Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 22

“Laat die wil van Jehovah plaasvind”

“Laat die wil van Jehovah plaasvind”

Paulus gaan na Jerusalem, vasbeslote om God se wil te doen

Gebaseer op Handelinge 21:1-17

1-4. Waarom gaan Paulus na Jerusalem, en wat wag daar op hom?

 DIE afskeid by Milete is ’n emosionele ondervinding. Hoe moeilik is dit tog vir Paulus en Lukas om hulle weg te skeur van die ouermanne van Efese vir wie hulle lief geword het! Die twee sendelinge staan op die dek van die boot. In hulle bagasie is voorrade wat hulle nodig het vir die reis. Hulle het ook die bydraes wat ingesamel is vir behoeftige Christene in Judea en is gretig om seker te maak dat hierdie geskenk veilig afgelewer word.

2 ’n Ligte bries vul die seile, en die skip laat die lawaai en bedrywigheid van die kaai agter. Die twee mans, sowel as hulle sewe reisgenote, kyk na hulle hartseer broers op die kaai (Hand. 20:4, 14, 15). Die reisigers hou aan waai totdat hulle vriende in die verte verdwyn.

3 Paulus het omtrent drie jaar lank ten nouste saam met die ouermanne in Efese gewerk. Maar nou, gerig deur die heilige gees, is hy op pad na Jerusalem. Hy weet in sekere mate wat op hom wag. Vroeër het hy vir daardie ouermanne gesê: “Ek [word] deur die heilige gees na Jerusalem gelei, al weet ek nie wat daar met my sal gebeur nie. Ek weet net dat die heilige gees my van stad tot stad herhaaldelik waarsku dat gevangenskap en vervolging op my wag” (Hand. 20:22, 23). Ten spyte van die gevaar voel Paulus dat hy “deur die heilige gees . . . gelei” word – dit wil sê hy voel verplig sowel as gewillig om die gees se leiding te volg om na Jerusalem te gaan. Sy lewe is vir hom belangrik, maar die uitvoering van God se wil is vir hom die belangrikste.

4 Is dit hoe jy voel? Wanneer ons ons aan Jehovah toewy, belowe ons plegtig dat ons die uitvoering van sy wil die belangrikste saak in ons lewe sal maak. Ons kan baat vind by ’n bespreking van die getroue voorbeeld van die apostel Paulus.

Hulle seil verby “die eiland Siprus” (Handelinge 21:1-3)

5. Watter roete het Paulus en sy metgeselle na Tirus gevolg?

5 Die boot waarop Paulus en sy metgeselle was, het ‘reguit gevaar’. Dit wil sê, dit het voor die wind, sonder om te laveer, onder gunstige winde geseil totdat hulle later daardie selfde dag by Kos aangekom het (Hand. 21:1). Daar het die boot blykbaar oornag voor anker gelê voordat dit na Rodos en Patara weggeseil het. By Patara, aan die suidkus van Klein-Asië, het die broers op ’n groot vragskip geklim, wat hulle reguit na Tirus, in Fenisië, geneem het. Op pad soontoe het hulle verby “die eiland Siprus aan [hulle] linkerkant” geseil (Hand. 21:3). Waarom het Lukas, die skrywer van Handelinge, hierdie feit genoem?

6. (a) Waarom is Paulus dalk bemoedig toe hy Siprus gesien het? (b) Tot watter slotsom kom jy wanneer jy terugdink aan hoe Jehovah jou al geseën en gehelp het?

6 Dalk het Paulus die eiland uitgewys en van sy ondervindinge daar vertel. Op sy eerste sendingreis, ongeveer nege jaar vroeër, het Paulus, saam met Barnabas en Johannes Markus, die towenaar Elimas teëgekom, wat hulle predikingswerk teëgestaan het (Hand. 13:4-12). Toe Paulus die eiland gesien het en teruggedink het aan wat daar gebeur het, het dit hom dalk bemoedig en versterk vir wat voorgelê het. Ons kan ook daarby baat vind as ons terugdink aan hoe God ons geseën en gehelp het om beproewinge te verduur. Sulke bepeinsing help ons dalk om soos Dawid te voel, wat geskryf het: “Die regverdige het baie probleme, maar Jehovah red hom van dit alles.” – Ps. 34:19.

“Ons het na die dissipels gesoek en hulle gevind” (Handelinge 21:4-9)

7. Wat het die reisigers gedoen toe hulle in Tirus aankom?

7 Paulus het die waarde van Christelike assosiasie besef en was gretig om saam met medegelowiges te wees. Toe hulle in Tirus aankom, skryf Lukas, het hulle “na die dissipels gesoek en hulle gevind” (Hand. 21:4). Omdat die reisigers geweet het dat daar mede-Christene in Tirus is, het hulle hulle opgesoek en moontlik by hulle gebly. Een van die groot seëninge wat ons geniet omdat ons die waarheid het, is dat ons, ongeag waar ons gaan, medegelowiges kan vind wat ons sal verwelkom. Diegene wat God liefhet en ware aanbidding beoefen, het vriende regoor die wêreld.

8. Hoe moet ons Handelinge 21:4 verstaan?

8 Lukas beskryf die sewe dae wat hulle in Tirus deurgebring het en meld iets wat dalk aanvanklik verwarrend klink: “Deur die gees het [die broers in Tirus] herhaaldelik vir Paulus gesê om nie ’n voet in Jerusalem te sit nie” (Hand. 21:4). Het Jehovah van gedagte verander? Het hy Paulus nou beveel om nie na Jerusalem te gaan nie? Nee. Die gees het getoon dat Paulus in Jerusalem mishandel sou word, nie dat hy die stad moes vermy nie. Die broers in Tirus het blykbaar deur middel van die heilige gees tot die regte slotsom gekom dat Paulus in Jerusalem moeilikheid sou teëkom. Daarom het hulle, weens besorgdheid oor Paulus, by hom aangedring om nie na die stad te gaan nie. Hulle begeerte om Paulus teen dreigende gevaar te beskerm, was verstaanbaar. Maar Paulus was vasbeslote om Jehovah se wil te doen en het sy reis na Jerusalem voortgesit. – Hand. 21:12.

9, 10. (a) Aan watter soortgelyke situasie het Paulus dalk gedink toe hy hoor hoe die broers in Tirus hulle kommer uitspreek? (b) Watter idee is vandag algemeen in die wêreld, en hoe vorm dit ’n teenstelling met Jesus se woorde?

9 Toe Paulus hoor hoe die broers hulle kommer uitspreek, het hy dalk onthou dat Jesus ’n soortgelyke beswaar teëgekom het toe hy vir sy dissipels gesê het dat hy na Jerusalem sou gaan, baie sou ly en doodgemaak sou word. Petrus het hom deur sy gevoelens laat lei en vir Jesus gesê: “Wees goed vir uself, Here. Dit sal glad nie met u gebeur nie.” Jesus het vir hom gesê: “Gaan agter my, Satan! Jy is vir my ’n struikelblok, want jou gedagtes is nie God se gedagtes nie, maar dié van mense” (Matt. 16:21-23). Jesus was vasbeslote om die selfopofferende weg te volg wat God vir hom in gedagte gehad het. Paulus het dieselfde gevoel. Die broers in Tirus het ongetwyfeld, soos die apostel Petrus, goeie bedoelings gehad, maar hulle het nie God se wil onderskei nie.

’n Selfopofferende gees is nodig om Jesus te volg

10 Vandag hou baie mense van die idee om goed te wees vir jouself of om die maklikste weg te volg. Oor die algemeen soek mense na ’n godsdiens wat gerieflik is en nie veel van sy lidmate vereis nie. In teenstelling hiermee het Jesus mense aangespoor om ’n heeltemal ander geestesgesindheid te hê. Hy het vir sy dissipels gesê: “As iemand my volgeling wil word, moet hy ophou om vir homself te lewe en sy folterpaal optel en aanhou om my te volg” (Matt. 16:24). Om Jesus te volg, is die verstandige weg, die regte weg, maar dit is nie die maklike weg nie.

11. Hoe het die dissipels in Tirus getoon dat hulle Paulus liefhet en ondersteun?

11 Kort daarna was dit tyd vir Paulus, Lukas en die ander wat saam met hulle was, om hulle reis voort te sit. Die beskrywing van hulle vertrek is hartroerend. Dit toon hoe lief die Tiriese broers Paulus gehad het sowel as op watter kragtige wyse hulle sy bediening ondersteun het. Die mans, vrouens en kinders het saam met Paulus en sy metgeselle na die strand gegaan. Hulle het as ’n groep op hulle knieë gegaan, saam gebid en toe afskeid geneem. Daarna het Paulus, Lukas en hulle reisgenote op ’n ander boot geklim en na Ptolemaïs gereis, waar hulle die broers ontmoet het en een dag by hulle gebly het. – Hand. 21:5-7.

12, 13. (a) Watter rekord van getroue diens het Filippus gehad? (b) In watter opsig is Filippus ’n goeie voorbeeld vir Christenvaders van vandag?

12 Lukas vertel vervolgens dat Paulus en sy reisgenote na Sesarea weggeseil het. Daar het hulle “in die huis ingegaan van Filippus, die evangelieprediker” (Hand. 21:8). a Hulle was sekerlik verheug om Filippus te sien. Sowat 20 jaar vroeër het die apostels hom in Jerusalem aangestel om te help met die uitdeling van kos in die jong Christengemeente. Filippus het ’n lang rekord van ywerige predikingsdiens gehad. Onthou, toe vervolging die dissipels verstrooi het, het Filippus na Samaria gegaan en daar begin preek. Later het hy vir die Etiopiese eunug gepreek en hom gedoop (Hand. 6:2-6; 8:4-13, 26-38). Wat ’n rekord van getroue diens!

13 Filippus het nie sy ywer vir die bediening verloor nie. Hy het nou in Sesarea gewoon en was nog steeds besig met die predikingswerk, soos Lukas toon deur hom “die evangelieprediker” te noem. Ons vind ook uit dat hy nou vier dogters het wat profeteer, wat daarop dui dat hulle in hulle vader se voetstappe gevolg het (Hand. 21:9). b Filippus het hom dus ongetwyfeld daarop toegelê om die geestelikheid van sy gesin op te bou. Dit sal goed wees as Christenvaders van vandag sy voorbeeld volg deur die leiding in die bediening te neem en hulle kinders te help om ’n liefde vir die evangelisasiewerk aan te kweek.

14. Wat was ongetwyfeld die gevolg van Paulus se besoeke aan medegelowiges, en watter soortgelyke geleenthede het ons vandag?

14 Op die een plek na die ander het Paulus medegelowiges opgesoek en tyd saam met hulle deurgebring. Die plaaslike broers was sekerlik gretig om gasvryheid aan hierdie reisende sendeling en sy metgeselle te betoon. Hierdie besoeke het ongetwyfeld daartoe gelei dat hulle “mekaar [kon] aanmoedig” (Rom. 1:11, 12). Vandag het ons soortgelyke geleenthede. Dit bring groot voordele mee wanneer jy jou huis, ongeag hoe nederig, vir ’n kringopsiener en sy vrou oopstel. – Rom. 12:13.

‘Ek is gereed om te sterf’ (Handelinge 21:10-14)

15, 16. Watter boodskap het Agabus gebring, en watter uitwerking het dit gehad op dié wat dit gehoor het?

15 Terwyl Paulus by Filippus gebly het, het ’n ander gerespekteerde besoeker daar opgedaag – Agabus. Dié wat by Filippus se huis vergader het, het Agabus as ’n profeet geken; hy het ’n groot hongersnood gedurende die heerskappy van Claudius voorspel (Hand. 11:27, 28). Hulle het dalk gewonder: ‘Waarom het Agabus gekom? Watter boodskap bring hy?’ Terwyl hulle hom stip dopgehou het, het hy Paulus se lyfband geneem – ’n lang stuk lap waarin geld en ander items gehou kon word en wat om die middellyf gedra is. Agabus het sy eie voete en hande daarmee gebind. Toe het hy begin praat. Die boodskap was ontstellend: “So sê die heilige gees: ‘Die man aan wie hierdie lyfband behoort, sal so deur die Jode in Jerusalem gebind word, en hulle sal hom in die hande van mense van die nasies oorlewer.’” – Hand. 21:11.

16 Die profesie het bevestig dat Paulus na Jerusalem sou gaan. Dit het ook getoon dat sy handelinge met die Jode daar tot gevolg sou hê dat hy “in die hande van mense van die nasies” oorgelewer word. Die profesie het ’n diepgaande uitwerking gehad op dié wat daar teenwoordig was. Lukas skryf: “Toe ons dit hoor, het ons en dié wat by ons was, Paulus begin smeek om nie na Jerusalem te gaan nie. Toe het hy geantwoord: ‘Hoekom probeer julle my van plan laat verander deur so te huil? Wees verseker, ek is nie net gereed om gebind te word nie, maar ook om in Jerusalem te sterf vir die naam van die Here Jesus.’” – Hand. 21:12, 13.

17, 18. Hoe het Paulus sy vasbeslotenheid getoon, en hoe het die broers gereageer?

17 Stel jou die toneel voor. Die broers, Lukas inkluis, smeek Paulus om nie verder te reis nie. Party huil. Ontroer deur hulle liefdevolle besorgdheid oor hom, sê Paulus met teerheid dat hulle ‘probeer om hom van plan te laat verander’, of soos party vertalings die Grieks weergee, dat hulle sy “hart breek”. Maar hy bly vasbeslote, en soos in die geval van die broers wat hy in Tirus ontmoet het, sal hy nie toelaat dat smekinge of trane hom laat wankel nie. Hy verduidelik eerder vir hulle waarom hy moet voortreis. Watter moed en vasbeslotenheid het hy tog geopenbaar! Soos Jesus vroeër gedoen het, het Paulus hom vas voorgeneem om na Jerusalem te gaan (Heb. 12:2). Dit was nie dat Paulus ’n martelaar wou wees nie, maar as dit daarop sou neerkom, sou hy dit as ’n eer beskou om as ’n volgeling van Christus Jesus te sterf.

18 Hoe het die broers gereageer? Kortom, met respek. Ons lees: “Omdat hy hom nie laat ompraat het nie, het ons opgehou om hom te probeer keer en gesê: ‘Laat die wil van Jehovah plaasvind’” (Hand. 21:14). Diegene wat Paulus probeer oortuig het om nie na Jerusalem te gaan nie, het nie daarop aangedring dat hy doen wat hulle sê nie. Hulle het na Paulus geluister en toegegee; hulle het Jehovah se wil erken en aanvaar, al was dit vir hulle moeilik. Paulus het ’n weg ingeslaan wat uiteindelik tot sy dood sou lei. Dit sou vir Paulus makliker wees as diegene wat hom liefhet, hom nie probeer ompraat nie.

19. Watter waardevolle les leer ons uit Paulus se ondervinding?

19 Ons leer ’n waardevolle les uit Paulus se ondervinding: Ons wil ander nooit probeer afraai om ’n selfopofferende weg in God se diens te volg nie. Ons kan hierdie les op baie situasies toepas, nie net op dié waarby lewe en dood betrokke is nie. Byvoorbeeld, hoewel dit vir baie Christenouers moeilik is wanneer hulle kinders Jehovah ver van die huis af gaan dien, is hulle vasbeslote om hulle nie te ontmoedig nie. Phyllis, wat in Engeland woon, vertel hoe sy gevoel het toe haar enigste dogter as sendeling in Afrika gaan dien het. “Dit was ’n emosionele tyd”, het Phyllis gesê. “Dit was moeilik vir my om te weet dat sy so ver sou wees. Ek het hartseer en terselfdertyd trots gevoel. Ek het baie daaroor gebid. Maar dit was haar besluit, en ek het dit nooit probeer verander nie. Ek het haar immers geleer om Koninkryksbelange eerste te stel! Sy dien al die afgelope 30 jaar in buitelandse toewysings, en ek dank Jehovah elke dag vir haar getrouheid.” Hoe goed is dit tog wanneer ons selfopofferende medegelowiges aanmoedig!

Dit is goed om selfopofferende medegelowiges te bemoedig

‘Die broers het ons met blydskap verwelkom’ (Handelinge 21:15-17)

20, 21. Wat toon dat dit Paulus se begeerte was om by die broers te wees, en waarom wou hy by medegelowiges wees?

20 Voorbereidings is getref, en Paulus het sy reis voortgesit, vergesel deur broers wat daardeur bewys het dat hulle hom heelhartig ondersteun. Op elke stadium van die reis na Jerusalem het Paulus en sy metgeselle hulle Christenbroers en -susters opgesoek en met hulle geassosieer. By Tirus het hulle dissipels gevind en sewe dae lank by hulle gebly. In Ptolemaïs het hulle hulle susters en broers gegroet en een dag saam met hulle deurgebring. In Sesarea het hulle ’n paar dae by die huis van Filippus gebly. Daarna het party van die dissipels in Sesarea saam met Paulus en sy metgeselle na Jerusalem gegaan, waar hulle by Mnason, ’n vroeë dissipel, tuisgegaan het. Toe die reisigers uiteindelik in Jerusalem aankom, vertel Lukas, “het die broers ons met blydskap verwelkom”. – Hand. 21:17.

21 Dit is duidelik dat Paulus by medegelowiges wou wees. Die apostel is deur sy broers en susters bemoedig, net soos dit vandag met ons die geval is. Daardie bemoediging het Paulus ongetwyfeld versterk om die woedende teenstanders wat hom sou wou doodmaak, aan te durf.