HOOFSTUK 23
‘Luister na my verdediging’
Paulus verdedig die waarheid voor woedende skares en die Sanhedrin
Gebaseer op Handelinge 21:18–23:10
1, 2. Waarom kom die apostel Paulus na Jerusalem, en met watter uitdagings sal hy hier te kampe hê?
JERUSALEM! Paulus loop weer eens deur die nou, besige strate van die stad. Geen stad ter wêreld se geskiedenis is so nou verweef met Jehovah se handelinge met sy volk nie. Oor die algemeen is die inwoners trots op daardie glorieryke verlede. Paulus weet dat baie Christene hier te veel waarde aan die verlede heg en nie tred hou met Jehovah se progressiewe voornemens nie. Paulus besef dus dat daar ’n geestelike behoefte is benewens die materiële behoefte wat hom, toe hy nog in Efese was, laat besluit het om hierdie groot stad weer te besoek (Hand. 19:21). Ten spyte van die moontlike gevaar het hy by sy voorneme gebly.
2 Waarmee sal Paulus nou in Jerusalem te kampe hê? Een van die uitdagings sal kom van Christus se volgelinge, van wie party ontsteld is oor gerugte aangaande Paulus. Groter uitdagings sal kom van Christus se vyande. Hulle sal valse aantygings teen Paulus maak, hom slaan en dreig om hom dood te maak. Hierdie dramatiese gebeure sal Paulus ook die geleentheid gee om hom te verdedig. Die nederigheid, moed en geloof waarmee hy hierdie uitdagings die hoof gebied het, voorsien ’n uitstekende voorbeeld vir Christene van vandag. Kom ons sien hoe.
Hulle het “God begin verheerlik” (Handelinge 21:18-20a)
3-5. (a) Watter vergadering het Paulus in Jerusalem bygewoon, en wat is bespreek? (b) Wat kan ons leer uit die vergadering wat Paulus en die ouermanne in Jerusalem gehad het?
3 Die dag ná hulle aankoms in Jerusalem het Paulus en sy metgeselle na die verantwoordelike ouermanne van die gemeente gegaan. In die verslag word daar geen melding van enige van die oorblywende apostels gemaak nie; dalk het hulle almal teen dié tyd in ander dele van die wêreld gaan dien. Maar Jakobus, die broer van Jesus, was nog daar (Gal. 2:9). Jakobus het waarskynlik as voorsitter opgetree tydens die vergadering toe Paulus en “al die ouermanne [daar] was”. – Hand. 21:18.
4 Paulus het die ouermanne gegroet “en in besonderhede begin vertel van die dinge wat God onder die nasies deur sy bediening gedoen het” (Hand. 21:19). Ons kan ons net indink hoe aanmoedigend dit was. Ons is vandag ook verheug wanneer ons hoor van die vooruitgang van die werk in ander lande. – Spr. 25:25.
5 Op die een of ander stadium het Paulus waarskynlik melding gemaak van die bydraes wat hy van Europa af gebring het. Die besorgdheid wat die broers in verafgeleë plekke geopenbaar het, het sekerlik die harte van Paulus se toehoorders geroer. Die verslag sê dat die ouermanne, in reaksie op Paulus se berig, “God begin verheerlik” het! (Hand. 21:20a). Die harte van baie wat vandag rampe of ernstige siektes verduur, word ook diep geroer wanneer hulle tydige hulp en woorde van aanmoediging van medegelowiges ontvang.
Baie is nog “ywerig vir die Wet” (Handelinge 21:20b, 21)
6. Van watter probleem het Paulus te hore gekom?
6 Daarna het die ouermanne vir Paulus vertel van ’n probleem in Judea wat met hom verband hou. Hulle het gesê: “Broer, jy sien hoeveel duisende gelowiges daar onder die Jode is, en hulle almal is ywerig vir die Wet. Maar hulle het gehoor dat daar gesê is dat jy al die Jode onder die nasies geleer het om van Moses afvallig te word deur vir hulle te sê om nie hulle kinders te besny of die gebruike te volg nie.” a – Hand. 21:20b, 21.
7, 8. (a) Watter foutiewe beskouing het baie Christene in Judea gehad? (b) Waarom het die foutiewe denke van party Joodse Christene nie op afvalligheid neergekom nie?
7 Waarom was soveel Christene nog ywerig vir die Mosaïese Wet, heelwat meer as 20 jaar nadat dit afgeskaf is? (Kol. 2:14). In 49 HJ het die apostels en ouermanne wat in Jerusalem vergader het, ’n brief na die gemeentes gestuur en verduidelik dat dit nie vir gelowiges onder die nasies nodig was om hulle aan die besnydenis te onderwerp en onder die Mosaïese Wet te kom nie (Hand. 15:23-29). Maar daardie brief het niks gesê oor Joodse gelowiges, van wie baie nie verstaan het dat die Mosaïese Wet nie meer van toepassing is nie.
8 Het daardie foutiewe denke hierdie Joodse gelowiges ongeskik gemaak om Christene te wees? Nee. Dit was nie asof hulle voorheen heidense gode aanbid het en nou aangehou het om die godsdiensgebruike van hulle vorige geloof te volg nie. Die Wet wat vir daardie Joodse gelowiges so belangrik was, is oorspronklik deur Jehovah aan hulle gegee. Niks daaromtrent was demonies of op sigself verkeerd, of afvallig, nie. Maar daardie Wet het verband gehou met die ou verbond, terwyl Christene nou onder die nuwe verbond was. Die gebruike van die Wetsverbond was nou verouderd wat rein aanbidding betref. Hebreeuse Christene wat ywerig was vir die Wet, het ’n gebrek aan insig gehad asook aan vertroue in die Christengemeente. Hulle moes hulle denke in ooreenstemming bring met die progressiewe openbaring van waarheid. b – Jer. 31:31-34; Luk. 22:20.
‘Die dinge wat hulle van jou gehoor het, is nie waar nie’ (Handelinge 21:22-26)
9. Wat het Paulus ander oor die Mosaïese Wet geleer?
9 Wat van die gerugte dat Paulus die Jode onder die nasies geleer het “om nie hulle kinders te besny of die gebruike te volg nie”? Paulus was ’n apostel vir die nie-Jode, en vir hulle het hy by die besluit gebly dat nie-Jode hulle nie aan die Wet hoef te onderwerp nie. Hy het ook die verkeerde beskouing blootgelê van enigiemand wat nie-Joodse gelowiges probeer oorreed het om besny te word as ’n teken van onderworpenheid aan die Mosaïese Wet (Gal. 5:1-7). Paulus het ook die goeie nuus verkondig aan Jode in die stede wat hy besoek het. Hy sou beslis vir dié wat gunstig gereageer het, verduidelik het dat Jesus se dood die Wet verouderd gemaak het en dat regverdigheid verkry word deur geloof, nie deur werke van die Wet nie. – Rom. 2:28, 29; 3:21-26.
10. Watter gebalanseerde gesindheid teenoor kwessies in verband met die Wet en die besnydenis het Paulus gehad?
10 Paulus het nietemin begrip getoon vir dié wat dit goedgevind het om party Joodse gebruike te onderhou, soos om geen werk op die Sabbat te doen nie of om sekere kos te vermy (Rom. 14:1-6). En hy het geen reëls oor die besnydenis neergelê nie. Trouens, Paulus het Timoteus laat besny sodat die Jode nie agterdogtig sou wees teenoor Timoteus, wie se pa ’n Griek was nie (Hand. 16:3). Besnydenis was ’n persoonlike keuse. Paulus het vir die Galasiërs gesê: “Dit [maak] nie saak of ’n mens besny of nie besny is nie, maar wat wel saak maak, is om geloof te hê wat deur liefde werk” (Gal. 5:6). Maar om besny te word om onder die Wet te kom of om te beweer dat die gebruik noodsaaklik is om Jehovah se goedkeuring te verkry, sou ’n gebrek aan geloof openbaar.
11. Watter raad het die ouermanne vir Paulus gegee, en wat het gehoorsaamheid daaraan behels? (Sien ook voetnoot.)
11 Hoewel die gerugte ’n volslae verdraaiing van die feite was, het dit Joodse gelowiges nietemin ontstel. Daarom het die ouermanne vir Paulus hierdie opdrag gegee: “Ons het vier manne wat ’n gelofte gemaak het. Neem hierdie manne saam met jou en reinig jou seremonieel saam met hulle en betaal vir hulle die koste sodat hulle hulle koppe kan laat skeer. Dan sal almal weet dat die dinge wat hulle van jou gehoor het, nie waar is nie, maar dat jy jou goed gedra en self ook die Wet gehoorsaam.” c – Hand. 21:23, 24.
12. Hoe het Paulus aanpasbaarheid en ’n gees van samewerking getoon in sy reaksie op die raad van die ouermanne in Jerusalem?
12 Paulus kon geprotesteer het dat die werklike probleem nie die gerugte oor hom is nie, maar die ywer wat daardie Joodse gelowiges vir die Mosaïese Wet gehad het. Hy was egter bereid om aanpasbaar te wees, solank hy nie goddelike beginsels moes skend nie. Hy het vroeër geskryf: “Vir die mense onder die wet het ek soos iemand onder die wet geword, al is ek nie self onder die wet nie, sodat ek dié onder die wet kan wen” (1 Kor. 9:20). By hierdie geleentheid het Paulus met die ouermanne in Jerusalem saamgewerk en “soos iemand onder die wet” geword. Sodoende het hy ’n uitstekende voorbeeld vir ons gestel om vandag met die ouermanne saam te werk en nie daarop aan te dring om dinge op óns manier te doen nie. – Heb. 13:17.
“Hy verdien nie om te lewe nie!” (Handelinge 21:27–22:30)
13. (a) Waarom het party Jode ’n opskudding in die tempel veroorsaak? (b) Hoe is Paulus se lewe gered?
13 Sake het nie goed verloop by die tempel nie. Toe die dae vir die geloftes byna verstreke was, het Jode uit Asië Paulus gesien, hom valslik daarvan beskuldig dat hy nie-Jode in die tempel ingebring het en ’n opskudding veroorsaak. As die Romeinse militêre bevelvoerder nie ingegryp het nie, sou hulle Paulus doodgeslaan het. Die Romeinse bevelvoerder het hom egter in hegtenis geneem. Dit sou Paulus van daardie dag af meer as vier jaar neem om sy vryheid te herwin. Maar die onmiddellike gevaar vir Paulus was nog nie verby nie. Toe die bevelvoerder die Jode vra waarom hulle Paulus aangeval het, het hulle verskillende beskuldigings uitgeroep. Weens die lawaai kon die bevelvoerder niks daarvan uitmaak nie. Eindelik moes Paulus letterlik daar weggedra word. Toe Paulus en die Romeinse soldate op die punt was om die soldate se kwartiere binne te gaan, het Paulus vir die bevelvoerder gesê: “Ek [smeek] u: Laat my toe om met die volk te praat” (Hand. 21:39). Die bevelvoerder het ingestem, en Paulus het sy geloof moedig verdedig.
14, 15. (a) Wat het Paulus aan die Jode verduidelik? (b) Wat het die Romeinse bevelvoerder gedoen om uit te vind wat die rede vir die Jode se woede is?
14 “Luister nou na my verdediging”, het Paulus begin (Hand. 22:1). Paulus het die skare in Hebreeus aangespreek, wat hulle laat bedaar het. Hy het ’n reguit verduideliking gegee van waarom hy nou ’n volgeling van Christus is. Daarin het Paulus op vaardige wyse punte gemeld wat die Jode kon nagaan as hulle wou. Paulus het aan die voete van die beroemde Gamaliël gestudeer en het die volgelinge van Christus vervolg, soos party in die gehoor waarskynlik geweet het. Maar op pad na Damaskus het hy ’n visioen gehad van die verrese Christus, wat met hom gepraat het. Paulus se reisgenote het ’n helder lig gesien en ’n stem gehoor, maar hulle het nie die woorde verstaan wat hulle gehoor het nie. (Sien die studienota vir Hand. 9:7; 22:9 in nwtsty.) Daarna moes Paulus se reisgenote hom tot in Damaskus lei, aangesien hy deur die visioen verblind is. Daar het Ananias, ’n man wat bekend was onder die Jode in daardie gebied, Paulus se sig wonderdadig herstel.
15 Paulus het toe vertel dat Jesus in die tempel aan hom verskyn het nadat hy na Jerusalem teruggekeer het. Op dié stadium het die Jode baie ontsteld geword en uitgeroep: “So ’n mens moet doodgemaak word, want hy verdien nie om te lewe nie!” (Hand. 22:22). Om Paulus te red, het die bevelvoerder hom in die soldate se kwartiere laat inneem. Vasbeslote om uit te vind wat die rede vir die Jode se woede teen Paulus is, het die bevelvoerder opdrag gegee dat hy voorberei word vir ondervraging onder geseling. Maar Paulus het gebruik gemaak van ’n regsmiddel tot sy beskikking en geopenbaar dat hy ’n Romeinse burger is. Jehovah se aanbidders maak vandag ook gebruik van regsmiddele tot hulle beskikking om hulle geloof te verdedig. (Sien die vensters “ Die Romeinse reg en Romeinse burgers” en “ Hedendaagse regstryde”.) Toe die bevelvoerder van Paulus se Romeinse burgerskap hoor, het hy besef dat hy ’n ander manier moes vind om meer inligting te kry. Die volgende dag het hy Paulus voor ’n spesiale vergadering van die Sanhedrin, die hooggeregshof van die Jode, gebring.
“Ek is ’n Fariseër” (Handelinge 23:1-10)
16, 17. (a) Beskryf wat gebeur het toe Paulus die Sanhedrin toegespreek het. (b) Hoe het Paulus ’n voorbeeld van nederigheid gestel toe hy geslaan is?
16 Paulus het sy verdediging voor die Sanhedrin begin en gesê: “Manne, broers, ek het tot vandag toe met ’n skoon gewete voor God gelewe” (Hand. 23:1). Hy het niks verder gekom nie. Die verslag sê: “Toe het die hoëpriester Ananias dié wat by hom gestaan het, beveel om hom op die mond te slaan” (Hand. 23:2). Wat ’n belediging! En hoe bevooroordeeld tog: om Paulus as ’n leuenaar te bestempel voordat enige getuienis aangehoor is! Dit is geen wonder dat Paulus geantwoord het nie: “God gaan jou slaan, jou skynheilige. Jy sit om my volgens die Wet te oordeel, maar terselfdertyd oortree jy die Wet deur te beveel dat ek geslaan moet word.” – Hand. 23:3.
17 Party van dié wat daar gestaan het, was geskok – nie oor die persoon wat Paulus geslaan het nie, maar oor Paulus se reaksie! Hulle het gevra: “Beledig jy die hoëpriester van God?” In antwoord hierop het Paulus vir hulle ’n voorbeeld in nederigheid en in respek vir die Wet gestel. Hy het gesê: “Broers, ek het nie geweet dat hy hoëpriester is nie. Want daar is geskryf: ‘Jy mag nie ’n heerser van jou volk beledig nie’” (Hand. 23:4, 5; Eks. 22:28). d Paulus het nou ’n ander benadering gebruik. Hy het opgemerk dat die Sanhedrin uit Fariseërs en Sadduseërs bestaan en gesê: “Manne, broers, ek is ’n Fariseër, ’n seun van Fariseërs. Ek word geoordeel omdat ek in die opstanding van die dooies glo.” – Hand. 23:6.
18. Waarom het Paulus homself ’n Fariseër genoem, en hoe kan ons in sekere omstandighede dieselfde soort redenasie gebruik?
18 Waarom het Paulus homself ’n Fariseër genoem? Omdat hy “’n seun van Fariseërs” was uit ’n gesin wat aan daardie sekte behoort het. Gevolglik sou baie hom nog as sodanig beskou het. e Maar hoe kon Paulus sê dat hy soos die Fariseërs in ’n opstanding glo? Die Fariseërs het na bewering geglo dat ’n bewuste siel ná die dood voortleef en dat die siele van die regverdiges weer in menseliggame sou lewe. Paulus het nie sulke opvattings geglo nie. Hy het in die opstanding geglo soos Jesus dit geleer het (Joh. 5:25-29). Nietemin het Paulus met die Fariseërs saamgestem dat daar ’n hoop op lewe ná die dood is – in teenstelling met die Sadduseërs, wat nie in ’n toekomstige lewe geglo het nie. Ons kan dieselfde soort redenasie gebruik wanneer ons met Katolieke of Protestante gesels. Ons kan sê dat ons, soos hulle, in God glo. Toegegee, hulle glo moontlik in die Drie-eenheid terwyl ons in die God van die Bybel glo. Maar ons glo soos hulle dat daar ’n God is.
19. Waarom het die vergadering van die Sanhedrin in ’n opskudding ontaard?
19 Paulus se stelling het die Sanhedrin in twee verdeel. Die verslag sê: “Toe het die mense hard begin skree, en sommige van die skrifgeleerdes van die party van die Fariseërs het opgestaan en erg begin stry en gesê: ‘Ons vind niks verkeerds in hierdie man nie, maar as ’n gees of ’n engel met hom gepraat het . . . ’” (Hand. 23:9). Die blote gedagte dat ’n engel dalk met Paulus gepraat het, was afstootlik vir die Sadduseërs, wat nie in engele geglo het nie! (Sien die venster “ Die Sadduseërs en die Fariseërs”.) Die opskudding het so erg geword dat die Romeinse militêre bevelvoerder weer eens die apostel moes red (Hand. 23:10). Maar Paulus was glad nie buite gevaar nie. Wat sou nou met die apostel gebeur? Ons sal in die volgende hoofstuk meer hieroor uitvind.
a Daar moes sekerlik baie gemeentes gewees het wat in huise vergader het om na die geestelike behoeftes van soveel Joodse Christene om te sien.
b ’n Paar jaar later het die apostel Paulus sy brief aan die Hebreërs geskryf, waarin hy die voortreflikheid van die nuwe verbond bewys het. In daardie brief het hy duidelik getoon dat die ou verbond deur die nuwe verbond verouderd gemaak is. Paulus se kragtige redenasie het nie net oortuigende bewyse voorsien wat Joodse Christene kon gebruik om hulle Joodse teenstanders te antwoord nie; dit het ongetwyfeld ook die geloof versterk van party Christene wat te veel klem op die Mosaïese Wet gelê het. – Heb. 8:7-13.
c Geleerdes beweer dat die manne ’n Nasireërsgelofte afgelê het (Num. 6:1-21). Die Mosaïese Wet, waaronder hulle so ’n gelofte sou afgelê het, was weliswaar nou verouderd. Nietemin het Paulus moontlik geredeneer dat dit nie verkeerd van die manne sou wees om ’n gelofte wat aan Jehovah gedoen is, te vervul nie. Dit sou dus nie verkeerd van hom wees om hulle koste te dra en hulle te vergesel nie. Ons weet nie presies watter soort gelofte dit was nie, maar hoe dit ook al sy, dit is onwaarskynlik dat Paulus sy steun daaraan sou gegee het dat ’n diereoffer gebring word (soos Nasireërs gedoen het), in die veronderstelling dat dit die manne van sonde sou reinig. Die volmaakte offerande van Christus het enige versoeningswaarde wat sulke offerandes gehad het, verwyder. Ongeag wat Paulus gedoen het, ons kan daarvan seker wees dat hy nie sou ingestem het om enigiets te doen wat sy gewete sou skend nie.
d Party voer aan dat Paulus weens swak sig die hoëpriester nie herken het nie. Of hy was moontlik so lank uit Jerusalem dat hy nie die huidige hoëpriester kon identifiseer nie. Of dalk kon Paulus eenvoudig nie tussen die skare deur sien wie beveel het dat hy geslaan word nie.
e In 49 HJ, toe die apostels en ouermanne bespreek het of nie-Jode hulle aan die Mosaïese Wet moet onderwerp, is daar na party van die Christene wat daar was, verwys as “lede van die sekte van die Fariseërs wat gelowiges geword het” (Hand. 15:5). Blykbaar is daardie gelowiges nog steeds in sekere sin deur hulle Fariseïese agtergrond geïdentifiseer.