Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 1

“Gaan . . . en maak dissipels”

“Gaan . . . en maak dissipels”

Oorsig van Die Handelinge van die Apostels en hoe dit met ons dag verband hou

1-6. Vertel ’n ondervinding van Getuies wat in allerhande omstandighede preek.

 REBECCA, ’n jong Getuie van Jehovah in Ghana, het haar skool as haar persoonlike predikingsgebied beskou. Sy het altyd Bybellektuur in haar skoolsak gedra. Gedurende pouses was sy op die uitkyk na geleenthede om vir haar skoolmaats te getuig. Rebecca het met etlike van haar klasmaats Bybelstudies begin.

2 Op die eiland Madagaskar, naby die ooskus van Afrika, het twee pioniers gereeld sowat 25 kilometer in die tropiese hitte na ’n afgeleë dorpie geloop. Daar het hulle ’n hele paar Bybelstudies met belangstellendes gehou.

3 Om mense langs die Paraguay- en Paranárivier te bereik, het Getuies in Paraguay tesame met vrywilligers uit 15 ander lande ’n rivierboot gebou. Tot 12 mense kan op dié 45-tonboot bly. Vanaf hierdie drywende tuiste versprei ywerige Koninkryksverkondigers die goeie nuus in gebiede wat andersins onbereikbaar sou wees.

4 In die verre noorde het Getuies in Alaska ’n unieke geleentheid benut om gedurende die toeristeseisoen in die somer te getuig. Toe warmer weer plesierbote vol besoekers van baie verskillende nasionaliteite laat instroom het, het plaaslike Getuies hulle op die dok met ’n aantreklike uitstalling van Bybellektuur in ’n groot verskeidenheid tale verwelkom. In dieselfde streek het ’n vliegtuig waardevolle diens gelewer deur na afgeleë dorpies te vlieg, wat dit moontlik gemaak het om die goeie nuus aan die Aleoet-, Athabasca-, Tsimshian- en Tlingitgemeenskappe te verkondig.

5 Larry, in Texas, VSA, het ’n spesiale gebied gehad – die verpleeginrigting waar hy gewoon het. Al is hy in ’n rolstoel weens ’n ongeluk, het Larry besig gebly. Hy het ander van die Koninkryksboodskap vertel, insluitende sy Bybelse hoop dat hy weer sal kan loop wanneer die Koninkryk heers. – Jes. 35:5, 6.

6 Om ’n byeenkoms in die noorde van Mianmar by te woon, het ’n groep Getuies drie dae lank op ’n veerboot van Mandalay af gereis. Gretig om die goeie nuus te verkondig, het hulle Bybellektuur saamgeneem, wat hulle vir medepassasiers aangebied het. By elke plek waar die boot aangedoen het, het die energieke verkondigers afgeklim en vinnig deur die gebied gewerk en lektuur versprei. Intussen het nuwe passasiers wat op die boot geklim het, die Koninkryksverkondigers van “nuwe gebied” voorsien wanneer hulle teruggekeer het.

7. Op watter maniere getuig aanbidders van Jehovah oor God se Koninkryk, en wat is hulle doelwit?

7 Soos die broers en susters wat in hierdie paar voorbeelde genoem word, is ywerige aanbidders van Jehovah regoor die wêreld besig om “deeglik oor die Koninkryk van God te getuig” (Hand. 28:23). Hulle gaan van huis tot huis, nader mense op straat, skryf vir hulle briewe en praat met hulle oor die telefoon. Of hulle nou op ’n bus ry, in ’n park stap of ’n blaaskans by hulle sekulêre werk kry, hulle is gretig op die uitkyk na geleenthede om ’n getuienis oor God se Koninkryk te gee. Die spesifieke metodes verskil dalk, maar die doelwit is dieselfde – om die goeie nuus te verkondig waar mense ook al gevind kan word. – Matt. 10:11.

8, 9. (a) Waarom is die uitbreiding van die Koninkrykspredikingswerk niks minder as ’n wonderwerk nie? (b) Watter interessante vraag ontstaan, en wat moet ons doen om die antwoord daarop te vind?

8 Is jy, liewe leser, een van die menigte Koninkryksverkondigers wat nou in meer as 235 lande bedrywig is? Indien wel, het jy ’n aandeel aan die opwindende uitbreiding van die Koninkrykspredikingswerk! Wat al wêreldwyd bereik is, is niks minder as ’n wonderwerk nie. Ten spyte van ontsaglike struikelblokke en uitdagings – selfs regeringsverbooie en direkte vervolging – getuig Jehovah se Getuies deeglik vir mense van alle nasies oor God se Koninkryk.

9 ’n Interessante vraag om te oorweeg, is: Waarom kon geen struikelblok, nie eens sataniese teenstand, die vooruitgang van die Koninkrykspredikingswerk stuit nie? Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons teruggaan na die eerste eeu HJ. As hedendaagse Getuies van Jehovah sit ons immers die werk voort waarmee daar destyds begin is.

’n Verreikende opdrag

10. Waarop het Jesus hom toegelê, en wat het hy omtrent hierdie werk geweet?

10 Die Stigter van die Christengemeente, Jesus Christus, het hom toegelê op die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk; dit was sy lewenstaak. Hy het eenkeer verduidelik: “Ek moet die goeie nuus van die Koninkryk van God ook aan ander stede bekend maak, want dit is waarvoor ek gestuur is” (Luk. 4:43). Jesus het geweet dat hy met ’n werk begin wat hy op sy eie nie sou kon voltooi nie. Kort voor sy dood het hy voorspel dat die Koninkryksboodskap in “al die nasies” verkondig sal word (Mark. 13:10). Maar hoe sou dit gedoen word, en deur wie?

Gaan . . . en maak dissipels van mense van al die nasies.” – Matteus 28:19

11. Watter gewigtige opdrag het Jesus sy dissipels gegee, en watter ondersteuning sou hulle in die uitvoering daarvan ontvang?

11 Ná sy dood en opstanding het Jesus aan sy dissipels verskyn en hulle hierdie gewigtige opdrag gegee: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te gehoorsaam wat ek julle beveel het. En wees verseker: Ek is met julle al die dae tot aan die einde van die wêreldstelsel” (Matt. 28:19, 20). Die woorde “ek is met julle” het aangedui dat hy die dissipels in die predikings- en dissipelmaakwerk sou ondersteun. Hulle sou sulke ondersteuning nodig hê, want Jesus het voorspel dat hulle “deur al die nasies gehaat [sou] word” (Matt. 24:9). Daar is nog iets waarop die dissipels kon staatmaak om hulle te ondersteun. Net voordat Jesus na die hemel opgevaar het, het hy vir hulle gesê dat die heilige gees hulle krag sou gee om “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” sy getuies te wees. – Hand. 1:8.

12. Watter belangrike vrae ontstaan, en waarom is dit noodsaaklik dat ons weet wat die antwoorde is?

12 Nou ontstaan ’n paar belangrike vrae: Het Jesus se apostels en die ander eerste-eeuse dissipels hulle opdrag ernstig opgeneem? Het hierdie betreklike klein groepie Christenmans en -vroue selfs ten spyte van wrede vervolging deeglik getuig oor die Koninkryk van God? Het hulle werklik hemelse steun sowel as die ondersteuning van Jehovah se heilige gees in hulle dissipelmaakwerk gehad? Hierdie en verwante vrae word in die Bybelboek Handelinge beantwoord. Dit is noodsaaklik dat ons weet wat die antwoorde is. Waarom? Jesus het belowe dat die werk wat volgens sy bevel gedoen moes word, “tot aan die einde van die wêreldstelsel” sou voortduur. Hierdie opdrag geld dus vir alle ware Christene, insluitende dié van ons wat in hierdie tyd van die einde lewe. Ons stel dus intens belang in die geskiedenisverslag wat in die boek Handelinge opgeteken staan.

’n Oorsig van die boek Handelinge

13, 14. (a) Wie het die boek Handelinge geskryf, en waar het die skrywer sy inligting gekry? (b) Wat bevat die boek Handelinge?

13 Wie het die boek Handelinge geskryf? Die boek self noem nêrens die naam van die skrywer nie, maar die openingswoorde maak dit duidelik dat die skrywer van Handelinge ook die Evangelie van Lukas geskryf het (Luk. 1:1-4; Hand. 1:1, 2). Lukas, ’n “geliefde dokter” en ’n nougesette geskiedskrywer, word dus al van die vroegste tye af as die skrywer van Handelinge beskou (Kol. 4:14). Die boek dek ’n tydperk van ongeveer 28  jaar, van Jesus se hemelvaart in 33 HJ tot die apostel Paulus se gevangenskap in Rome omstreeks 61 HJ. Die feit dat Lukas in sy verslag soms “hulle” en soms “ons” gebruik, dui daarop dat hy teenwoordig was tydens baie van die gebeure wat hy beskryf (Hand. 16:8-10; 20:5; 27:1). Lukas, ’n noukeurige navorser, het ongetwyfeld sy inligting direk by Paulus, Barnabas, Filippus en ander gekry wat in die verslag genoem word.

14 Wat bevat die boek Handelinge? Lukas het vroeër, in sy Evangelie, geskryf oor die dinge wat Jesus gesê en gedoen het. Maar in die boek Handelinge beskryf Lukas wat Jesus se volgelinge gesê en gedoen het. Handelinge vertel dus van mense wat ’n buitengewone werk gedoen het, al het buitestanders baie van hulle as “ongeleerde en gewone mense” beskou (Hand. 4:13). Kortom, die geïnspireerde verslag vertel ons hoe die Christengemeente gestig is en hoe dit gegroei het. Handelinge toon hoe die eerste-eeuse Christene gepreek het – wat hulle metodes en hulle gesindheid was (Hand. 4:31; 5:42). Dit vestig die aandag op die rol van die heilige gees in die verspreiding van die goeie nuus (Hand. 8:29, 39, 40; 13:1-3; 16:6; 18:24, 25). Handelinge bou voort op die Bybel se tema, wat verband hou met die heiliging van God se naam deur middel van sy Koninkryk onder Christus, en toon die triomfantlike verspreiding van die Koninkryksboodskap ten spyte van hewige teenstand. – Hand. 8:12; 19:8; 28:30, 31.

15. Hoe sal ons baat vind by ’n ondersoek van die boek Handelinge?

15 Dit is inderdaad opwindend en geloofversterkend om die Bybelboek Handelinge te ondersoek! As ons oor die moedige en ywerige voorbeeld van Christus se vroeë volgelinge nadink, sal dit ons harte roer. Dit sal ons aanspoor om die geloof van ons eerste-eeuse broers na te volg. Ons sal gevolglik beter toegerus wees om ons opdrag uit te voer om te ‘gaan en dissipels te maak’. Die doel van die publikasie wat jy nou lees, is om jou te help om ’n noukeurige studie van die boek Handelinge te maak.

’n Bybelstudiehulp wat ons kan help

16. Wat is die drievoudige oogmerk van hierdie publikasie?

16 Wat is die doel van hierdie publikasie? Die drievoudige oogmerk van hierdie boek is (1) om ons oortuiging te versterk dat Jehovah die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk deur middel van sy heilige gees ondersteun, (2) om ons ywer vir die bediening te laat toeneem deur die voorbeeld van eerste-eeuse volgelinge van Christus te ondersoek en (3) om ons respek te vergroot vir Jehovah se organisasie sowel as vir dié wat die leiding neem in die predikingswerk en toesig hou oor die gemeentes.

17, 18. Hoe is hierdie publikasie saamgestel, en watter kenmerke sal nuttig wees vir persoonlike Bybelstudie?

17 Hoe is hierdie publikasie saamgestel? Jy sal opmerk dat dit in agt dele verdeel is, wat elkeen ’n gedeelte van die boek Handelinge dek. Die doel van die hoofstukke wat volg, is nie om ’n vers-vir-vers-bespreking van Handelinge te gee nie, maar om ons te help om te sien watter lesse daar is in die gebeure wat in dié Bybelboek gemeld word en hoe ons die punte wat ons leer, persoonlik kan toepas. Aan die begin van elke hoofstuk is daar ’n fokusreël wat die kerngedagte van daardie hoofstuk bevat, asook ’n teksverwysing wat toon watter deel van Handelinge bespreek gaan word.

18 Daar is ook ander kenmerke van hierdie publikasie wat nuttig sal wees vir persoonlike Bybelstudie. Pragtige prente wat opwindende episodes in die boek Handelinge uitbeeld, sal jou help om hierdie gebeure te visualiseer terwyl jy oor die Bybelverslag nadink. Baie hoofstukke het vensters met nuttige aanvullende inligting. Sekere vensters gee ’n profiel van ’n Bybelkarakter wie se geloof navolgenswaardig is. Party bevat meer besonderhede oor plekke, gebeure, gebruike of ander persone wat in Handelinge genoem word.

Werk met ’n gevoel van dringendheid in jou toegewese gebied

19. Watter selfondersoek moet ons van tyd tot tyd doen?

19 Hierdie publikasie kan jou help om ’n eerlike selfondersoek te doen. Ongeag hoe lank jy al ’n Koninkryksverkondiger is, dit is goed om van tyd tot tyd stil te staan en jou prioriteite in die lewe asook jou beskouing van die Christelike bediening te ondersoek (2 Kor. 13:5). Vra jou af: ‘Behou ek ’n gevoel van dringendheid in my bediening? (1 Kor. 7:29-31). Verkondig ek die goeie nuus met oortuiging en ywer? (1 Tess. 1:5, 6). Doen ek soveel as wat ek kan in die predikings- en dissipelmaakwerk?’ – Kol. 3:23.

20, 21. Waarom is ons werk so dringend, en wat moet ons voorneme wees?

20 Laat ons altyd in gedagte hou dat ons ’n belangrike werk gegee is – om te preek en dissipels te maak. Hierdie werk word elke dag dringender. Die einde van hierdie stelsel kom vinnig nader. Nog nooit tevore was soveel lewens op die spel nie. Ons weet nie hoeveel mense met die regte gesindheid nog op ons boodskap sal reageer nie (Hand. 13:48). Maar dit is ons verantwoordelikheid om sulke persone te help voordat dit te laat is. – 1 Tim. 4:16.

21 Dit is dus noodsaaklik dat ons die voorbeeld van ywerige eerste-eeuse Koninkryksverkondigers navolg. Mag jou noukeurige studie van hierdie publikasie jou aanspoor om met selfs groter ywer en vrymoedigheid te preek. En mag dit jou versterk in jou voorneme om aan te hou om “deeglik oor die Koninkryk van God te getuig”. – Hand. 28:23.