Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 10

Die Koning louter sy volk geestelik

Die Koning louter sy volk geestelik

KERNGEDAGTE VAN DIE HOOFSTUK

Waarom en hoe Jesus sy volgelinge geestelik gelouter en gereinig het

1-3. Wat het Jesus gedoen toe hy sien dat die tempel verontreinig word?

JESUS het groot respek vir die tempel in Jerusalem gehad omdat hy geweet het wat dit verteenwoordig. Die tempel was al lank die middelpunt van ware aanbidding op die aarde. Maar hierdie aanbidding—die aanbidding van die heilige God, Jehovah—moet rein en onbesmet wees. Stel jou dus voor hoe Jesus gevoel het toe hy op 10 Nisan 33 HJ by die tempel kom en sien dat dit verontreinig word. Wat het gebeur?—Lees Matteus 21:12, 13.

2 In die Voorhof van die Heidene het gierige handelaars en geldwisselaars die aanbidders wat gekom het om offerandes aan Jehovah te bring, uitgebuit. * Jesus het “almal wat in die tempel verkoop en koop, uitgedryf en die tafels van die geldwisselaars . . . omgekeer”. (Vergelyk Nehemia 13:7-9.) Hy het daardie selfsugtige mans veroordeel omdat hulle sy Vader se huis in “’n rowerspelonk” verander het. So het Jesus sy respek getoon vir die tempel en wat dit verteenwoordig het. Die aanbidding van sy Vader moes rein gehou word!

3 Eeue later het Jesus, nadat hy as Messiaanse Koning gekroon is, weer ’n tempel gereinig—’n tempel wat almal raak wat Jehovah vandag op aanneemlike wyse wil aanbid. Watter tempel het hy toe gereinig?

“Die seuns van Levi” word gereinig

4, 5. (a) Hoe is Jesus se gesalfde volgelinge van 1914 tot vroeg in 1919 gelouter en gereinig? (b) Was dit die einde van die loutering en reiniging van God se volk? Verduidelik.

4 Soos ons in Hoofstuk 2 van hierdie publikasie gesien het, het Jesus, nadat hy in 1914 op die troon geplaas is, saam met sy Vader gekom om die geestelike tempel—die reëling vir rein aanbidding—te inspekteer. * Weens hierdie inspeksie het die Koning gesien dat gesalfde Christene, “die seuns van Levi”, gelouter en gereinig moet word (Mal. 3:1-3). Die Louteraar, Jehovah, het van 1914 tot vroeg in 1919 toegelaat dat sy volk verskeie beproewinge en ontberinge verduur wat hulle gelouter en gereinig het. Gelukkig het daardie gesalfdes in ’n reiner toestand uit daardie vurige beproewinge gekom, gretig om te toon dat hulle die Messiaanse Koning ondersteun!

5 Was dit die einde van die loutering en reiniging van God se volk? Nee. Regdeur die laaste dae het Jehovah voortgegaan om die Messiaanse Koning te gebruik om sy volgelinge te help om rein te wees sodat hulle in die geestelike tempel kan bly. In die volgende twee hoofstukke sal ons sien hoe hy hulle op sedelike en organisatoriese gebied gelouter het. Maar kom ons bespreek eers geestelike reiniging. Dit is geloofversterkend om te kyk wat Jesus gedoen het—op duidelik herkenbare maniere sowel as agter die skerms—om sy volgelinge te help om geestelik rein te wees.

“Hou julle rein”

6. Hoe help Jehovah se bevele aan die Joodse ballinge ons om te verstaan wat geestelike reinheid behels?

6 Wat is geestelike reinheid? Om dit te beantwoord, sal ons ondersoek wat Jehovah gesê het vir die Joodse ballinge toe hulle in die sesde eeu VHJ op die punt gestaan het om Babilon te verlaat. (Lees Jesaja 52:11.) Daardie ballinge het na Jerusalem teruggekeer hoofsaaklik om die tempel te herbou en ware aanbidding te herstel (Esra 1:2-4). Jehovah wou hê dat sy volk alle spore van Babilon se godsdiens moes agterlaat. Let op dat hy hulle ’n reeks bevele gegee het: “Raak aan niks wat onrein is nie”, “gaan uit haar uit” en “hou julle rein”. Jehovah se rein aanbidding moenie deur valse aanbidding besmet word nie. Tot watter gevolgtrekking kan ons dan kom? Geestelike reinheid behels dat ons moet wegbly van die leringe en gebruike van valse godsdiens.

7. Deur watter kanaal help Jesus sy volgelinge om geestelik rein te wees?

7 Kort nadat Jesus as Koning gekroon is, het hy ’n duidelik herkenbare kanaal ingestel waardeur hy sy volgelinge help om geestelik rein te bly. Hierdie kanaal is die getroue en verstandige slaaf, wat Christus in 1919 aangestel het (Matt. 24:45). Teen daardie jaar het die Bybelstudente hulle reeds van talle valse godsdiensleringe gereinig. Maar hulle moes nog verdere geestelike reiniging ondergaan. Christus het sy volgelinge deur sy getroue slaaf geleidelik ingelig oor verskeie vierings en gebruike wat hulle moes laat staan (Spr. 4:18). Kom ons bespreek ’n paar voorbeelde.

Moet Christene Kersfees vier?

8. Wat het die Bybelstudente al lank omtrent Kersfees erken, maar wat het hulle nog nie duidelik verstaan nie?

8 Die Bybelstudente het al lank erken dat Kersfees ’n heidense oorsprong het en dat Jesus nie op 25 Desember gebore is nie. Zion’s Watch Tower van Desember 1881 het gesê: “Miljoene is uit die Heidendom in die kerk ingebring. Maar die verandering was grotendeels net in naam, want die heidense priesters het christelike priesters geword, en die heidense vakansiedae is christelike name gegee. Een van hierdie vakansiedae is Kersfees.” In 1883 het die Watch Tower onder die titel “Wanneer is Jesus gebore?” geredeneer dat Jesus omstreeks die begin van Oktober gebore is. * Tog het die Bybelstudente destyds nog nie duidelik verstaan dat hulle moes ophou om Kersfees te vier nie. Selfs lede van die Bethelgesin in Brooklyn het dit aanhou vier. Maar ná 1926 het dinge begin verander. Waarom?

9. Wat het die Bybelstudente omtrent Kersfees besef?

9 As gevolg van ’n diepgaande, noukeuriger ondersoek van die onderwerp het die Bybelstudente besef dat die oorsprong van Kersfees en die gebruike wat daarmee gepaardgaan, God in werklikheid onteer. Die artikel “Die oorsprong van Kersfees”, in The Golden Age van 14 Desember 1927, het gesê dat Kersfees ’n heidense viering is, om genot draai en afgodediens behels. Die artikel het dit duidelik gestel dat die viering nie deur Christus beveel is nie en het afgesluit deur reguit oor Kersfees te sê: “Die feit dat die wêreld, die vlees en die Duiwel ten gunste is van die voortbestaan en viering daarvan, . . . is ’n finale en deurslaggewende rede waarom diegene wat ten volle aan die diens van Jehovah toegewy is, dit nie moet vier nie.” Dit is dus nie verbasend dat die Bethelgesin nie daardie Desember—of ooit weer—Kersfees gevier het nie!

10. (a) Hoe is die oorsprong van Kersfees in Desember 1928 duidelik blootgelê? (Sien ook die venster “ Kersfees—Die oorsprong en doel daarvan”.) (b) Hoe is God se volk gewaarsku teen ander vakansiedae en vierings wat hulle moes vermy? (Sien die venster “ Ander vakansiedae en vierings word blootgelê”.)

10 Die volgende jaar is die heidense oorsprong van Kersfees selfs duideliker vir die Bybelstudente blootgelê. Op 12 Desember 1928 het broer Richard H. Barber, ’n lid van die hoofkwartierpersoneel, ’n radiotoespraak gehou wat die onrein oorsprong van hierdie vakansiedag blootgelê het. Hoe het God se volk op die duidelike leiding van die hoofkwartier gereageer? Broer Charles Brandlein het aangaande die tyd toe hy en sy gesin opgehou het om Kersfees te vier, gesê: “Was dit vir ons moeilik om hierdie heidense dinge te laat staan? Glad nie! . . . Dit was soos om ’n vuil kledingstuk uit te trek en dit weg te gooi.” Broer Henry A. Cantwell, wat later as ’n reisende opsiener gedien het, het ’n soortgelyke gees geopenbaar deur te sê: “Ons was bly om iets prys te gee om ons liefde vir Jehovah te bewys.” Christus se lojale volgelinge was bereid om die nodige veranderinge aan te bring en geen aandeel te hê aan ’n viering wat uit onrein aanbidding voortgespruit het nie.—Joh. 15:19; 17:14. *

11. Hoe kan ons toon dat ons die Messiaanse Koning ondersteun?

11 Wat ’n goeie voorbeeld het hierdie getroue Bybelstudente tog vir ons gestel! Met hulle voorbeeld in gedagte kan ons ons gerus afvra: ‘Hoe beskou ek die leiding wat ons van die hoofkwartier ontvang? Aanvaar ek dit met dankbaarheid en pas ek toe wat ek leer?’ Deur ons gewillige gehoorsaamheid toon ons dat ons die Messiaanse Koning ondersteun, wat die getroue slaaf gebruik om tydige geestelike voedsel te voorsien.—Hand. 16:4, 5.

Moet Christene die kruis gebruik?

Die kruis-en-kroon-simbool (Sien paragrawe 12 en 13)

12. Hoe het die Bybelstudente die kruis jare lank beskou?

12 Die Bybelstudente het die kruis jare lank as ’n aanvaarbare simbool van die Christelike geloof beskou. Hulle het beslis nie gevoel dat die kruis aanbid moet word nie, want hulle het verstaan dat afgodediens verkeerd is (1 Kor. 10:14; 1 Joh. 5:21). Reeds in 1883 het die Watch Tower reguit gesê dat “alle afgodediens vir God verfoeilik is”. Maar die Bybelstudente het aanvanklik nie gedink dat daar enige beswaar is teen wat hulle as gepaste gebruike van die kruis beskou het nie. Byvoorbeeld, hulle het met trots ’n kruis-en-kroon-speld gedra om hulle te identifiseer. Vir hulle het dit aangedui dat hulle die kroon van die lewe sou ontvang as hulle tot die dood getrou bly. Vanaf 1891 het ’n kruis-en-kroon-simbool op die voorblad van die Watch Tower verskyn.

13. Watter verligting het Christus se volgelinge oor die gebruik van die kruis ontvang? (Sien ook die venster “ Progressiewe verligting oor die gebruik van die kruis”.)

13 Die Bybelstudente het die kruis-en-kroon-simbool gekoester. Maar vanaf die laat 1920’s het Christus se volgelinge progressiewe verligting oor die gebruik van die kruis ontvang. Broer Grant Suiter, wat later op die Bestuursliggaam gedien het, het oor die byeenkoms wat in 1928 in Detroit, Michigan, VSA, gehou is, gesê: “By die byeenkoms is daar getoon dat die kruis-en-kroon-simbool nie net onnodig is nie, maar afkeurenswaardig.” Gedurende die volgende paar jaar het hulle nog verligting ontvang. Dit was duidelik dat die kruis geen plek het in aanbidding wat onbesmet en geestelik rein is nie.

14. Hoe het God se volk gereageer op die progressiewe verligting wat hulle oor die kruis ontvang het?

14 Hoe het God se volk gereageer op die progressiewe verligting wat hulle oor die kruis ontvang het? Het hulle vasgeklou aan die kruis-en-kroon-simbool, wat hulle so na aan die hart gelê het? “Ons het dit maklik opgegee toe ons besef waarvoor dit staan”, het Lela Roberts, ’n suster wat Jehovah al lank dien, vertel. Nog ’n getroue suster, Ursula Serenco, het die gevoelens van baie opgesom toe sy gesê het: “Ons het besef dat wat ons as ’n simbool of afbeelding van die dood van ons Here en van ons Christelike toegewydheid beskou het, in werklikheid ’n heidense simbool is. Ons was dankbaar dat die pad al hoe helderder geword het, soos Spreuke 4:18 sê.” Christus se lojale volgelinge wou geen aandeel aan die onrein gebruike van valse godsdiens hê nie!

15, 16. Hoe kan ons toon dat ons vasbeslote is om die aardse voorhowe van Jehovah se geestelike tempel rein te hou?

15 Vandag is ons vasbeslote om hulle lojale voorbeeld te volg. Ons erken dat Christus ’n duidelik herkenbare kanaal—sy getroue en verstandige slaaf—gebruik om sy volk geestelik rein te help bly. Wanneer die geestelike voedsel wat ons ontvang, ons waarsku teen vierings of gebruike wat deur valse godsdiens besmet is, tree ons dus dadelik en gehoorsaam op. Soos ons broers en susters wat in die vroeë deel van Christus se teenwoordigheid gelewe het, is ons vasbeslote om die aardse voorhowe van Jehovah se geestelike tempel rein te hou.

16 Regdeur die laaste dae het Christus ook agter die skerms gewerk om die gemeentes van Jehovah se volk te beskerm teen individue wat geestelike besmetting kan veroorsaak. Hoe het hy dit gedoen? Kom ons kyk.

‘Die goddeloses word onder die regverdiges uit afgeskei’

17, 18. In die illustrasie van die sleepnet, wat beteken dit dat (a) die sleepnet in die see laat sak word, (b) allerhande soorte vis bymekaargebring word, (c) die goeie vis in houers bymekaargemaak word en (d) die vis wat nie geskik is nie, weggegooi word?

17 Die Koning Jesus Christus hou ’n waaksame oog oor die gemeentes van God se volk regoor die aarde. Christus en die engele doen ’n skeidingswerk op maniere wat ons nie ten volle kan begryp nie. Jesus het hierdie werk in sy illustrasie van die sleepnet beskryf. (Lees Matteus 13:47-50.) Wat beteken die illustrasie?

Die sleepnet stel die Koninkrykspredikingswerk voor wat oral in die see van die mensdom gedoen word (Sien paragraaf 18)

18 ‘’n Sleepnet word in die see laat sak.’ Die sleepnet stel die Koninkrykspredikingswerk voor wat oral in die see van die mensdom gedoen word. ‘Allerhande soorte vis word bymekaargebring.’ Die goeie nuus lok alle soorte mense—diegene wat stappe doen om ware Christene te word, asook baie ander wat aanvanklik ’n mate van belangstelling toon, maar nie werklik ’n standpunt vir rein aanbidding inneem nie. * ‘Die goeies word in houers bymekaargemaak.’ Opregtes van hart word in houeragtige gemeentes ingesamel, waar hulle rein aanbidding aan Jehovah kan verrig. Die vis ‘wat nie geskik is nie’, word weggegooi. Regdeur die laaste dae skei Christus en die engele “die goddeloses onder die regverdiges uit”. * Gevolglik word diegene wat nie die regte hartstoestand het nie—wat dalk nie bereid is om verkeerde opvattings of gebruike te laat vaar nie—nie toegelaat om die gemeentes te besmet nie. *

19. Hoe voel jy oor wat Christus gedoen het om die reinheid van God se volk en die suiwerheid van ware aanbidding te bewaar?

19 Is dit nie gerusstellend om te weet dat ons Koning, Jesus Christus, diegene onder sy sorg beskerm nie? En is dit nie vertroostend om te weet dat sy ywer vir ware aanbidding—en ware aanbidders—vandag nog net so vurig is soos toe hy die tempel in die eerste eeu HJ gereinig het nie? Hoe dankbaar is ons tog dat Christus hom daarop toegelê het om die geestelike reinheid van God se volk en die suiwerheid van ware aanbidding te bewaar! Ons kan toon dat ons die Koning en sy Koninkryk ondersteun deur valse godsdiens heeltemal te vermy.

^ par. 2 Besoekende Jode moes ’n sekere geldeenheid gebruik om die jaarlikse tempelbelasting te betaal, en die geldwisselaars het ’n fooi gevra om muntstukke vir die regte geldeenheid te wissel. Besoekers moes moontlik ook diere as offerandes koop. Jesus het die handelaars ‘rowers’ genoem, waarskynlik omdat hulle buitensporige fooie vir hulle dienste gevra het.

^ par. 4 Jehovah se volk op die aarde aanbid hom in die aardse voorhowe van sy groot geestelike tempel.

^ par. 8 Hierdie artikel het daarop gewys dat ’n geboortedatum vir Jesus in die winter “nie ooreenstem met die verslag van die herders wat buite was met hulle kuddes nie”.—Luk. 2:8.

^ par. 10 In ’n persoonlike brief gedateer 14 November 1927 het broer Frederick W. Franz geskryf: “Ons sal vanjaar geen Kersfees hê nie. Die Bethelgesin het gestem om nie meer Kersfees te vier nie.” ’n Paar maande later het broer Franz in ’n brief gedateer 6 Februarie 1928 geskryf: “Die Here reinig ons geleidelik van die dwalinge van die Duiwel se Babiloniese organisasie.”

^ par. 18 In 2013 was daar byvoorbeeld ’n verkondigerhoogtepunt van 7 965 954, terwyl 19 241 252 die jaarlikse Herdenking van Christus se dood bygewoon het.

^ par. 18 Die skeiding van die goeie vis en die vis wat nie geskik is nie, is nie dieselfde as die skeiding van die skape en die bokke nie (Matt. 25:31-46). Die skeiding, of finale oordeel, van die skape en die bokke vind gedurende die komende groot verdrukking plaas. Tot dan kan diegene wat soos visse is wat nie geskik is nie, tot Jehovah terugkeer en in houeragtige gemeentes ingesamel word.—Mal. 3:7.

^ par. 18 Uiteindelik sal dié wat nie geskik is nie, simbolies in ’n vuuroond gewerp word, wat op hulle toekomstige vernietiging dui.