Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 14

Lojale ondersteuning van God se regering en geen ander nie

Lojale ondersteuning van God se regering en geen ander nie

KERNGEDAGTE VAN DIE HOOFSTUK

Uit lojaliteit aan die Koninkryk is God se volk geen deel van die wêreld nie

1, 2. (a) Watter beginsel rig Jesus se volgelinge vandag nog? (b) Hoe het vyande die oorhand oor ons probeer kry, en met watter resultaat?

JESUS het voor Pilatus, die Joodse nasie se magtigste sekulêre regter, gestaan en ’n beginsel geuiter wat Sy ware volgelinge vandag nog rig. “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie”, het hy gesê. “As my koninkryk ’n deel van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het sodat ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar my koninkryk is nou eenmaal nie uit hierdie bron nie” (Joh. 18:36). Pilatus het Jesus laat teregstel, maar die oorwinning was kortstondig. Jesus is opgewek. Keisers van die magtige Romeinse Ryk het Christus se volgelinge probeer uitwis, maar hulle pogings was tevergeefs. Christene het die Koninkryksboodskap regdeur die eertydse wêreld versprei.—Kol. 1:23.

2 Nadat die Koninkryk in 1914 opgerig is, het party van die sterkste militêre magte in die geskiedenis God se volk probeer uitwis. Maar nie een kon die oorhand oor ons kry nie. Baie regerings en politieke faksies het ons probeer dwing om kant te kies in hulle konflikte. Hulle het nie daarin geslaag om ons te verdeel nie. Vandag is daar onderdane van die Koninkryk in feitlik elke nasie op die aarde. Nogtans is ons verenig in ’n ware aardwye broederskap en bly ons streng neutraal ten opsigte van die wêreld se politieke aangeleenthede. Ons eenheid voorsien oortuigende bewys dat God se Koninkryk regeer en dat die Koning Jesus Christus voortgaan om sy onderdane te rig, te louter en te beskerm. Kyk hoe hy dit gedoen het, en let op net ’n paar van die geloofversterkende regsoorwinnings wat hy ons gegee het terwyl ons daarna streef om steeds “geen deel van die wêreld” te wees nie.—Joh. 17:14.

’n Geskilpunt ontstaan

3, 4. (a) Wat het ná die Koninkryk se geboorte plaasgevind? (b) Het God se volk nog altyd die neutraliteitsgeskil ten volle verstaan? Verduidelik.

3 Ná die Koninkryk se geboorte het oorlog in die hemel gewoed, en toe is Satan na die aarde neergeslinger. (Lees Openbaring 12:7-10, 12.) ’n Oorlog het ook op die aarde gewoed, ’n oorlog wat die standvastigheid van God se volk op die proef gestel het. Hulle was vasbeslote om Jesus se voorbeeld te volg en geen deel van die wêreld te wees nie. Maar hulle het aanvanklik nie verstaan in watter mate hulle betrokkenheid by alle politieke sake moet vermy nie.

4 Byvoorbeeld, Deel VI van die reeks Millennial Dawn, * wat in 1904 uitgegee is, het Christene aangespoor om nie aan oorlog deel te neem nie. Maar dit het geredeneer dat ’n Christen, as hy wel vir diensplig opgeroep word, ’n vorm van nievegtende diens moet probeer doen. As dit nie moontlik was nie en hy slagveld toe gestuur is, moes hy seker maak dat hy nie moord pleeg nie. Herbert Senior, wat in Brittanje gewoon het en in 1905 gedoop is, het oor hierdie situasie gesê: “Daar was baie verwarring onder die broers en geen duidelike riglyne wat aangedui het of dit reg is om as soldate by die leër aan te sluit as hulle slegs nievegtende werk doen nie.”

5. Hoe het The Watch Tower van 1 September 1915 ons begrip begin verfyn?

5 Maar The Watch Tower van 1 September 1915 het ons begrip van hierdie saak begin verfyn. Aangaande die aanbevelings wat in Studies in the Scriptures gemaak is, het dit gesê: “Ons wonder of so ’n weg nie ’n skending van ons Christelike beginsels sou wees nie.” Maar sê nou ’n Christen word met die dood gedreig omdat hy weier om ’n uniform te dra en diensplig te verrig? Die artikel het geredeneer: “Sal dit enigsins erger wees om geskiet te word weens lojaliteit aan die Vredevors en weiering om Sy bevel te oortree as om geskiet te word terwyl ’n mens onder die banier van hierdie aardse konings is en hulle blykbaar ondersteun en, ten minste op die oog af, in stryd met die leringe van ons Hemelse Koning optree? Van hierdie twee redes om te sterf, sal ons die eerste verkies—om te sterf weens getrouheid aan ons Hemelse Koning.” Ten spyte van hierdie kragtige stelling het die artikel afgesluit met die woorde: “Ons dring nie op hierdie keuse aan nie. Dit is eenvoudig ’n voorstel.”

6. Wat het jy uit broer Herbert Senior se voorbeeld geleer?

6 Party broers het duidelik verstaan wat die regte keuse is en was bereid om die gevolge te dra. Herbert Senior, wat vroeër aangehaal is, het gesê: “Dit was vir my in beginsel dieselfde om ammunisie van ’n skip af te laai [nievegtende diens] en om hierdie ammunisie in ’n geweer te sit om iemand te skiet” (Luk. 16:10). As gevolg van sy gewetensbeswaar teen diensplig, is broer Senior tronk toe gestuur. Hy en 4 ander broers, asook mans van ander godsdienste, was onder ’n groep van 16 gewetensbeswaardes wat deel van hulle tronkstraf in die Richmond-tronk in Brittanje uitgedien het en later as die “Richmond 16” bekend gestaan het. Op een stadium is Herbert en ander soos hy in die geheim na die frontlinie in Frankryk geneem. Daar is hulle tot die dood veroordeel. Hy en ’n paar ander is in ’n ry voor ’n vuurpeloton gesit, maar hulle is toe nie geskiet nie. Hulle vonnis is eerder tot tien jaar tronkstraf versag.

“Ek het begin verstaan dat God se volk met almal in vrede moet lewe, selfs al dreig ’n oorlog.”—Simon Kraker (Sien paragraaf 7)

7. Wat het God se volk teen die begin van die Tweede Wêreldoorlog verstaan?

7 Teen die tyd dat die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, het Jehovah se volk as ’n geheel beter verstaan wat dit beteken om neutraal te wees en wat hulle moet doen as hulle Jesus se voorbeeld wil volg (Matt. 26:51-53; Joh. 17:14-16; 1 Pet. 2:21). The Watchtower van 1 November 1939 het byvoorbeeld die betekenisvolle artikel “Neutraliteit” bevat, wat gesê het: “Die reël waardeur Jehovah se verbondsvolk nou gerig moet word, is dié van streng neutraliteit teenoor die nasies wat oorlog voer.” Aangaande hierdie artikel het Simon Kraker, wat later by die hoofkwartier in Brooklyn, New York, gedien het, gesê: “Ek het begin verstaan dat God se volk met almal in vrede moet lewe, selfs al dreig ’n oorlog.” Hierdie geestelike voedsel is op die regte tyd voorsien en het gehelp om God se volk voor te berei op ’n ongeëwenaarde aanval op hulle lojaliteit aan die Koninkryk.

Bedreig deur ’n “rivier” van teenstand

8, 9. Hoe is die apostel Johannes se profesie vervul?

8 Die apostel Johannes het voorspel dat die draak, Satan die Duiwel, ná die Koninkryk se geboorte in 1914 die ondersteuners van God se Koninkryk sou probeer uitwis deur ’n simboliese rivier uit te spoeg. * (Lees Openbaring 12:9, 15.) Hoe is Johannes se profesie vervul? Vanaf die 1920’s het teenstand teen God se volk grootliks toegeneem. Soos baie ander broers wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Noord-Amerika gewoon het, is broer Kraker weens sy lojaliteit aan God se Koninkryk in die tronk gegooi. Trouens, gedurende die oorlog het Jehovah se Getuies meer as twee-derdes van die gevangenes uitgemaak wat weens godsdiensbesware teen die oorlog in federale gevangenisse in die Verenigde State aangehou is.

9 Die Duiwel en sy agente was daarop uit om Koninkryksonderdane te kry om hulle onkreukbaarheid prys te gee ongeag waar hulle gewoon het. Regoor Afrika, Europa en die Verenigde State moes hulle voor howe en paroolrade verskyn. Weens hulle onwrikbare vasbeslotenheid om neutraal te bly, is hulle in die tronk gesit, geslaan en vermink. In Duitsland is ontsaglike druk op God se volk geplaas omdat hulle geweier het om “Heil Hitler” te sê of aan die oorlog deel te neem. Na raming is 6 000 Getuies gedurende die Nazi-era in gevangeniskampe aangehou, en meer as 1 600 Duitse en nie-Duitse Getuies het deur die toedoen van hulle vervolgers gesterf. Nogtans kon die Duiwel God se volk geen permanente skade berokken nie.—Mark. 8:34, 35.

“Die aarde” verswelg “die rivier”

10. Wat stel “die aarde” voor, en hoe het dit ten behoewe van God se volk ingegryp?

10 Die profesie wat deur die apostel Johannes opgeteken is, het geopenbaar dat “die aarde”—elemente van hierdie stelsel wat redeliker is—“die rivier” van vervolging sou verswelg en sodoende God se volk te hulp sou kom. Hoe is hierdie deel van die profesie vervul? In die dekades ná die Tweede Wêreldoorlog het “die aarde” dikwels ten behoewe van getroue ondersteuners van die Messiaanse Koninkryk ingegryp. (Lees Openbaring 12:16.) Byvoorbeeld, die reg van Jehovah se Getuies om diensplig te weier en om nie aan nasionalistiese seremonies deel te neem nie, is al deur verskeie invloedryke howe beskerm. Kyk eers na net ’n paar van die belangrike oorwinnings wat Jehovah sy volk gegee het in verband met die geskil oor diensplig.—Ps. 68:20.

11, 12. Voor watter geskille het broer Sicurella en broer Thlimmenos te staan gekom, en wat was die uitslag?

11 Verenigde State. Anthony Sicurella was een van ses kinders wat deur Getuie-ouers grootgemaak is. Hy is op 15-jarige ouderdom gedoop. Toe hy 21 geword het, het hy by die dienspligraad as ’n godsdiensbedienaar geregistreer. Twee jaar later, in 1950, het hy aansoek gedoen om eerder as ’n gewetensbeswaarde geklassifiseer te word. Hoewel die verslag van die Federale Speurdiens niks ongunstigs bevat het nie, het die Departement van Justisie sy aansoek afgekeur. Ná etlike regsgedinge het die Amerikaanse Hooggeregshof broer Sicurella se saak verhoor en die laer hof se beslissing nietig verklaar deur ten gunste van broer Sicurella te beslis. Hierdie beslissing het gehelp om ’n presedent te skep vir ander burgers van die Verenigde State wat gewetensbesware teen diensplig het.

12 Griekeland. In 1983 is Iakovos Thlimmenos beskuldig van opstandigheid omdat hy geweier het om ’n militêre uniform te dra, en hy is tot tronkstraf gevonnis. Nadat hy vrygelaat is, het hy aansoek gedoen om ’n rekenmeester te word, maar sy aansoek is afgekeur omdat hy ’n kriminele rekord gehad het. Hy het die saak hof toe geneem, maar nadat hy sy saak in die Griekse howe verloor het, het hy by die Europese Hof van Menseregte (EHMR) appèl aangeteken. In 2000 het die Groot Kamer van die EHMR, ’n paneel wat uit 17 regters bestaan, in sy guns beslis, wat ’n presedent geskep het teen diskriminasie. Voor hierdie beslissing het meer as 3 500 broers in Griekeland ’n kriminele rekord gehad omdat hulle in die tronk gesit is weens hulle neutrale standpunt. Ná hierdie gunstige beslissing het Griekeland ’n wet uitgevaardig om hierdie broers van enige kriminele aanklagte kwyt te skeld. Ook is ’n wet wat alle Griekse burgers die reg gee om alternatiewe burgerlike diens te doen en wat net ’n paar jaar tevore uitgevaardig is, herbevestig toe die Grondwet van Griekeland hersien is.

“Voordat ek in die hofsaal ingegaan het, het ek vurig tot Jehovah gebid, en toe het ek gevoel hoe hy my ’n kalm hart gee.”—Iwailo Stefanof (Sien paragraaf 13)

13, 14. Watter lesse dink jy kan ons uit die sake van Iwailo Stefanof en Vahan Bayatyan leer?

13 Bulgarye. In 1994 is Iwailo Stefanof op 19-jarige ouderdom opgeroep vir diensplig. Hy het geweier om by die leër aan te sluit of om nievegtende pligte onder toesig van die weermag te verrig. Hy is tot 18 maande tronkstraf gevonnis, maar het teen die beslissing geappelleer op grond van sy reg as ’n gewetensbeswaarde. Sy saak is uiteindelik na die EHMR verwys. In 2001, voordat die saak verhoor kon word, is ’n minlike skikking met broer Stefanof bereik. Die Bulgaarse regering het nie net broer Stefanof kwytgeskeld nie, maar ook alle Bulgaarse burgers wat bereid was om alternatiewe burgerlike diens te doen. *

14 Armenië. Vahan Bayatyan is in 2001 opgeroep vir diensplig. * Hy het weens gewetensbesware geweier om diensplig te doen, maar het elke appèlsaak in die plaaslike howe verloor. In September 2002 het hy ’n vonnis van twee en ’n half jaar begin uitdien, maar hy is ná tien en ’n half maande vrygelaat. Gedurende hierdie tyd het hy appèl aangeteken by die EHMR, wat sy saak verhoor het. Op 7 Oktober 2009 het hierdie Hof egter ook teen hom beslis. Die beslissing was vir die broers in Armenië wat met hierdie geskil te kampe gehad het, ’n verpletterende slag. Maar die Groot Kamer van die EHMR het die beslissing hersien. Op 7 Julie 2011 het die Hof ten gunste van Vahan Bayatyan beslis. Dit was die eerste keer dat die EHMR erken het dat gewetensbesware teen diensplig weens ’n persoon se godsdiensoortuigings beskerm moet word op grond van die reg op vryheid van denke, gewete en godsdiens. Hierdie beslissing beskerm nie net die regte van Jehovah se Getuies nie, maar van honderdmiljoene mense in lidlande van die Europese Raad. *

Ná ’n gunstige beslissing deur die EHMR is broers in Armenië uit die tronk vrygelaat

Die geskil van nasionalistiese seremonies

15. Waarom weier Jehovah se volk om aan nasionalistiese seremonies deel te neem?

15 Jehovah se volk bly lojaal aan die Messiaanse Koninkryk deur nie net diensplig te weier nie, maar deur ook respekvol te weier om aan nasionalistiese seremonies deel te neem. Veral sedert die begin van die Tweede Wêreldoorlog het nasionalisme regoor die wêreld versprei. In baie lande is daar van burgers vereis om trou aan hulle vaderland te sweer deur ’n eed af te lê, die volkslied te sing of die landsvlag te salueer. Maar ons gee ons uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah (Eks. 20:4, 5). Daarom het ons ’n vloed van vervolging verduur. Maar Jehovah het weer eens “die aarde” gebruik om van hierdie teenstand te verswelg. Kyk na net ’n paar van die merkwaardige oorwinnings wat Jehovah ons deur middel van Christus in hierdie opsig gegee het.—Ps. 3:8.

16, 17. Voor watter geskil het Lillian en William Gobitas te staan gekom, en wat het jy uit hulle saak geleer?

16 Verenigde State. In 1940 het die Amerikaanse Hooggeregshof met ’n meerderheid van 8 teen 1 teen Jehovah se Getuies beslis in die saak wat bekend staan as Minersville School District v. Gobitis. Lillian Gobitas, * wat 12 was, en haar broer William, wat 10 was, wou aan Jehovah lojaal bly, en daarom het hulle geweier om die vlag te salueer of om die eed af te lê. Gevolglik is hulle uit die skool geskors. Hulle saak is voor die Hooggeregshof gebring, en die Hof het tot die slotsom gekom dat die skool se optrede grondwetlik was omdat dit in die belang van “nasionale eenheid” was. Hierdie beslissing het ’n vlaag van vervolging veroorsaak. Nog Getuiekinders is uit die skool geskors, volwasse Getuies het hulle werk verloor en ’n aantal Getuies moes gewelddadige aanvalle deur oproerige skares verduur. Die boek The Lustre of Our Country sê dat die “vervolging van Getuies van 1941 tot 1943 die ergste geval van godsdiensonverdraagsaamheid in die twintigste eeu in Amerika was”.

17 Die oorwinning wat God se vyande behaal het, was kortstondig. In 1943 het die Hooggeregshof ’n ander saak soortgelyk aan die Gobitis-saak verhoor. Dit staan bekend as West Virginia State Board of Education v. Barnette. Hierdie keer het die Hooggeregshof Jehovah se Getuies die oorwinning gegee. Dit was die eerste keer in die geskiedenis van die VSA dat die Hooggeregshof in so ’n kort tydperk heeltemal van standpunt verander het. Ná hierdie beslissing het die openlike vervolging van Jehovah se volk in die Verenigde State drasties afgeneem. Terselfdertyd is die regte van alle burgers van die Verenigde State bevestig.

18, 19. Wat het Pablo Barros gesê het hom gehelp om standvastig te bly, en hoe kan ander knegte van Jehovah sy voorbeeld volg?

18 Argentinië. Pablo en Hugo Barros, wat onderskeidelik agt en sewe jaar oud was, is in 1976 uit die skool geskors omdat hulle nie aan ’n vlaghysingseremonie deelgeneem het nie. By een geleentheid het die skoolhoof Pablo ’n harde stoot gegee en hom oor die kop geslaan. Sy het albei seuns ’n uur ná skool agtergehou en hulle probeer dwing om aan patriotiese seremonies deel te neem. Aangaande hierdie beproewing het Pablo gesê: “Sonder Jehovah se hulp sou ek nie die druk kon weerstaan het om my onkreukbaarheid prys te gee nie.”

19 Toe die saak voor die hof gebring is, het die regter die skool se besluit om Pablo en Hugo te skors, ondersteun. Maar hulle het by die Hooggeregshof van Argentinië appèl aangeteken. In 1979 het hierdie Hof die laer hof se beslissing nietig verklaar en gesê: “Hierdie straf [skorsing] is in stryd met die grondwetlike reg om te leer (Artikel 14) en die Staat se plig om basiese opvoeding te voorsien (Artikel 5).” Hierdie oorwinning het omtrent 1 000 Getuiekinders tot voordeel gestrek. Party is toe nie geskors nie, en ander, soos jong Pablo en Hugo, is weer tot openbare skole toegelaat.

Talle jong Getuies het ondanks beproewinge getrou gebly

20, 21. Hoe versterk die saak in verband met Roel en Emily Embralinag jou geloof?

20 Die Filippyne. In 1990 is Roel Embralinag, * wat 9 was, en sy suster Emily, wat 10 was, asook ongeveer 66 ander Getuiekinders, uit die skool geskors omdat hulle nie die vlag gesalueer het nie. Roel en Emily se pa, Leonardo, het met die skoolowerheid probeer redeneer, maar tevergeefs. Toe sake vererger, het Leonardo die Hooggeregshof versoek om die saak te verhoor. Leonardo het geen geld gehad nie, en ook geen regsgeleerde om hom te verteenwoordig nie. Die gesin het Jehovah om leiding gesmeek. Intussen is die kinders bespot en beledig. Leonardo was oortuig dat hy nie ’n kans staan om die saak te wen nie, want hy het geen regsopleiding gehad nie.

21 Op die ou end is die gesin verteenwoordig deur Felino Ganal, ’n regsgeleerde wat voorheen vir een van die mees vooraanstaande regsfirma’s in die land gewerk het. Teen die tyd van hierdie saak het broer Ganal sy werk by die firma verlaat en een van Jehovah se Getuies geword. Toe die saak deur die Hooggeregshof verhoor is, het die Hof eenparig ten gunste van die Getuies beslis en die skorsings ongeldig verklaar. Diegene wat die onkreukbaarheid van God se volk probeer ondermyn het, het weer eens gefaal.

Neutraliteit lei tot eenheid

22, 23. (a) Waarom het ons soveel mylpaalregsoorwinnings behaal? (b) Waarvan is ons wêreldwye, vreedsame broederskap ’n bewys?

22 Waarom het Jehovah se volk soveel mylpaalregsoorwinnings behaal? Ons het geen politieke invloed nie. Maar in een land ná die ander en in een hof ná die ander het onpartydige regters ons teen die aanvalle van onversetlike teenstanders beskerm en terselfdertyd grondwetlike presedente geskep. Christus het ons ongetwyfeld gehelp om hierdie oorwinnings te behaal. (Lees Openbaring 6:2.) Waarom voer ons sulke regstryde? Ons wil nie die regstelsel verander nie. Ons doel is eerder om te verseker dat ons ongehinderd kan voortgaan om ons Koning, Jesus Christus, te dien.—Hand. 4:29.

23 Te midde van ’n wêreld wat deur politieke konflikte verdeel en diepgewortelde haat verderf word, het ons heersende Koning, Jesus Christus, die pogings wat sy volgelinge regoor die wêreld aangewend het om hulle neutrale standpunt te handhaaf, geseën. Satan het misluk in sy pogings om ons te verdeel en te oorwin. Die Koninkryk het miljoene versamel wat weier om te “leer om oorlog te voer”. Die blote bestaan van ons wêreldwye, vreedsame broederskap, is ’n wonderwerk—dit voorsien onweerlegbare bewys dat God se Koninkryk regeer!—Jes. 2:4.

^ par. 4 Hierdie deel staan ook bekend as The New Creation. Later is die Millennial Dawn-boeke Studies in the Scriptures genoem.

^ par. 8 Vir ’n bespreking van hierdie profesie, sien die publikasie Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!, hoofstuk 27, bladsye 184-186.

^ par. 13 Die skikking het ook vereis dat die Bulgaarse regering alternatiewe burgerlike diens onder toesig van ’n burgerlike owerheid aan alle gewetensbeswaardes bied.

^ par. 14 Vir ’n vollediger verslag, sien die artikel “Europese Hof handhaaf die reg op gewetensbeswaar” in Die Wagtoring van 1 November 2012.

^ par. 14 Oor ’n tydperk van 20 jaar het die regering van Armenië meer as 450 jong Getuies opgesluit. In November 2013 is die laaste van hierdie jong mans uit die tronk vrygelaat.

^ par. 16 Die gesin se van is in die hof se verslae verkeerd gespel.

^ par. 20 Die gesin se van is in die hof se verslae verkeerdelik “Ebralinag” gespel.