HOOFSTUK 4
“Ongeleerde en gewone mense”
Die apostels tree moedig op, en Jehovah seën hulle
Gebaseer op Handelinge 3:1–5:11
1, 2. Watter wonderwerk het Petrus en Johannes naby die tempelpoort verrig?
DIE flou middagson skyn op die malende skare. Vroom Jode en dissipels van Christus stroom die tempelkompleks binne. Dit is kort voor “die uur van gebed” (Hand. 2:46; 3:1). a Te midde van hierdie mensemassa beweeg Petrus en Johannes stadig in die rigting van die tempelpoort wat Mooi genoem word. Die stem van ’n middeljarige bedelaar, wat van sy geboorte af kreupel is en om aalmoese roep, styg uit bo die lawaai van pratende mense en die geluid van skuifelende voete. – Hand. 3:2; 4:22.
2 Terwyl Petrus en Johannes nader kom, sê die bedelaar sy gewone rympie op om vir geld te vra. Die apostels gaan staan en kry die hoopvolle man se aandag. “Silwer en goud het ek nie,” sê Petrus, “maar wat ek het, gee ek vir jou. In die naam van Jesus Christus die Nasarener, loop!” Stel jou die verbasing van die skare voor wanneer Petrus die kreupel man by sy hand vat en die man – vir die eerste keer in sy lewe – regop staan! (Hand. 3:6, 7). Kan jy voor jou geestesoog sien hoe die man na sy geneesde bene afkyk en sy eerste versigtige treetjies gee? Dit is geen wonder nie dat hy begin rondspring en God luidkeels loof!
3. Watter voortreflike gawe kon die man wat kreupel was sowel as die skare ontvang?
3 Die opgewonde skare hardloop na Petrus en Johannes by Salomo se pilaargang. Hier, op dieselfde plek waar Jesus mense vroeër geleer het, lig Petrus hulle in omtrent die ware betekenis van wat so pas gebeur het (Joh. 10:23). Hy bied vir die skare en die man wat kreupel was, iets aan wat waardevoller is as silwer of goud. Hierdie gawe behels veel meer as herstelde gesondheid. Dit is die geleentheid om berou te toon, om hulle sondes uitgewis te kry en om volgelinge van Jehovah se aangestelde “Hoofbewerker van die lewe”, Jesus Christus, te word. – Hand. 3:15, vtn.
4. (a) Op watter konfrontasie sou die wonderdadige genesing uitloop? (b) Watter twee vrae sal ons beantwoord?
4 Wat ’n wonderlike dag! Een persoon is fisies genees en kan nou loop. Duisende ander is die geleentheid gegee om in geestelike sin genees te word sodat hulle kan wandel op ’n wyse wat God waardig is (Kol. 1:9, 10). Die gebeure van daardie dag sou ook uitloop op ’n konfrontasie tussen lojale volgelinge van Christus en mense in gesagsposisies wat hulle wou probeer keer om Jesus se opdrag om die Koninkryksboodskap te verkondig, uit te voer (Hand. 1:8). Wat kan ons leer uit die metodes wat Petrus en Johannes – “ongeleerde en gewone mense” – gebruik het en die gesindheid wat hulle geopenbaar het toe hulle vir die skare getuig het? (Hand. 4:13). b En hoe kan ons die manier navolg waarop hulle en die ander dissipels teenstand die hoof gebied het?
Nie “deur . . . eie krag” nie (Handelinge 3:11-26)
5. Wat leer ons uit die manier waarop Petrus die skare toegespreek het?
5 Petrus en Johannes het voor die skare gestaan en het geweet dat party van hulle moontlik onder dié was wat kort tevore daarop aangedring het dat Jesus doodgemaak moes word (Mark. 15:8-15; Hand. 3:13-15). Dink aan die moed wat Petrus aan die dag gelê het toe hy vreesloos gesê het dat die kreupel man in Jesus se naam genees is. Petrus het nie die waarheid afgewater nie. Hy het die skare se medepligtigheid aan die dood van Christus onomwonde veroordeel. Maar Petrus het geen vyandige gevoelens teenoor hierdie mense gekoester nie, want hulle het “nie geweet . . . wat [hulle] doen nie” (Hand. 3:17). Hy het met hulle gepraat as sy broers en op die positiewe aspekte van die Koninkryksboodskap gekonsentreer. As hulle berou getoon en geloof in Christus beoefen het, sou hulle “tye van verfrissing” van Jehovah ontvang (Hand. 3:19). Ons moet eweneens moedig en reguit wees wanneer ons God se naderende oordeel bekend maak. Terselfdertyd moet ons nooit vermetel, ongevoelig of veroordelend wees nie. Ons moet eerder die mense vir wie ons preek, as ons potensiële broers beskou; en soos Petrus, konsentreer ons op die positiewe aspekte van die Koninkryksboodskap.
6. Hoe het Petrus en Johannes nederigheid en beskeidenheid aan die dag gelê?
6 Die apostels was beskeie manne. Hulle het hulle nie die eer toegeëien vir die wonderwerk wat hulle verrig het nie. Petrus het vir die skare gesê: “Hoekom staar julle ons aan asof ons hom deur ons eie krag of toegewydheid aan God laat loop het?” (Hand. 3:12). Petrus en die ander apostels het geweet dat enigiets goeds wat hulle in hulle bediening bereik, te danke was aan God se krag, nie hulle eie nie. Hulle was dus beskeie en het al die lof vir hulle prestasies aan Jehovah en Jesus gegee.
7, 8. (a) Watter gawe kan ons vir mense aanbied? (b) Hoe word die belofte van “die herstel van alles” vandag vervul?
7 Ons moet ook sulke beskeidenheid aan die dag lê wanneer ons aan die Koninkrykspredikingswerk deelneem. God se gees stel hedendaagse Christene weliswaar nie in staat om wonderdadige genesings te verrig nie. Nietemin kan ons mense help om geloof in God en Christus aan te kweek en om dieselfde gawe te ontvang wat Petrus aangebied het – die geleentheid om vergifnis vir hulle sondes te verkry en om deur Jehovah verkwik te word. Elke jaar aanvaar honderdduisende hierdie aanbod en word hulle gedoopte dissipels van Christus.
8 Ons lewe inderdaad in die tyd “wanneer alle dinge herstel word” waarvan Petrus gepraat het. Ter vervulling van die woord wat “God deur middel van sy heilige profete van die ou tyd gepraat het”, is die Koninkryk in 1914 in die hemel opgerig (Hand. 3:21; Ps. 110:1-3; Dan. 4:16, 17). Kort daarna het Christus begin toesig hou oor ’n geestelike herstellingswerk op die aarde. Gevolglik is miljoene in ’n geestelike paradys ingebring en het hulle onderdane van God se Koninkryk geword. Hulle het die ou, verdorwe persoonlikheid afgelê “en die nuwe persoonlikheid [aangetrek], wat in ooreenstemming met God se wil . . . geskep is” (Ef. 4:22-24). Net soos in die geval van die genesing van die kreupel bedelaar, word hierdie merkwaardige werk nie deur mensepogings verrig nie, maar deur God se gees. Soos Petrus, moet ons God se Woord moedig en doeltreffend gebruik om ander te leer. Enige sukses wat ons behaal om mense te help om dissipels van Christus te word, word deur God se krag bereik, nie ons eie nie.
“Ons kan nie ophou praat . . . nie” (Handelinge 4:1-22)
9-11. (a) Hoe het die Joodse leiers op Petrus en Johannes se boodskap gereageer? (b) Wat was die apostels vasbeslote om te doen?
9 Petrus se toespraak en die man wat kreupel was maar nou van vreugde uitgeroep en rondgespring het, het nogal ’n beroering veroorsaak. Gevolglik het die hoofman van die tempel – wat verantwoordelik was vir die veiligheid van die tempelgebied – en die hoofpriesters hulle daarheen gehaas om ondersoek in te stel. Hierdie manne was waarskynlik Sadduseërs, ’n ryk en polities magtige sekte wat vreedsame verhoudings met die Romeine probeer behou het, wat die mondelinge wet waarvoor die Fariseërs so lief was, verwerp het en wat geloof in die opstanding as belaglik beskou het. c Hoe moes dit hulle tog geïrriteer het toe hulle Petrus en Johannes in die tempel vind waar hulle moedig verkondig dat Jesus opgewek is!
10 Die woedende teenstanders het Petrus en Johannes in die tronk gestop en hulle die volgende dag voor die Joodse hooggeregshof gesleep. Uit die oogpunt van die snobistiese heersers was Petrus en Johannes “ongeleerde en gewone mense” wat geen reg gehad het om mense in die tempel te leer nie. Hulle het nie aan enige erkende godsdiensskool gestudeer nie. En tog was die hof verwonderd oor hulle uitgesprokenheid en hulle sterk oortuiging. Waarom was Petrus en Johannes so doeltreffend? Een rede was omdat hulle “saam met Jesus was” (Hand. 4:13). Hulle Heer het met ware gesag geleer, nie soos die skrifgeleerdes nie. – Matt. 7:28, 29.
11 Die hof het die apostels beveel om op te hou preek. In daardie gemeenskap het die hof se bevele groot gesag gedra. Net ’n paar weke vroeër het hierdie selfde liggaam aangaande Jesus gesê: “Hy verdien om te sterf” (Matt. 26:59-66). Maar Petrus en Johannes was nie geïntimideer nie. Toe hulle voor daardie ryk, geleerde en invloedryke manne gestaan het, het Petrus en Johannes vreesloos maar eerbiedig gesê: “Oordeel self of dit in God se oë reg is om na julle te luister eerder as na God. Maar ons kan nie ophou praat oor die dinge wat ons gesien en gehoor het nie.” – Hand. 4:19, 20.
12. Wat kan ons help om moed en oortuiging aan te kweek?
12 Kan jy soortgelyke moed aan die dag lê? Hoe voel jy wanneer jy die geleentheid kry om vir die rykes, die geleerdes of die invloedrykes in julle gemeenskap te getuig? Sê nou gesinslede, skoolmaats of werksmaats spot met jou oor jou oortuigings? Voel jy geïntimideer? Wees verseker dat jy sulke gevoelens te bowe kan kom. Terwyl Jesus op die aarde was, het hy die apostels geleer hoe om hulle oortuigings met vertroue en op ’n respekvolle manier te verdedig (Matt. 10:11-18). Ná sy opstanding het Jesus sy dissipels belowe dat hy “al die dae tot aan die einde van die wêreldstelsel” met hulle sal wees (Matt. 28:20). Onder Jesus se leiding leer “die getroue en verstandige slaaf” ons hoe om ons oortuigings te verdedig (Matt. 24:45-47; 1 Pet. 3:15). Dit word gedoen deur onderrigting by gemeentelike vergaderinge, soos Ons Christelike Lewe en Bediening, en deur Bybelpublikasies, soos die “Antwoorde op Bybelvrae”-artikels op die jw.org-webwerf. Maak jy goeie gebruik van hierdie voorsienings? As jy dit doen, sal dit jou moed en oortuiging vergroot. En soos die apostels, sal jy nie toelaat dat enigiets jou keer om oor die wonderlike geestelike waarhede te praat wat jy gesien en gehoor het nie.
Hulle het “tot God gebid” (Handelinge 4:23-31)
13, 14. Wat moet ons doen as ons voor teenstand te staan kom, en waarom?
13 Onmiddellik nadat hulle uit aanhouding vrygelaat is, het Petrus en Johannes saam met die res van die gemeente vergader. Saam het hulle “tot God gebid” vir moed om aan te hou preek (Hand. 4:24). Petrus het maar alte goed geweet hoe dwaas dit is om op jou eie vermoë te vertrou wanneer jy God se wil probeer doen. Net ’n paar weke vroeër het hy vol selfvertroue vir Jesus gesê: “Al struikel al die ander as gevolg van u, sal ek nooit struikel nie!” Maar soos Jesus voorspel het, het Petrus kort daarna voor mensevrees geswig en sy vriend en leermeester verloën. Maar Petrus het uit sy fout geleer. – Matt. 26:33, 34, 69-75.
14 Vasbeslotenheid alleen sal ’n mens nie help om te volhard terwyl jy jou opdrag vervul om ’n getuie van Christus te wees nie. Wanneer teenstanders probeer om jou geloof af te breek of jou te laat ophou preek, moet jy die voorbeeld van Petrus en Johannes volg. Bid tot Jehovah vir krag. Soek die gemeente se ondersteuning. Vertel die ouermanne en ander ryp persone van jou probleme. Die gebede van ander kan jou grootliks onderskraag. – Ef. 6:18; Jak. 5:16.
15. Waarom kan diegene wat vroeër ’n tyd lank opgehou het om te preek, moed skep?
15 As jy vroeër voor druk geswig en ’n tyd lank opgehou het om te preek, kan jy moed skep. Onthou, ná Jesus se dood het al die apostels ’n ruk lank opgehou om te preek, maar hulle het gou weer bedrywig geraak (Matt. 26:56; 28:10, 16-20). Kan jy, in plaas daarvan om toe te laat dat foute uit die verlede jou onderkry, eerder uit die ondervinding leer en daardie lesse gebruik om ander te versterk?
16, 17. Wat kan ons leer uit die gebed van Christus se volgelinge in Jerusalem?
16 Waarvoor moet ons bid wanneer diegene in gesagsposisies ons onderdruk? Let daarop dat die dissipels nie gevra het om van beproewinge gespaar te word nie. Hulle het goed onthou dat Jesus gesê het: “As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg” (Joh. 15:20). Hierdie lojale dissipels het Jehovah eerder gevra om ‘aandag te skenk’ aan die dreigemente van die teenstanders (Hand. 4:29). Die dissipels het die geheelbeeld duidelik gesien en besef dat die vervolging waarvoor hulle te staan gekom het, in werklikheid ter vervulling van profesie was. Hulle het geweet dat God se wil ‘op die aarde sou plaasvind’, soos Jesus hulle leer bid het, ongeag wat blote menseheersers sê. – Matt. 6:9, 10.
17 Sodat hulle God se wil kon doen, het die dissipels tot Jehovah gebid: “Help u slawe om u woord moedig te verkondig.” Wat was Jehovah se onmiddellike reaksie? “Die plek waar hulle bymekaargekom het, [het] geskud, en hulle is almal met die heilige gees gevul en het die woord van God moedig verkondig” (Hand. 4:29-31). Niks kan keer dat God se wil uitgevoer word nie (Jes. 55:11). Ongeag hoe onmoontlik dit lyk, ongeag hoe sterk die teenstander, as ons God in gebed nader, kan ons seker wees dat Hy ons die krag sal gee om Sy woord moedig te bly verkondig.
Aanspreeklik, nie teenoor mense nie, maar teenoor God (Handelinge 4:32–5:11)
18. Wat het lede van die gemeente in Jerusalem vir mekaar gedoen?
18 Die jong gemeente in Jerusalem het kort voor lank tot meer as 5 000 lede gegroei. d Ten spyte van hulle uiteenlopende agtergronde was die dissipels “een van hart en siel”. Hulle was verenig in dieselfde denke en in dieselfde gedagtegang (Hand. 4:32; 1 Kor. 1:10). Die dissipels het nie net tot Jehovah gebid om hulle pogings te seën nie. Hulle het mekaar geestelik ondersteun, asook materieel, wanneer dit nodig was (1 Joh. 3:16-18). Die dissipel Josef, wat deur die apostels die bynaam Barnabas gegee is, het byvoorbeeld van sy grond verkoop en die hele bedrag onselfsugtig geskenk sodat dié wat van verre lande gekom het, langer in Jerusalem kon bly om meer oor hulle nuwe geloof te leer.
19. Waarom het Jehovah Ananias en Saffira tereggestel?
19 ’n Egpaar genaamd Ananias en Saffira het ook ’n eiendom verkoop en ’n bydrae gegee. Hulle het voorgegee dat hulle die hele bedrag gegee het; maar hulle het “in die geheim van die geld teruggehou” (Hand. 5:2). Jehovah het hierdie egpaar met die dood gestraf, nie omdat hulle te min gegee het nie, maar omdat hulle beweegrede goddeloos was en hulle bedrieglik gehandel het. Hulle “het nie vir mense gelieg nie, maar vir God” (Hand. 5:4). Soos die huigelaars wat deur Jesus veroordeel is, was Ananias en Saffira meer besorg daaroor om deur mense vereer te word as om God se goedkeuring te verkry. – Matt. 6:1-3.
20. Wat moet ons in gedagte hou wanneer ons aan Jehovah gee?
20 Met dieselfde mededeelsame gees as dié van die getroue dissipels in eerste-eeuse Jerusalem ondersteun miljoene hedendaagse Getuies die wêreldwye predikingswerk deur vrywillige bydraes te gee. Niemand word gedwing om sy tyd of sy geld ter ondersteuning van hierdie werk te gee nie. Trouens, Jehovah wil nie hê dat ons hom teësinnig of onder dwang moet dien nie (2 Kor. 9:7). Wanneer ons wel iets gee, stel Jehovah nie belang in hoeveel ons gee nie, maar in ons beweegrede (Mark. 12:41-44). Ons wil nooit soos Ananias en Saffira wees en toelaat dat eiebelang of eersug die dryfkrag agter ons diens aan God word nie. Mag ons diens aan Jehovah eerder altyd gemotiveer word deur opregte liefde vir God en ons medemens, soos die geval was met Petrus, Johannes en Barnabas. – Matt. 22:37-40.
a Gebede is saam met die oggend- en aandoffers by die tempel gedoen. Die aandoffer is op “die negende uur”, of omtrent drie-uur die middag, gebring.
b Sien die vensters “ Petrus – Van visserman tot dinamiese apostel” en “ Johannes – Die dissipel vir wie Jesus lief was”.
c Sien die venster “ Die hoëpriester en die hoofpriesters”.
d Daar was moontlik in 33 HJ net omtrent 6 000 Fariseërs en nog minder Sadduseërs in Jerusalem. Dit kan nog ’n rede wees waarom hierdie twee groepe al hoe meer bedreig gevoel het deur die leringe van Jesus.