Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 28

“Tot in die mees afgeleë deel van die aarde”

“Tot in die mees afgeleë deel van die aarde”

Jehovah se Getuies sit ’n werk voort waarmee die volgelinge van Jesus Christus in die eerste eeu van die huidige jaartelling begin het

1. Watter parallelle is daar tussen die vroeë Christene en Jehovah se Getuies van vandag?

 HULLE het ywerig getuig. Hulle harte het hulle beweeg om die hulp en leiding van die heilige gees te aanvaar. Vervolging het hulle nie stilgemaak nie. En God se ryk seën het op hulle gerus. Dit alles was waar van die vroeë Christene, soos dit ook vandag waar is van Jehovah se Getuies.

2, 3. Wat is veral opmerkenswaardig omtrent die boek Handelinge?

2 Jy is sekerlik bemoedig deur die geloofversterkende verslae in die aksiebelaaide Bybelboek Die Handelinge van die Apostels! Dit is uniek, want dit is die enigste goddelik geïnspireerde geskiedenisverslag van die vroeë Christelike geloof.

3 Die boek Handelinge verwys na 95 persone uit 32 lande, 54 stede en 9 eilande. Dit is ’n opwindende verhaal van mense – gewone mense, hoogmoedige godsdiensyweraars, verwaande politici, verwoede teenstanders. Maar dit is bowenal ’n verhaal van jou eerste-eeuse broers en susters, wat nie net die gewone uitdagings van die lewe die hoof gebied het nie, maar ook die goeie nuus ywerig verkondig het.

4. Waarom het ons ’n spesiale band met persone soos die apostel Paulus, Tabita en ander getroue getuies van die ou tyd?

4 Ons lewe nou byna 2 000 jaar ná die bedrywighede van die ywerige apostels Petrus en Paulus, die geliefde dokter Lukas, vrygewige Barnabas, moedige Stefanus, goedhartige Tabita, gasvrye Lidia en soveel ander getroue getuies. En tog is daar ’n spesiale band tussen ons en hulle. Waarom? Omdat ons dieselfde opdrag ontvang het, naamlik om dissipels te maak (Matt. 28:19, 20). Hoe geseënd is ons tog om daaraan deel te neem!

“. . . tot in die mees afgeleë deel van die aarde.” – Handelinge 1:8

5. Waar het Jesus se vroeë volgelinge hulle opdrag begin uitvoer?

5 Dink aan die opdrag wat Jesus aan sy volgelinge gegee het. “Julle sal krag ontvang wanneer die heilige gees op julle kom”, het hy gesê, “en julle sal getuies van my wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Hand. 1:8). Eerstens het die heilige gees die dissipels die krag gegee om getuies “in Jerusalem” te wees (Hand. 1:1–8:3). Daarna het hulle, onder die leiding van die gees, “in die hele Judea en Samaria” getuig (Hand. 8:4–13:3). Toe het hulle begin om die goeie nuus “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” te verkondig. – Hand. 13:4–28:31.

6, 7. Watter voordeel het ons in ons bediening bo ons eerste-eeuse medegelowiges?

6 Jou medegelowiges van die eerste eeu het nie die hele Bybel gehad om in hulle getuieniswerk te gebruik nie. Matteus se Evangelie was nie beskikbaar voor ten minste 41 HJ nie. Party van Paulus se briewe is geskryf voordat Handelinge in ongeveer 61 HJ voltooi is. Maar die vroeë Christene het nie persoonlike eksemplare van die hele Heilige Skrif of ’n verskeidenheid publikasies gehad om by belangstellendes te laat nie. Voordat hulle Jesus se dissipels geword het, het Joodse Christene gehoor hoe die Hebreeuse Geskrifte in die sinagoge voorgelees word (2 Kor. 3:14-16). Maar selfs hulle moes ywerige studente wees, aangesien hulle waarskynlik tekste uit hulle kop moes aanhaal.

7 Vandag het die meeste van ons ons eie eksemplaar van die Bybel en ’n oorvloed Bybellektuur. Ons maak dissipels deur die goeie nuus in 240 lande en in baie tale te verkondig.

Krag gegee deur die heilige gees

8, 9. (a) Wat het die heilige gees Jesus se dissipels in staat gestel om te doen? (b) Wat voorsien die getroue slaaf met die hulp van God se gees?

8 Toe Jesus sy dissipels die opdrag gegee het om getuies te wees, het hy vir hulle gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die heilige gees op julle kom.” Onder die leiding van God se gees, of werkende krag, sou Jesus se volgelinge uiteindelik oor die hele aarde as getuies dien. Deur middel van die heilige gees het Petrus en Paulus mense gesond gemaak, demone uitgedryf en selfs dooies opgewek! Maar die krag wat hulle deur die heilige gees ontvang het, het ’n belangriker doel gehad. Dit het die apostels en ander dissipels in staat gestel om akkurate kennis wat tot die ewige lewe lei, bekend te maak. – Joh. 17:3.

9 Op Pinksterdag 33 HJ het Jesus se dissipels “in verskillende tale begin praat, net soos die gees hulle in staat gestel het om te doen”. Hulle het op dié manier aangaande “die wonderlike dinge van God” getuig (Hand. 2:1-4, 11). Ons het vandag nie die wonderdadige vermoë om in verskillende tale te praat nie. Maar met die hulp van God se gees voorsien die getroue slaaf Bybellektuur in baie tale. Byvoorbeeld, elke maand word miljoene eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! gedruk. En op ons webwerf, jw.org, is daar Bybelgebaseerde publikasies en video’s in meer as 1 000 tale. Dit alles stel ons in staat om “die wonderlike dinge van God” aan mense van alle nasies, stamme en tale bekend te maak. – Op. 7:9.

10. Wat word sedert 1989 gedoen wat Bybelvertaling betref?

10 Sedert 1989 het die getroue slaaf hulle daarop toegespits om die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in baie tale beskikbaar te maak. Hierdie Bybel is reeds in meer as 200 tale vertaal, en tienmiljoene eksemplare is al gedruk – en baie meer sal nog gedruk word. Net God en sy gees kon hierdie pogings laat slaag.

11. Wat is al gedoen ten opsigte van die vertaling van Getuiepublikasies?

11 Vertaalwerk word deur duisende Christenvrywilligers in meer as 150 lande gedoen. Dit behoort ons nie te verbaas nie, want geen ander organisasie op aarde word deur die heilige gees gelei om wêreldwyd ‘deeglik te getuig’ aangaande Jehovah God, sy Messiaanse Koning en die opgerigte hemelse Koninkryk nie! – Hand. 28:23.

12. Wat het Paulus en ander Christene in staat gestel om die getuieniswerk te doen?

12 Toe Paulus vir Jode en nie-Jode in Antiogië in Pisidië getuig het, het dié “wat die regte gesindheid vir die ewige lewe gehad het, . . . gelowiges geword” (Hand. 13:48). Lukas sluit die boek Handelinge af met Paulus wat ‘met die grootste vrymoedigheid van spraak die Koninkryk van God verkondig sonder dat enigiemand hom keer’ (Hand. 28:31). Waar getuig die apostel? In Rome – die hoofstad van ’n wêreldmoondheid! Jesus se vroeë volgelinge het al hulle getuieniswerk met die hulp en leiding van die heilige gees gedoen, hetsy deur middel van toesprake of op ander maniere.

Volharding ten spyte van vervolging

13. Waarom moet ons bid wanneer ons vervolg word?

13 Toe Jesus se vroeë dissipels vervolg is, het hulle Jehovah gesmeek om hulle moed te gee. Die gevolg? Hulle is met heilige gees vervul en is die krag gegee om God se woord moedig te verkondig (Hand. 4:18-31). Ons bid ook vir wysheid en krag om ondanks vervolging aan te hou getuig (Jak. 1:2-8). Omdat God ons seën en sy gees ons help, beur ons voort in Koninkryksdiens. Niks kan die getuieniswerk stopsit nie – nie hewige teenstand of wrede vervolging nie. Wanneer ons vervolg word, moet ons beslis bid vir heilige gees en vir wysheid en moed om die goeie nuus te verkondig. – Luk. 11:13.

14, 15. (a) Wat was die resultaat van “die vervolging wat as gevolg van Stefanus ontstaan het”? (b) Hoe het baie mense in ons tyd die waarheid in Siberië leer ken?

14 Stefanus het moedig getuig voordat hy deur sy vyande doodgemaak is (Hand. 6:5; 7:54-60). Tydens die “groot vervolging” wat daarna ontstaan het, is al die dissipels behalwe die apostels deur die hele Judea en Samaria verstrooi. Maar dit het die getuieniswerk nie stopgesit nie. Filippus het na Samaria gegaan ‘om oor die Christus te preek’ en het uitstekende resultate gehad (Hand. 8:1-8, 14, 15, 25). Verder word daar vir ons gesê: “Dié wat verstrooi is deur die vervolging wat as gevolg van Stefanus ontstaan het, [het] tot by Fenisië, Siprus en Antiogië gegaan, maar hulle het die woord net aan die Jode verkondig. Party van die mans onder hulle wat van Siprus en Sirene was, het egter na Antiogië gekom en met die Griekssprekendes begin praat en die goeie nuus van die Here Jesus bekend gemaak” (Hand. 11:19, 20). Destyds het vervolging die Koninkryksboodskap laat versprei.

15 In ons tyd het iets soortgelyks in die voormalige Sowjetunie plaasgevind. Veral in die 1950’s is duisende Getuies van Jehovah na Siberië verban. Omdat hulle na verskeie nedersettings gestuur is, het die goeie nuus in daardie uitgestrekte land bly versprei. Dit sou onmoontlik gewees het vir soveel Getuies om genoeg geld te hê om tot 10 000 kilometer ver te reis om die goeie nuus te verkondig! Maar die regering self het hulle regoor die land gestuur. “Op die ou end”, het een broer gesê, “was dit juis die owerheid wat duisende opregtes van hart in Siberië in staat gestel het om die waarheid te leer ken.”

Ryklik geseën deur Jehovah

16, 17. Watter bewys lewer die boek Handelinge van Jehovah se seën op die getuieniswerk?

16 Jehovah se seën het sonder enige twyfel op die vroeë Christene gerus. Paulus en ander het geplant en natgegooi, ‘maar God het dit laat groei’ (1 Kor. 3:5, 6). Verslae in die boek Handelinge lewer bewys van sulke groei weens Jehovah se seën op die getuieniswerk. Byvoorbeeld, “die woord van God [het] aanhou versprei, en die aantal dissipels in Jerusalem het grootliks toegeneem” (Hand. 6:7). Namate die getuieniswerk versprei het, “het die gemeente deur die hele Judea en Galilea en Samaria ’n tydperk van vrede ingegaan, en hulle is opgebou. Die gemeente het getoon dat hulle Jehovah [eerbiedig] vrees en in die vertroosting van die heilige gees lewe, en hulle het bly vermeerder”. – Hand. 9:31.

17 In Siriese Antiogië het Jode sowel as Griekssprekendes die waarheid by moedige getuies gehoor. “En die hand van Jehovah was met hulle”, sê die verslag, “en baie van hulle het gelowiges geword en hulle tot die Here bekeer” (Hand. 11:21). Aangaande verdere vordering in daardie stad lees ons: “Die woord van Jehovah het bly groei en versprei” (Hand. 12:24). En met die getuieniswerk van Paulus en ander in volle gang onder die nie-Jode “het die woord van Jehovah grootliks bly groei en kragtiger geword”. – Hand. 19:20.

18, 19. (a) Waarom weet ons dat “die hand van Jehovah” met ons is? (b) Gee ’n voorbeeld wat toon dat Jehovah sy volk ondersteun.

18 “Die hand van Jehovah” is vandag ook ongetwyfeld met ons. Dit is waarom soveel mense gelowiges word en hulle toewyding aan God deur doop simboliseer. Daarbenewens is dit net met God se hulp en seën dat ons hewige teenstand – soms bittere vervolging – kan verduur en ons bediening met welslae kan uitvoer, net soos Paulus en ander vroeë Christene gedoen het (Hand. 14:19-21). Jehovah God is altyd daar vir ons. Sy “ewige arms” ondersteun ons voortdurend in al ons beproewinge (Deut. 33:27). Laat ons ook onthou dat Jehovah ter wille van sy groot naam nooit sy volk verlaat nie. – 1 Sam. 12:22; Ps. 94:14.

19 Ter toeligting: Omdat broer Harald Abt aangehou het om te getuig, het die Nazi’s hom gedurende die Tweede Wêreldoorlog na die Sachsenhausen-konsentrasiekamp gestuur. In Mei 1942 het die Gestapo na sy vrou, Elsa, se huis gegaan, hulle dogtertjie van haar af weggeneem en Elsa in hegtenis geneem. Sy is na etlike kampe gestuur. “My jare in Duitse konsentrasiekampe het my ’n besondere les geleer”, het suster Abt gesê. “Dit is in watter mate Jehovah se gees jou kan versterk wanneer jy groot beproewinge verduur! Voordat ek in hegtenis geneem is, het ek ’n suster se brief gelees waarin sy gesê het dat Jehovah se gees jou kalm laat word wanneer jy ’n groot beproewing verduur. Ek het gedink dat sy seker ’n bietjie oordryf het. Maar toe ek self beproewinge verduur het, het ek geweet dat sy die waarheid gepraat het. Dit gebeur werklik so. Dis vir ’n mens moeilik om jou dit voor te stel as jy dit nog nie beleef het nie. Maar dit het regtig met my gebeur.”

Hou aan om deeglik te getuig!

20. Wat het Paulus gedoen terwyl hy onder huisarres was, en hoe kan dit party van ons broers en susters aanmoedig?

20 Die boek Handelinge sluit af met Paulus wat “die Koninkryk van God . . . [ywerig] verkondig” (Hand. 28:31). Omdat hy onder huisarres was, kon hy nie in Rome van huis tot huis getuig nie. Nietemin het hy aangehou om te getuig vir almal wat na hom toe gekom het. Vandag is party van ons liewe broers en susters huisgebonde, dalk bedlêend, of woon hulle in verpleeginrigtings weens bejaardheid, siekte of gebreke. En tog is hulle liefde vir God en hulle begeerte om te getuig, nog net so sterk soos tevore. Ons bid vir hulle en kan gerus vra dat ons hemelse Vader hulle in aanraking bring met mense wat daarna smag om van hom en sy wonderlike voornemens te leer.

21. Waarom moet ons met ’n gevoel van dringendheid getuig?

21 Die meeste van ons kan aan die huis-tot-huis-bediening en ander aspekte van die dissipelmaakwerk deelneem. Laat elkeen van ons dus alles in ons vermoë doen om ons rol as Koninkryksverkondigers te vervul en deel te neem aan die werk om “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” te getuig. Hierdie werk moet met ’n gevoel van dringendheid gedoen word, want “die teken” van Christus se teenwoordigheid kan duidelik gesien word (Matt. 24:3-14). Gebruik jou tyd goed. Ons het nóú “baie . . . om in die werk van die Here te doen”. – 1 Kor. 15:58.

22. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen terwyl ons op Jehovah se dag wag?

22 Laat ons vasbeslote wees om aan te hou om ’n moedige, getroue getuienis te gee terwyl ons wag vir “die groot en ontsagwekkende dag van Jehovah [om te] kom” (Joël 2:31). Ons sal nog baie mense soos die Bereane vind, wat “die woord gretig aanvaar” het (Hand. 17:10, 11). Mag ons derhalwe getuig totdat ons as ’t ware die woorde hoor: “Mooi so, goeie en getroue slaaf!” (Matt. 25:23). As ons vandag ywerig ons deel doen in die dissipelmaakwerk en altyd aan Jehovah getrou bly, sal ons sekerlik tot in alle ewigheid verheug wees dat ons ’n geseënde aandeel daaraan gehad het om ‘deeglik te getuig’ oor God se Koninkryk!