Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 13

‘Dit het tot baie onenigheid gelei’

‘Dit het tot baie onenigheid gelei’

Die besnydenisgeskil word voor die bestuursliggaam gebring

Gebaseer op Handelinge 15:1-12

1-3. (a) Watter verwikkeling dreig om die vroeë Christengemeente te verdeel? (b) Hoe kan ons baat vind by ’n studie van hierdie verslag in die boek Handelinge?

 PAULUS en Barnabas het so pas na die Siriese stad Antiogië teruggekeer, vreugdevol ná hulle eerste sendingreis. Hulle is verheug dat Jehovah “die deur vir die nasies oopgemaak het sodat hulle geloof kan betoon” (Hand. 14:26, 27). Trouens, Antiogië self is in beroering oor die goeie nuus, en “’n groot groep” nie-Jode word by hierdie gemeente gevoeg. – Hand. 11:20-26.

2 Die opwindende nuus oor hierdie vermeerdering bereik Judea kort hierna. Maar pleks van almal bly te maak, dwing hierdie verwikkeling die voortgesette debat oor die besnydenis op die voorgrond. Wat moet die verhouding tussen Joodse en nie-Joodse gelowiges wees, en hoe moet laasgenoemde groep die Mosaïese Wet beskou? Die geskil gee aanleiding tot onenigheid wat so ernstig raak dat dit dreig om die Christengemeente te verdeel. Hoe sal hierdie saak opgelos word?

3 Terwyl ons hierdie verslag in die boek Handelinge ondersoek, sal ons talle waardevolle lesse leer. Dit kan ons help om verstandig op te tree wanneer potensieel verdelende geskille in ons dag ontstaan.

“As julle nie . . . besny word nie” (Handelinge 15:1)

4. Watter verkeerde beskouings het sekere gelowiges voorgestaan, en watter vraag laat dit ontstaan?

4 Die dissipel Lukas het geskryf: “Party manne het van Judea af gekom [na Antiogië] en die broers begin leer: ‘As julle nie volgens die gebruik van Moses besny word nie, kan julle nie gered word nie’” (Hand. 15:1). Daar word nie genoem of hierdie “manne . . . van Judea” Fariseërs was voordat hulle Christene geword het nie. Dit lyk egter of hulle ten minste in ’n mate deur daardie Joodse sekte se wettiese denke beïnvloed is. Hulle het dalk ook valslik beweer dat hulle namens die apostels en ouermanne in Jerusalem praat (Hand. 15:23, 24). Maar waarom het Joodse gelowiges nog steeds die besnydenis voorgestaan, ongeveer 13 jaar nadat die apostel Petrus, onder God se leiding, onbesnede nie-Jode in die Christengemeente verwelkom het? a – Hand. 10:24-29, 44-48.

5, 6. (a) Waarom wou party Joodse Christene dalk vashou aan die besnydenis? (b) Was die besnydenisverbond deel van die Abrahamitiese verbond? Verduidelik. (Sien voetnoot.)

5 Daar kan baie redes hiervoor wees. Om maar een te noem, die besnydenis is deur Jehovah self ingestel, en dit was ’n teken van ’n spesiale verhouding met hom. Die besnydenis, wat al voor die Wetsverbond ingestel is maar later ’n deel daarvan geword het, het met Abraham en sy huishouding begin (Lev. 12:2, 3). b Onder die Mosaïese Wet moes selfs uitlanders besny word voordat hulle sekere voorregte kon geniet, soos om die Pasgamaal te eet (Eks. 12:43, 44, 48, 49). Trouens, in die verstand van ’n Jood was ’n onbesnede man onrein, veragtelik. – Jes. 52:1.

6 Dit het dus geloof en nederigheid van Joodse gelowiges geverg om hulle denke by geopenbaarde waarheid aan te pas. Die nuwe verbond het die Wetsverbond vervang, en daarom het iemand wat as ’n Jood gebore is, nie meer outomaties ’n lid van God se volk geword nie. En dit het moed geverg van Joodse Christene in Joodse gemeenskappe – soos die gelowiges in Judea – om geloof in Christus te bely en onbesnede nie-Jode as medegelowiges te aanvaar. – Jer. 31:31-33; Luk. 22:20.

7. Watter waarhede het “manne . . . van Judea” nie begryp nie?

7 God se standaarde het natuurlik nie verander nie. Bewys hiervan is die feit dat die gees van die Mosaïese Wet in die nuwe verbond vervat is (Matt. 22:36-40). Byvoorbeeld, Paulus het later in verband met die besnydenis geskryf: “’n Ware Jood is ’n Jood in sy binneste, en sy besnydenis is ’n besnydenis van die hart wat deur gees gedoen is en nie deur ’n geskrewe Wet nie” (Rom. 2:29; Deut. 10:16). Die “manne . . . van Judea” het nie hierdie waarhede begryp nie, maar het aangevoer dat God nooit die wet in verband met die besnydenis herroep het nie. Sou hulle na rede luister?

“Onenigheid en ’n groot bespreking” (Handelinge 15:2)

8. Waarom is die besnydenisgeskil na die bestuursliggaam in Jerusalem verwys?

8 Lukas het verder gesê: “Paulus en Barnabas was daarteen gekant, en dit het tot baie onenigheid en ’n groot bespreking gelei [met die manne wat “van Judea af gekom” het]. Daarom is daar besluit dat Paulus en Barnabas en van die ander na die apostels en ouermanne in Jerusalem moet gaan in verband met hierdie saak” (Hand. 15:2). c Die “onenigheid en ’n groot bespreking” het bewys gelewer van sterk gevoelens en besliste oortuigings aan albei kante, en die gemeente in Antiogië kon die saak nie oplos nie. Om die vrede en eenheid te bewaar, het die gemeente wyslik gereël dat die kwessie verwys word na “die apostels en ouermanne in Jerusalem”, wat die bestuursliggaam uitgemaak het. Wat kan ons by die ouermanne in Antiogië leer?

Party het volgehou: “[Die nie-Jode] moet . . . beveel word om die Wet van Moses te gehoorsaam”

9, 10. In watter opsig het die broers in Antiogië sowel as Paulus en Barnabas ’n goeie voorbeeld gestel vir ons wat vandag leef?

9 Een waardevolle les wat ons leer, is dat ons God se organisasie moet vertrou. Dink hieraan: Die broers in Antiogië het geweet dat die bestuursliggaam net uit Christene van ’n Joodse agtergrond bestaan. Nietemin het hulle vertrou dat dié liggaam die besnydenisgeskil in ooreenstemming met die Skrif sou oplos. Waarom? Die gemeente was vol vertroue dat Jehovah sake deur middel van sy heilige gees en die Hoof van die Christengemeente, Jesus Christus, sou rig (Matt. 28:18, 20; Ef. 1:22, 23). Mag ons, wanneer ernstige kwessies vandag ontstaan, die goeie voorbeeld van die gelowiges in Antiogië navolg deur vertroue te stel in God se organisasie en sy Bestuursliggaam van gesalfde Christene.

10 Ons word ook herinner aan die waarde van nederigheid en geduld. Paulus en Barnabas is persoonlik deur die heilige gees aangestel om na die nasies te gaan; nogtans het hulle nie daardie gesag gebruik om die besnydenisgeskil dadelik daar in Antiogië op te los nie (Hand. 13:2, 3). Daarbenewens het Paulus later geskryf: “Ek het as gevolg van ’n openbaring [na Jerusalem] gegaan” – wat op goddelike leiding in die saak dui (Gal. 2:2). Vandag streef ouermanne daarna om dieselfde nederige, geduldige gesindheid aan die dag te lê wanneer potensieel verdelende kwessies ontstaan. Hulle is nie stryerig nie, maar vertrou op Jehovah deur die Skrif te raadpleeg asook die instruksies en leiding wat deur die getroue slaaf voorsien word. – Fil. 2:2, 3.

11, 12. Waarom is dit belangrik om op Jehovah te wag?

11 In sommige gevalle moet ons dalk op Jehovah wag om lig op ’n sekere saak te werp. Onthou dat die broers in Paulus se tyd moes wag tot omstreeks 49 HJ – ongeveer 13 jaar nadat Kornelius in 36 HJ gesalf is – voordat Jehovah ’n finale oplossing in verband met die geskil oor die besnydenis van nie-Jode voorsien het. Waarom moes hulle so lank wag? Moontlik wou God aan opregte Jode genoeg tyd gee om hulle by hierdie groot verandering in sienswyse aan te pas. Die beëindiging van die 1 900 jaar oue besnydenisverbond wat met hulle geliefde voorvader Abraham gesluit is, was immers geen geringe saak nie! – Joh. 16:12.

12 Wat ’n voorreg is dit tog om deur ons geduldige en liefdevolle hemelse Vader onderrig en gevorm te word! Die resultate is altyd goed en altyd tot ons voordeel (Jes. 48:17, 18; 64:8). Laat ons dus nooit weens trots vasklou aan ons eie idees of negatief reageer op organisatoriese veranderinge of aanpassings in die verduideliking van sekere tekste nie (Pred. 7:8). As jy selfs net ’n sweempie van hierdie neiging in jouself bespeur, sal dit goed wees as jy biddend peins oor die tydige beginsels in Handelinge hoofstuk 15. d

13. Hoe kan ons Jehovah se geduld in ons bediening weerspieël?

13 Ons sal dalk geduld aan die dag moet lê wanneer ons die Bybel studeer met mense wat dit moeilik vind om gekoesterde valse opvattings of onskriftuurlike gebruike te laat vaar. In sulke gevalle moet ons moontlik ’n redelike tyd toelaat sodat God se gees op die hart van die student kan inwerk (1 Kor. 3:6, 7). Dit sal ook goed wees as ons oor die saak bid. Op die een of ander manier en op die regte tyd sal God ons help om te weet wat die verstandige weg is. – 1 Joh. 5:14.

Hulle het bemoedigende ondervindinge “in besonderhede” vertel (Handelinge 15:3-5)

14, 15. Hoe het die gemeente in Antiogië aan Paulus, Barnabas en die ander reisigers eer bewys, en in watter opsig was hulle teenwoordigheid ’n seën vir medegelowiges?

14 Lukas se verhaal gaan voort: “Nadat die gemeente ’n ent saam met hulle gegaan het, het hierdie manne verder gegaan deur Fenisië sowel as Samaria en in besonderhede vertel hoe die mense van die nasies hulle bekeer het, wat tot groot vreugde onder al die broers gelei het” (Hand. 15:3). Die gemeente het Paulus, Barnabas en die ander reisigers ’n ent ver vergesel, ’n daad van Christelike liefde wat aan hulle eer bewys het en getoon het dat die gemeente hulle God se seën toewens. Voorwaar nog ’n uitstekende voorbeeld wat die broers in Antiogië vir ons gestel het! Betoon jy eer aan jou geestelike broers en susters, “veral dié [ouermanne] wat hard werk in woord en onderrigting”? – 1 Tim. 5:17.

15 Hierdie reisigers was op hulle reis ’n seën vir mede-Christene in Fenisië en Samaria omdat hulle “in besonderhede” vir hulle ondervindinge vertel het oor die werk in die nie-Joodse veld. Die toehoorders het moontlik Joodse gelowiges ingesluit wat ná Stefanus se marteldood na hierdie gebiede gevlug het. Verslae van Jehovah se seën op die dissipelmaakwerk is ook vandag vir ons broers aanmoedigend, veral vir dié wat beproewinge verduur. Vind jy ten volle baat by sulke verslae deur Christelike vergaderinge en byeenkomste by te woon, asook deur die ondervindinge en lewensverhale in ons lektuur te lees, of dit nou in gedrukte vorm of op jw.org is?

16. Wat toon dat die besnydenis ’n groot geskil geword het?

16 Nadat hulle omtrent 550 kilometer suidwaarts gereis het, het die afvaardiging uit Antiogië uiteindelik hulle bestemming bereik. Lukas het geskryf: “Toe hulle in Jerusalem aankom, is hulle vriendelik ontvang deur die gemeente en die apostels en die ouermanne, en hulle het vertel van al die dinge wat God deur middel van hulle gedoen het” (Hand. 15:4). Maar in reaksie hierop het “party lede van die sekte van die Fariseërs wat gelowiges geword het, . . . opgestaan en gesê: ‘Hulle moet besny word en beveel word om die Wet van Moses te gehoorsaam’” (Hand. 15:5). Dit is duidelik dat die kwessie in verband met die besnydenis van nie-Joodse Christene ’n groot geskil geword het, en dit moes opgelos word.

“Die apostels en die ouermanne [het] bymekaargekom” (Handelinge 15:6-12)

17. Wie het die bestuursliggaam in Jerusalem uitgemaak, en waarom was “die ouermanne” dalk hierby ingesluit?

17 “Wysheid behoort aan dié wat raad soek”, sê Spreuke 13:10. In ooreenstemming met hierdie goeie beginsel “het die apostels en die ouermanne bymekaargekom om [die besnydenisgeskil] te ondersoek” (Hand. 15:6). “Die apostels en die ouermanne” het as verteenwoordigers van die hele Christengemeente opgetree, net soos die Bestuursliggaam van vandag. Waarom het “die ouermanne” saam met die apostels gedien? Onthou dat die apostel Jakobus tereggestel is, en die apostel Petrus was ten minste ’n tyd lank in die tronk. Sou iets soortgelyks dalk met die ander apostels gebeur? Die teenwoordigheid van ander bekwame gesalfde manne sou help verseker dat daar altyd behoorlike toesig is.

18, 19. Watter kragtige woorde het Petrus gespreek, en tot watter slotsom moes sy toehoorders gekom het?

18 Lukas het verder gesê: “Ná ’n lang, intense bespreking het Petrus opgestaan en . . . gesê: ‘Manne, broers, julle weet goed dat God my lank gelede onder julle uitgekies het sodat mense van die nasies die woord van die goeie nuus uit my mond sou hoor en glo. En God, wat die hart ken, het bewys dat hy hulle aanvaar deur die heilige gees aan hulle te gee, net soos hy dit ook aan ons gegee het. En hy het glad nie enige onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie, maar hy het hulle harte deur geloof gereinig’” (Hand. 15:7-9). Volgens een naslaanwerk beteken die Griekse woord wat in vers 7 met “intense bespreking” vertaal word, ook “’n soeke; ’n ondervraging”. Die broers het blykbaar in alle opregtheid verskillende menings gehad, en hulle het dit openlik uitgespreek.

19 Petrus se kragtige woorde het almal daaraan herinner dat hy teenwoordig was toe die eerste onbesnede nie-Jode – Kornelius en die mense in sy huis – in 36 HJ met die heilige gees gesalf is. As Jehovah nie meer ’n onderskeid maak tussen Jood en nie-Jood nie, op watter gesag sou mense dit dan doen? Wat meer is, dit is geloof in Christus wat ’n gelowige se hart suiwer, nie die onderhouding van die Mosaïese Wet nie. – Gal. 2:16.

20. Hoe het voorstanders van die besnydenis ‘God getoets’?

20 Op grond van die onweerlegbare getuienis van God se woord sowel as die heilige gees het Petrus tot dié slotsom gekom: “Hoekom toets julle God dan nou deur ’n juk op die nek van die dissipels te sit wat nie ons of ons voorvaders kon dra nie? Nee, ons glo dat ons op dieselfde manier as hulle deur die onverdiende goedheid van die Here Jesus gered word” (Hand. 15:10, 11). Voorstanders van die besnydenis het in werklikheid ‘God getoets’, of ‘sy geduld beproef’, soos ’n ander vertaling dit weergee. Hulle het wette op nie-Jode probeer afdwing wat die Jode self nie ten volle kon onderhou nie en wat hulle gevolglik ter dood veroordeel het (Gal. 3:10). Petrus se Joodse toehoorders moes eerder dankbaar gewees het vir God se onverdiende goedheid wat deur Jesus betoon is.

21. Wat was Barnabas en Paulus se bydrae tot die bespreking?

21 Petrus se woorde het sy toehoorders klaarblyklik diep getref, want “die hele groep [het] stil geword”. Daarna het Barnabas en Paulus vertel van “al die tekens en wonderwerke wat God deur middel van hulle onder die nasies gedoen het” (Hand. 15:12). Eindelik was die apostels en ouermanne nou in ’n posisie om al die getuienis te beoordeel en ’n besluit te neem wat die wil van God in verband met die besnydeniskwessie duidelik weerspieël het.

22-24. (a) Hoe volg die Bestuursliggaam vandag die voorbeeld van die vroeë bestuursliggaam? (b) Hoe kan alle ouermanne respek vir teokratiese gesag toon?

22 Wanneer die lede van die Bestuursliggaam vandag vergader, vertrou hulle ook op God se Woord vir leiding en bid hulle opreg vir heilige gees (Ps. 119:105; Matt. 7:7-11). Daarom ontvang elke lid van die Bestuursliggaam vooraf ’n agenda sodat hy biddend kan nadink oor die punte vir bespreking (Spr. 15:28). By die vergadering spreek hierdie gesalfde broers hulle gedagtes vryelik en met respek uit. Die Bybel word dikwels gedurende die besprekings gebruik.

23 Gemeentelike ouermanne moet hierdie voorbeeld volg. En as ’n ernstige kwessie nog nie opgelos is nadat dit by ’n ouermanvergadering bespreek is nie, kan die liggaam die plaaslike takkantoor of die aangestelde verteenwoordigers daarvan, soos kringopsieners, raadpleeg. Die tak kan op sy beurt aan die Bestuursliggaam skryf indien nodig.

24 Ja, Jehovah seën dié wat die teokratiese reëling respekteer en wat nederigheid, lojaliteit en geduld aan die dag lê. Soos ons in die volgende hoofstuk sal sien, is die godgegewe belonings hiervoor ware vrede, geestelike voorspoed en Christelike eenheid.

a Sien die venster “ Die leringe van die Judaïseerders”.

b Die besnydenisverbond was nie deel van die Abrahamitiese verbond, wat vandag nog van krag is nie. Die Abrahamitiese verbond het in 1943 VHJ in werking getree toe Abraham (destyds Abram) die Eufraat oorgesteek het op pad na Kanaän. Hy was toe 75 jaar oud. Die besnydenisverbond is later gesluit, in 1919 VHJ, toe Abraham 99 jaar oud was. – Gen. 12:1-8; 17:1, 9-14; Gal. 3:17.

c Titus, ’n Griekse Christen wat later ’n vertroude metgesel en gesant van Paulus geword het, was blykbaar ’n lid van die afvaardiging (Gal. 2:1; Tit. 1:4). Hierdie man was ’n goeie voorbeeld van ’n onbesnede nie-Jood wat deur die heilige gees gesalf is. – Gal. 2:3.