Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 6

Mense wat preek​—Bedienaars bied hulle gewillig aan

Mense wat preek​—Bedienaars bied hulle gewillig aan

KERNGEDAGTE VAN DIE HOOFSTUK

Die Koning bring ’n leër van predikers op die been

1, 2. Watter groot werk het Jesus voorspel, en watter belangrike vraag ontstaan?

POLITIEKE HEERSERS maak dikwels beloftes wat onvervuld bly. Selfs diegene met die beste bedoelings kan dalk nie hulle beloftes nakom nie. In verfrissende teenstelling kom die Messiaanse Koning, Jesus Christus, altyd sy woord na.

2 Nadat Jesus in 1914 Koning geword het, was hy gereed om ’n profesie te vervul wat hy ongeveer 1 900 jaar vroeër gegee het. Kort voor sy dood het Jesus voorspel: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word” (Matt. 24:14). Die vervulling van hierdie woorde sou deel uitmaak van die teken van sy teenwoordigheid in Koninkryksmag. Maar ’n belangrike vraag ontstaan: Hoe sou die Koning in die laaste dae—’n tydperk wat gekenmerk sou word deur ’n selfsugtige, liefdelose en ongodsdienstige gees—’n leër van gewillige predikers op die been bring? (Matt. 24:12; 2 Tim. 3:1-5). Ons moet weet, want die antwoord op hierdie vraag raak alle ware Christene.

3. Watter vertroue het Jesus uitgespreek, en waar het hy hierdie vertroue gekry?

3 Kyk weer na Jesus se profetiese woorde. Getuig die woorde ‘sal verkondig word’ van vertroue? Beslis! Jesus was seker dat hy in die laaste dae gewillige ondersteuners sou hê. Waar het hy hierdie vertroue gekry? Hy het dit by sy Vader geleer (Joh. 12:45; 14:9). Gedurende sy voormenslike bestaan het Jesus eerstehands gesien dat Jehovah vertroue in die gewillige gees van Sy aanbidders het. Kom ons kyk hoe Jehovah hierdie vertroue getoon het.

“U volk sal hulle gewillig aanbied”

4. Watter werk het Jehovah die Israeliete genooi om te ondersteun, en hoe het hulle gereageer?

4 Dink aan wat gebeur het toe Jehovah Moses aangesê het om die tabernakel, of tent, op te rig wat die sentrum van aanbidding vir die nasie Israel sou wees. Jehovah het die hele volk deur Moses genooi om die werk te ondersteun. Moses het vir hulle gesê: “Laat elkeen wat gewillig van hart is, dit as Jehovah se bydrae bring.” Die gevolg? Die volk het “oggend na oggend vir hom ’n vrywillige gawe gebring”. Hulle het soveel gebring dat hulle daarvan weerhou moes word om nog enigiets te bring! (Eks. 35:5; 36:3, 6). Die Israeliete het bewys dat Jehovah se vertroue in hulle nie misplaas was nie.

5, 6. Watter gees het Jehovah en gevolglik Jesus volgens Psalm 110:1-3 verwag om in die tyd van die einde onder ware aanbidders te vind?

5 Het Jehovah verwag dat sy aanbidders in die laaste dae so ’n gewillige gees sou openbaar? Ja! Meer as 1 000 jaar voordat Jesus op die aarde gebore is, het Jehovah Dawid geïnspireer om te skryf oor die tyd wanneer die Messias sou begin regeer. (Lees Psalm 110:1-3.) Jesus, die pas gekroonde Koning, sou vyande hê wat hom sou teëstaan. Maar hy sou ook ’n leër van ondersteuners hê. Dit sou nie nodig wees om hulle te dwing om die Koning te dien nie. Selfs die jonges onder hulle sou hulle gewillig aanbied; hulle sou so ’n groot menigte word dat hulle gepas vergelyk kon word met tallose doudruppels wat die grond in die oggendson bedek. *

Gewillige Koninkryksondersteuners is so talryk soos doudruppels (Sien paragraaf 5)

6 Jesus het geweet dat die profesie in Psalm 110 op hom van toepassing is (Matt. 22:42-45). Daarom het hy goeie rede gehad om die vertroue te hê dat hy lojale ondersteuners sou hê wat hulle gewillig sou aanbied om die goeie nuus regoor die aarde te verkondig. Wat toon die geskiedenis? Het die Koning werklik in hierdie laaste dae ’n leër van gewillige predikers op die been gebring?

“Dit is my voorreg en plig om hierdie boodskap bekend te maak”

7. Watter stappe het Jesus gedoen nadat hy as Koning gekroon is om sy ondersteuners voor te berei vir die werk wat voorgelê het?

7 Kort nadat Jesus as Koning gekroon is, het hy stappe gedoen om sy volgelinge voor te berei vir die ontsaglike werk wat gedoen moes word. Soos ons in Hoofstuk 2 gesien het, het hy van 1914 tot vroeg in 1919 ’n inspeksie- en reinigingswerk gedoen (Mal. 3:1-4). Toe het hy later in 1919 die getroue slaaf aangestel om die leiding onder sy volgelinge te neem (Matt. 24:45). Van daardie tyd af het hierdie slaaf geestelike voedsel begin voorsien—deur middel van streekbyeenkomstoesprake en gedrukte publikasies—wat herhaaldelik beklemtoon het dat alle Christene die verantwoordelikheid het om persoonlik ’n aandeel aan die predikingswerk te hê.

8-10. Hoe het streekbyeenkomste die predikingswerk bevorder? Gee ’n voorbeeld. (Sien ook die venster “ Vroeë streekbyeenkomste wat die predikingswerk bevorder het”.)

8 Streekbyeenkomstoesprake. Die Bybelstudente, wat gretig was om leiding te ontvang, het van 1 tot 8 September 1919 by Cedar Point, Ohio, VSA, bymekaargekom vir hulle eerste groot streekbyeenkoms ná die Eerste Wêreldoorlog. Op die tweede dag het broer Rutherford ’n toespraak gehou waarin hy reguit vir die byeenkomsgangers gesê het: “’n Christen se taak op aarde . . . is om die Here se koninkryk . . . te verkondig.”

9 Hierdie byeenkoms het drie dae later ’n hoogtepunt bereik toe broer Rutherford die toespraak gehou het met die titel “Toespraak aan mede-arbeiders”, wat in The Watch Tower onder die titel “Kondig die Koninkryk aan” gepubliseer is. Hy het gesê: “Wanneer ’n Christen ernstig oor dinge nadink, vra hy hom vanselfsprekend af: Waarom is ek op die aarde? En die antwoord moet noodwendig wees: Die Here het my goedgunstiglik sy gesant gemaak om die goddelike boodskap van versoening aan die wêreld oor te dra, en dit is my voorreg en plig om hierdie boodskap bekend te maak.”

10 In hierdie geskiedkundige toespraak het broer Rutherford aangekondig dat ’n nuwe tydskrif, The Golden Age (nou die Ontwaak!), gepubliseer sou word om mense te rig na die Koninkryk as die mensdom se enigste hoop. Hy het toe gevra hoeveel in die gehoor aan die verspreiding van hierdie tydskrif wil deelneem. ’n Verslag oor die byeenkoms het gesê: “Die reaksie was ’n uiters aanmoedigende gesig. Sesduisend mense het soos een man opgestaan.” * Dit was duidelik dat die Koning gewillige ondersteuners gehad het wat gretig was om sy Koninkryk te verkondig!

11, 12. Wat het The Watch Tower in 1920 gesê oor wanneer die werk wat Jesus voorspel het, gedoen sou word?

11 Gedrukte publikasies. Deur middel van die bladsye van The Watch Tower het die belangrikheid van die werk wat Jesus voorspel het—naamlik die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk—al hoe duideliker geword. Kyk na ’n paar voorbeelde uit die vroeë 1920’s.

12 Watter boodskap sou ter vervulling van Matteus 24:14 verkondig word? Wanneer sou hierdie werk gedoen word? The Watch Tower van 1 Julie 1920 het die boodskap in die artikel “Evangelie van die Koninkryk” verduidelik en gesê: “Hierdie goeie nuus handel oor die einde van die ou orde van dinge en die oprigting van die Messias se koninkryk.” Die artikel het duidelik getoon wanneer hierdie boodskap verkondig sou word en gesê: “Hierdie boodskap moet tussen die tyd van die groot wêreldoorlog [die Eerste Wêreldoorlog] en die tyd van die ‘groot verdrukking’ bekend gemaak word.” Die artikel het dus gesê: “Dit is nou die tyd . . . om hierdie goeie nuus wyd en syd in die Christendom te verkondig.”

13. Hoe het The Watch Tower in 1921 ’n beroep gedoen op die gewillige gees van gesalfde Christene?

13 Sou druk op God se volk uitgeoefen word om die werk te doen wat Jesus voorspel het? Nee. Die artikel “Hou goeie moed” in The Watch Tower van 15 Maart 1921 het ’n beroep gedoen op die gewillige gees van gesalfde Christene. Elkeen is aangespoor om hom af te vra: “Is dit nie my grootste voorreg, asook my plig, om aan hierdie werk deel te neem nie?” Die artikel het verder gesê: “Ons is seker dat jy, wanneer jy dit beskou [as ’n voorreg om aan die werk deel te neem], soos Jeremia sal wees, in wie se hart die woord van die Here was ‘soos ’n brandende vuur, opgesluit in [sy] gebeente’, wat hom so aangespoor het dat hy eenvoudig nie kon stilbly nie” (Jer. 20:9). Hierdie hartlike aansporing was ’n weerspieëling van die vertroue wat Jehovah en Jesus in lojale Koninkryksondersteuners het.

14, 15. Hoe moes gesalfde Christene volgens die aansporing in 1922 in The Watch Tower ander bereik?

14 Hoe moet ware Christene ander met die Koninkryksboodskap bereik? Die kort maar kragtige artikel “Diens is noodsaaklik” in The Watch Tower van 15 Augustus 1922 het gesalfde Christene aangespoor om “die gedrukte boodskap daadwerklik na die mense te neem en by hulle deure met hulle te praat en te getuig dat die koninkryk van die hemel op hande is”.

15 Dit is duidelik dat Christus vanaf 1919 sy getroue en verstandige slaaf gebruik het om herhaaldelik te beklemtoon dat dit ’n Christen se voorreg en plig op die aarde is om die Koninkryksboodskap te verkondig. Maar hoe het die vroeë Bybelstudente gereageer op die aansporing om aan die Koninkrykspredikingswerk deel te neem?

“Die getroues sal vrywilligers wees”

16. Hoe het party van die verkose ouer manne gereageer op die idee dat almal aan die bediening moet deelneem?

16 In die 1920’s en 1930’s het party die idee teëgestaan dat alle gesalfde Christene aan die bediening moet deelneem. The Watch Tower van 1 November 1927 het verduidelik wat besig was om te gebeur: “Daar is vandag diegene in die kerk [gemeente] met die verantwoordelike posisie van ouer man . . . wat weier om hulle broers aan te spoor om ’n aandeel aan die bediening te hê en wat weier om self aan die bediening deel te neem. . . . Hulle toon minagting vir die voorstel om van deur tot deur te gaan om die boodskap van God, sy Koning en sy koninkryk aan die mense bekend te maak.” Die artikel het reguit gesê: “Die tyd het gekom vir die getroues om sulke persone te merk en hulle te vermy en om vir hulle te sê dat ons die amp van ouermanskap nie meer aan sulke mans sal toevertrou nie.” *

17, 18. Hoe het die meeste in die gemeentes op die riglyne van die hoofkwartier gereageer, en hoe het miljoene oor die afgelope 100 jaar gereageer?

17 Gelukkig het die meeste in die gemeentes geesdriftig op die riglyne van die hoofkwartier gereageer. Hulle het dit as ’n voorreg beskou om die Koninkryksboodskap bekend te maak. The Watch Tower van 15 Maart 1926 het dit so gestel: “Die getroues sal vrywilligers wees . . . om mense van hierdie boodskap te vertel.” Hierdie getroues het ag geslaan op die profetiese woorde in Psalm 110:3 en het bewys dat hulle gewillige ondersteuners van die Messiaanse Koning is.

18 Oor die afgelope 100 jaar het miljoene hulle gewillig aangebied om die Koninkrykspredikingswerk te doen. In die volgende paar hoofstukke sal ons bespreek hoe hulle gepreek het—die metodes en hulpmiddele wat hulle gebruik het—en wat die resultate was. Maar kom ons bespreek eers waarom miljoene vrywillig aan hierdie Koninkrykspredikingswerk deelgeneem het, al het hulle in ’n selfsugtige wêreld gelewe. Terwyl ons kyk waarom, sal dit goed wees as ons ons afvra: ‘Waarom praat ek met ander oor die goeie nuus?’

‘Hou aan om eers die koninkryk te soek’

19. Waarom slaan ons ag op Jesus se aansporing om ‘aan te hou om eers die koninkryk te soek’?

19 Jesus het sy volgelinge aangespoor om ‘aan te hou om eers die koninkryk te soek’ (Matt. 6:33). Waarom slaan ons ag op hierdie aansporing? Basies omdat ons besef hoe belangrik die Koninkryk is—dat dit ’n fundamentele rol in God se voorneme speel. Soos ons in die vorige hoofstuk gesien het, het die heilige gees opwindende waarhede oor die Koninkryk geleidelik geopenbaar. Wanneer kosbare Koninkrykswaarheid ons hart raak, kan ons nie anders as om eers hierdie Koninkryk te soek nie.

Soos ’n man wat verheug is wanneer hy ’n verborge skat vind, is Christene verheug dat hulle Koninkrykswaarheid gevind het (Sien paragraaf 20)

20. Hoe toon Jesus se illustrasie van die verborge skat hoe sy volgelinge sou reageer op die aansporing om eers die Koninkryk te soek?

20 Jesus het geweet hoe sy volgelinge sou reageer op die aansporing om eers die Koninkryk te soek. Kyk na sy illustrasie van die verborge skat. (Lees Matteus 13:44.) Terwyl die arbeider in die illustrasie sy daaglikse werk in die veld verrig, kom hy op ’n verborge skat af en besef hy onmiddellik hoe waardevol dit is. Wat doen hy? “Weens die vreugde wat hy het, gaan hy en verkoop wat hy het en koop hy daardie veld.” Wat is die les vir ons? Wanneer ons Koninkrykswaarheid vind en besef hoe waardevol dit is, sal ons met vreugde die nodige opofferings maak sodat ons Koninkryksbelange kan hou waar dit hoort—eerste in ons lewe. *

21, 22. Hoe toon lojale Koninkryksondersteuners dat hulle eers die Koninkryk soek? Gee ’n voorbeeld.

21 Lojale Koninkryksondersteuners toon deur dade, nie net woorde nie, dat hulle eers die Koninkryk soek. Hulle wy hulle lewe, hulle vermoëns en hulle middele aan die Koninkrykspredikingswerk. Baie het groot opofferings gemaak om in die voltydse diens te wees. Al hierdie gewillige predikers het eerstehands gesien dat Jehovah diegene seën wat die Koninkryk eerste stel. Kyk na ’n voorbeeld uit die vroeë dae.

22 Avery en Lovenia Bristow het in die laat 1920’s saam as kolporteurs (pioniers) in die suide van die Verenigde State begin dien. Jare later het Lovenia gesê: “Ek en Avery het sedertdien talle gelukkige jare saam in die pionierdiens geniet. Baie keer het ons nie geweet waar die geld vir brandstof of kruideniersware vandaan sou kom nie. Maar Jehovah het op die een of ander manier altyd in ons behoeftes voorsien. Ons het eenvoudig aangehou om aan te hou. Ons het altyd gehad wat ons werklik nodig gehad het.” Lovenia het een geleentheid onthou toe hulle in Pensacola, Florida, gedien het en min geld en kruideniersware gehad het. Toe hulle by hulle woonwa terugkom, het hulle twee groot sakke kruideniersware gevind, tesame met ’n nota wat gesê het: “Met liefde van die Pensacola-groep.” * Lovenia het oor haar dekades in die voltydse diens gesê: “Jehovah versaak ons nooit. Hy stel ons nooit teleur as ons op hom vertrou nie.”

23. Hoe voel jy oor die Koninkrykswaarheid wat jy gevind het, en wat is jy vasbeslote om te doen?

23 Ons kan nie almal ewe veel in die predikingswerk doen nie. Ons omstandighede verskil. Maar ons almal kan dit as ’n voorreg beskou om die goeie nuus heelhartig te verkondig (Kol. 3:23). Omdat ons die kosbare Koninkrykswaarheid wat ons gevind het, hoog op prys stel, is ons gewillig—ja, gretig—om enige opoffering te maak wat ons kan om soveel moontlik te doen. Is dit nie jou vaste voorneme nie?

24. Wat is een van die grootste dinge wat die Koninkryk in die laaste dae bereik het?

24 Oor die afgelope eeu het die Koning beslis sy profetiese woorde in Matteus 24:14 vervul. En hy het dit gedoen sonder om dwang te gebruik. Nadat sy volgelinge uit hierdie selfsugtige wêreld gekom het, het hulle hulle gewillig aangebied om te preek. Hulle wêreldwye verkondiging van die goeie nuus is deel van die teken van Jesus se teenwoordigheid in Koninkryksmag—en een van die grootste dinge wat die Koninkryk in die laaste dae bereik het.

^ par. 5 In die Bybel word dou met oorvloed geassosieer.—Gen. 27:28; Miga 5:7.

^ par. 10 Die pamflet To Whom the Work Is Entrusted het verduidelik: “The Golden Age-werk is ’n huis-tot-huis-werwing met die koninkryksboodskap. . . . Benewens die werwing moet ’n eksemplaar van The Golden Age by elke huis gelaat word, hetsy ’n intekening geneem word of nie.” Daarna is die broers jare lank aangespoor om vir mense intekeninge op The Golden Age sowel as The Watch Tower aan te bied. Vanaf 1 Februarie 1940 is Jehovah se volk aangespoor om afsonderlike eksemplare van die tydskrifte te versprei en te rapporteer hoeveel hulle versprei het.

^ par. 16 Ouer manne is destyds demokraties deur die gemeente verkies. ’n Gemeente kon dus weier om vir mans te stem wat die bediening teëstaan. Die verandering tot die teokratiese aanstelling van ouer manne sal in Hoofstuk 12 bespreek word.

^ par. 20 Jesus het ’n soortgelyke punt gemaak in sy illustrasie van ’n reisende koopman wat ’n pêrel van groot waarde gaan soek. Wanneer die koopman dit vind, verkoop hy alles wat hy het en koop hy dit (Matt. 13:45, 46). Die twee gelykenisse leer ons ook dat ons op verskillende maniere van Koninkrykswaarheid te wete kan kom. Party kom as ’t ware toevallig daarop af; ander soek daarna. Maar ongeag hoe ons die waarheid vind, ons is bereid om opofferings te maak sodat ons die Koninkryk eerste in ons lewe kan stel.

^ par. 22 Gemeentes is destyds groepe genoem