Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Brief van die Bestuursliggaam

’n Brief van die Bestuursliggaam

Liewe Koninkryksverkondiger

Stel jou voor dat jy een van die apostels is wat op die Olyfberg staan. Jesus verskyn voor jou. Net voordat hy na die hemel opvaar, sê hy: “Julle sal krag ontvang wanneer die heilige gees op julle kom, en julle sal getuies van my wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Hand. 1:8). Hoe sou jy reageer?

Miskien sou jy oorweldig voel deur hierdie ontsaglike taak. Jy wonder dalk: ‘Hoe sal ons – ’n klein groepie dissipels – ooit tot in “die mees afgeleë deel van die aarde” kan getuig?’ Jy onthou miskien die waarskuwing wat Jesus die aand voor sy dood gegee het: “’n Slaaf is nie groter as sy meester nie. As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woord gehoorsaam het, sal hulle julle woord ook gehoorsaam. Maar hulle sal al hierdie dinge aan julle doen as gevolg van my naam, omdat hulle die Een wat my gestuur het, nie ken nie” (Joh. 15:20, 21). Terwyl jy oor hierdie woorde nadink, vra jy jou dalk af: ‘Hoe kan ek deeglik getuig ten spyte van sulke teenstand en vervolging?’

Vandag kom ons voor soortgelyke vrae te staan. Ons opdrag as Jehovah se Getuies vereis eweneens dat ons deeglik tot in “die mees afgeleë deel van die aarde” en vir “mense van al die nasies” getuig (Matt. 28:19, 20). Hoe kan hierdie werk volbring word, veral met die oog op die voorspelde teenstand?

Die Handelinge van die Apostels voorsien ’n opwindende verslag van hoe die apostels en hulle mede-Christene in die eerste eeu HJ hulle toewysing met Jehovah se hulp kon uitvoer. Die publikasie wat jy nou lees, is saamgestel om jou te help om hierdie verslag te ondersoek en self die opwinding te voel van die dramatiese gebeure daarin. Jy sal verbaas wees oor hoeveel parallelle daar is tussen God se knegte van die eerste eeu en sy hedendaagse volk. Jy sal sien dat hierdie parallelle nie net die werk behels wat ons doen nie, maar ook die manier waarop ons georganiseer is om dié werk te doen. As jy oor hierdie ooreenkomste nadink, sal dit ongetwyfeld jou geloof versterk dat Jehovah God steeds die aardse deel van sy organisasie rig.

Ons hoop en bid dat ’n studie van die boek Handelinge jou selfs groter vertroue sal gee dat Jehovah jou sal help en dat die krag van sy heilige gees jou sal ondersteun. Mag jy daardeur aangemoedig word om aan te hou om ‘deeglik te getuig’ oor God se Koninkryk en om ander te help om op die weg na redding te kom. – Hand. 28:23; 1 Tim. 4:16.

Jou broers

Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies