Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 16

“Kom oor na Masedonië”

“Kom oor na Masedonië”

Dit bring seëninge mee wanneer ’n toewysing aanvaar en vervolging met vreugde verduur word

Gebaseer op Handelinge 16:6-40

1-3. (a) Hoe het Paulus en sy metgeselle die leiding van die heilige gees ondervind? (b) Watter gebeure gaan ons bespreek?

 ’N GROEP vroue verlaat die stad Filippi in Masedonië. Kort voor lank bereik hulle die smal Gangites-rivier. Volgens hulle gewoonte gaan sit hulle op die rivieroewer om tot die God van Israel te bid. Jehovah sien hulle. – 2 Kron. 16:9; Ps. 65:2.

2 Intussen, meer as 800 kilometer oos van Filippi, vertrek ’n groep manne uit die stad Listra in suidelike Galasië. Dae later bereik hulle ’n geplaveide Romeinse hoofpad wat weswaarts na die digs bevolkte gebied van die landstreek Asië lei. Die manne – Paulus, Silas en Timoteus – is gretig om op dié pad te reis sodat hulle Efese en ander stede kan besoek waar duisende mense van Christus moet hoor. Maar selfs voordat hulle met die reis kan begin, hou die heilige gees hulle op die een of ander ongenoemde manier terug. Hulle word verbied om in Asië te preek. Waarom? Jesus – deur middel van God se gees – wil Paulus se reisgeselskap deur Klein-Asië, oor die Egeïese See en tot by die oewers van daardie klein rivier, die Gangites, lei.

3 Die manier waarop Jesus Paulus en sy metgeselle gedurende hierdie buitengewone reis na Masedonië gelei het, bevat waardevolle lesse vir ons wat vandag leef. Kom ons hersien dus ’n paar van die gebeure wat plaasgevind het tydens Paulus se tweede sendingreis, wat omstreeks 49 HJ begin het.

‘God het ons geroep’ (Handelinge 16:6-15)

4, 5. (a) Wat het naby Bitinië met Paulus se reisgeselskap gebeur? (b) Watter besluit het die dissipels geneem, en met watter gevolg?

4 Nadat Paulus en sy metgeselle daarvan weerhou is om in Asië te preek, het hulle noordwaarts gegaan om in die stede van Bitinië te getuig. Om daar te kom, het hulle moontlik dae lank op voetpaaie deur die yl bevolkte streke van Frigië en Galasië geloop. Maar toe hulle naby Bitinië kom, het Jesus weer eens die heilige gees gebruik om hulle te keer (Hand. 16:6, 7). Teen dié tyd was die manne ongetwyfeld verward. Hulle het geweet waaroor hulle moet preek en hoe hulle moet preek, maar hulle het nie geweet waar hulle moet preek nie. Hulle het as ’t ware aan die deur na Asië geklop – maar tevergeefs. Hulle het aan die deur na Bitinië geklop – weer eens tevergeefs. Paulus was nogtans vasbeslote om aan te hou klop totdat hy ’n deur vind wat sou oopgaan. Die manne het toe ’n besluit geneem wat dalk vreemd gelyk het. Hulle het weswaarts gedraai en 550 kilometer ver geloop, verby stad na stad totdat hulle die hawe Troas, die natuurlike ingang tot Masedonië, bereik het (Hand. 16:8). Daar het Paulus vir die derde keer aan ’n deur geklop, en – kyk! – dit het wawyd oopgeswaai.

5 Die Evangelieskrywer Lukas, wat in Troas by Paulus se reisgeselskap aangesluit het, vertel wat gebeur het: “Gedurende die nag het Paulus ’n visioen gehad – daar het ’n Masedoniese man gestaan wat hom gesmeek het: ‘Kom oor na Masedonië en help ons.’ Net nadat hy die visioen gesien het, het ons na Masedonië probeer gaan, want ons het die gevolgtrekking gemaak dat God ons geroep het om die goeie nuus aan hulle bekend te maak” (Hand. 16:9, 10). a Uiteindelik het Paulus geweet waar om te preek. Hoe bly moes hy tog gewees het dat hy nie halfpad deur die reis moed opgegee het nie! Die vier manne het onmiddellik na Masedonië gevaar.

“Ons het toe van Troas af gevaar.” – Handelinge 16:11

6, 7. (a) Watter les kan ons leer uit wat gedurende Paulus se reis plaasgevind het? (b) Watter versekering gee Paulus se ondervinding ons?

6 Watter les kan ons uit hierdie verslag leer? Let hierop: Eers nadat Paulus na Asië vertrek het, het God se gees ingetree, eers nadat Paulus naby Bitinië gekom het, het Jesus ingetree en eers nadat Paulus Troas bereik het, het Jesus hom na Masedonië gerig. Jesus, as Hoof van die gemeente, handel vandag dalk op soortgelyke wyse met ons (Kol. 1:18). Byvoorbeeld, ons oorweeg dit miskien al ’n tyd lank om te pionier of na ’n gebied te verhuis waar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Maar dit is dalk eers nadat ons definitiewe stappe gedoen het om ons doelwit te bereik dat Jesus, deur middel van God se gees, ons sal rig. Waarom? Dink aan hierdie voorbeeld: ’n Bestuurder kan sy motor na links of na regs draai, maar slegs as die motor in beweging is. Wanneer ons ons bediening uitbrei, rig Jesus ons eweneens, maar slegs as ons in beweging is – as ons daadwerklike pogings aanwend om dit te doen.

7 Maar sê nou ons pogings dra nie onmiddellik vrug nie? Moet ons tou opgooi en redeneer dat God se gees ons nie rig nie? Nee. Onthou dat Paulus ook voor hindernisse te staan gekom het. Nietemin het hy aangehou soek totdat hy ’n deur gevind het wat oopgegaan het. Ons kan daarvan seker wees dat ons volgehoue soeke na “’n groot deur wat tot bedrywigheid lei”, ook beloon sal word. – 1 Kor. 16:9.

8. (a) Beskryf die stad Filippi. (b) Tot watter vreugdevolle gebeure het Paulus se predikingswerk by “’n bidplek” gelei?

8 Nadat Paulus se reisgeselskap in die landstreek Masedonië aangekom het, het hulle na Filippi gereis – ’n stad waarvan die inwoners trots was op hulle Romeinse burgerskap. Vir die afgetrede Romeinse soldate wat daar gewoon het, was die kolonie Filippi soos ’n klein Italië – as ’t ware ’n miniatuur-Rome in Masedonië. Buite die stadspoort, langs ’n smal rivier, het die sendelinge op ’n plek afgekom wat hulle gedink het “’n bidplek” is. b Op die Sabbat het hulle daarheen gegaan en ’n hele paar vroue gevind wat daar vergader het om God te aanbid. Die dissipels het gaan sit en met hulle gepraat. ’n Vrou met die naam Lidia “het geluister” en “Jehovah het haar hart wyd oopgemaak”. Lidia is so diep getref deur wat sy by die sendelinge geleer het, dat sy en die mense in haar huis gedoop is. Toe het sy daarop aangedring dat Paulus en sy reisgenote by haar kom bly. c – Hand. 16:13-15.

9. Hoe het baie vandag Paulus se voorbeeld gevolg, en tot watter seëninge het dit gelei?

9 Stel jou die vreugde voor wat Lidia se doop meegebring het! Hoe verheug moes Paulus tog gewees het dat hy die uitnodiging: “Kom oor na Masedonië”, aanvaar het en dat Jehovah dit goedgedink het om hom en sy metgeselle te gebruik om die gebede van daardie godvresende vroue te verhoor! Vandag word baie broers en susters – jonk en oud, getroud en ongetroud – ook beweeg om na gebiede te verhuis waar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Hulle kry weliswaar soms swaar, maar dit is niks in vergelyking met die tevredenheid wat hulle ervaar wanneer hulle mense soos Lidia vind, wat Bybelwaarhede aanneem nie. Kan jy aanpassings maak sodat jy as ’t ware kan ‘oorkom’ na ’n gebied waar hulp nodig is? Seëninge wag op jou. Dink byvoorbeeld aan Aaron, ’n broer in sy 20’s wat na ’n land in Sentraal-Amerika verhuis het. Hy spreek die gevoelens van baie uit wanneer hy sê: “Om in ’n ander land te dien, het my gehelp om geestelik te groei en nader aan Jehovah te kom. En velddiens is wonderlik – ek hou agt Bybelstudies!”

Hoe kan ons vandag “na Masedonië” oorgaan?

“Die skare het . . . teen hulle opgestaan” (Handelinge 16:16-24)

10. Hoe was demooninvloed betrokke by ’n ommekeer in sake vir Paulus en sy metgeselle?

10 Satan was ongetwyfeld woedend dat die goeie nuus wortelgeskiet het in ’n deel van die wêreld waar hy en sy demone dalk geen teenstand gehad het nie. Dit is dus geen wonder dat demooninvloed betrokke was by ’n ommekeer in sake vir Paulus en sy metgeselle nie! Gedurende hulle besoeke aan die bidplek het ’n demoonbesete diensmeisie, wat geld vir haar meesters verdien het deur die toekoms te voorspel, Paulus se groep aanhoudend gevolg en uitgeroep: “Hierdie mense is slawe van die allerhoogste God, en hulle verkondig die weg van redding aan julle.” Die demoon het die meisie moontlik hierdie woorde laat uitroep om dit te laat lyk asof die dinge wat sy oor die toekoms voorspel, en Paulus se leringe dieselfde oorsprong het. Op dié manier kon omstanders se aandag afgetrek word van Christus se ware volgelinge. Maar Paulus het die meisie stilgemaak deur die demoon uit te dryf. – Hand. 16:16-18.

11. Wat het met Paulus en Silas gebeur nadat die demoon uit die meisie uitgedryf is?

11 Toe die eienaars van die diensmeisie uitvind dat hulle nie meer ’n bron van maklik verkrygbare geld het nie, was hulle briesend. Hulle het Paulus en Silas na die markplein gesleep, waar magistrate – amptenare wat Rome verteenwoordig het – sake aangehoor het. Die eienaars het ’n beroep op die regters se vooroordeel en patriotisme gedoen deur as ’t ware te sê: ‘Hierdie Jode veroorsaak groot moeilikheid deur gebruike te verkondig wat ons as Romeine nie kan aanvaar nie.’ Hulle woorde het onmiddellik resultate opgelewer. “Die skare [op die markplein] het saam teen hulle [Paulus en Silas] opgestaan”, en die magistrate het beveel dat “hulle met stokke geslaan moet word”. Daarna is Paulus en Silas na die tronk gesleep. Die tronkbewaarder het die beseerde mans in die binneste gevangenis gegooi en hulle voete in die blok vasgemaak (Hand. 16:19-24). Toe die tronkbewaarder die deur toemaak, was dit so donker in daardie sel dat Paulus en Silas mekaar sekerlik skaars kon sien. Maar Jehovah het hulle gesien. – Ps. 139:12.

12. (a) Hoe het Christus se dissipels vervolging beskou, en waarom? (b) Watter vorme van teenstand word nog steeds deur Satan en sy agente gebruik?

12 Jare vroeër het Jesus vir sy volgelinge gesê: ‘Hulle sal julle vervolg’ (Joh. 15:20). Toe Paulus se reisgeselskap na Masedonië gegaan het, was hulle dus voorbereid op teenstand. Toe hulle vervolging ondervind, het hulle dit nie as ’n teken van Jehovah se misnoeë beskou nie, maar as ’n bewys van Satan se woede. Vandag maak Satan se agente nog steeds gebruik van metodes soos dié wat in Filippi gebruik is. Bedrieglike teenstanders gee ’n verwronge beeld van ons by die skool en by die werk en blaas teenstand aan. In party lande beskuldig godsdiensteenstanders ons in die hof en sê hulle as ’t ware: ‘Hierdie Getuies veroorsaak groot moeilikheid deur gebruike te verkondig wat ons as “tradisionele gelowiges” nie kan aanvaar nie.’ Op party plekke word ons medegelowiges geslaan en in die tronk gegooi. Maar Jehovah sien dit. – 1 Pet. 3:12.

“Dadelik gedoop” (Handelinge 16:25-34)

13. Wat het daartoe aanleiding gegee dat die tronkbewaarder gevra het: “Wat moet ek doen om gered te word?”

13 Paulus en Silas het sekerlik tyd nodig gehad om tot verhaal te kom ná die dramatiese gebeure van daardie dag. Maar teen middernag het hulle al in so ’n mate van die slae herstel dat hulle besig was “om te bid en om God te loof deur liedere te sing”. Skielik het ’n aardbewing die tronk geskud! Die tronkbewaarder het wakker geword, gesien dat die deure oop is en gevrees dat die gevangenes ontsnap het. Aangesien hy geweet het dat hy gestraf sou word omdat hy hulle laat ontsnap het, het hy “sy swaard uitgetrek en wou hy homself doodmaak”. Maar Paulus het uitgeroep: “Moenie jouself seermaak nie, want ons is almal hier!” Die ontstelde tronkbewaarder het gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” Paulus en Silas kon hom nie red nie; net Jesus kon. Daarom het hulle geantwoord: “Glo in die Here Jesus en jy sal gered word.” – Hand. 16:25-31.

14. (a) Hoe het Paulus en Silas die tronkbewaarder gehelp? (b) Hoe is Paulus en Silas geseën omdat hulle vervolging met vreugde verduur het?

14 Was die tronkbewaarder se vraag opreg? Paulus het nie die man se opregtheid bevraagteken nie. Die tronkbewaarder was ’n nie-Jood en was nie met die Skrif vertroud nie. Voordat hy ’n Christen kon word, moes hy basiese skriftuurlike waarhede leer en dit aanvaar. Paulus en Silas het dus tyd geneem om hom van “die woord van Jehovah” te leer. Die manne was so verdiep in hulle onderrigting uit die Skrif dat hulle dalk vergeet het van die pyn wat deur die slae veroorsaak is. Maar die tronkbewaarder het die diep wonde op hulle rûe gesien en dit skoongemaak. Daarna is hy en almal in sy huis “dadelik gedoop”. Hoe is Paulus en Silas tog geseën omdat hulle vervolging met vreugde verduur het! – Hand. 16:32-34.

15. (a) Hoe het baie Getuies vandag die voorbeeld van Paulus en Silas gevolg? (b) Waarom moet ons aanhou om die huise van mense in ons gebied te besoek?

15 Soos Paulus en Silas, het baie Getuies van vandag die goeie nuus met welslae verkondig terwyl hulle weens hulle geloof in die tronk was. Byvoorbeeld, in een land waar ons werk verbied was, was daar ’n tyd toe 40 persent van al die Getuies die waarheid oor Jehovah in die tronk geleer het! (Jes. 54:17). Let ook op dat die tronkbewaarder eers die aardbewing om hulp gevra het. Party mense wat nog nooit op die Koninkryksboodskap gereageer het nie, doen dit vandag dalk ook eers nadat hulle eie wêreld skielik deur ’n ontstellende gebeurtenis geskud is. Deur getrou aan te hou om mense in ons gebied te besoek, maak ons seker dat ons daar is wanneer hulle hulp nodig het.

“Wil hulle ons nou in die geheim uitgooi?” (Handelinge 16:35-40)

16. Hoe is die bordjies verhang die dag nadat Paulus en Silas geslaan is?

16 Die oggend nadat Paulus en Silas geslaan is, het die magistrate beveel dat hulle vrygelaat moet word. Maar Paulus het gesê: “Hulle het ons in die openbaar geslaan sonder ’n verhoor, al is ons Romeine, en hulle het ons in die tronk gegooi. Wil hulle ons nou in die geheim uitgooi? Beslis nie! Laat hulle self kom en ons uitbring.” Toe die magistrate hoor dat die twee manne Romeinse burgers is, het hulle “bang geword”, want hulle het die manne se regte geskend. d Die bordjies is verhang. Die dissipels is in die openbaar geslaan; nou moes die magistrate in die openbaar verskoning vra. Hulle het Paulus en Silas gesmeek om Filippi te verlaat. Die twee dissipels het ingestem, maar hulle het eers tyd gemaak om die groeiende groep nuwe dissipels aan te moedig. Eers daarna het hulle vertrek.

17. Watter belangrike les sou die nuwe dissipels uit die volharding van Paulus en Silas geleer het?

17 As Paulus en Silas se regte as Romeinse burgers vroeër gerespekteer is, sou hulle waarskynlik nie geslaan gewees het nie (Hand. 22:25, 26). Maar dit kon die dissipels in Filippi die indruk gegee het dat dié manne hulle posisie gebruik het om lyding ter wille van Christus vry te spring. Watter uitwerking sou dit hê op die geloof van dissipels wat nie Romeinse burgers was nie? Die wet sou húlle immers nie teen slae beskerm nie. Deur straf te verduur, het Paulus en sy metgesel dus deur middel van hulle voorbeeld vir die nuwe gelowiges getoon dat volgelinge van Christus tydens vervolging standvastig kan bly. Wat meer is, deur daarop aan te dring dat hulle burgerskap erken word, het Paulus en Silas die magistrate gedwing om in die openbaar te erken dat hulle onwettig opgetree het. Dit sou weer help om te voorkom dat hulle Paulus se medegelowiges mishandel en sou in die toekoms ’n mate van wetlike beskerming teen soortgelyke aanvalle voorsien.

18. (a) Hoe volg Christenopsieners vandag Paulus se voorbeeld? (b) Hoe word die goeie nuus in ons dag “verdedig en wetlik bevestig”?

18 Vandag neem opsieners in die Christengemeente ook die leiding deur die voorbeeld te stel. Christenherders is bereid om self te doen wat hulle van hulle medegelowiges verwag. Soos Paulus, dink ons ook goed na voordat ons besluit hoe en wanneer ons ons wetlike regte sal gebruik om beskerming te verkry. Indien nodig, wend ons ons tot plaaslike, nasionale en selfs internasionale geregshowe om wetlike beskerming te verkry om ons aanbidding te beoefen. Ons oogmerk is nie maatskaplike hervorming nie, maar om ‘die goeie nuus te verdedig en wetlik te bevestig’, soos Paulus aan die gemeente in Filippi geskryf het sowat tien jaar nadat hy daar in die tronk was (Fil. 1:7). Maar ongeag wat die afloop van sulke hofsake is, ons is vasbeslote om, soos Paulus en sy metgeselle, aan te hou “om die goeie nuus . . . bekend te maak”, ongeag waarheen God se gees ons lei. – Hand. 16:10.

a Sien die venster “ Lukas – Die skrywer van Handelinge”.

b Dalk is die Jode weens Filippi se militêre karakter verbied om ’n sinagoge in die stad te hê. Of die stad het dalk nie tien Joodse mans gehad nie – die minimum wat vereis is om ’n sinagoge te hê.

d Volgens die Romeinse reg was ’n burger altyd geregtig op ’n behoorlike verhoor en mag hy nooit sonder ’n verhoor in die openbaar gestraf word nie.