar om ’n sterk verhouding met Jehovah te hê (Matteus 4:4). Byvoorbeeld, hy kan saam met sy vrou bid en die Bybel saam met haar lees. Wanneer ’n man liefdevol vir sy vrou sorg, hou hy sy vriendskap met Jehovah sterk. – Lees 1 Petrus 3:7.

2. Watter raad gee die Bybel vir vrouens?

God se Woord sê dat ’n vrou “diep respek vir haar man [moet] hê” (Efesiërs 5:33). Hoe kan sy dit doen? Sy kan dink aan haar man se goeie eienskappe en aan al die moeite wat hy doen om vir haar en hulle kinders te sorg. Sy kan ook wys dat sy hom respekteer deur sy besluite te ondersteun en deur liefdevol met en oor hom te praat, al dien hy Jehovah nie.

3. Hoe kan ’n paartjie hulle huwelik sterker maak?

Die Bybel sê oor getroude paartjies: “Die twee sal een vlees wees” (Matteus 19:5). Dit beteken dat hulle moet veg teen enige iets wat sal veroorsaak dat hulle van mekaar af wegdryf. Hulle doen dit deur gereeld tyd met mekaar te spandeer en deur openlik en liefdevol vir mekaar te vertel wat hulle dink en hoe hulle voel. Hulle laat nie toe dat enige iets of enige iemand – behalwe Jehovah – belangriker word as hulle maat nie. Hulle is veral versigtig om nie te na aan iemand te raak wat nie hulle huweliksmaat is nie.

SOEK DIEPER

Kyk watter Bybelbeginsels julle huwelik sterker kan maak.

4. Mans – wees lief vir jou vrou en kyk mooi na haar

Die Bybel sê dat “mans hulle vrouens [moet] liefhê soos hulle eie liggame” (Efesiërs 5:28, 29). Wat beteken dit? Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vraag.

  • Wat is ’n paar maniere hoe ’n man kan wys dat hy lief is vir sy vrou en dat hy vir haar omgee?

Lees Kolossense 3:12, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Hoe kan ’n man hierdie eienskappe in sy huwelik wys?

5. Vrouens – wees lief vir jou man en respekteer hom

Die Bybel moedig ’n vrou aan om haar man te respekteer of hy nou Jehovah dien of nie. Lees 1 Petrus 3:1, 2, en bespreek dan hierdie vrae:

  • As jou man Jehovah nie dien nie, wil jy sekerlik hê dat hy Jehovah moet aanbid. Wat dink jy sal beter wees – om die hele tyd vir hom te preek of om ’n goeie en liefdevolle vrou te wees wat haar man respekteer? Hoekom?

Mans en vrouens kan saam goeie besluite maak. Maar soms sal ’n vrou dalk nie met haar man saamstem nie. Sy kan dan op ’n kalm en respekvolle manier vir hom sê wat sy dink, maar sy moet onthou dat Jehovah hom die verantwoordelikheid gegee het om te besluit wat die beste vir die gesin is. Sy moet haar bes doen om sy besluit te ondersteun. Wanneer sy dit doen, help sy die hele gesin om gelukkig te wees. Lees 1 Petrus 3:3-5, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Hoe voel Jehovah wanneer ’n vrou wys dat sy haar man respekteer?

6. Jy kan probleme in jou huwelik oorkom

Geen huwelik is perfek nie. Daarom moet paartjies saamwerk om probleme te oorkom. Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vrae.

  • Wat was ’n paar tekens dat die paartjie in die video besig was om van mekaar af weg te dryf?

  • Watter dinge het hulle gedoen om hulle huwelik sterker te maak?

Lees 1 Korintiërs 10:24 en Kolossense 3:13. Nadat elke vers gelees is, bespreek hierdie vraag:

  • Hoe kan hierdie raad ’n huwelik sterker maak?

Die Bybel sê dat ons mekaar moet eer. Om iemand te eer, sluit in dat ons daardie persoon op ’n liefdevolle en respekvolle manier behandel. Lees Romeine 12:10, en bespreek dan hierdie vrae:

  • Moet mans of vrouens wag dat hulle huweliksmaat hulle eerste eer? Hoekom, of hoekom nie?

PARTY MENSE SÊ: “Ek en my huweliksmaat is nie so na aan mekaar soos wat ons was nie.”

  • Hoe sal jy verduidelik dat die Bybel hulle kan help?

WAT ONS GELEER HET

’n Man en vrou kan gelukkig wees wanneer hulle lief is vir mekaar, mekaar respekteer en Bybelbeginsels toepas.

Hersiening

  • Hoe kan ’n man bydra tot ’n gelukkige huwelik?

  • Hoe kan ’n vrou bydra tot ’n gelukkige huwelik?

  • As jy getroud is, watter Bybelbeginsel kan help om jou huwelik sterker te maak?

Doelwit

LEER MEER

Kyk na dinge wat jy kan doen wat jou kan help om ’n gelukkige gesinslewe te hê.

Julle gesin kan gelukkig wees (brosjure)

Kyk na ’n musiekvideo wat wys watter seëninge jy sal kry as jy God se raad in jou huwelik toepas.

Verlief op jou (4:26)

Vind uit wat dit beteken om onderdanig te wees aan die man as die hoof van die gesin.

“Vroue, waarom moet julle julle aan hoofskap onderwerp?” (Die Wagtoring, 15 Mei 2010)

Hoe het ʼn paartjie ernstige probleme – insluitende hulle egskeiding – oorkom?

Ons het ons huwelik met God se hulp herbou (5:14)