Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 14

“Ons het . . . saam besluit”

“Ons het . . . saam besluit”

Hoe die bestuursliggaam tot ’n besluit gekom het en die verenigende uitwerking wat dit op die gemeentes gehad het

Gebaseer op Handelinge 15:13-35

1, 2. (a) Voor watter ernstige vrae kom die bestuursliggaam van die eerste-eeuse Christengemeente te staan? (b) Watter hulp ontvang hierdie broers om tot die regte slotsom te kom?

 GESPANNE afwagting heers. Die apostels en ouermanne in die vertrek in Jerusalem kyk na mekaar in die besef dat hulle ’n kritieke oomblik bereik het. Die besnydenisgeskil het ernstige vrae laat ontstaan. Is Christene onder die Mosaïese Wet? Moet daar enige onderskeid tussen Joodse en nie-Joodse Christene wees?

2 Die manne wat die leiding neem, het baie getuienis aangehoor. Hulle dink na oor God se profetiese Woord sowel as die kragtige eerstehandse getuienis wat Jehovah se seën openbaar. Hulle het hulle gedagtes ten volle uitgespreek. Die getuienis in verband met die betrokke geskil is oorweldigend. Jehovah se gees wys duidelik die weg aan. Sal hierdie manne ag gee op die leiding?

3. Hoe kan ons baat vind by ’n ondersoek van die verslag in Handelinge hoofstuk 15?

3 Dit sal ware geloof en moed verg om die leiding van die gees in dié saak te aanvaar. Hulle loop die gevaar dat die Joodse godsdiensleiers hulle selfs meer sal haat. En hulle kry weerstand van manne in die gemeente wat vasbeslote is om God se volk terug te lei na vertroue op die Mosaïese Wet. Wat sal die bestuursliggaam doen? Kom ons kyk. In die proses sal ons sien hoe hierdie manne ’n patroon vasgestel het wat vandag deur die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies gevolg word. Dit is ’n patroon wat ons ook moet volg wanneer ons voor besluite en uitdagings in ons lewe as Christene te staan kom.

“Die woorde van die profete stem hiermee ooreen” (Handelinge 15:13-21)

4, 5. Watter gedagte uit God se profetiese Woord het Jakobus by die bespreking gevoeg?

4 Die dissipel Jakobus, die halfbroer van Jesus, het begin praat. a Dit wil voorkom of hy by hierdie geleentheid as die voorsitter van die vergadering opgetree het. Sy woorde het die konsensus opgesom wat die liggaam as ’n geheel blykbaar bereik het. Jakobus het aan die vergaderde manne gesê: “Simeon het verduidelik hoe God vir die eerste keer aan die nasies gedink het sodat hy uit hulle ’n volk vir sy naam kan neem. En die woorde van die profete stem hiermee ooreen.” – Hand. 15:14, 15.

5 Die toespraak deur Simeon, of Simon Petrus, en die getuienis wat Barnabas en Paulus voorgelê het, het Jakobus waarskynlik laat dink aan spesifieke tekste wat lig gewerp het op die onderwerp onder bespreking (Joh. 14:26). Nadat Jakobus gesê het “die woorde van die profete stem hiermee ooreen”, het hy die woorde van Amos 9:11, 12 aangehaal. Daardie boek het verskyn in die deel van die Hebreeuse Geskrifte wat gewoonlik “die profete” genoem is (Matt. 22:40; Hand. 15:16-18). Jy sal opmerk dat die woorde wat Jakobus aangehaal het, effens verskil van dié wat ons vandag in die boek Amos vind. Jakobus het heel waarskynlik uit die Septuagint, ’n Griekse vertaling van die Hebreeuse Geskrifte, aangehaal.

6. Hoe het die Skrif lig op die bespreking gewerp?

6 Deur middel van die profeet Amos het Jehovah voorspel dat die tyd sou kom wanneer Hy die “hut van Dawid”, dit wil sê die koninklike lyn wat tot die Messiaanse Koninkryk lei, sou oprig (Eseg. 21:26, 27). Sou Jehovah weer eens uitsluitlik met vleeslike Jode as ’n nasie handel? Nee. Die profesie voeg by dat “mense van al die nasies” byeengebring sou word as “mense wat [God se] naam dra”. Onthou dat Petrus so pas getuig het dat God “glad nie enige onderskeid tussen ons [Joodse Christene] en hulle [nie-Joodse gelowiges] gemaak [het] nie, maar hy het hulle harte deur geloof gereinig” (Hand. 15:9). Met ander woorde, dit is God se wil dat Jode sowel as nie-Jode erfgename van die Koninkryk moet word (Rom. 8:17; Ef. 2:17-19). Nêrens het hierdie geïnspireerde profesieë te kenne gegee dat die nie-Joodse gelowiges eers in die vlees besny moes word of proseliete moes word nie.

7, 8. (a) Wat het Jakobus voorgestel? (b) Hoe moet ons Jakobus se woorde verstaan?

7 Na aanleiding van hierdie skriftuurlike bewyse en die kragtige getuienis wat hy aangehoor het, het Jakobus hierdie woorde vir oorweging voorgelê: “Daarom dink ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir die mense uit die nasies wat God wil dien nie, maar dat ons aan hulle moet skryf om hulle te weerhou van dinge wat deur afgode besoedel is, van seksuele onsedelikheid, van wat verwurg is en van bloed. Want van die ou tyd af was daar in elke stad mense wat Moses verkondig het, omdat hy elke sabbat in die sinagoges voorgelees word.” – Hand. 15:19-21.

8 Het Jakobus, toe hy gesê het “daarom dink ek dat”, sy gesag op die ander broers afgedwing – miskien as die voorsitter van die vergadering – en sommer self besluit wat gedoen moes word? Beslis nie! Die Griekse uitdrukking wat met “dink ek dat” vertaal word, kan ook “ek is van oordeel” of “ek spreek ’n mening uit” beteken. Jakobus het allermins baasgespeel oor die hele liggaam; hy het eerder ’n plan van aksie vir hulle oorweging voorgelê, wat gebaseer is op die getuienis wat aangehoor is en op wat die Skrif oor die saak sê.

9. Watter voordele het Jakobus se voorstel ingehou?

9 Was Jakobus se voorstel goed? Klaarblyklik was dit, want die apostels en die ouermanne het dit later aangeneem. Met watter voordele? Aan die een kant sou die voorgestelde optrede “dit nie moeilik . . . maak” vir nie-Joodse Christene deur van hulle te verwag om die vereistes van die Mosaïese Wet na te kom nie (Hand. 15:19). Aan die ander kant sou hierdie beslissing respek toon vir die gewete van Joodse Christene, wat oor die jare heen gehoor het hoe “Moses . . . elke sabbat in die sinagoges voorgelees word” (Hand. 15:21). b Die voorgestelde optrede sou beslis die band tussen Joodse en nie-Joodse Christene versterk. Bowenal sou dit Jehovah God behaag en sy ontvouende voorneme weerspieël. Wat ’n doeltreffende manier om ’n probleem op te los wat die eenheid en welsyn van die hele gemeente van God se volk bedreig het! En wat ’n uitstekende voorbeeld is dit tog vir die Christengemeente van vandag!

Albert Schroeder by ’n internasionale byeenkoms in 1998

10. Hoe volg die hedendaagse Bestuursliggaam die patroon wat hulle eerste-eeuse eweknie vasgestel het?

10 Soos in die vorige hoofstuk genoem is, vertrou die hedendaagse Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies op Jehovah, die Universele Soewerein, en op Jesus Christus, die Hoof van die gemeente, vir leiding in alle sake, net soos die eerste-eeuse bestuursliggaam gedoen het (1 Kor. 11:3). c Hoe so? Albert D. Schroeder, wat van 1974 af op die Bestuursliggaam gedien het totdat hy sy aardse loopbaan in Maart 2006 voltooi het, het verduidelik: “Die Bestuursliggaam vergader op Woensdae, open die vergadering met gebed en vra Jehovah vir die leiding van sy gees. Hulle span hulle in om te verseker dat elke saak onder bespreking en elke besluit wat geneem word, in ooreenstemming met God se Woord die Bybel is.” Op dieselfde trant het Milton G. Henschel, wat jare lank ’n lid van die Bestuursliggaam was totdat hy sy aardse loopbaan in Maart 2003 voltooi het, ’n fundamentele vraag aan die graduerende studente van die 101ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead gestel. Hy het gevra: “Is daar ’n ander organisasie op aarde waarvan die Bestuursliggaam God se Woord, die Bybel, raadpleeg voordat hulle belangrike besluite neem?” Die antwoord is voor die hand liggend.

‘Kies manne onder hulle uit en stuur hulle’ (Handelinge 15:22-29)

11. Hoe is die bestuursliggaam se besluit aan die gemeentes oorgedra?

11 Die bestuursliggaam in Jerusalem het saam tot ’n besluit gekom oor die besnydenisgeskil. Maar om te verseker dat die broers in die gemeentes in eenheid sou optree, moes daardie besluit duidelik en op ’n positiewe, aanmoedigende wyse oorgedra word. Wat was die beste manier om dit te doen? Die verslag verduidelik: “Toe het die apostels en die ouermanne saam met die hele gemeente besluit om manne onder hulle uit te kies en hulle saam met Paulus en Barnabas na Antiogië te stuur. Hulle het Judas gestuur, wat Barsabbas genoem is, sowel as Silas, manne wat die leiding onder die broers geneem het.” Hulle het ook ’n brief geskryf en dit saam met hierdie manne gestuur sodat dit in al die gemeentes in Antiogië, Sirië en Silisië gelees kon word. – Hand. 15:22-26.

12, 13. Watter voordele het dit ingehou om (a) Judas en Silas te stuur? (b) ’n brief van die bestuursliggaam te stuur?

12 As “manne wat die leiding onder die broers geneem het”, was Judas en Silas heeltemal bekwaam om as verteenwoordigers van die bestuursliggaam op te tree. Die afvaardiging van vier manne sou dit duidelik maak dat hulle boodskap nie bloot ’n antwoord op die oorspronklike navraag is nie, maar dat dit die uitdruklike riglyne van die bestuursliggaam is. Die teenwoordigheid van hierdie ‘manne wat gekies is’, sou ’n hegte band smee tussen die Joodse Christene in Jerusalem en die nie-Joodse Christene in die veld. Wat ’n wyse en liefdevolle reëling! Dit het ongetwyfeld vrede en harmonie onder God se volk bevorder.

13 Die brief het nie-Joodse Christene nie net duidelike riglyne in verband met die besnydenisgeskil gegee nie, maar ook in verband met wat hulle moet doen om Jehovah se goedkeuring en seën te ontvang. Die belangrikste deel van die brief het gesê: “Die heilige gees en ons het besluit om geen verdere las vir julle by te voeg nie, behalwe hierdie noodsaaklike dinge: Weerhou julle van dinge wat aan afgode geoffer is, van bloed, van wat verwurg is en van seksuele onsedelikheid. As julle sorg dat julle wegbly van hierdie dinge, sal julle voorspoedig wees. Mag dit goed gaan met julle!” – Hand. 15:28, 29.

14. Hoe is dit vir Jehovah se volk moontlik om in eenheid te werk in vandag se verdeelde wêreld?

14 Vandag vind ons eenheid van geloofsoortuiging en eendragtige optrede onder Jehovah se Getuies, waarvan daar baie meer as 8 000 000 in meer as 100 000 gemeentes regoor die aarde is. Hoe is sulke eenheid moontlik, veral met die oog op die beroering en verdelende denke wat so algemeen is in vandag se wêreld? Eenheid spruit hoofsaaklik voort uit die duidelike en daadwerklike leiding wat Jesus Christus, die Hoof van die gemeente, voorsien deur middel van “die getroue en verstandige slaaf”, dit wil sê die Bestuursliggaam (Matt. 24:45-47). Eenheid spruit ook voort uit die manier waarop die wêreldwye broederskap hulle gewillig aan die leiding van die Bestuursliggaam onderwerp.

“Hulle [was] bly oor die aanmoediging” (Handelinge 15:30-35)

15, 16. Wat was die gevolg van die besnydenisgeskil, en wat was die rede hiervoor?

15 Die verslag in Handelinge vertel verder dat die afvaardiging van broers uit Jerusalem, toe hulle in Antiogië gekom het, “die hele groep bymekaargeroep het en die brief vir hulle gegee het”. Hoe het daardie broers op die bestuursliggaam se riglyne gereageer? “Nadat hulle [die brief] gelees het, was hulle bly oor die aanmoediging” (Hand. 15:30, 31). Daarbenewens het Judas en Silas “die broers met baie toesprake aangemoedig en versterk”. In dié sin was die twee manne “profete”, net soos Barnabas, Paulus en ander ook profete genoem is – ’n term wat verwys na diegene wat God se wil verkondig of bekend maak. – Hand. 13:1; 15:32; Eks. 7:1, 2.

16 Dit is duidelik dat Jehovah die hele reëling geseën het, en dit het tot ’n gunstige oplossing van die geskil gelei. Wat was die sleutel tot die positiewe gevolg? Dit was sonder enige twyfel die bestuursliggaam se duidelike en tydige riglyne, wat gebaseer was op God se Woord en die leiding van die heilige gees. Dan was daar ook nog die liefdevolle, persoonlike manier waarop die besluite aan die gemeentes oorgedra is.

17. Hoe is die patroon vasgestel vir party kenmerke van besoeke deur kringopsieners in ons tyd?

17 Die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies volg vandag daardie patroon deur tydige riglyne aan die wêreldwye broederskap te voorsien. Wanneer besluite geneem word, word dit duidelik en ondubbelsinnig aan die gemeentes oorgedra. Een manier is deur die besoeke van kringopsieners. Hierdie selfopofferende broers reis van een gemeente na die ander en voorsien duidelike leiding en hartlike aanmoediging. Soos Paulus en Barnabas, bring hulle baie tyd in die bediening deur, terwyl hulle ‘saam met baie ander die goeie nuus van die woord van Jehovah aan ander leer en bekend maak’ (Hand. 15:35). Soos Judas en Silas, ‘moedig hulle die broers aan met baie toesprake’ en versterk hulle hulle.

18. Hoe kan God se volk verseker dat hulle altyd Jehovah se seën ontvang?

18 Wat van die gemeentes? Wat sal die gemeentes regoor die aarde in staat stel om voortdurend vrede en eenheid in vandag se verdeelde wêreld te geniet? Onthou dat dit die dissipel Jakobus was wat later geskryf het: “Die wysheid van bo is in die eerste plek rein, dan vreedsaam, redelik, bereid om te gehoorsaam . . . Wat meer is, die vrug van regverdigheid word onder vreedsame toestande gesaai vir dié wat vrede maak” (Jak. 3:17, 18). Ons kan nie vir seker sê of Jakobus aan die vergadering in Jerusalem gedink het nie. Maar uit ons bespreking van die gebeure wat in Handelinge hoofstuk 15 opgeteken staan, is dit duidelik dat Jehovah se seën slegs sal wees waar daar eenheid en samewerking is.

19, 20. (a) Wat het duidelik getoon dat vrede en eenheid in die gemeente in Antiogië geheers het? (b) Wat kon Paulus en Barnabas nou doen?

19 Dit was duidelik dat vrede en eenheid hierna in die gemeente in Antiogië geheers het. Die broers in Antiogië het nie met die broers uit Jerusalem gestry nie, maar hulle het die besoek van Judas en Silas hoog op prys gestel. Die verslag sê: “Nadat hulle ’n ruk lank daar gebly het, het die broers hulle voorspoed toegewens toe hulle terugreis na dié wat hulle gestuur het”, dit wil sê terug na Jerusalem (Hand. 15:33). d Ons kan daarvan seker wees dat die broers in Jerusalem ook verheug was toe hulle gehoor het wat die twee manne oor hulle reis vertel. Danksy Jehovah se onverdiende goedhartigheid was hulle sending ’n sukses!

20 Paulus en Barnabas, wat in Antiogië agtergebly het, kon hulle nou daarop toespits om die leiding te neem in die evangelisasiewerk, soos kringopsieners vandag doen wanneer hulle die gemeentes onder hulle toesig besoek (Hand. 13:2, 3). Wat ’n seën vir Jehovah se volk! Maar hoe het Jehovah hierdie twee ywerige evangeliepredikers verder gebruik en geseën? Dit sal ons in die volgende hoofstuk sien.

Hedendaagse Christene vind baat by die geestelike voorsienings wat die Bestuursliggaam en die verteenwoordigers daarvan beskikbaar maak

a Sien die venster “ Jakobus – ‘Die Here se broer’”.

b Jakobus het wyslik na die geskrifte van Moses verwys, wat nie net die Wet ingesluit het nie, maar ook ’n verslag bevat het van God se handelinge asook aanduidings van Sy wil wat die Wet voorafgegaan het. Byvoorbeeld, God se beskouing van bloed, egbreuk en afgodediens kan duidelik in Genesis gesien word (Gen. 9:3, 4; 20:2-9; 35:2, 4). Jehovah het sodoende beginsels geopenbaar wat op die hele mensdom, hetsy Jood of nie-Jood, van toepassing is.

d In vers 34 voeg party Bybelvertalings woorde in wat daarop dui dat Silas besluit het om in Antiogië agter te bly (Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Maar hierdie woorde is blykbaar latere toevoegings.