Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 27

Paulus ‘getuig deeglik’

Paulus ‘getuig deeglik’

Paulus hou aan preek terwyl hy ’n gevangene in Rome is

Gebaseer op Handelinge 28:11-31

1. In wie stel Paulus en sy metgeselle hulle vertroue, en waarom?

 ’N SKIP wat beelde van “die seuns van Zeus” aan die voorkant het, waarskynlik ’n groot graanskip, seil van die Mediterreense eiland Malta na Italië. Dit is omstreeks 59 HJ. Aan boord is die apostel Paulus – ’n gevangene onder geleide – en mede-Christene Lukas en Aristargus (Hand. 27:2). In teenstelling met die skeepsbemanning vertrou hierdie evangeliepredikers nie op die seuns van die Griekse god Zeus – die tweelingbroers Kastor en Polluks – vir beskerming nie. (Sien die studienota vir Hand. 28:11 in nwtsty.) Inteendeel, Paulus en sy metgeselle dien Jehovah, wat geopenbaar het dat Paulus in Rome oor die waarheid sou getuig en voor die keiser sou staan. – Hand. 23:11; 27:24.

2, 3. Watter roete volg Paulus se skip, en watter ondersteuning het hy van die begin af geniet?

2 Drie dae nadat hulle aangedoen het by Sirakuse, ’n pragtige Sisiliaanse stad wat byna net so vernaam was soos Atene en Rome, vertrek die skip na Regium, in die suide van Italië. Daarna help ’n suidewind die vaartuig om die 320 kilometer na die Italiaanse hawe Puteoli (naby hedendaagse Napels) vinniger as gewoonlik af te lê, en dit kom binne twee dae daar aan. – Hand. 28:12, 13.

3 Paulus is nou op die laaste skof van sy reis na Rome, waar hy voor keiser Nero sal verskyn. Van die begin tot die einde was “die God van alle vertroosting” met Paulus (2 Kor. 1:3). Soos ons sal sien, neem hierdie ondersteuning nie af nie en verloor Paulus ook nie sy ywer as ’n sendeling nie.

Paulus het “God gedank en nuwe moed gekry” (Handelinge 28:14, 15)

4, 5. (a) Hoe is daar in Puteoli aan Paulus en sy metgeselle gasvryheid betoon, en waarom is hy dalk soveel vryheid gegee? (b) Hoe strek Christene se goeie gedrag hulle tot voordeel, selfs wanneer hulle in die tronk is?

4 By Puteoli het Paulus en sy metgeselle “broers gevind, wat aangedring het dat [hulle] sewe dae by hulle bly” (Hand. 28:14). Wat ’n wonderlike voorbeeld van Christelike gasvryheid! Die geestelike aanmoediging wat hierdie broers van Paulus en sy metgeselle ontvang het, het hulle ongetwyfeld dubbel en dwars vergoed vir hulle gasvryheid. Maar waarom is ’n gevangene onder bewaking soveel vryheid gegee? Moontlik omdat die apostel die volle vertroue van sy Romeinse wagte gewen het.

5 Jehovah se knegte word vandag ook weens hulle Christelike gedrag dikwels spesiale vryhede en voorregte toegestaan wanneer hulle in tronke en konsentrasiekampe is. Byvoorbeeld, in Roemenië het ’n man wat 75 jaar tronkstraf vir roof uitgedien het, God se Woord begin studeer en ’n merkwaardige verandering in persoonlikheid ondergaan. As gevolg hiervan het die tronkowerheid hom aangestel om artikels vir die tronk in die dorp te gaan koop – sonder polisiebewaking! Bowenal verheerlik ons goeie gedrag natuurlik Jehovah. – 1 Pet. 2:12.

6, 7. Hoe het die Romeinse broers uitsonderlike liefde betoon?

6 Van Puteoli af het Paulus en sy metgeselle waarskynlik ongeveer 50 kilometer geloop na Kapua op die Appiese Weg, wat na Rome lei. Hierdie welbekende pad, geplavei met groot, plat lawablokke, het ’n pragtige uitsig gebied oor die Italiaanse landskap en, op sekere plekke langs die roete, oor die Middellandse See. Die pad het reisigers ook gelei deur die Pontynse moerasse, ’n moerasgebied wat ongeveer 60 kilometer van Rome af was en waar die Mark van Appius geleë was. Toe die broers in Rome “die nuus oor ons hoor”, het Lukas geskryf, het party tot by die Mark gekom, terwyl ander by die Drie Herberge gewag het, ’n oornagplek sowat 50 kilometer van Rome af. Watter uitsonderlike liefde! – Hand. 28:15.

7 Die Mark van Appius het nie veel geriewe gebied vir ’n reisiger wat ná ’n vermoeiende reis ’n blaaskans nodig gehad het nie. Die Romeinse digter en satirikus Horatius beskryf die Mark as ’n plek wat “stampvol matrose en nors herbergiers” was. Hy het geskryf dat “die water ontsettend vuil was”. En hy het selfs geweier om daar te eet! Maar die afvaardiging uit Rome was, ten spyte van al die ongerief, bereid om daar vir Paulus en sy metgeselle te wag sodat hulle hulle veilig op die laaste skof van hulle reis kon vergesel.

8. Waarom het Paulus God gedank toe hy sy broers “sien”?

8 “Toe Paulus [sy broers] sien”, sê die verslag, “het hy God gedank en nuwe moed gekry” (Hand. 28:15). Ja, die blote feit dat die apostel hierdie geliefdes gesien het, van wie hy party dalk persoonlik geken het, het hom versterk en bemoedig. Waarom het Paulus God gedank? Hy het geweet dat onselfsugtige liefde ’n aspek van die vrug van die gees is (Gal. 5:22). Vandag word Christene eweneens deur die heilige gees beweeg om opofferinge vir mekaar te maak en om dié wat dit nodig het, te vertroos. – 1 Tess. 5:11, 14.

9. Hoe kan ons dieselfde gees weerspieël as die broers wat Paulus gaan ontmoet het?

9 Heilige gees beweeg gewilliges van hart byvoorbeeld om gasvryheid te betoon aan kringopsieners, besoekende sendelinge en ander voltydse dienaars, van wie talle groot opofferinge gemaak het om Jehovah in groter mate te dien. Vra jou af: ‘Kan ek meer doen om die besoek van die kringopsiener te ondersteun deur moontlik gasvryheid te betoon aan hom en sy vrou, as hy getroud is? Kan ek reël om saam met hulle in die bediening te werk?’ Dit kan vir jou ’n ryk seën meebring. Stel jou byvoorbeeld die vreugde van die Romeinse broers voor terwyl hulle geluister het hoe Paulus en sy metgeselle hulle van hulle talle opbouende ondervindinge vertel. – Hand. 15:3, 4.

Daar word “oral teen hierdie sekte gepraat” (Handelinge 28:16-22)

10. Wat was Paulus se omstandighede in Rome, en wat het die apostel kort ná sy aankoms gedoen?

10 Toe die groep reisigers uiteindelik in Rome aankom, “is Paulus toegelaat om op sy eie te bly met die soldaat wat hom opgepas het” (Hand. 28:16). ’n Gevangene wat nie onder streng bewaking gehou is nie, is gewoonlik met ’n ketting aan sy wag geboei om te voorkom dat hy ontsnap. Maar Paulus was ’n Koninkryksverkondiger, en ’n ketting sou hom beslis nie laat stilbly nie. Nadat hy homself net drie dae gegun het om van sy reis te herstel, het hy dus die Joodse leiers in Rome bymekaargeroep om hom aan hulle voor te stel en ’n getuienis te gee.

11, 12. Hoe het Paulus, toe hy met sy mede-Jode gepraat het, enige vooroordeel uit die weg probeer ruim?

11 “Manne, broers”, het Paulus gesê, “al het ek niks teen die volk of die gebruike van ons voorvaders gedoen nie, is ek as ’n gevangene uit Jerusalem aan die Romeine oorgelewer. En nadat hulle ondersoek ingestel het, wou hulle my vrylaat, want daar was geen rede om my dood te maak nie. Maar toe die Jode beswaar gemaak het, kon ek nie anders as om te sê dat die keiser my saak moet verhoor nie, al het ek niks gehad om my nasie van te beskuldig nie.” – Hand. 28:17-19.

12 Deur sy Joodse toehoorders as “broers” aan te spreek, het Paulus probeer om gemeenskaplike grond met hulle te vind en enige vooroordeel wat hulle dalk gehad het, uit die weg te ruim (1 Kor. 9:20). Hy het dit ook duidelik gemaak dat hy nie daar was om ’n beskuldigende vinger na sy mede-Jode te wys nie, maar dat hy wou hê dat die keiser sy saak moes verhoor. Die feit dat Paulus se saak deur die keiser verhoor sou word, was egter nuus vir die plaaslike Joodse gemeenskap (Hand. 28:21). Waarom het die Jode in Judea skynbaar nagelaat om hulle hiervan in kennis te stel? Een naslaanwerk sê: “Paulus se skip was heel moontlik een van die eerstes wat ná die winter in Italië aangekom het, en verteenwoordigers van die Joodse owerheid in Jerusalem, of ’n brief oor die saak, kon nog nie daar aangekom het nie.”

13, 14. Hoe het Paulus die Koninkrykstema ingelei, en hoe kan ons sy voorbeeld volg?

13 Hierna het Paulus die Koninkrykstema ingelei deur iets te sê wat sekerlik die nuuskierigheid van sy Joodse gaste sou prikkel. Hy het gesê: “Daarom het ek gevra om julle te sien en met julle te praat, want dit is as gevolg van die hoop van Israel dat ek hierdie ketting om my het” (Hand. 28:20). Daardie hoop was natuurlik ten nouste verbonde met die Messias en sy Koninkryk, soos deur die Christengemeente verkondig is. “Ons wil graag by jou hoor wat jy dink”, het die Joodse ouermanne geantwoord, “want een ding is seker: Ons weet dat daar oral teen hierdie sekte gepraat word.” – Hand. 28:22.

14 Wanneer ons die geleentheid het om die goeie nuus bekend te maak, kan ons Paulus navolg deur gedagteprikkelende stellings of vrae te gebruik om die belangstelling van ons toehoorders te wek. Ons kan uitstekende wenke vind in publikasies soos Redenering uit die Skrif, Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool en Leer hoe om beter te lees en onderrig. Maak jy goeie gebruik van hierdie Bybelstudiehulpe?

Paulus ‘getuig deeglik’ – ’n Voorbeeld vir ons (Handelinge 28:23-29)

15. Watter vier dinge is opvallend omtrent Paulus se getuienis?

15 Op die afgesproke dag het “’n groter groep” van die plaaslike Jode na die plek toe gegaan waar Paulus gebly het. Paulus het “van die oggend tot die aand” sake aan hulle verduidelik “deur deeglik oor die Koninkryk van God te getuig. Hy het hulle uit die Wet van Moses en ook uit die boeke van die profete probeer oortuig van Jesus” (Hand. 28:23). Vier dinge is opvallend in verband met Paulus se getuienis. Eerstens, hy het die aandag op God se Koninkryk gevestig. Tweedens, hy het sy toehoorders se hart probeer bereik deur hulle te oortuig. Derdens, hy het uit die Skrif geredeneer. Vierdens, hy het ’n selfopofferende gesindheid aan die dag gelê deur “van die oggend tot die aand” te getuig. Wat ’n uitstekende voorbeeld vir ons! Wat was die resultaat? “Party het begin glo”, maar ander het nie. Dit het tot onenigheid gelei, en die mense het “begin weggaan”, vertel Lukas. – Hand. 28:24, 25a.

16-18. Waarom het die negatiewe reaksie van die Romeinse Jode Paulus nie verbaas nie, en hoe moet ons daaroor voel wanneer ons boodskap verwerp word?

16 Hierdie reaksie het Paulus nie verbaas nie, want dit was in ooreenstemming met Bybelprofesie en het ’n patroon gevolg waarmee hy bekend was (Hand. 13:42-47; 18:5, 6; 19:8, 9). Gevolglik het Paulus vir die gaste wat weggegaan het, gesê: “Die heilige gees het gepas deur middel van die profeet Jesaja met julle voorvaders gepraat en gesê: ‘Gaan na hierdie volk toe en sê: “Julle sal beslis hoor, maar julle sal glad nie verstaan nie, en julle sal beslis kyk, maar julle sal glad nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het ongevoelig geword”’” (Hand. 28:25b-27). Die woord in die oorspronklike taal wat met “ongevoelig” vertaal word, dui op ’n hart wat “dik (vet) geword” het, sodat die Koninkryksboodskap nie kan deurdring nie (Hand. 28:27, vtn. in nwtsty). Wat ’n tragiese situasie!

17 In teenstelling met sy Joodse toehoorders sal “die nasies . . . beslis daarna luister”, het Paulus ten slotte gesê (Hand. 28:28; Ps. 67:2; Jes. 11:10). Die apostel kon inderdaad met gesag oor hierdie onderwerp praat, want hy het persoonlik gesien dat baie nie-Jode op die Koninkryksboodskap gereageer het! – Hand. 13:48; 14:27.

18 Laat ons, soos Paulus, dit nie as ’n persoonlike belediging beskou wanneer mense die goeie nuus verwerp nie. Ons weet immers dat betreklik min mense die pad na die lewe sal vind (Matt. 7:13, 14). Maar laat ons ons verheug wanneer dié met die regte gesindheid ’n standpunt vir ware aanbidding inneem en hulle hartlik verwelkom. – Luk. 15:7.

Paulus ‘verkondig die Koninkryk van God’ (Handelinge 28:30, 31)

19. Hoe het Paulus sy omstandighede ten beste benut?

19 Lukas sluit sy verhaal op ’n waarlik positiewe en hartlike noot af en sê: “[Paulus het] ’n volle twee jaar in sy eie gehuurde huis gebly, en hy het almal wat na hom toe gekom het, vriendelik ontvang. Hy het met die grootste vrymoedigheid van spraak die Koninkryk van God aan hulle verkondig en hulle oor die Here Jesus Christus geleer sonder dat enigiemand hom gekeer het” (Hand. 28:30, 31). Wat ’n voortreflike voorbeeld van gasvryheid, geloof en ywer!

20, 21. Noem ’n paar voorbeelde van dié wat by Paulus se bediening in Rome baat gevind het.

20 Een van dié aan wie Paulus gasvryheid betoon het, was ’n man met die naam Onesimus, ’n wegloperslaaf uit Kolosse. Paulus het Onesimus gehelp om ’n Christen te word, en op sy beurt het Onesimus ’n “getroue en geliefde broer” vir Paulus geword. Trouens, Paulus het hom beskryf as “my kind . . . vir wie ek . . . ’n pa geword het” (Kol. 4:9; Filem. 10-12). Wat ’n aanmoediging was Onesimus tog vir Paulus! a

21 Daar was ook ander wat by Paulus se uitstekende voorbeeld baat gevind het. Vir die Filippense het hy geskryf: “My situasie [het] in werklikheid bygedra . . . tot die verspreiding van die goeie nuus, want dit het onder die hele pretoriaanse wag en al die ander bekend geword dat ek ’n gevangene is ter wille van Christus. Die meeste van die broers in die Here het meer vertroue gekry omdat ek ’n gevangene is, en hulle het al hoe meer moed om die woord van God sonder vrees te verkondig.” – Fil. 1:12-14.

22. Hoe het Paulus sy gevangenskap in Rome benut?

22 Paulus het sy gevangenskap in Rome benut deur belangrike briewe te skryf wat nou deel is van die Christelike Griekse Geskrifte. b Hierdie briewe het die eerste-eeuse Christene aan wie dit geskryf is, gehelp. Paulus se briewe help ons ook, want die geïnspireerde raad daarin is vandag nog net so prakties as toe dit geskryf was. – 2 Tim. 3:16, 17.

23, 24. Hoe het talle hedendaagse Christene soos Paulus ’n positiewe gesindheid, al is hulle ten onregte in die tronk gegooi?

23 Teen die tyd van sy vrylating, wat nie in Handelinge genoem word nie, was Paulus al omtrent vier jaar in aanhouding – twee in Sesarea en twee in Rome (Hand. 23:35; 24:27). c Maar hy het ’n positiewe uitkyk behou en soveel as moontlik in God se diens gedoen. Vandag het baie van Jehovah se knegte, hoewel hulle weens hulle geloof ten onregte in die tronk gegooi is, ook hulle vreugde behou en aangehou preek. Dink aan die voorbeeld van Adolfo, wat in Spanje in die tronk was weens sy Christelike neutraliteit. “Jy verbaas ons”, het een offisier gesê. “Ons het jou lewe probeer versuur, en hoe erger ons dit gemaak het, hoe meer het jy geglimlag en iets vriendeliks gesê.”

24 Mettertyd het hulle Adolfo soveel vertrou dat hulle sy seldeur oopgelaat het. Soldate het hom besoek om hom oor die Bybel uit te vra. Een van die wagte het selfs na Adolfo se sel gekom om die Bybel te lees, terwyl Adolfo wag gehou het. Die gevangene het dus die wag “bewaak”! Mag die goeie voorbeeld van sulke getroue Getuies ons beweeg om selfs onder moeilike omstandighede “al hoe meer moed [te hê] om die woord van God sonder vrees te verkondig”.

25, 26. Watter verstommende profesie het Paulus binne 30 jaar in vervulling sien gaan, en hoe vergelyk dit met ons dag

25 ’n Apostel van Christus onder huisarres wat “die Koninkryk van God . . . verkondig” aan almal wat hom besoek – wat ’n bemoedigende slot tot die dinamiese boek Handelinge! In die eerste hoofstuk het ons die opdrag gelees wat Jesus aan sy volgelinge gegee het toe hy gesê het: “Julle sal krag ontvang wanneer die heilige gees op julle kom, en julle sal getuies van my wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Hand. 1:8). Nou, minder as 30 jaar later, is die Koninkryksboodskap verkondig “in die hele skepping wat onder die hemel is” (Kol. 1:23). d Wat ’n bewys van die krag van God se gees! – Sag. 4:6.

26 Vandag gee daardie selfde gees die oorblywendes van Christus se broers, sowel as hulle metgeselle, die “ander skape”, die krag om in 240 lande aan te hou om “deeglik oor die Koninkryk van God te getuig”! (Joh. 10:16; Hand. 28:23). Het jy ’n volle aandeel aan hierdie werk?

a Paulus wou Onesimus graag by hom hou, maar dit sou in stryd wees met die Romeinse reg en inbreuk maak op die regte van Onesimus se meester, die Christen Filemon. Daarom het Onesimus na Filemon teruggegaan en ’n brief van Paulus saam met hom geneem wat Filemon aangespoor het om sy slaaf vriendelik te ontvang, as ’n geestelike broer. – Filem. 13-19.

c Sien die venster “ Paulus se lewe ná 61 HJ”.