Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 3

“Met heilige gees gevul”

“Met heilige gees gevul”

Die uitwerking van die uitstorting van die heilige gees op Pinkster

Gebaseer op Handelinge 2:1-47

1. Beskryf die atmosfeer tydens die Pinksterfees.

 DIE strate van Jerusalem gons van opgewondenheid. a Rook styg op van die altaar by die tempel terwyl die Leviete die Hallel (Psalms 113 tot 118) sing, waarskynlik in antifoniese styl, oftewel in beurtsang. Die strate is vol besoekers. Hulle het van verafgeleë plekke gekom, soos Elam, Mesopotamië, Kappadosië, Pontus, Egipte en Rome. b Waarvoor? Vir Pinkster, wat ook “die dag van die eerste opbrengs” genoem word (Num. 28:26). Hierdie jaarlikse fees dui die einde van die garsoes en die begin van die koringoes aan. Dit is ’n vreugdevolle dag.

2. Watter verbasende gebeure vind op Pinkster 33 HJ plaas?

2 Omtrent nege-uur op hierdie heerlike lenteoggend in 33 HJ gebeur iets waaroor mense nog eeue later verstom sal wees. Skielik kom daar ‘’n geluid uit die hemel wat soos ’n sterk wind klink,’ of “’n geluid . . . soos van ’n geweldige stormwind” (Hand. 2:2; Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Die harde geluid vul die huis waar omtrent 120 dissipels van Jesus bymekaar is. Hierna vind iets verbasends plaas. Tonge soos van vuur verskyn en een daal neer op elkeen van die dissipels. c Dan word die dissipels “met heilige gees gevul” en begin hulle in vreemde tale praat! Wanneer die dissipels die huis verlaat, is die besoekers wat hulle op die strate van Jerusalem raakloop, stomgeslaan, want die dissipels kan met hulle kommunikeer! Ja, elkeen hoor hulle ‘in sy eie taal praat’. – Hand. 2:1-6.

3. (a) Waarom kan Pinkster 33 HJ ’n mylpaal in die geskiedenis van ware aanbidding genoem word? (b) Hoe het Petrus se toespraak verband gehou met die gebruik van “die sleutels van die Koninkryk”?

3 Hierdie aangrypende verslag beskryf ’n mylpaal in ware aanbidding – die vorming van die nasie van geestelike Israel, die gesalfde Christengemeente (Gal. 6:16). Maar dit is nie al nie. Toe Petrus die skare daardie dag toegespreek het, het hy die eerste van drie “sleutels van die Koninkryk” gebruik, wat elkeen spesiale voorregte vir ’n ander groep mense beskikbaar sou maak (Matt. 16:18, 19). Hierdie eerste sleutel het dit vir Jode en Joodse proseliete moontlik gemaak om die goeie nuus aan te neem en met God se heilige gees gesalf te word. d Hulle sou dus deel word van geestelike Israel en as sodanig die hoop hê om as konings en priesters in die Messiaanse Koninkryk te heers (Op. 5:9, 10). Mettertyd sou dié voorreg ook aan Samaritane en daarna aan nie-Jode gegee word. Wat kan Christene van vandag uit die betekenisvolle gebeure van Pinkster 33 HJ leer?

“Almal op dieselfde plek bymekaar” (Handelinge 2:1-4)

4. Hoe is die hedendaagse Christengemeente ’n uitbreiding van die gemeente wat in 33 HJ gestig is?

4 Die Christengemeente het met ongeveer 120 dissipels begin wat “almal op dieselfde plek bymekaar” was – in ’n bo-kamer – en met heilige gees gesalf is. (Hand. 2:1) Teen die einde van daardie dag was daar duisende gedoopte lede van dié gemeente. En dit was net die begin van die groei van ’n organisasie wat vandag nog uitbrei! Ja, ’n gemeenskap van godvresende mans en vroue – die hedendaagse Christengemeente – is die middel waardeur die “goeie nuus van die Koninkryk . . . oor die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies” voor die einde van hierdie stelsel van dinge kom. – Matt. 24:14.

5. Hoe sou persone, in die eerste eeu én vandag, baat vind by omgang met die Christengemeente?

5 Die Christengemeente sou ook ’n bron van geestelike krag wees vir die lede daarvan, vir die gesalfdes sowel as vir die “ander skape”, wat later sou bykom (Joh. 10:16). Paulus het sy waardering getoon vir die ondersteuning wat lede van die gemeente aan mekaar gee toe hy vir die Christene in Rome geskryf het: “Ek wil julle graag sien sodat ek die een of ander geestelike gawe aan julle kan oordra om julle standvastig te maak, of liewer, dat ons mekaar kan aanmoedig deur ons geloof, julle s’n sowel as myne.” – Rom. 1:11, 12.

6, 7. Hoe voer die Christengemeente vandag Jesus se opdrag uit om vir al die nasies te preek?

6 Die Christengemeente het vandag dieselfde oogmerke as in die eerste eeu. Jesus het sy dissipels ’n ontsaglike maar opwindende taak gegee. Hy het vir hulle gesê: “Maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te gehoorsaam wat ek julle beveel het.” – Matt. 28:19, 20.

7 Die Christengemeente van Jehovah se Getuies is die instrument waardeur hierdie werk vandag uitgevoer word. Dit is natuurlik ’n uitdaging om mense van verskillende tale te bereik. Maar Jehovah se Getuies publiseer Bybelgebaseerde publikasies in meer as 1 000 tale. As jy met die Christengemeente omgaan en aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk deelneem, het jy rede tot vreugde. Jy word onder die betreklik min mense op die aarde getel wat vandag die voorreg het om deeglik van Jehovah se naam te getuig!

8. Watter hulp kry ons deur middel van die Christengemeente?

8 Om jou te help om gedurende hierdie kritieke tye met vreugde te volhard, het Jehovah God ’n wêreldwye gemeenskap van broers voorsien. Paulus het vir die Hebreeuse Christene geskryf: “Laat ons aandag skenk aan mekaar sodat ons mekaar tot liefde en goeie werke kan aanspoor. Ons moenie ons vergaderingbywoning verwaarloos, soos party die gewoonte het nie, maar ons moet mekaar aanmoedig, en ons moet dit al hoe meer doen terwyl ons die dag sien nader kom” (Heb. 10:24, 25). Die Christengemeente is ’n voorsiening van Jehovah sodat jy ander kan aanmoedig en self ook aangemoedig kan word. Bly na aan jou geestelike broers en susters. Moet nooit nalaat om vir Christelike vergaderinge bymekaar te kom nie!

“Elkeen het sy eie taal gehoor” (Handelinge 2:5-13)

“Ons hoor hoe hulle in ons tale oor die wonderlike dinge van God praat.” – Handelinge 2:11

9, 10. Hoe het party hulle beskikbaar gestel om mense te bereik wat ’n ander taal praat?

9 Stel jou die opgewondenheid voor wat op Pinkster 33 HJ onder die gemengde groep Jode en proseliete moes geheers het. Die meeste van hulle het waarskynlik ’n gemeenskaplike taal gepraat, moontlik Grieks of Hebreeus. Maar skielik het “elkeen . . . sy eie taal gehoor terwyl die dissipels gepraat het” (Hand. 2:6). Hierdie mense was sekerlik diep getref toe hulle die goeie nuus in hulle moedertaal hoor. Christene het natuurlik nie vandag die wonderdadige vermoë om in vreemde tale te praat nie. Maar baie het hulle beskikbaar gestel om die Koninkryksboodskap aan mense van alle nasies bekend te maak. Hoe? Party het ’n nuwe taal geleer sodat hulle saam met ’n anderstalige gemeente in hulle omgewing kan dien of selfs na ’n ander land kan trek. Hulle het dikwels gevind dat die mense met wie hulle praat, baie beïndruk is met hulle pogings.

10 Neem byvoorbeeld Christine, wat saam met sewe ander Getuies ’n Goedjarati-kursus gevolg het. Toe sy ’n Goedjarati-sprekende werksmaat raakloop, het sy die jong vrou in haar eie taal gegroet. Die vrou was beïndruk en wou weet waarom Christine die moeite doen om so ’n moeilike taal soos Goedjarati te leer. Christine kon ’n goeie getuienis gee. Die jong vrou het vir Christine gesê: “Julle het sekerlik iets baie belangriks om te sê.”

11. Hoe kan ons voorbereid wees om die Koninkryksboodskap aan mense van ander tale te verkondig?

11 Nie almal van ons kan natuurlik ’n ander taal leer nie. Ons kan nietemin gereed wees om die Koninkryksboodskap aan mense van ander taalgroepe bekend te maak. Hoe? Een manier is deur die JW Language®-app te gebruik om ’n eenvoudige groet voor te berei in ’n taal wat algemeen in jou gebied gepraat word. Jy kan ook ’n paar frases in daardie taal leer wat dalk die belangstelling sal wek van persone wat daardie taal praat. Verwys hulle na jw.org en wys hulle dalk die verskeidenheid van video’s en publikasies wat in hulle taal beskikbaar is. Deur hierdie hulpmiddele in ons bediening te gebruik, sal ons ook dieselfde vreugde hê wat ons eerste-eeuse broers gehad het toe mense van ander lande verskrik was toe hulle die goeie nuus “elkeen [in] sy eie taal gehoor . . . het”.

“Petrus het . . . opgestaan” (Handelinge 2:14-37)

12. (a) Hoe het die profeet Joël gesinspeel op die wonderdadige gebeurtenis wat op Pinkster 33 HJ plaasgevind het? (b) Waarom is daar verwag dat Joël se profesie in die eerste eeu vervul sou word?

12 “Petrus het . . . opgestaan” om met die veelvolkige skare te praat (Hand. 2:14). Hy het aan almal wat wou luister, verduidelik dat God die wonderdadige vermoë om in verskillende tale te praat, voorsien het ter vervulling van Joël se profesie: “Ek [sal] my gees op alle soorte mense uitstort” (Joël 2:28). Voordat Jesus na die hemel opgevaar het, het hy vir sy dissipels gesê: “Ek sal die Vader vra, en hy sal julle ’n ander helper gee”, wat Jesus as “die gees” geïdentifiseer het. – Joh. 14:16, 17.

13, 14. Hoe het Petrus die harte van sy toehoorders probeer bereik, en hoe kan ons sy benadering navolg?

13 Petrus se slotwoorde aan die skare was ferm: “Laat die hele huis van Israel dan vir seker weet dat God hierdie Jesus, wat julle aan ’n paal gehang het, as Here en as Christus aangestel het” (Hand. 2:36). Die meeste van Petrus se toehoorders was natuurlik nie persoonlik teenwoordig toe Jesus aan die folterpaal tereggestel is nie. Maar as ’n nasie het hulle gemeenskapsaanspreeklikheid vir hierdie daad gedra. Let egter daarop dat Petrus sy mede-Jode met respek aangespreek het en hulle harte probeer bereik het. Petrus se doelwit was om sy toehoorders tot berou te beweeg, nie om hulle te veroordeel nie. Het die skare wat na Petrus se woorde geluister het, aanstoot geneem? Hoegenaamd nie. Inteendeel, die mense se “harte [is] diep geraak”. Hulle het gevra: “Wat moet ons doen?” Petrus se positiewe benadering het moontlik daartoe bygedra dat die harte van baie bereik is, sodat hulle beweeg is om berou te toon. – Hand. 2:37.

14 Ons kan die manier waarop Petrus mense se harte probeer bereik het, navolg. Wanneer ons vir ander getuig, hoef ons nie elke onskriftuurlike beskouing wat die huisbewoner uitspreek, te probeer weerlê nie. Dit sal goed wees as ons eerder voortbou op gedagtes waaroor ons kan saamstem. As ons gemeenskaplike grond met die huisbewoner vind, kan ons taktvol uit God se Woord redeneer. Wanneer Bybelwaarhede op so ’n positiewe manier aangebied word, is regskapenes dikwels meer geneig om gunstig te reageer.

“Laat elkeen van julle . . . gedoop word” (Handelinge 2:38-47)

15. (a) Wat het Petrus gesê, en wat was die reaksie daarop? (b) Waarom het duisende wat die goeie nuus op Pinkster gehoor het, gekwalifiseer om dieselfde dag nog gedoop te word?

15 Op die opwindende Pinksterdag van 33 HJ het Petrus vir ontvanklike Jode en proseliete gesê: “Toon berou, en laat elkeen van julle . . . gedoop word” (Hand. 2:38). Gevolglik is ongeveer 3 000 gedoop, waarskynlik in poele in of naby Jerusalem. e Was dit ’n impulsiewe reaksie? Skep hierdie verslag ’n presedent vir Bybelstudente en kinders van Christenouers wat hulle wil laat doop voordat hulle daarvoor gereed is? Beslis nie. Onthou, daardie Jode en Joodse proseliete wat op Pinkster 33 HJ gedoop is, was ywerige studente van God se Woord, en hulle was deel van ’n nasie wat reeds aan Jehovah toegewy was. Daarbenewens het hulle reeds bewys gelewer van hulle ywer – in sommige gevalle deur groot afstande te reis om hierdie jaarlikse fees by te woon. Nadat hulle die lewensbelangrike waarhede aangaande Jesus Christus se rol in die vervulling van God se voorneme aangeneem het, was hulle gereed om hulle diens aan God voort te sit – maar nou as gedoopte volgelinge van Christus.

16. Hoe het eerste-eeuse Christene ’n selfopofferende gees aan die dag gelê?

16 Jehovah se seën het beslis op hierdie groep gerus. Die verslag sê: “Almal wat gelowiges geword het, was bymekaar en het alles gedeel wat hulle gehad het, en hulle het hulle besittings en eiendomme verkoop en die geld onder almal verdeel, volgens wat elkeen nodig gehad het” (Hand. 2:44, 45). f Alle ware Christene wil sekerlik dié liefdevolle, selfopofferende gees navolg.

17. Watter stappe moet iemand doen om vir doop te kwalifiseer?

17 Christelike toewyding en doop behels ’n hele paar noodsaaklike skriftuurlike stappe. ’n Mens moet kennis van God se Woord inneem (Joh. 17:3). Jy moet geloof beoefen asook berou hê oor jou vorige lewenswandel en toon dat jy werklik spyt is daaroor (Hand. 3:19). Dan moet jy jou bekeer, of omdraai, en regte werke begin doen wat in ooreenstemming met God se wil is (Rom. 12:2; Ef. 4:23, 24). Ná hierdie stappe moet jy jou in gebed aan God toewy en jou dan laat doop. – Matt. 16:24; 1 Pet. 3:21.

18. Watter voorreg kan gedoopte dissipels van Christus geniet?

18 Is jy ’n toegewyde, gedoopte dissipel van Jesus Christus? Indien wel, wees dankbaar vir die voorreg wat jy ontvang het. Soos die eerste-eeuse dissipels wat met heilige gees gevul is, kan jy op kragtige wyse gebruik word om deeglik te getuig en die wil van Jehovah te doen!

c Die “tonge” was nie van letterlike vuur nie, maar “soos van vuur”, wat klaarblyklik toon dat dit wat op die dissipels gesien is, soos vuur gelyk het en lig uitgestraal het.

d Sien die venster “ Wie was die proseliete?

e In vergelyking hiermee is 7 402 persone op 7 Augustus 1993 by ’n internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in Kiëf, Oekraïne, in ses doopbaddens gedoop. Die hele doopplegtigheid het twee en ’n kwart uur geduur.

f Hierdie tydelike reëling het in die behoefte voorsien wat ontstaan het omdat besoekers in Jerusalem aangebly het om verdere geestelike onderrigting te ontvang. Hierdie mededeelsaamheid moenie met ’n soort kommunisme verwar word nie. – Hand. 5:1-4.