Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 24

“Moenie moed verloor nie!”

“Moenie moed verloor nie!”

’n Plan om Paulus dood te maak, misluk, en hy verdedig hom voor Feliks

Gebaseer op Handelinge 23:11–24:27

1, 2. Waarom is Paulus nie verbaas oor die vervolging wat hy in Jerusalem ondervind nie?

 NADAT hy van ’n woedende skare in Jerusalem gered is, bevind Paulus hom weer eens in aanhouding. Die ywerige apostel is nie verbaas oor die vervolging wat hy hier in Jerusalem ondervind nie. Daar is vir hom gesê dat hy “gevangenskap en vervolging” in hierdie stad moet verwag (Hand. 20:22, 23). En hoewel hy nie heeltemal seker is wat vir hom voorlê nie, weet Paulus dat hy sal aanhou ly ter wille van Jesus se naam. – Hand. 9:16.

2 Selfs Christenprofete het Paulus gewaarsku dat hy vasgebind en “in die hande van mense van die nasies” oorgelewer sou word (Hand. 21:4, 10, 11). Kort tevore het ’n Joodse skare hom probeer doodmaak, en net daarna het dit gelyk of die lede van die Sanhedrin hom sou “doodmaak” soos hulle oor hom getwis het. Nou is die apostel ’n gevangene onder bewaking van Romeinse soldate, en daar wag verdere beproewinge en beskuldigings op hom (Hand. 21:31; 23:10). Ja, die apostel Paulus het aanmoediging nodig!

3. Waar vind ons aanmoediging om in ons predikingswerk te volhard?

3 In hierdie tyd van die einde weet ons dat “almal wat met toegewydheid aan God as ’n volgeling van Christus Jesus wil lewe, . . . ook vervolg [sal] word” (2 Tim. 3:12). Van tyd tot tyd het ons ook aanmoediging nodig om te volhard in ons predikingswerk. Hoe dankbaar is ons tog vir die tydige, bemoedigende woorde wat ons ontvang deur middel van die publikasies en die vergaderinge wat “die getroue en verstandige slaaf” voorsien! (Matt. 24:45). Jehovah het ons verseker dat geen vyand van die goeie nuus sukses sal behaal nie. Hulle sal nie sy knegte as ’n groep vernietig of hulle predikingswerk stopsit nie (Jes. 54:17; Jer. 1:19). Maar wat van die apostel Paulus? Het hy aanmoediging ontvang om ten spyte van teenstand voort te gaan om deeglik te getuig? Indien wel, wat was dit, en hoe het hy gereageer?

’n ‘Plan wat beraam’ en onder “eed afgelê” is, word verydel (Handelinge 23:11-34)

4, 5. Watter aanmoediging het Paulus ontvang, en waarom was dit tydig?

4 Die apostel Paulus het die nag nadat hy uit die Sanhedrin se hande bevry is, aanmoediging ontvang wat hy baie nodig gehad het. Die geïnspireerde verslag sê vir ons: “Die Here [het] by hom gestaan en gesê: ‘Moenie moed verloor nie! Want net soos jy in Jerusalem deeglik oor my getuig het, so moet jy ook in Rome getuig’” (Hand. 23:11). Met hierdie bemoedigende woorde van Jesus is Paulus verseker van verlossing. Hy het geweet dat hy in Rome sou uitkom en daar die voorreg sou hê om van Jesus te getuig.

‘Meer as 40 van hulle manne lê hom voor.’ – Handelinge 23:21

5 Die aanmoediging wat aan Paulus gegee is, was tydig. Net die volgende dag het meer as 40 Joodse manne “’n plan beraam om [hom] dood te maak. Hulle het ’n eed afgelê dat hulle vervloek sou wees as hulle eet of drink voordat hulle Paulus doodgemaak het.” Hierdie “plan [wat] beraam” en onder “eed afgelê” is, het getoon presies hoe vasbeslote daardie Jode was om die apostel te vermoor. As hulle nie daarin geslaag het om hulle plan uit te voer nie, het hulle geglo dat hulle vervloek sou wees (Hand. 23:12-15). Hulle plan, wat deur die hoofpriesters en ouermanne goedgekeur is, was om Paulus weer voor die Sanhedrin te laat bring vir verdere ondervraging, asof hulle sake aangaande hom noukeuriger wou ondersoek. Maar op pad soontoe sou die manne wat ’n plan teen Paulus beraam het, hom voorlê en hom doodmaak.

6. Hoe is die plan om Paulus dood te maak, blootgelê, en watter voorbeeld voorsien hierdie verslag vir jongmense van vandag?

6 Paulus se susterskind het egter van hierdie plan te hore gekom en Paulus daarvan vertel. Op sy beurt het Paulus die jong man na die Romeinse militêre bevelvoerder Claudius Lisias gestuur om hom daarvan te vertel (Hand. 23:16-22). Jehovah is ongetwyfeld lief vir jongmense wat, soos hierdie susterskind van Paulus wie se naam nie genoem word nie, die welsyn van God se knegte moedig voor hulle eie stel en getrou alles in hulle vermoë doen om Koninkryksbelange te bevorder.

7, 8. Watter reëlings het Claudius Lisias vir Paulus se veiligheid getref?

7 Onmiddellik nadat hy van die plan teen Paulus gehoor het, het Claudius Lisias, wat ’n bevelvoerder oor 1 000 manskappe was, beveel dat ’n militêre wag van 470 – soldate, spiesvegters en perderuiters – gereedgemaak word om Jerusalem daardie nag te verlaat en Paulus veilig na Sesarea te neem. Daar moes hy aan goewerneur Feliks oorgelewer word. a Hoewel daar redelik baie Jode in Sesarea, die Romeinse administratiewe hoofstad van Judea, gewoon het, het die bevolking hoofsaaklik uit nie-Jode bestaan. Daar was ’n groot verskil tussen die ordelike toestande daar en die situasie in Jerusalem, waar baie inwoners uiting gegee het aan emosionele godsdiensvooroordeel en betrokke was by opskuddings. Sesarea was ook die hoofkwartier van die Romeinse leërmag in Judea.

8 In ooreenstemming met die Romeinse reg het Lisias ’n brief aan Feliks geskryf, waarin hy die saak uiteengesit het. Lisias het gemeld dat hy Paulus, nadat hy uitgevind het dat Paulus ’n Romeinse burger is, gered het toe die Jode hom ‘amper doodgemaak’ het. Lisias het gesê dat hy gevind het dat Paulus nie skuldig is aan enigiets “wat die dood of tronkstraf verdien nie”, maar dat hy Paulus weens ’n plan teen hom na Feliks stuur sodat die goewerneur die beskuldigers kan aanhoor en uitspraak oor die saak kan lewer. – Hand. 23:25-30.

9. (a) Hoe is Paulus se regte as ’n Romeinse burger geskend? (b) Waarom sal ons dalk van ons regte as burgers van ’n land gebruik maak?

9 Was Lisias eerlik in wat hy geskryf het? Nie heeltemal nie. Dit lyk of hy hom in ’n baie goeie lig probeer stel het. Hy het nie werklik tot Paulus se redding gekom omdat hy uitgevind het dat die apostel ’n Romeinse burger is nie. Lisias het ook nie gemeld dat hy Paulus “met twee kettings geboei” en later die bevel gegee het dat hy ‘met ’n gésel geslaan moet word terwyl hy ondervra word’ nie (Hand. 21:30-34; 22:24-29). Lisias het daardeur Paulus se regte as ’n Romeinse burger geskend. Vandag gebruik Satan die godsdiensfanatisme van teenstanders om die vlamme van vervolging aan te blaas, en ons burgerlike vryhede word dalk geskend. Maar soos Paulus, kan God se knegte dikwels van hulle burgerregte gebruik maak en beskerming onder die wet probeer verkry.

‘Ek sal myself met graagte voor u verdedig’ (Handelinge 23:35–24:21)

10. Watter ernstige beskuldigings is teen Paulus gemaak?

10 In Sesarea is Paulus “in Herodes se paleis bewaak” terwyl hy gewag het dat die beskuldigers uit Jerusalem kom (Hand. 23:35). Vyf dae later het hulle opgedaag – die hoëpriester Ananias, ’n openbare spreker met die naam Tertullus en ’n groep ouermanne. Tertullus het Feliks eers geprys vir wat hy vir die Jode gedoen het, klaarblyklik om hom te vlei en sy guns te wen. b Toe het Tertullus tot die punt oorgegaan en gesê dat Paulus “’n pes is en dat hy al die Jode oor die hele aarde in opstand laat kom, en hy is ’n leier van die sekte van die Nasareners. Hy het ook probeer om die tempel te ontheilig, en daarom het ons hom gearresteer.” Die ander Jode het “hom ook begin beskuldig en gesê dat hierdie dinge waar is” (Hand. 24:5, 6, 9). Om mense in opstand te laat kom, aan die spits van ’n gevaarlike sekte te staan en die tempel te ontheilig – dit was ernstige aanklagte wat tot ’n doodsvonnis kon lei.

11, 12. Hoe het Paulus die aanklagte teen hom weerlê?

11 Paulus is hierna toegelaat om te praat. “Ek [sal] myself met graagte voor u verdedig”, het hy begin. Hy het die beskuldigings ten sterkste ontken. Die apostel het nie die tempel ontheilig nie, en hy het ook nie probeer om mense opstandig te maak nie. Hy het genoem dat hy in werklikheid “’n hele paar jaar” nie in Jerusalem was nie en dat hy gekom het met “bydraes” vir Christene wat moontlik weens hongersnood en vervolging behoeftig geword het. Paulus het beklemtoon dat hy “seremonieel gereinig” is voordat hy in die tempel ingegaan het en dat hy hom nougeset daarop toegelê het om “altyd ’n skoon gewete voor God en mense te hê”. – Hand. 24:10-13, 16-18.

12 Paulus het egter erken dat hy heilige diens verrig aan die God van sy voorvaders “volgens hierdie weg wat hulle ’n sekte noem”. Maar hy het volgehou dat hy “alles [glo] wat in die Wet en in die boeke van die profete geskryf is”. En net soos sy beskuldigers het hy die hoop op “’n opstanding van die regverdiges en die onregverdiges”. Paulus het toe sy beskuldigers uitgedaag: “Laat die manne wat hier is, self sê wat ek verkeerd gedoen het toe hulle my voor die Sanhedrin laat staan het, behalwe vir hierdie een ding wat ek uitgeroep het terwyl ek tussen hulle gestaan het: ‘Oor die opstanding van die dooies word ek vandag voor julle geoordeel!’” – Hand. 24:14, 15, 20, 21.

13-15. Waarom is Paulus vir ons ’n goeie voorbeeld van iemand wat ’n moedige getuienis voor sekulêre owerhede gegee het?

13 Paulus het ’n goeie voorbeeld gestel wat ons kan volg as ons ooit weens ons aanbidding voor sekulêre owerhede gebring word en valslik beskuldig word van dinge soos opruiende gedrag, sedisie of lidmaatskap van ’n “gevaarlike sekte”. Paulus het nie die goewerneur se guns probeer wen deur, soos Tertullus, vleitaal te gebruik nie. Hy het kalm en respekvol gebly. Hy het op taktvolle wyse duidelike en betroubare getuienis gelewer. Paulus het gemeld dat die “Jode van die provinsie Asië” wat hom van ontheiliging van die tempel beskuldig het, nie teenwoordig was nie en dat dit volgens die wet sy reg was om te hoor hoe hulle hom in sy teenwoordigheid beskuldig. – Hand. 24:18, 19.

14 Wat veral treffend was, is dat Paulus nie gehuiwer het om getuienis oor sy geloofsoortuigings te gee nie. Die apostel het weer eens moedig melding gemaak van sy geloof in die opstanding, die kwessie wat soveel opskudding veroorsaak het toe hy voor die Sanhedrin was (Hand. 23:6-10). In sy verdediging het Paulus die opstandingshoop beklemtoon. Waarom? Omdat Paulus getuig het van Jesus en van sy opstanding uit die dood – iets wat hierdie teenstanders geweier het om te aanvaar (Hand. 26:6-8, 22, 23). Ja, die hele geskil het om die opstanding gedraai – en meer spesifiek, geloof in Jesus en in sy opstanding.

15 Soos Paulus, kan ons ’n moedige getuienis gee en krag put uit Jesus se woorde aan sy dissipels: “Julle sal deur alle mense gehaat word as gevolg van my naam. Maar die een wat tot die einde toe volhard, sal gered word.” Moet ons bekommerd wees oor wat ons sal sê? Nee, want Jesus het hierdie versekering gegee: “Wanneer hulle julle vat om julle oor te lewer, moet julle nie vooraf bekommerd wees oor wat julle sal sê nie, maar julle moet sê wat ook al in daardie uur aan julle gegee word, want dit is nie julle wat praat nie, dit is die heilige gees.” – Mark. 13:9-13.

Feliks het “bang geword” (Handelinge 24:22-27)

16, 17. (a) Hoe het Feliks Paulus se verhoor hanteer? (b) Waarom het Feliks moontlik bang geword, maar waarom het hy aangehou om met Paulus te praat?

16 Dit is nie die eerste keer dat goewerneur Feliks gehoor het wat die Christene glo nie. Die verslag sê: “Feliks, wat die feite oor hierdie Weg [die term wat gebruik is om die vroeë Christelike godsdiens te beskryf] goed geken het, het hulle weggestuur deur te sê: ‘Wanneer Lisias die militêre bevelvoerder kom, sal ek oor hierdie saak besluit.’ En hy het die militêre offisier beveel dat Paulus gevange gehou moet word, maar dat hy ’n mate van vryheid mag hê en dat sy mense toegelaat moet word om vir hom te sorg.” – Hand. 24:22, 23.

17 ’n Paar dae later het Feliks, saam met sy Joodse vrou, Drusilla, Paulus laat kom en “geluister hoe hy oor die geloof in Christus Jesus praat” (Hand. 24:24). Maar toe Paulus “gepraat het oor regverdigheid en selfbeheersing en die oordeel wat gaan kom, het Feliks bang geword”, moontlik omdat hierdie dinge sy gewete gepynig het weens die goddelose lewe wat hy gelei het. Hy het Paulus dus weggestuur en gesê: “Vir eers kan jy maar gaan, maar wanneer ek ’n geleentheid het, sal ek jou weer laat kom.” Feliks het Paulus hierna baie keer laat roep, nie omdat hy die waarheid wou leer nie, maar omdat hy gehoop het dat Paulus hom omkoopgeld sou gee. – Hand. 24:25, 26.

18. Waarom het Paulus met Feliks en sy vrou oor “regverdigheid en selfbeheersing en die oordeel wat gaan kom” gepraat?

18 Waarom het Paulus met Feliks en sy vrou oor “regverdigheid en selfbeheersing en die oordeel wat gaan kom” gepraat? Onthou, hulle wou weet wat “geloof in Christus Jesus” behels. Paulus, wat bewus was van hulle onsedelike agtergrond, wreedheid en onregte, het verduidelik wat vereis word van almal wat Jesus se volgelinge wil word. Wat Paulus gesê het, het die skerp teenstelling getoon tussen God se standaarde van regverdigheid en die lewenswyse van Feliks en sy vrou. Dit moes hulle tot die besef laat kom het dat alle mense voor God aanspreeklik is vir wat hulle dink, sê en doen en dat die oordeel wat in Paulus se geval uitgespreek sou word, nie naastenby so verreikend sou wees as die oordeel wat hulle van God sou ontvang nie. Geen wonder Feliks het “bang geword” nie!

19, 20. (a) Hoe moet ons mense in ons bediening behandel wat lyk of hulle belangstel maar eintlik hulle eie selfsugtige weg wil volg? (b) Hoe weet ons dat Feliks nie ’n vriend van Paulus was nie?

19 In ons bediening vind ons moontlik mense wat soos Feliks is. Aanvanklik lyk dit dalk of hulle in die waarheid belangstel, maar eintlik wil hulle hulle eie selfsugtige weg volg. Ons is tereg versigtig vir sulke mense. Soos Paulus, kan ons hulle nogtans taktvol vertel van God se regverdige standaarde. Miskien sal die waarheid hulle harte raak. Maar as dit duidelik word dat hulle geen begeerte het om hulle sondige weg die rug toe te keer nie, laat ons hulle in vrede en soek ons diegene wat werklik die waarheid probeer vind.

20 In die geval van Feliks is sy ware hartstoestand deur hierdie woorde geopenbaar: “Ná twee jaar is Feliks deur Porcius Festus opgevolg, en omdat Feliks die Jode se goedkeuring wou hê, het hy Paulus in die tronk gelos” (Hand. 24:27). Feliks was nie ’n ware vriend van Paulus nie. Feliks het geweet dat volgelinge van “Die Weg” nie opstokers of revolusioniste is nie (Hand. 19:23). Hy het ook geweet dat Paulus geen Romeinse wet oortree het nie. Nietemin het Feliks die apostel gevange gehou omdat hy “die Jode se goedkeuring wou hê”.

21. Wat het met Paulus gebeur nadat Porcius Festus goewerneur geword het, en waaruit het Paulus ongetwyfeld steeds krag geput?

21 Soos die laaste vers van Handelinge hoofstuk 24 toon, was Paulus nog steeds ’n gevangene toe Porcius Festus vir Feliks as goewerneur opgevolg het. So het ’n reeks verhore begin, en Paulus is van een amptenaar na die ander gestuur. Hierdie moedige apostel is inderdaad “voor konings en goewerneurs gebring” (Luk. 21:12). Soos ons sal sien, het hy later ’n getuienis gelewer voor die magtigste heerser van sy dag. Deur dit alles heen het Paulus nooit in sy geloof gewankel nie. Hy het ongetwyfeld steeds krag geput uit Jesus se woorde: “Moenie moed verloor nie!”

a Sien die venster “ Feliks – Prokurator van Judea”.

b Tertullus het Feliks bedank vir die “groot vrede” wat hy vir die nasie gebring het. Maar gedurende Feliks se bewind as goewerneur was daar in der waarheid minder vrede in Judea as gedurende enige ander administrasie tot die opstand teen Rome. Die opmerking oor “die grootste dankbaarheid” van die Jode vir die hervormings wat Feliks teweeggebring het, was ook ver van die waarheid. In werklikheid het die meeste Jode Feliks verag omdat hy hulle lewe so ondraaglik gemaak het en hulle opstande so wreed onderdruk het. – Hand. 24:2, 3.