Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 17

“Hy het . . . uit die Skrif met hulle geredeneer”

“Hy het . . . uit die Skrif met hulle geredeneer”

Die grondslag vir doeltreffende onderrigting; die Bereane se goeie voorbeeld

Gebaseer op Handelinge 17:1-15

1, 2. Wie reis van Filippi af na Tessalonika, en waaraan dink hulle moontlik?

 DIE besige pad, wat deur vaardige Romeinse ingenieurs gebou is, sny deur die ruwe berge. Allerhande klanke word elke nou en dan langs dié pad gehoor – die gebalk van donkies, die gekletter van wawiele op soliede plaveiklippe en die lawaai van alle soorte reisigers, wat waarskynlik soldate, verkoopsmanne en vakmanne insluit. Drie metgeselle – Paulus, Silas en Timoteus – reis meer as 130 kilometer op hierdie pad, van Filippi na Tessalonika. Die reis is allesbehalwe maklik, veral vir Paulus en Silas. Hulle het nog die wonde wat hulle opgedoen het in Filippi, waar hulle met stokke geslaan is. – Hand. 16:22, 23.

2 Wat laat hierdie manne vergeet van die lang pad wat voorlê? Hulle gesprekke met mekaar help sekerlik. Die opwindende ondervinding wat hulle gehad het toe die tronkbewaarder in Filippi en sy familie gelowiges geword het, is nog vars in hulle geheue. Dié ondervinding het hierdie reisigers selfs meer vasbeslote gemaak om aan te hou om die woord van God te verkondig. Maar namate hulle die kusstad Tessalonika nader, wonder hulle dalk hoe die Jode in daardie stad hulle gaan behandel. Sal hulle aangeval, selfs geslaan word, soos in Filippi?

3. Hoe kan Paulus se voorbeeld ons vandag help om die moed bymekaar te skraap om te preek?

3 Paulus het later sy gevoelens in ’n brief aan die Christene in Tessalonika beskryf: “Want soos julle weet, het ons in Filippi gely en is ons verneder, maar met die hulp van ons God het ons die moed bymekaargeskraap om julle die goeie nuus van God te vertel, al het ons groot teenstand ondervind” (1 Tess. 2:2). Dit lyk dus of Paulus te kenne gee dat hy bedenkinge gehad het oor hulle besoek aan die stad Tessalonika, veral ná wat in Filippi gebeur het. Kan jy jou voorstel hoe Paulus gevoel het? Vind jy dit ooit moeilik om die goeie nuus te verkondig? Paulus het op Jehovah vertrou om hom te versterk, om hom te help om die nodige moed bymekaar te skraap. As jy Paulus se voorbeeld bestudeer, kan dit jou help om dit ook te doen. – 1 Kor. 4:16.

‘Hy het uit die Skrif geredeneer’ (Handelinge 17:1-3)

4. Waarom is dit waarskynlik dat Paulus meer as drie weke in Tessalonika gebly het?

4 Die verslag sê vir ons dat Paulus op drie Sabbatte in die sinagoge gepreek het terwyl hy in Tessalonika was. Beteken dit dat sy besoek aan die stad slegs drie weke geduur het? Nie noodwendig nie. Ons weet nie hoe gou Paulus ná sy aankoms vir die eerste keer na die sinagoge toe gegaan het nie. Daarbenewens toon Paulus se briewe dat hy en sy metgeselle gewerk het om hulle te onderhou terwyl hulle in Tessalonika was (1 Tess. 2:9; 2 Tess. 3:7, 8). Paulus het ook twee keer gedurende sy verblyf benodigdhede van die broers in Filippi ontvang (Fil. 4:16). Hy het dus waarskynlik ietwat langer as drie weke in Tessalonika gebly.

5. Hoe het Paulus mense probeer bereik?

5 Nadat hy die moed bymekaargeskraap het om te preek, het Paulus dié wat in die sinagoge vergader het, toegespreek. Volgens sy gewoonte het hy “uit die Skrif met hulle geredeneer en verduidelik en deur verwysings bewys dat die Christus moes ly en uit die dood moes opstaan. Hy het gesê: ‘Hierdie Jesus oor wie ek vir julle preek, is die Christus’” (Hand. 17:2, 3). Let op dat Paulus nie probeer het om op sy toehoorders se gevoel te speel nie; hy het hulle denke geprikkel. Hy het geweet dat dié wat by die sinagoge vergader het, die Skrif ken en respekteer. Wat hulle nie gehad het nie, was insig. Paulus het dus die Skrif gebruik om te redeneer, te verduidelik en te bewys dat Jesus van Nasaret die beloofde Messias, of Christus, was.

6. Hoe het Jesus uit die Skrif geredeneer, en met watter resultaat?

6 Paulus het die standaard gevolg wat vasgestel is deur Jesus, wat die Skrif as die grondslag van sy onderrigting gebruik het. Gedurende Jesus se openbare bediening het hy byvoorbeeld vir sy volgelinge gesê dat die Seun van die mens volgens die Skrif moet ly, sterf en uit die dood opgewek moet word (Matt. 16:21). Ná sy opstanding het Jesus aan sy dissipels verskyn. Dit sou op sigself sekerlik genoeg gewees het om te bewys dat hy die waarheid gepraat het. Maar Jesus het verder gegaan. Aangaande wat hy aan sekere dissipels gesê het, lees ons: “Hy het by Moses en al die Profete begin en aan hulle verduidelik wat in die hele Skrif oor hom gesê is.” Met watter resultaat? Die dissipels het uitgeroep: “Het ons harte nie in ons gebrand toe hy op die pad met ons gepraat het, toe hy die Skrif ten volle aan ons verduidelik het nie?” – Luk. 24:13, 27, 32.

7. Waarom is dit belangrik om ons onderrigting op die Skrif te baseer?

7 Die boodskap van God se Woord het krag (Heb. 4:12). Christene van vandag baseer dus hulle onderrigting op daardie Woord, soos Jesus, Paulus en die ander apostels gedoen het. Ons redeneer ook met mense, verduidelik wat die Skrif beteken en voorsien bewyse van wat ons hulle leer deur die Bybel oop te slaan om vir huisbewoners te wys wat dit sê. Die boodskap wat ons bring, is immers nie ons s’n nie. Deur die Bybel dikwels te gebruik, help ons mense om te sien dat ons nie ons eie idees verkondig nie, maar God se leringe. Dit sal ook goed wees as ons in gedagte hou dat die boodskap wat ons verkondig, stewig gegrond is op God se Woord. Dit is heeltemal betroubaar. Gee hierdie wete jou nie die vertroue om, soos Paulus, die boodskap met moed bekend te maak nie?

‘Party het gelowiges geword’ (Handelinge 17:4-9)

8-10. (a) Hoe het die mense in Tessalonika op die goeie nuus gereageer? (b) Waarom was party Jode jaloers op Paulus? (c) Wat het die Joodse teenstanders gedoen?

8 Paulus het reeds die waarheid van Jesus se woorde ondervind: “’n Slaaf is nie groter as sy meester nie. As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woord gehoorsaam het, sal hulle julle woord ook gehoorsaam” (Joh. 15:20). Paulus het juis sulke verskillende reaksies in Tessalonika gekry – party was gretig om die woord te onderhou, maar ander het dit teëgestaan. Aangaande dié wat gunstig gereageer het, skryf Lukas: “Party van hulle [die Jode] [het] gelowiges [Christene] geword en by Paulus en Silas aangesluit, asook ’n groot aantal Grieke wat God aanbid het en baie van die belangrike vrouens” (Hand. 17:4). Hierdie nuwe dissipels was sekerlik verheug omdat hulle gehelp is om die Skrif te verstaan.

9 Hoewel party Paulus se woorde waardeer het, het ander op hulle tande begin kners. Party van die Jode in Tessalonika was jaloers omdat Paulus daarin geslaag het om “’n groot aantal Grieke” gelowiges te laat word. Daardie Jode, wat vasbeslote was om Joodse proseliete te maak, het die Griekse nie-Jode in die leringe van die Hebreeuse Geskrifte onderrig en het gevoel dat daardie Grieke aan hulle behoort. Maar skielik het dit gelyk asof Paulus daardie Grieke van hulle afrokkel, en dít in die sinagoge! Die Jode was woedend.

“Hulle wou hê dat Paulus en Silas na die groep toe uitgebring moes word.” – Handelinge 17:5

10 Lukas vertel ons wat volgende gebeur het: “Die Jode het jaloers geword en het ’n klomp slegte manne bymekaargemaak wat op die markplein rondgehang het. Hulle het ’n groot groep gevorm en ’n oproer in die stad veroorsaak. Hulle het die huis van Jason aangeval omdat hulle wou hê dat Paulus en Silas na die groep toe uitgebring moes word. Toe hulle hulle nie kon vind nie, het hulle Jason en party broers na die stadsleiers toe gesleep en uitgeroep: ‘Hierdie mense wat oral op die aarde moeilikheid gemaak het, is nou ook hier, en Jason het hulle as sy gaste ontvang. Al hierdie mense kom in opstand teen die bevele van die keiser deur te sê dat daar ’n ander koning is, Jesus’”(Hand. 17:5-7). Hoe sou hierdie oproer Paulus en sy metgeselle raak?

11. Watter aantygings is teen Paulus en sy mede-Koninkryksverkondigers gemaak, en watter bevel het die beskuldigers dalk in gedagte gehad? (Sien voetnoot.)

11 ’n Oproerige skare is vreesaanjaend. Dit stroom met die krag van ’n rivier in vloed – gewelddadig en onbeheersd. Die Jode het dié wapen gebruik om van Paulus en Silas te probeer ontslae raak. Nadat die Jode “’n oproer in die stad veroorsaak” het, het hulle die heersers probeer oortuig dat hulle aantygings ernstig is. Die eerste aantyging was dat Paulus en sy mede-Koninkryksverkondigers “oral op die aarde moeilikheid gemaak het”, hoewel Paulus en sy metgeselle nie die oproer in Tessalonika veroorsaak het nie! Die tweede aantyging was baie ernstiger. Die Jode het beweer dat die sendelinge ’n ander Koning, Jesus, verkondig en sodoende teen die keiser se bevele in opstand kom. a

12. Wat toon dat die aantygings teen Christene in Tessalonika ernstige gevolge kon gehad het?

12 Onthou dat die godsdiensleiers ’n soortgelyke aantyging teen Jesus gemaak het. Hulle het vir Pilatus gesê: “Ons het vasgestel dat hierdie man ons nasie opstandig maak . . . en sê dat hy Christus, ’n koning, is” (Luk. 23:2). Moontlik uit vrees dat die keiser tot die slotsom sou kom dat hy hoogverraad deur die vingers sien, het Pilatus Jesus ter dood veroordeel. Die aantygings teen die Christene in Tessalonika kon eweneens ernstige gevolge gehad het. Een naslaanwerk sê: “Dit is moeilik om die gevaar wat dit vir hulle ingehou het, te oordryf, want ‘die geringste aanduiding van verraad teen die keisers het dikwels tot die beskuldigde se dood gelei’.” Sou hierdie hatige aanval slaag?

13, 14. (a) Waarom het die oproerige skare se aanval misluk? (b) Hoe het Paulus, soos Christus, versigtigheid aan die dag gelê, en hoe kan ons sy voorbeeld volg?

13 Die oproerige skare het dit nie reggekry om die predikingswerk in Tessalonika stop te sit nie. Waarom nie? Om maar een ding te noem, Paulus en Silas was nêrens te vinde nie. Daarbenewens was die stadsheersers blykbaar nie oortuig dat die aantygings waar was nie. Nadat hulle “borggeld” geëis het, het hulle Jason en die ander broers wat voor hulle gebring is, vrygelaat (Hand. 17:8, 9). In navolging van Jesus se raad om “versigtig soos slange en tog onskuldig soos duiwe” te wees, het Paulus wyslik uit die gevaar gebly sodat hy elders kon aanhou preek (Matt. 10:16). Dit is duidelik dat die moed wat Paulus bymekaargeskraap het, nie roekeloosheid beteken het nie. Hoe kan Christene vandag sy voorbeeld volg?

14 In hedendaagse tye het die geestelikes van die Christendom dikwels skares teen Jehovah se Getuies opgesweep. Met aantygings van sedisie en verraad het hulle heersers gemanipuleer om teen die Getuies op te tree. Soos daardie eerste-eeuse vervolgers, word hedendaagse teenstanders deur jaloesie aangedryf. Hoe dit ook al sy, ware Christene soek nie moeilikheid nie. Ons vermy sover moontlik konfrontasies met sulke woedende, onredelike mense en probeer eerder ons werk in vrede voortsit en kom dalk later terug wanneer die situasie gekalmeer het.

Hulle was “gewilliger om te leer” (Handelinge 17:10-15)

15. Hoe het die Bereane op die goeie nuus gereageer?

15 Paulus en Silas is veiligheidshalwe na Berea, ongeveer 65 kilometer daarvandaan, gestuur. Toe hulle daar aankom, het Paulus na die sinagoge gegaan en dié wat daar vergader het, toegespreek. Wat ’n vreugde tog om ’n ontvanklike gehoor te vind! Lukas het geskryf dat die Jode in Berea “gewilliger [was] om te leer as dié in Tessalonika, want hulle het die woord gretig aanvaar en die Skrif elke dag deeglik ondersoek om te sien of hierdie dinge so was” (Hand. 17:10, 11). Het hierdie woorde diegene in Tessalonika wat die waarheid aangeneem het, in ’n slegte lig gestel? Glad nie. Paulus het later aan hulle geskryf: “Ons [dank] God ook sonder ophou, want toe julle God se woord ontvang het, wat julle by ons gehoor het, het julle dit nie as die woord van mense aanvaar nie. Nee, julle het dit aanvaar vir wat dit waarlik is, die woord van God, wat ook in julle, die gelowiges, aan die werk is” (1 Tess. 2:13). Maar wat het die Jode in Berea so gewillig gemaak om te leer?

16. Waarom word daar gesê dat die Bereane ‘gewillig was om te leer’?

16 Hoewel die Bereane iets nuuts gehoor het, was hulle nie agterdogtig of uitermate krities nie; hulle was ook nie liggelowig nie. Eerstens het hulle aandagtig geluister na wat Paulus gesê het. Daarna het hulle bevestig wat hulle geleer het deur die Skrif te raadpleeg, wat Paulus aan hulle verduidelik het. Wat meer is, hulle het die Woord van God ywerig bestudeer, nie net op die Sabbat nie, maar elke dag. En hulle het dit “gretig aanvaar” terwyl hulle hulle daarop toegelê het om uit te vind wat die Skrif in die lig van hierdie nuwe lering openbaar. Toe was hulle nederig genoeg om veranderinge aan te bring, want “baie van hulle het . . . gelowiges geword” (Hand. 17:12). Dit is geen wonder dat Lukas gesê het dat hulle ‘gewillig was om te leer’ nie!

17. Waarom is die voorbeeld van die Bereane so prysenswaardig, en hoe kan ons dit bly volg lank nadat ons gelowiges geword het?

17 Min het daardie Bereane besef dat die verslag van hulle reaksie op die goeie nuus in God se Woord bewaar sou word as ’n goeie voorbeeld vir ons. Hulle het presies gedoen wat Paulus gehoop het hulle sou doen en wat Jehovah God wou hê hulle moes doen. Ons spoor mense ook aan om dieselfde te doen – om die Bybel sorgvuldig te ondersoek sodat hulle geloof stewig op God se Woord gegrond kan wees. Maar moet ons nog steeds gewillig wees om te leer nadat ons gelowiges geword het? Om die waarheid te sê, dit word selfs belangriker om gretig te wees om deur Jehovah geleer te word en om sy leringe sonder versuim toe te pas. Op dié manier laat ons toe dat Jehovah ons ooreenkomstig sy wil vorm en oplei (Jes. 64:8). Ons bly dus bruikbaar vir ons hemelse Vader en kan hom ten volle behaag.

18, 19. (a) Waarom het Paulus Berea verlaat, maar hoe het hy navolgenswaardige volharding aan die dag gelê? (b) Wie sou Paulus hierna toespreek, en waar?

18 Paulus het nie lank in Berea gebly nie. Ons lees: “Toe die Jode van Tessalonika uitvind dat Paulus die woord van God ook in Berea verkondig, het hulle daarheen gegaan om die mense teen hulle op te steek. Toe het die broers Paulus onmiddellik weggestuur om na die see toe te gaan, maar Silas en Timoteus het daar agtergebly. Dié wat saam met Paulus gegaan het, het hom egter tot by Atene geneem. Hulle het vertrek nadat hulle ’n opdrag gekry het dat Silas en Timoteus so gou moontlik na Paulus toe moet kom” (Hand. 17:13-15). Hoe vasberade was daardie vyande van die goeie nuus tog! Dit was vir hulle nie genoeg om Paulus uit Tessalonika te verdryf nie; hulle het ook na Berea gereis en dieselfde soort moeilikheid daar probeer aanblaas – maar alles tevergeefs. Paulus het geweet dat sy gebied baie groot is; hy het bloot elders gaan preek. Mag ons vandag net so vasbeslote wees om die pogings te verydel van dié wat die predikingswerk wil stopsit!

19 Deur deeglik vir die Jode in Tessalonika en Berea te getuig, het Paulus sekerlik baie geleer oor die belangrikheid daarvan om moedig te getuig en uit die Skrif te redeneer. Ons het ook. Maar nou sou Paulus met ’n ander soort gehoor te doen kry – die nie-Jode van Atene. Hoe sou hy in daardie stad vaar? Ons sal in die volgende hoofstuk sien.

a Volgens een geleerde was daar destyds ’n keiserlike bevel wat verbied het dat enige voorspelling gemaak word “aangaande die koms van ’n nuwe koning of koninkryk, veral een wat na bewering die bestaande keiser sou vervang of veroordeel”. Paulus se vyande het heel moontlik die apostel se boodskap verkeerd voorgestel sodat dit sou klink asof hulle in opstand teen die bevel gekom het. Sien die venster “ Die keisers en die boek Handelinge”.