HOOFSTUK 21
‘Ek is rein van die bloed van alle mense’
Paulus se ywer in die bediening en sy raad aan ouermanne
Gebaseer op Handelinge 20:1-38
1-3. (a) Beskryf die omstandighede wat met die dood van Eutigus gepaardgegaan het. (b) Wat doen Paulus, en wat toon hierdie voorval omtrent hom?
PAULUS is in ’n stampvol bo-kamer in Troas. Hy praat lank met die broers, aangesien dit sy laaste aand saam met hulle is. Dit is nou middernag. Daar is ’n hele paar brandende lampe in die vertrek, wat dit warm en dalk bedompig maak. ’n Jong man met die naam Eutigus sit by een van die vensters. Terwyl Paulus praat, raak Eutigus aan die slaap en val hy by die venster op die derde verdieping uit!
2 As ’n dokter is Lukas waarskynlik een van die eerstes wat uithardloop om die jong man te ondersoek. Daar is geen twyfel oor sy toestand nie. Toe hulle Eutigus “optel, was hy dood” (Hand. 20:9). Maar dan vind ’n wonderwerk plaas. Paulus gaan lê op die jong man en sê vir die groep: “Hou op om so te huil, want hy lewe.” Paulus het Eutigus opgewek! – Hand. 20:10.
3 Hierdie voorval toon die krag van God se heilige gees. Niemand kon Paulus blameer vir Eutigus se dood nie. Nietemin wou hy nie hê dat die jong man se dood hierdie belangrike geleentheid moet bederf of enigiemand moet laat struikel nie. Deur Eutigus op te wek, het Paulus die gemeente vertroos en ten volle versterk sodat hulle ná sy vertrek met hulle bediening kon voortgaan. Dit is duidelik dat Paulus verantwoordelik gevoel het vir die lewe van ander. Dit laat ons dink aan sy woorde: “Ek [is] rein . . . van die bloed van alle mense” (Hand. 20:26). Kom ons kyk hoe Paulus se voorbeeld ons in hierdie verband kan help.
Hy het “na Masedonië vertrek” (Handelinge 20:1, 2)
4. Watter vreeslike ondervinding het Paulus deurgemaak?
4 Soos in die vorige hoofstuk bespreek is, het Paulus ’n vreeslike ondervinding deurgemaak. Sy bediening in Efese het ’n groot opskudding veroorsaak. Ja, die silwersmede wat ’n bestaan gemaak het uit die aanbidding van Artemis, het aan ’n oproer deelgeneem! “Toe die opskudding bedaar het”, sê Handelinge 20:1, “het Paulus die dissipels laat roep, en nadat hy hulle aangemoedig het, het hy hulle gegroet en na Masedonië vertrek.”
5, 6. (a) Hoe lank was Paulus dalk in Masedonië, en wat het hy vir die broers daar gedoen? (b) Watter gesindheid het Paulus teenoor sy medegelowiges behou?
5 Op pad na Masedonië het Paulus by die hawe Troas aangegaan en ’n tyd lank daar gebly. Paulus het gehoop dat Titus, wat na Korinte gestuur is, daar by hom sou aansluit (2 Kor. 2:12, 13). Maar toe dit duidelik word dat Titus nie gaan kom nie, het Paulus na Masedonië gegaan en ’n jaar of wat daar deurgebring en “baie aanmoediging gegee . . . aan dié wat daar was” (Hand. 20:2). a Titus het uiteindelik in Masedonië by Paulus aangesluit met goeie nuus aangaande die Korintiërs se reaksie op Paulus se eerste brief (2 Kor. 7:5-7). Dit het Paulus beweeg om nog ’n brief aan hulle te skryf, wat ons nou as 2 Korintiërs ken.
6 Dit is opmerkenswaardig dat Lukas die woorde “aangemoedig” en “aanmoediging” gebruik in verband met Paulus se besoeke aan die broers in Efese en Masedonië. Hoe goed beskryf hierdie woorde tog Paulus se gesindheid teenoor medegelowiges! In teenstelling met die Fariseërs, wat op ander neergesien het, het Paulus die skape as medewerkers beskou (Joh. 7:47-49; 1 Kor. 3:9). Paulus het hierdie gesindheid behou selfs toe hy hulle streng raad moes gee. – 2 Kor. 2:4.
7. Hoe kan Christenopsieners vandag Paulus se voorbeeld volg?
7 Vandag streef gemeentelike ouermanne en kringopsieners daarna om Paulus se voorbeeld te volg. Selfs wanneer hulle teregwysing gee, streef hulle daarna om dié wat hulp nodig het, te versterk. Opsieners se empatie beweeg hulle om ander te probeer aanmoedig eerder as om hulle te veroordeel. ’n Ervare kringopsiener het dit so gestel: “Die meeste van ons broers en susters wil graag doen wat reg is, maar hulle worstel dikwels met frustrasies, vrese en die gevoel dat hulle nie in staat is om hulleself te help nie.” Opsieners kan vir sulke medegelowiges ’n bron van krag wees. – Heb. 12:12, 13.
‘Die Jode het beplan om hom dood te maak’ (Handelinge 20:3, 4)
8, 9. (a) Wat het Paulus verhinder om na Sirië weg te seil, soos hy beplan het? (b) Waarom was die Jode Paulus moontlik vyandiggesind?
8 Van Masedonië af het Paulus na Korinte gegaan. b Nadat hy drie maande daar deurgebring het, was hy gretig om na Kenchreë te gaan, waarvandaan hy per boot na Sirië wou reis. Daarvandaan sou hy na Jerusalem kon gaan en die bydraes aan die behoeftige broers daar aflewer (Hand. 24:17; Rom. 15:25, 26). c Maar ’n onverwagte wending het Paulus se planne verander. Handelinge 20:3 vertel: “Die Jode [het] beplan om hom dood te maak”!
9 Dit is nie verbasend dat die Jode Paulus vyandiggesind was nie, want hulle het hom as ’n afvallige beskou. Vroeër het sy bediening gelei tot die bekering van Krispus – ’n vooraanstaande man in die sinagoge in Korinte (Hand. 18:7, 8; 1 Kor. 1:14). By ’n ander geleentheid het die Jode in Korinte aanklagte teen Paulus voor Gallio, die prokonsul van Agaje, ingebring. Maar Gallio het daardie aanklagte as ongegrond afgewys – ’n beslissing wat Paulus se vyande woedend gemaak het (Hand. 18:12-17). Die Jode in Korinte het dalk geweet of aangeneem dat Paulus binnekort van die nabygeleë Kenchreë sou wegseil, en daarom het hulle beplan om hom daar dood te maak. Wat sou Paulus doen?
10. Was dit lafhartig van Paulus om Kenchreë te vermy? Verduidelik.
10 Ter wille van sy eie veiligheid – en dié van die bydraes wat aan hom toevertrou is – het Paulus besluit om Kenchreë te vermy en na Masedonië terug te gaan. ’n Reis oor land sou weliswaar ook gevare inhou. Rowers het reisigers dikwels langs eertydse paaie voorgelê. Selfs die herberge kon onveilig wees. Nietemin het Paulus besluit om eerder die gevare oor land te trotseer as dié wat in Kenchreë op hom gewag het. Gelukkig het hy nie alleen gereis nie. Paulus se metgeselle vir hierdie deel van sy sendingreis het Aristargus, Gajus, Sekundus, Sopater, Timoteus, Trofimus en Tigikus ingesluit. – Hand. 20:3, 4.
11. Watter redelike stappe doen Christene vandag om hulle te beskerm, en watter voorbeeld het Jesus in dié verband gestel?
11 Soos Paulus, doen Christene vandag wat nodig is om hulle te beskerm terwyl hulle in die bediening is. In party gebiede werk hulle in groepe – of ten minste in pare – en nie alleen nie. En wat van vervolging? Christene besef dat dit onvermydelik is (Joh. 15:20; 2 Tim. 3:12). Nogtans stel hulle hulle nie doelbewus in gevaar nie. Dink aan die voorbeeld van Jesus. Toe teenstanders in Jerusalem by een geleentheid klippe opgetel het om hom daarmee te gooi, het “Jesus . . . weggekruip en uit die tempel uitgegaan” (Joh. 8:59). Later, toe die Jode beplan het om hom dood te maak, het “Jesus . . . nie meer openlik onder die Jode rondbeweeg nie, maar hy het daarvandaan vertrek om na die gebied naby die wildernis te gaan” (Joh. 11:54). Jesus het redelike stappe gedoen om homself te beskerm wanneer dit nie strydig met God se wil vir hom was nie. Christene doen vandag dieselfde. – Matt. 10:16.
Hulle is “grootliks vertroos” (Handelinge 20:5-12)
12, 13. (a) Watter uitwerking het die opstanding van Eutigus op die gemeente gehad? (b) Watter Bybelse hoop bied vandag vertroosting aan dié wat geliefdes aan die dood afgestaan het?
12 Paulus en sy metgeselle het saam deur Masedonië gereis en toe blykbaar uitmekaar gegaan. Die groep het klaarblyklik in Troas weer bymekaargekom. d Die verslag sê: “Ons het binne vyf dae by hulle in Troas gekom” (Hand. 20:6). e Dit is hier waar die jong man Eutigus opgewek is, soos aan die begin van hierdie hoofstuk beskryf is. Stel jou voor hoe die broers gevoel het toe hulle sien hoe hulle metgesel Eutigus opgewek word! Soos die verslag sê, is hulle “grootliks vertroos”. – Hand. 20:12.
13 Sulke wonderwerke vind natuurlik nie vandag plaas nie. Nietemin word dié wat geliefdes aan die dood afgestaan het, “grootliks vertroos” deur die Bybelse hoop op die opstanding (Joh. 5:28, 29). Dink hieraan: Omdat Eutigus onvolmaak was, het hy uiteindelik weer gesterf (Rom. 6:23). Maar dié wat in God se nuwe wêreld opgewek word, het die vooruitsig om vir ewig te lewe! Daarbenewens word dié wat opgewek word om saam met Jesus in die hemel te regeer, verander in persone wat nie kan sterf nie (1 Kor. 15:51-53). Christene van vandag – hetsy van die gesalfdes of van die “ander skape” – het alle rede om “grootliks vertroos” te wees. – Joh. 10:16.
Handelinge 20:13-24)
“In die openbaar en van huis tot huis” (14. Wat het Paulus vir die ouermanne van Efese gesê toe hulle hom in Milete ontmoet het?
14 Paulus en sy groep het van Troas na Assus, toe na Mitilene, Chios, Samos en Milete gereis. Paulus wou betyds vir die Pinksterfees in Jerusalem kom. Sy haas om teen Pinkster in Jerusalem te wees, verklaar waarom hy ’n boot gekies het wat op hierdie terugvaart nie by Efese sou aandoen nie. Maar omdat Paulus met die ouermanne van Efese wou praat, het hy hulle gevra om hom in Milete te ontmoet (Hand. 20:13-17). Toe hulle daar aankom, het Paulus vir hulle gesê: “Julle weet goed hoe ek myself onder julle gedra het van die eerste dag af dat ek in die provinsie Asië gekom het, hoe ek die Here as ’n slaaf gedien het met alle nederigheid en met trane en hoe ek gely het as gevolg van die Jode se planne om my dood te maak, terwyl ek nie gehuiwer het om julle alles te vertel wat voordelig is en julle in die openbaar en van huis tot huis te leer nie. Maar ek het deeglik vir die Jode en die Grieke getuig oor berou teenoor God en geloof in ons Here Jesus.” – Hand. 20:18-21.
15. Wat is ’n paar voordele van die huis-tot-huis-getuieniswerk?
15 Daar is vandag baie maniere waarop ons mense met die goeie nuus kan bereik. Soos Paulus, probeer ons gaan waar die mense is, hetsy by bushaltes, op besige strate of by markte. Maar die huis-tot-huis-werk bly die vernaamste predikingsmetode van Jehovah se Getuies. Waarom? Om maar een ding te noem, die huis-tot-huis-predikingswerk gee aan almal genoegsame geleentheid om die Koninkryksboodskap gereeld te hoor, wat God se onpartydigheid toon. Dit gee ook aan opregtes van hart die geleentheid om persoonlike hulp ooreenkomstig hulle behoeftes te ontvang. Daarbenewens versterk die huis-tot-huis-bediening die geloof en volharding van diegene wat daaraan deelneem. Ja, ywer om “in die openbaar en van huis tot huis” te getuig, is vandag ’n kenmerk van ware Christene.
16, 17. Hoe het Paulus getoon dat hy onbevrees is, en hoe volg Christene vandag sy voorbeeld?
16 Paulus het vir die ouermanne van Efese gesê dat hy nie weet watter gevare op hom wag wanneer hy weer in Jerusalem kom nie. “Tog is my eie lewe nie vir my belangrik nie”, het hy vir hulle gesê, “solank ek net my loopbaan en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, kan voltooi, naamlik om deeglik van die goeie nuus van God se onverdiende goedheid te getuig” (Hand. 20:24). Paulus het onbevrees geweier om toe te laat dat enige omstandigheid – hetsy swak gesondheid of hewige teenstand – hom verhinder om sy toewysing uit te voer.
17 Christene verduur vandag ook allerhande negatiewe omstandighede. Party het te kampe met regeringsverbooie en vervolging. Ander voer ’n moedige stryd teen aftakelende fisiese of emosionele siektes. Christenjongmense ondervind portuurdruk by die skool. In watter omstandighede Jehovah se Getuies hulle ook al bevind, hulle bly standvastig, net soos Paulus. Hulle is vasbeslote om “deeglik van die goeie nuus . . . te getuig”.
“Skenk aandag aan julleself en aan die hele kudde” (Handelinge 20:25-38)
18. Hoe het Paulus bloedskuld vermy, en hoe kon die ouermanne van Efese dieselfde doen?
18 Paulus het die ouermanne van Efese vervolgens reguit raad gegee en sy eie lewenswandel as voorbeeld gebruik. Hy het hulle eers ingelig dat dit waarskynlik die laaste keer is dat hulle hom sou sien. Toe het hy gesê: “Ek [is] rein . . . van die bloed van alle mense, want ek het nie gehuiwer om julle van God se hele voorneme te vertel nie.” Hoe kon die ouermanne van Efese Paulus navolg en sodoende vry van bloedskuld bly? Hy het vir hulle gesê: “Skenk aandag aan julleself en aan die hele kudde, waaroor die heilige gees julle as opsieners aangestel het, om herders te wees vir die gemeente van God, wat hy met die bloed van sy eie Seun gekoop het” (Hand. 20:26-28). Paulus het hulle gewaarsku dat “wrede wolwe” die kudde sou infiltreer en “die waarheid [sou] verdraai om die dissipels agter hulle aan weg te trek”. Wat moes die ouermanne doen? “Bly . . . wakker”, het Paulus gewaarsku, “en hou in gedagte dat ek drie jaar lank, dag en nag, nooit opgehou het om elkeen van julle met trane raad te gee nie”. – Hand. 20:29-31.
19. Watter afvalligheid het teen die einde van die eerste eeu ontwikkel, en waartoe het dit in latere eeue aanleiding gegee?
19 “Wrede wolwe” het teen die einde van die eerste eeu hulle verskyning gemaak. Omstreeks 98 HJ het die apostel Johannes geskryf: “Daar het nou reeds baie antichriste verskyn . . . Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons soort nie, want as hulle van ons soort was, sou hulle by ons gebly het” (1 Joh. 2:18, 19). Teen die derde eeu het afvalligheid aanleiding gegee tot die ontwikkeling van die geestelikeklas van die Christendom, en in die vierde eeu het keiser Konstantyn amptelike erkenning aan hierdie verdorwe vorm van “die Christelike godsdiens” gegee. Deur heidense rituele te aanvaar en ’n “Christelike” voorkoms daaraan te gee, het godsdiensleiers inderdaad ‘die waarheid verdraai’. Die gevolge van hierdie afvalligheid word nog steeds in die leringe en gebruike van die Christendom gesien.
20, 21. Hoe het Paulus ’n selfopofferende gees aan die dag gelê, en hoe kan Christen-ouermanne van vandag dieselfde doen?
20 Paulus se lewenswandel het ’n skerp kontras gevorm met dié van diegene wat in latere tye die kudde sou uitbuit. Hy het gewerk om homself te onderhou sodat hy nie ’n las vir die gemeente sou wees nie. Sy inspanning ten behoewe van medegelowiges was nie vir eie gewin nie. Paulus het die ouermanne van Efese aangespoor om ’n selfopofferende gees aan die dag te lê. Hy het vir hulle gesê dat hulle “die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, toe hy self gesê het: ‘Dit maak ’n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang.’” – Hand. 20:35.
21 Soos Paulus, is Christen-ouermanne van vandag selfopofferend. In teenstelling met die geestelikes van die Christendom wat hulle kuddes uitbuit, voer diegene aan wie die verantwoordelikheid toevertrou is om “herders te wees vir die gemeente van God”, hulle pligte onselfsugtig uit. Trots en ambisie het geen plek in die Christengemeente nie, want diegene wat ‘hulle eie eer soek’, sal uiteindelik geen sukses behaal nie (Spr. 25:27). Vermetelheid kan net tot oneer lei. – Spr. 11:2.
22. Wat het Paulus geliefd gemaak by die ouermanne van Efese?
22 Paulus se opregte liefde vir sy broers het hom geliefd gemaak by hulle. Trouens, toe die tyd aangebreek het vir hom om te vertrek, “het hulle almal baie gehuil en Paulus omhels en hom gesoen” (Hand. 20:37, 38). Christene het groot waardering en liefde vir diegene wat hulle, soos Paulus, onselfsugtig ter wille van die kudde inspan. Sal jy, ná ons bespreking oor Paulus se uitstekende voorbeeld, nie saamstem dat hy nie gespog of oordryf het toe hy gesê het: “Ek [is] rein . . . van die bloed van alle mense” nie? – Hand. 20:26.
a Sien die venster “ Paulus se briewe uit Masedonië”.
b Dit was waarskynlik gedurende hierdie besoek aan Korinte dat Paulus sy brief aan die Romeine geskryf het.
c Sien die venster “ Paulus lewer bydraes vir noodleniging af”.
d Lukas se gebruik van die eerste persoon in Handelinge 20:5, 6 gee blykbaar te kenne dat hy in Filippi by Paulus aangesluit het nadat Paulus hom ’n ruk vroeër daar agtergelaat het. – Hand. 16:10-17, 40.
e Die reis van Filippi na Troas het vyf dae geduur. Daar was dalk teenwinde, want dieselfde reis het voorheen net twee dae geneem. – Hand. 16:11.