Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 18

‘Soek God en vind hom werklik’

‘Soek God en vind hom werklik’

Paulus vind gemeenskaplike grond en pas hom aan by sy gehoor

Gebaseer op Handelinge 17:16-34

1-3. (a) Waarom is die apostel Paulus geïrriteerd in Atene? (b) Wat kan ons leer deur Paulus se voorbeeld te bestudeer?

 PAULUS is geïrriteerd. Hy is in Atene, Griekeland, die sentrum van onderwys waar Sokrates, Plato en Aristoteles vroeër onderrig gegee het. Atene is ’n baie godsdienstige stad. Oral om hom – in tempels, op openbare pleine en op straat – sien Paulus ’n groot verskeidenheid afgode, want Ateners aanbid ’n magdom gode. Paulus weet hoe Jehovah, die ware God, afgodediens beskou (Eks. 20:4, 5). Die getroue apostel deel Jehovah se beskouing – hy verafsku afgode!

2 Wat Paulus sien wanneer hy die agora, of markplein, binnegaan, is besonder skokkend. ’n Ry falliese standbeelde van die god Hermes staan in die noordwestelike hoek, naby die hoofingang. Die markplein is vol heiligdomme. Hoe sal die ywerige apostel in hierdie uiters afgodiese klimaat preek? Sal hy sy emosies beheers en gemeenskaplike grond met sy gehoor vind? Sal hy daarin slaag om mense te help om die ware God te soek en Hom werklik te vind?

3 Paulus se toespraak aan die geleerde manne van Atene, soos opgeteken in Handelinge 17:22-31, is ’n voorbeeld van welsprekendheid, takt en onderskeidingsvermoë. Deur Paulus se voorbeeld te bestudeer, kan ons baie leer oor hoe om gemeenskaplike grond te vind en ons toehoorders te help om te redeneer.

Onderrigting “op die markplein” (Handelinge 17:16-21)

4, 5. Waar in Atene het Paulus gepreek, en voor watter moeilike gehoor het hy gestaan?

4 Paulus het Atene op sy tweede sendingreis omstreeks 50 HJ besoek. a Terwyl hy vir Silas en Timoteus gewag het om van Berea af te kom, het Paulus volgens sy gewoonte “in die sinagoge begin redeneer met die Jode”. Hy het ook na ’n gebied gegaan waar hy Atene se nie-Joodse inwoners kon bereik – “op die markplein”, of agora (Hand. 17:17). Atene se agora, wat noordwes van die Akropolis geleë was, het ongeveer vyf hektaar beslaan. Die markplein was nie net ’n plek om goedere te koop en te verkoop nie; dit was ook die stad se openbare plein. Een naslaanwerk sê dat dit “die ekonomiese, politieke en kulturele hart van die stad” was. Ateners het dit geniet om daar bymekaar te kom en intellektuele gesprekke te voer.

5 Paulus het voor ’n moeilike gehoor op die markplein gestaan. Onder sy toehoorders was Epikuriërs en Stoïsyne, aanhangers van mededingende skole in die filosofie. b Die Epikuriërs het geglo dat lewe per toeval ontstaan het. Hulle beskouing van lewe is soos volg opgesom: “Dit is nie nodig om God te vrees nie; Daar is geen pyn in die dood nie; Die goeie kan bereik word; Die kwaad kan verduur word.” Die Stoïsyne het rede en logika beklemtoon en het nie geglo dat God ’n Persoon is nie. Nie die Epikuriërs of die Stoïsyne het aan die opstanding geglo, wat Christus se dissipels verkondig het nie. Dit is duidelik dat die filosofiese beskouings van hierdie twee groepe onversoenbaar was met die verhewe waarhede van die ware Christelike godsdiens, wat Paulus verkondig het.

6, 7. Hoe het party Griekse intellektuele op Paulus se onderrigting gereageer, en watter soortgelyke reaksie kry ons dalk vandag?

6 Hoe het die Griekse intellektuele op Paulus se onderrigting gereageer? Party het gesê dat hy “baie praat”, of ’n babbelaar is – wat letterlik “saadpikker” beteken. (Sien die studienota “chatterer” vir Hand. 17:18 in nwtsty.) Aangaande hierdie Griekse term sê een geleerde: “Die woord is oorspronklik gebruik vir ’n klein voëltjie wat graan oppik en is later toegepas op mense wat stukkies kos en ander ditjies en datjies op die markplein opgetel het. Nog later is dit figuurlik gebruik vir iemand wat onverwante brokkies inligting versamel, veral iemand wat dit nie reg kan gebruik nie.” Daardie geleerde manne het in werklikheid gesê dat Paulus ’n oningeligte naprater is. Maar soos ons sal sien, het Paulus hom nie deur hulle neerhalende beskrywings laat intimideer nie.

7 Dit is vandag presies dieselfde. As Jehovah se Getuies word ons dikwels op neerhalende wyse beskryf weens ons Bybelse oortuigings. Party opvoeders leer byvoorbeeld dat evolusie ’n feit is en hou vol dat enige intelligente persoon dit sal aanvaar. Hulle bestempel dié wat weier om dit te glo, in werklikheid as oningelig. Sulke geleerdes wil mense wysmaak dat ons ‘saadpikkers’ is wanneer ons bekend maak wat die Bybel sê en die aandag vestig op bewyse van ontwerp in die natuur. Maar ons laat ons nie intimideer nie. Inteendeel, ons praat met vertroue wanneer ons ons oortuiging verdedig dat lewe op die aarde die werk van ’n intelligente Ontwerper, Jehovah God, is. – Op. 4:11.

8. (a) Hoe het party wat Paulus se prediking gehoor het, gereageer? (b) Wat kon dit beteken het dat Paulus na die Areopagus gelei is? (Sien voetnoot.)

8 Ander wat Paulus se prediking op die markplein gehoor het, het anders gereageer. “Dit lyk of hy ’n verkondiger van vreemde gode is”, het hulle gesê (Hand. 17:18). Het Paulus werklik nuwe gode aan die Ateners bekend gestel? Dit was ’n ernstige saak, soortgelyk aan een van die aanklagte waarop Sokrates eeue tevore tereggestaan het en waarvoor hy ter dood veroordeel is. Dit is geen wonder dat Paulus na die Areopagus gelei is en gevra is om die leringe te verduidelik wat vir die Ateners vreemd geklink het nie. c Hoe sou Paulus sy boodskap verdedig voor persone wat geen kennis van die Skrif het nie?

“Manne van Atene” (Handelinge 17:22, 23)

9-11. (a) Hoe het Paulus gemeenskaplike grond met sy gehoor probeer vind? (b) Hoe kan ons Paulus se voorbeeld in ons bediening navolg?

9 Onthou dat Paulus geïrriteerd was oor al die afgode wat hy gesien het. Maar hy het nie teen afgodediens uitgevaar nie; hy het eerder kalm gebly. Hy was baie taktvol en het sy gehoor probeer bereik deur gemeenskaplike grond te vind. Hy het so begin: “Manne van Atene, dit lyk asof julle in alles meer vrees vir die gode het as wat ander het” (Hand. 17:22). Paulus het as ’t ware gesê: ‘Dit lyk vir my asof julle baie godsdienstig is.’ Hy het hulle wyslik geprys vir die feit dat hulle godsdienstig gesind is. Hy het besef dat party wat deur valse opvattings verblind word, dalk ontvanklike harte het. Paulus het immers geweet dat hy self voorheen “oningelig was en sonder geloof opgetree het”. – 1 Tim. 1:13.

10 Paulus het op die gemeenskaplike grond voortgebou en gemeld dat hy tasbare bewys gesien het van die Ateners se godsdienstigheid – ’n altaar wat “Aan ’n Onbekende God” toegewy is. Volgens een bron “was dit vir Grieke en ander gebruiklik om altare aan ‘onbekende gode’ toe te wy, uit vrees dat hulle dalk in hulle aanbidding ’n god sou vergeet wat moontlik aanstoot sou neem”. Die teenwoordigheid van so ’n altaar het getoon dat die Ateners erken het dat daar ’n God bestaan wat vir hulle onbekend is. Paulus het na hierdie altaar verwys om die goeie nuus wat hy verkondig het, in te lei. Hy het verduidelik: “Die een wat julle dan aanbid sonder dat julle dit besef, dit is hy wat ek aan julle verkondig” (Hand. 17:23). Paulus se redenasie was subtiel maar kragtig. Hy het nie ’n nuwe of vreemde god verkondig, soos party aangevoer het nie. Hy het die God verklaar wat vir hulle onbekend was – die ware God.

11 Hoe kan ons Paulus se voorbeeld in ons bediening navolg? As ons oplettend is, sien ons dalk bewyse dat iemand godsdienstig is, soos ’n godsdiensvoorwerp wat hy dra of iets wat binne of buite sy huis vertoon word. Ons kan sê: ‘Dit lyk vir my asof jy ’n godsdienstige persoon is. Ek het gehoop om met iemand te praat wat godsdienstig gesind is.’ Deur die persoon se godsdienstigheid taktvol te erken, kan ons gemeenskaplike grond vind waarop ons kan voortbou. Onthou, ons wil mense nie vooraf veroordeel op grond van hulle godsdiensoortuigings nie. Baie van ons medeaanbidders het voorheen valse godsdiensleerstellings opreg aangehang.

Probeer gemeenskaplike grond vind waarop jy kan bou

God is “nie ver van elkeen van ons af nie” (Handelinge 17:24-28)

12. Hoe het Paulus sy benadering by sy toehoorders aangepas?

12 Paulus het gemeenskaplike grond gevind, maar kon hy dit behou terwyl hy ’n getuienis gee? Omdat hy geweet het dat sy toehoorders opgelei is in Griekse filosofie maar die Skrif nie ken nie, het hy sy benadering op etlike maniere aangepas. Eerstens, hy het Bybelleringe aangebied sonder om direk uit die Skrif aan te haal. Tweedens, hy het hom met sy toehoorders vereenselwig deur soms die woord “ons” te gebruik. Derdens, hy het uit Griekse literatuur aangehaal om te toon dat sekere dinge waarvan hy gepraat het, in hulle eie geskrifte staan. Kom ons ondersoek nou Paulus se kragtige toespraak. Watter belangrike waarhede het hy oorgedra oor die God wat vir die Ateners onbekend was?

13. Wat het Paulus oor die oorsprong van die heelal verduidelik, en wat was die implikasie van sy woorde?

13 God het die heelal geskep. Paulus het gesê: “Die God wat die wêreld en alles daarin gemaak het, die Here van hemel en aarde, woon nie in handgemaakte tempels nie” (Hand. 17:24). d Die heelal het nie per toeval ontstaan nie. Die ware God is die Skepper van alle dinge (Ps. 146:6). In teenstelling met Atena of die ander gode wie se heerlikheid afhanklik was van tempels, heiligdomme en altare, kan geen tempel wat met mensehande gebou is, die Soewereine Heer van die hemel en aarde bevat nie (1 Kon. 8:27). Die implikasie van Paulus se woorde was duidelik: Die ware God is glorieryker as enige mensgemaakte afgod in ’n mensgemaakte tempel. – Jes. 40:18-26.

14. Hoe het Paulus getoon dat God nie afhanklik is van mense nie?

14 God is nie afhanklik van mense nie. Afgodedienaars was gewoond daaraan om hulle beelde met ryklik versierde klere te tooi, hulle met duur geskenke te oorlaai of vir hulle kos en drank aan te dra – asof die afgode sulke dinge nodig gehad het! Maar party van die Griekse filosowe in Paulus se gehoor het dalk geglo dat ’n god niks van mense nodig het nie. Indien wel, het hulle ongetwyfeld saamgestem met Paulus se stelling dat God nie “deur mensehande bedien [word] asof hy enigiets nodig het” nie. Trouens, daar is niks stofliks wat mense vir die Skepper kan gee nie! Hý gee eerder vir mense wat hulle nodig het – “lewe en asem en alles”, insluitende die son, die reën en die vrugbare grond (Hand. 17:25; Gen. 2:7). God, die Gewer, is dus nie afhanklik van mense, die ontvangers, nie.

15. Hoe het Paulus die Ateners se beskouing dat hulle bo nie-Grieke verhewe is, aangespreek, en watter belangrike les kan ons uit sy voorbeeld leer?

15 God het die mens gemaak. Die Ateners het geglo dat hulle bo nie-Grieke verhewe is. Maar nasie- of rassetrots is in stryd met Bybelwaarheid (Deut. 10:17). Paulus het hierdie delikate saak met takt en vaardigheid aangespreek. Sy woorde dat “[God] uit een mens elke nasie van die mensdom gemaak” het, het ongetwyfeld sy toehoorders laat dink (Hand. 17:26). Paulus het verwys na die Genesisverslag oor Adam, die voorvader van die menseras (Gen. 1:26-28). Aangesien alle mense ’n gemeenskaplike voorouer het, is geen ras of nasionaliteit verhewe bo ’n ander nie. Hoe kon enige van Paulus se toehoorders dit nie insien nie? Ons leer ’n belangrike les uit sy voorbeeld. Hoewel ons taktvol en redelik in ons getuieniswerk wil wees, wil ons nie Bybelwaarheid afwater om dit vir ander aanneemliker te maak nie.

16. Wat is die Skepper se voorneme vir die mens?

16 God se voorneme is dat mense ’n hegte verhouding met hom moet hê. Al het die filosowe in Paulus se gehoor lank gedebatteer oor die doel van die mens se bestaan, sou hulle nooit ’n bevredigende verduideliking daarvoor kon gee nie. Maar Paulus het duidelik getoon wat die Skepper se voorneme vir die mens is, naamlik dat “mense [God] moet soek, dat hulle hom ernstig moet soek en hom werklik vind, want hy is eintlik nie ver van elkeen van ons af nie” (Hand. 17:27). Die God wat die Ateners nie geken het nie, is beslis nie onkenbaar nie. Inteendeel, hy is nie ver van dié wat hom werklik wil vind en hom wil leer ken nie (Ps. 145:18). Let op dat Paulus die woord “ons” gebruik het en homself sodoende ingesluit het by dié wat God “ernstig moet soek”.

17, 18. Waarom behoort mense aangetrokke tot God te voel, en wat kan ons leer uit die manier waarop Paulus sy toehoorders se harte probeer bereik het?

17 Mense behoort aangetrokke tot God te voel. Paulus het gesê dat ons deur Hom “lewe en beweeg en bestaan”. Party geleerdes sê dat Paulus verwys het na die woorde van Epimenides, ’n Kretensiese digter van die sesde eeu VHJ en “’n belangrike figuur in die Ateense godsdienstradisie”. Paulus het nog ’n rede gegee waarom mense aangetrokke tot God behoort te voel: “Party van julle digters gesê het: ‘Want ons is ook sy kinders’” (Hand. 17:28). Mense behoort ’n verwantskap met God te voel; hy het die een mens geskep van wie alle mense afstam. Om die harte van sy toehoorders te bereik, het Paulus wyslik direk aangehaal uit Griekse geskrifte waarvoor sy gehoor ongetwyfeld respek gehad het. e In ooreenstemming met Paulus se voorbeeld kan ons soms gebruik maak van kort aanhalings uit sekulêre geskiedenis, ensiklopedieë of ander erkende naslaanwerke. Byvoorbeeld, ’n gepaste aanhaling uit ’n gesaghebbende bron kan iemand wat nie ’n Getuie is nie, dalk oortuig van die oorsprong van sekere valse godsdiensgebruike of -vierings.

18 Tot op hierdie punt in sy toespraak het Paulus belangrike waarhede aangaande God oorgedra en sy woorde op bedrewe wyse by sy gehoor aangepas. Wat wou die apostel hê moes sy Ateense toehoorders met hierdie noodsaaklike inligting doen? Hy het hulle sonder versuim in die res van sy toespraak ingelig.

‘Alle mense moet berou toon’ (Handelinge 17:29-31)

19, 20. (a) Hoe het Paulus taktvol geopenbaar hoe dwaas dit is om mensgemaakte afgode te aanbid? (b) Wat moes Paulus se toehoorders doen?

19 Paulus was gereed om sy toehoorders te vermaan om op te tree. Hy het terugverwys na sy aanhaling uit Griekse geskrifte en gesê: “Omdat ons dan die kinders van God is, moet ons nie dink dat die Goddelike Wese soos goud of silwer of klip is nie, soos ’n beeld wat deur die vaardigheid en ontwerp van die mens gemaak word nie” (Hand. 17:29). Trouens, as mense die werk van God se hande is, hoe kan God dan die vorm aanneem van afgode, wat die werk van mensehande is? Paulus se taktvolle redenasie het geopenbaar hoe dwaas dit is om mensgemaakte afgode te aanbid (Ps. 115:4-8; Jes. 44:9-20). Deur te sê ‘ons moet nie’, het Paulus ongetwyfeld sy bestrawwing effens versag.

20 Die apostel het dit duidelik gestel dat optrede nodig is: “Mense [het] daardie dinge gedoen . . . sonder dat hulle geweet het wat hulle doen, en God het dit oorgesien, maar nou sê God vir alle mense dat hulle berou moet toon” (Hand. 17:30). Party van Paulus se toehoorders was dalk geskok om te hoor dat hulle berou moet toon. Maar sy kragtige toespraak het duidelik getoon dat hulle hulle lewe aan God verskuldig is en dus teenoor Hom aanspreeklik is. Hulle moet God soek, die waarheid oor hom leer en hulle hele lewenswyse in ooreenstemming met daardie waarheid bring. Vir die Ateners het dit beteken dat hulle die sonde van afgodediens moet erken en dit die rug moet toekeer.

21, 22. Met watter treffende woorde het Paulus sy toespraak afgesluit, en watter betekenis het sy woorde vandag vir ons?

21 Paulus het sy toespraak met treffende woorde afgesluit: “[God] het ’n dag vasgestel waarop hy die hele aarde in regverdigheid sal oordeel deur ’n man wat hy aangestel het, en hy het aan alle mense ’n waarborg gegee deur hom uit die dood op te wek” (Hand. 17:31). ’n Komende Oordeelsdag – wat ’n kragtige rede om die ware God te soek en te vind! Paulus het nie die aangestelde Regter by name genoem nie. Hy het eerder iets verbasends oor hierdie Regter gesê: Hy het as ’n mens gelewe, het gesterf en is deur God uit die dood opgewek!

22 Dié kragtige slot is vandag baie betekenisvol vir ons. Ons weet dat die Regter wat deur God aangestel is, die verrese Jesus Christus is (Joh. 5:22). Ons weet ook dat die Oordeelsdag duisend jaar lank sal wees en dat dit vinnig nader kom (Op. 20:4, 6). Ons is nie bang vir die Oordeelsdag nie, want ons verstaan dat dit ongekende seëninge sal bring vir diegene wat getrou bevind word. Die vervulling van ons hoop op ’n glorieryke toekoms word gewaarborg deur die allergrootste wonderwerk – die opstanding van Jesus Christus!

Party het “gelowiges geword” (Handelinge 17:32-34)

23. Watter verskillende reaksies was daar op Paulus se toespraak?

23 Daar was verskillende reaksies op Paulus se toespraak. “Party [het] hom begin spot” toe hulle van ’n opstanding hoor. Ander was beleef, maar wou hulle nie tot enigiets verbind nie en het gesê: “Ons sal weer wil hoor wat jy hieroor te sê het” (Hand. 17:32). Maar ’n paar het positief gereageer: “Party ander het by hom aangesluit en gelowiges geword. Onder hulle was Dionisius, wat ’n regter van die geregshof van die Areopagus was, en ’n vrou met die naam Damaris en nog ander saam met hulle” (Hand. 17:34). Ons kry soortgelyke reaksies in ons bediening. Party mense spot ons dalk, terwyl ander beleefd is maar nie belangstel nie. Ons is egter verheug wanneer sommige die Koninkryksboodskap aanneem en gelowiges word.

24. Wat kan ons leer uit die toespraak wat Paulus by die Areopagus gehou het?

24 Wanneer ons oor Paulus se toespraak nadink, kan ons baie leer oor logiese ontwikkeling en oortuigende redenering sowel as oor hoe ons ons by ons gehoor kan aanpas. Daarbenewens kan ons leer hoe belangrik dit is om geduldig en taktvol te wees met mense wat deur valse godsdiensoortuigings verblind is. Ons kan ook hierdie belangrike les leer: Ons moet nooit Bybelwaarheid afwater om ons toehoorders nie te ontstel nie. Maar as ons die voorbeeld van die apostel Paulus volg, kan ons doeltreffender onderrigters in die veldbediening word. Verder kan dit opsieners help om bekwamer onderrigters in die gemeente te word. Ons sal dus goed toegerus wees om ander te help om ‘God te soek en hom werklik te vind’. – Hand. 17:27.

b Sien die venster “ Epikuriërs en Stoïsyne”.

c Die Areopagus, wat noordwes van die Akropolis geleë was, was die tradisionele vergaderplek van Atene se hoogste raad. Die term “Areopagus” kan na die raad of na die heuwel self verwys. Geleerdes is dit dus nie eens of Paulus na hierdie heuwel of daar naby gebring is nie en of hy na ’n vergadering van die raad gebring is wat elders, dalk in die agora, gehou is nie.

d Die Griekse woord wat met “wêreld” vertaal word, is koʹsmos, wat die Grieke op die stoflike heelal toegepas het. Dit is moontlik dat Paulus, wat gemeenskaplike grond met sy Griekse gehoor probeer behou het, die woord hier in dié sin gebruik het.

e Paulus het uit die sterrekundige gedig Phaenomena, deur die Stoïsynse digter Aratos, aangehaal. Soortgelyke bewoording word in ander Griekse geskrifte gevind, waaronder Lofsang tot Zeus, deur die Stoïsynse skrywer Kleantes.