Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 1

“Laat u koninkryk kom”

“Laat u koninkryk kom”

KERNGEDAGTE VAN DIE HOOFSTUK

Wat Jesus oor God se Koninkryk geleer het

1, 2. Wat het Jehovah ten aanhore van drie van Jesus se apostels gesê, en hoe het hulle gereageer?

HOE sal jy reageer as Jehovah God self jou ’n opdrag gee? Sal jy nie gretig wees om sy opdrag te gehoorsaam ongeag wat dit is nie? Jy sal ongetwyfeld!

2 ’n Rukkie ná die Pasga van 32 HJ het drie van Jesus se apostels—Petrus, Jakobus en Johannes—presies so ’n ondervinding gehad. (Lees Matteus 17:1-5.) Terwyl hulle saam met hulle Heer op “’n hoë berg” was, het hulle in ’n visioen ’n voorskou van Jesus as ’n glorieryke hemelse Koning gehad. Die visioen het so werklik gelyk dat Petrus daaraan probeer deelneem het. Terwyl Petrus gepraat het, het ’n wolk oor hulle gevorm. Toe het Petrus en sy metgeselle iets gehoor wat net ’n handjie vol mense al ooit die voorreg gehad het om te hoor—Jehovah se stem. Nadat Jehovah bevestig het dat Jesus sy Seun is, het Hy uitdruklik gesê: “Luister na hom.” Die apostels het hierdie opdrag gehoorsaam. Hulle het ag geslaan op wat Jesus geleer het, en hulle het ander aangespoor om dit ook te doen.—Hand. 3:19-23; 4:18-20.

God se Koninkryk is die onderwerp waaroor Jesus die meeste gepraat het

3. Waarom wil Jehovah hê dat ons na sy Seun moet luister, en watter onderwerp sal dit dus goed wees om te ondersoek?

3 Hierdie woorde—“Luister na hom”—is tot ons voordeel in die Bybel opgeteken (Rom. 15:4). Waarom? Omdat Jesus Jehovah se woordvoerder is en Jesus elke keer dat hy sy mond geopen het om te onderrig, oorgedra het wat sy Vader wou hê ons moet weet (Joh. 1:1, 14). God se Koninkryk—die hemelse Messiaanse regering wat uit Christus Jesus en sy 144 000 medeheersers bestaan—is die onderwerp waaroor Jesus die meeste gepraat het. Dit sal dus goed wees as ons hierdie uiters belangrike onderwerp noukeurig ondersoek (Op. 5:9, 10; 14:1-3; 20:6). Maar kom ons kyk eers waarom Jesus soveel oor God se Koninkryk gesê het.

“Uit die oorvloed van die hart . . . ”

4. Hoe het Jesus getoon dat die Koninkryk hom na aan die hart lê?

4 Die Koninkryk lê Jesus na aan die hart. Waarom kan ons so sê? Omdat woorde openbaar wat in die hart is—dit wil sê, ons woorde toon wat werklik vir ons belangrik is. Jesus het self gesê: “Uit die oorvloed van die hart spreek die mond” (Matt. 12:34). Jesus het by elke geleentheid oor die Koninkryk gepraat. Daar is meer as 100 verwysings na die Koninkryk in die vier Evangelies, die meeste daarvan in Jesus se woorde. Hy het die Koninkryk die tema van sy predikingswerk gemaak en gesê: “Ook aan ander stede moet ek die goeie nuus van die koninkryk van God bekend maak, want hiervoor is ek uitgestuur” (Luk. 4:43). Selfs ná sy opstanding het Jesus voortgegaan om met sy dissipels oor die Koninkryk te praat (Hand. 1:3). Jesus se hart het beslis oorgeloop van waardering vir die Koninkryk, en dit het hom beweeg om daaroor te praat.

5-7. (a) Hoe weet ons dat die Koninkryk Jehovah na aan die hart lê? Lig toe. (b) Hoe kan ons toon dat die Koninkryk ons na aan die hart lê?

5 Die Koninkryk lê Jehovah ook na aan die hart. Hoe weet ons dit? Onthou, Jehovah het sy enigverwekte Seun in die wêreld uitgestuur; Jehovah is die bron van alles wat sy Seun gesê en geleer het (Joh. 7:16; 12:49, 50). Jehovah is ook die bron van alles wat in die vier Evangelieverslae oor Jesus se lewe en bediening opgeteken is. Dink vir ’n oomblik aan wat dit beteken.

Elkeen van ons kan ons gerus afvra: ‘Lê God se Koninkryk my na aan die hart?’

6 Stel jou voor dat jy ’n familiealbum saamstel. Jy het baie foto’s om van te kies, maar daar is net plek vir ’n sekere aantal in die album. Wat doen jy? Jy kies watter foto’s jy daarin gaan sit. In sekere sin is die Evangelies soos ’n fotoalbum wat ons ’n duidelike beeld van Jesus gee. Jehovah het die Evangelieskrywers nie geïnspireer om alles op te teken wat Jesus gesê en gedoen het terwyl hy op die aarde was nie (Joh. 20:30; 21:25). Jehovah se gees het hulle eerder gerig om die woorde en dade op te teken wat ons help verstaan wat die doel van Jesus se bediening was en wat vir Jehovah die belangrikste is (2 Tim. 3:16, 17; 2 Pet. 1:21). Aangesien die Evangelies vol van Jesus se leringe oor God se Koninkryk is, kan ons tot die slotsom kom dat die Koninkryk Jehovah na aan die hart lê. Dink net—Jehovah wil hê dat ons presies moet weet wat sy Koninkryk is en wat dit gaan doen!

7 Elkeen van ons kan ons gerus afvra: ‘Lê God se Koninkryk my na aan die hart?’ Indien wel, sal ons gretig wees om te luister na wat Jesus oor hierdie Koninkryk gesê en geleer het—hoe belangrik dit is en hoe en wanneer dit sal kom.

“Laat u koninkryk kom”—Hoe?

8. Hoe het Jesus die belangrikheid van die Koninkryk opgesom?

8 Beskou die modelgebed. Met treffende eenvoud het Jesus die belangrikheid van die Koninkryk opgesom deur te toon wat dit sal doen. Hierdie gebed bestaan uit sewe versoeke. Die eerste drie handel oor Jehovah se voornemens—die heiliging van sy naam, die koms van sy Koninkryk en die uitvoering van sy wil op die aarde soos in die hemel. (Lees Matteus 6:9, 10.) Hierdie drie versoeke hou ten nouste met mekaar verband. Die Messiaanse Koninkryk is die instrument waardeur Jehovah sy naam sal heilig en sy wil sal uitvoer.

9, 10. (a) Hoe sal God se Koninkryk kom? (b) Watter Bybelbelofte wil jy graag verwesenlik sien?

9 Hoe sal God se Koninkryk kom? Wanneer ons bid: “Laat u koninkryk kom”, vra ons dat die Koninkryk beslissend moet optree. Wanneer die Koninkryk kom, sal dit volle mag ten opsigte van die aarde uitoefen. Dit sal die teenswoordige goddelose stelsel van dinge uit die weg ruim, insluitende alle menseregerings, en sal ’n regverdige nuwe wêreld tot stand bring (Dan. 2:44; 2 Pet. 3:13). Dan, onder Koninkryksheerskappy, sal die hele aarde ’n paradys word (Luk. 23:43). Dié in God se geheue sal opgewek word en met hulle geliefdes herenig word (Joh. 5:28, 29). Gehoorsame mense sal volmaaktheid bereik en eindelose lewe geniet (Op. 21:3-5). Uiteindelik sal die aarde in volmaakte harmonie met die hemel wees, in ooreenstemming met Jehovah God se wil! Wil jy nie graag die verwesenliking van hierdie Bybelbeloftes sien nie? Onthou, elke keer wanneer jy bid dat God se Koninkryk kom, bid jy dat hierdie kosbare beloftes vervul word.

10 Dit is duidelik dat God se Koninkryk nog nie ‘gekom’ het om die modelgebed te vervul nie. Menseregerings is immers nog steeds aan die bewind, en die regverdige nuwe wêreld is nog nie hier nie. Maar daar is goeie nuus. God se Koninkryk is reeds opgerig, soos ons in die volgende hoofstuk sal bespreek. Kom ons ondersoek nou wat Jesus gesê het oor wanneer die Koninkryk opgerig sou word en wanneer dit sal kom.

Wanneer sou God se Koninkryk opgerig word?

11. Wat het Jesus aangedui oor die oprigting van God se Koninkryk?

11 Jesus het aangedui dat die Koninkryk nie in die eerste eeu HJ opgerig sou word nie, ten spyte van die verwagtinge van party van sy dissipels (Hand. 1:6). Kyk na wat hy gesê het in twee verskillende gelykenisse wat hy binne twee jaar vertel het.

12. Hoe dui die gelykenis van die koring en die onkruid daarop dat die Koninkryk nie in die eerste eeu HJ opgerig is nie?

12 Die gelykenis van die koring en die onkruid. (Lees Matteus 13:24-30.) Nadat Jesus hierdie gelykenis vertel het, moontlik in die lente van 31 HJ, het hy dit aan sy dissipels verduidelik (Matt. 13:36-43). Hier is die gelykenis en die betekenis daarvan in ’n neutedop: Ná die dood van die apostels sou die Duiwel onkruid (naamchristene) tussen koring (“kinders van die koninkryk”, of gesalfde Christene) saai. Die koring en die onkruid sou toegelaat word om saam te groei gedurende ’n groeiseisoen wat sou voortduur tot die oes, wat “’n voleinding van ’n stelsel van dinge” is. Ná die begin van die oestyd sou die onkruid bymekaargemaak word. Dan sou die koring ingesamel word. Die gelykenis dui dus daarop dat die Koninkryk nie in die eerste eeu HJ opgerig sou word nie, maar eers nadat die groeiseisoen geëindig het. Die groeiseisoen het geëindig en die oestyd het begin in 1914.

13. Hoe het Jesus toegelig dat hy nie onmiddellik ná sy terugkeer hemel toe as Messiaanse Koning gekroon sou word nie?

13 Die gelykenis van die minas. (Lees Lukas 19:11-13.) Jesus het hierdie gelykenis in 33 HJ vertel terwyl hy vir die laaste keer op pad was na Jerusalem. Party van sy luisteraars het gedink dat hy sy Koninkryk sou oprig sodra hulle in Jerusalem aankom. Om hierdie idee reg te stel en te toon dat die oprigting van die Koninkryk nog ver in die toekoms was, het Jesus homself vergelyk met ’n “man van adellike geboorte” wat moes reis “na ’n ver land . . . om vir homself koninklike mag te verkry”. * In Jesus se geval was die “ver land” die hemel, waar hy van sy Vader mag sou ontvang om as Koning te regeer. Maar Jesus het geweet dat hy nie onmiddellik ná sy terugkeer hemel toe as Messiaanse Koning gekroon sou word nie. Hy sou eerder aan God se regterhand sit en tot die vasgestelde tyd wag. Hierdie wagtyd het in werklikheid baie eeue geduur.—Ps. 110:1, 2; Matt. 22:43, 44; Heb. 10:12, 13.

Wanneer sal God se Koninkryk kom?

14. (a) Hoe het Jesus die vraag van vier van sy apostels beantwoord? (b) Wat vertel die vervulling van Jesus se profesie ons oor sy teenwoordigheid en die Koninkryk?

14 ’n Paar dae voordat Jesus doodgemaak is, het vier van sy apostels hom gevra: “Wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” (Matt. 24:3; Mark. 13:4). Jesus het geantwoord deur die omvattende profesie te vertel wat in Matteus hoofstukke 24 en 25 opgeteken is. Jesus het verskeie wêreldgebeure beskryf wat as ’n teken sou dien van ’n tydperk wat sy “teenwoordigheid” genoem word. Die begin van sy teenwoordigheid sou saamval met die oprigting van die Koninkryk; en die klimaks van sy teenwoordigheid, met die koms van die Koninkryk. Ons het ’n oorvloed bewyse dat Jesus se profesie sedert 1914 vervul word. * Daardie jaar het dus die begin van sy teenwoordigheid asook die oprigting van die Koninkryk aangedui.

15, 16. Na wie verwys die woorde “hierdie geslag”?

15 Maar wanneer sal God se Koninkryk uiteindelik kom? Jesus het nie geopenbaar presies wanneer dit sou gebeur nie (Matt. 24:36). Hy het egter wel iets gesê wat ons behoort te verseker dat dit inderdaad baie naby is. Jesus het aangedui dat die Koninkryk sal kom nadat “hierdie geslag” die vervulling van die profetiese teken gesien het. (Lees Matteus 24:32-34.) Na wie verwys die uitdrukking “hierdie geslag”? Kom ons bekyk Jesus se woorde van naderby.

16 “Hierdie geslag.” Het Jesus ongelowiges in gedagte gehad? Nee. Dink aan sy gehoor. Jesus het hierdie profesie vertel aan ’n paar apostels wat “alleen na hom toe gekom” het (Matt. 24:3). Die apostels sou kort voor lank met heilige gees gesalf word. Let ook op die konteks. Voordat Jesus van “hierdie geslag” gepraat het, het hy gesê: “En leer dít van die vyeboom as ’n illustrasie: Sodra sy jong tak sag word en hy blare kry, weet julle dat die somer naby is. Net so moet julle, wanneer julle al hierdie dinge sien, ook weet dat hy naby is, voor die deur.” Jesus se gesalfde volgelinge—nie ongelowiges nie—sou die dinge sien wat hy voorspel het en sou die betekenis daarvan verstaan, naamlik dat Jesus “naby is, voor die deur”. Toe Jesus van “hierdie geslag” gepraat het, het hy dus sy gesalfde volgelinge in gedagte gehad.

17. Wat beteken die uitdrukkings “geslag” en “al hierdie dinge”?

17 ‘Sal hoegenaamd nie verbygaan voordat al hierdie dinge plaasgevind het nie.’ Hoe sal hierdie woorde bewaarheid word? Om dit te beantwoord, moet ons twee dinge weet: die betekenis van “geslag” sowel as van “al hierdie dinge”. Die woord “geslag” verwys dikwels na mense van verskillende ouderdomme wie se lewens gedurende ’n spesifieke tydperk oorvleuel. ’n Geslag strek nie oor ’n geweldige lang tydperk nie, en dit kom tot ’n einde (Eks. 1:6). Die uitdrukking “al hierdie dinge” sluit al die voorspelde gebeure gedurende Jesus se teenwoordigheid in, van die begin daarvan in 1914 tot die klimaks daarvan by die “groot verdrukking”.—Matt. 24:21.

18, 19. Hoe kan ons Jesus se woorde oor “hierdie geslag” verstaan, en tot watter gevolgtrekking kan ons kom?

18 Hoe kan ons dan Jesus se woorde oor “hierdie geslag” verstaan? Die geslag bestaan uit twee oorvleuelende groepe gesalfdes—die eerste groep bestaan uit gesalfdes wat die begin van die vervulling van die teken in 1914 gesien het, en die tweede uit gesalfdes wat ’n ruk lank tydgenote van die eerste groep was. Ten minste party van die tweede groep sal nog lewe wanneer die komende verdrukking begin. Die twee groepe vorm een geslag omdat hulle lewens as gesalfde Christene ’n ruk lank oorvleuel. *

19 Tot watter gevolgtrekking kan ons kom? Wel, ons weet dat die teken van Jesus se teenwoordigheid in Koninkryksmag duidelik regoor die aarde gesien kan word. Ons sien ook dat die gesalfdes wat nog lewe en deel van “hierdie geslag” is, ouer word; maar hulle sal nie almal sterf voordat die groot verdrukking begin nie. Ons kan dus tot die gevolgtrekking kom dat God se Koninkryk inderdaad binnekort sal kom en heerskappy oor die aarde sal uitoefen! Hoe opwindend sal dit tog wees om die vervulling te sien van die gebed wat Jesus ons geleer het: “Laat u koninkryk kom”!

20. Watter belangrike onderwerp sal in hierdie publikasie bespreek word, en wat sal in die volgende hoofstuk ondersoek word?

20 Laat ons nooit die woorde vergeet wat Jehovah vanuit die hemel oor sy Seun gespreek het nie: “Luister na hom.” As ware Christene is ons gretig om daardie opdrag van God te gehoorsaam. Ons stel intens belang in alles wat Jesus oor God se Koninkryk gesê en geleer het. Wat hierdie Koninkryk reeds gedoen het en nog in die toekoms sal doen, is die belangrike onderwerp wat in hierdie publikasie bespreek sal word. In die volgende hoofstuk sal die opwindende verwikkelinge wat met die geboorte van God se Koninkryk in die hemel gepaardgegaan het, ondersoek word.

^ par. 13 Jesus se gelykenis het sy luisteraars heel moontlik aan Argelaus, ’n seun van Herodes die Grote, laat dink. Voor Herodes se dood het hy Argelaus aangewys as die volgende koning van Judea en ander gebiede. Maar voordat Argelaus kon begin regeer, moes hy eers die lang reis na Rome onderneem om die goedkeuring van Augustus Caesar te verkry.

^ par. 18 Enigiemand wat gesalf is ná die dood van die laaste gesalfdes van die eerste groep—dit wil sê ná diegene wat die “begin van weë van benoudheid” in 1914 gesien het—is nie deel van “hierdie geslag” nie.—Matt. 24:8.