Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 5

Die Koning werp lig op die Koninkryk

Die Koning werp lig op die Koninkryk

KERNGEDAGTE VAN DIE HOOFSTUK

God se volk begin lewensbelangrike waarhede verstaan oor die Koninkryk en die heersers en onderdane daarvan asook die belangrikheid van lojaliteit

1, 2. In watter opsig was Jesus ’n wyse gids?

STEL jou voor dat ’n ervare gids jou op ’n toer van ’n wonderlike en pragtige stad neem. Jy en dié wat saam met jou is, weet nie veel van die stad nie en daarom hang julle aan die gids se lippe. Soms wonder jy en die ander toeriste oor party van die stad se aspekte wat julle nog nie gesien het nie. Maar wanneer julle julle gids opgewonde hieroor vra, beantwoord hy nie die vraag tot op die regte oomblik nie, dikwels net sodra ’n sekere besienswaardigheid sigbaar word. Sy wysheid beïndruk julle met verloop van tyd al hoe meer, want hy vertel julle wat julle moet weet presies wanneer julle dit moet weet.

2 Ware Christene is in ’n soortgelyke situasie as die toeriste. Ons leer met gretigheid van die wonderlikste stad, “die stad wat ware fondamente het”, die Koninkryk van God (Heb. 11:10). Toe Jesus op die aarde was, het hy persoonlik sy volgelinge tot ’n dieper kennis van hierdie Koninkryk gelei. Het hy op een slag al hulle vrae beantwoord en hulle alles oor hierdie Koninkryk vertel? Nee. Hy het gesê: “Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou dra nie” (Joh. 16:12). As die allerwysste gids het Jesus nooit sy dissipels belas met kennis wat hulle nog nie kon dra nie.

3, 4. (a) Hoe het Jesus voortgegaan om getroue mense van God se Koninkryk te leer? (b) Wat sal ons in hierdie hoofstuk bespreek?

3 Jesus het die woorde in Johannes 16:12 op die laaste aand van sy aardse lewe gespreek. Hoe sou hy ná sy dood voortgaan om getroue mense van God se Koninkryk te leer? Hy het sy apostels verseker: “Die gees van die waarheid [sal] julle in die hele waarheid inlei” (Joh. 16:13). * Ons kan die heilige gees as ’n geduldige gids beskou. Die gees is die middel waardeur Jesus sy volgelinge alles leer wat hulle oor God se Koninkryk moet weet—presies wanneer hulle dit moet weet.

4 Kom ons kyk hoe Jehovah se heilige gees opregte Christene tot groter kennis van hierdie Koninkryk gelei het. Eerstens sal ons kyk na ons begrip van wanneer God se Koninkryk begin regeer het. Dan sal ons die identiteit en hoop van die Koninkryk se heersers en onderdane ondersoek. Laastens sal ons sien hoe Christus se volgelinge ’n duideliker begrip verkry het van wat lojaliteit aan die Koninkryk behels.

’n Begrip van ’n betekenisvolle jaar word verkry

5, 6. (a) Watter verkeerde beskouings het die Bybelstudente oor die oprigting van die Koninkryk en die oes gehad? (b) Waarom moet sulke verkeerde beskouings ’n mens nie laat twyfel of Jesus sy volgelinge gelei het nie?

5 Soos ons in Hoofstuk 2 van hierdie boek gesien het, het die Bybelstudente dekades lank daarop gewys dat die jaar 1914 ’n belangrike jaar in die vervulling van Bybelprofesie sou wees. Maar destyds het hulle geglo dat Christus se teenwoordigheid in 1874 begin het, dat hy in 1878 in die hemel begin regeer het en dat die Koninkryk eers teen Oktober 1914 ten volle opgerig sou wees. Die oes sou strek van 1874 tot 1914 en sou ’n hoogtepunt bereik met die insameling van die gesalfdes na die hemel. Moet sulke verkeerde gedagtes ’n mens laat twyfel of Jesus hierdie getroues deur middel van die heilige gees gelei het?

6 Glad nie! Dink weer aan ons illustrasie aan die begin van die hoofstuk. Sou die feit dat die toeriste hulle gedagtes te vroeg uitgespreek en gretig vrae gevra het, twyfel wek oor die betroubaarheid van hulle gids? Nouliks! Hoewel God se volk soms ook besonderhede oor Jehovah se voorneme probeer verstaan voordat dit tyd is vir die heilige gees om hulle tot hierdie waarhede te lei, is dit duidelik dat Jesus hulle lei. Getroues is dus bereid om reggehelp te word en hulle beskouings nederig aan te pas.—Jak. 4:6.

7. Met watter flitse van geestelike lig is God se volk geseën?

7 In die jare ná 1919 is God se volk geseën met al hoe meer flitse van geestelike lig. (Lees Psalm 97:11.) In 1925 het ’n betekenisvolle artikel in The Watch Tower verskyn, met die titel “Geboorte van die nasie”. Dit het oortuigende skriftuurlike bewyse uiteengesit dat die Messiaanse Koninkryk in 1914 gebore is, ter vervulling van die profetiese beskrywing van God se hemelse vrou wat geboorte gee, soos opgeteken in Openbaring hoofstuk 12. * Die artikel het verder getoon dat die vervolging en beproewinge wat gedurende daardie oorlogsjare oor Jehovah se volk gekom het, duidelike tekens is dat Satan uit die hemel neergewerp is, met “groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydjie het”.—Op. 12:12.

8, 9. (a) Hoe het die belangrikheid van God se Koninkryk na vore gekom? (b) Watter vrae sal ons bespreek?

8 Hoe belangrik is die Koninkryk? In 1928 het The Watch Tower begin beklemtoon dat die Koninkryk belangriker is as persoonlike redding deur middel van die losprys. Ja, dit is deur middel van die Messiaanse Koninkryk dat Jehovah sy naam sal heilig, sy soewereiniteit sal regverdig en al sy voornemens met die mensdom sal verwesenlik.

9 Wie sou saam met Christus in hierdie Koninkryk regeer? Wie sou die aardse onderdane van hierdie Koninkryk wees? En watter werk moet Christus se volgelinge doen?

Die oeswerk word op die gesalfdes toegespits

10. Wat verstaan God se volk reeds lank omtrent die 144 000?

10 Dekades voor 1914 het ware Christene reeds verstaan dat 144 000 getroue volgelinge van Christus saam met hom in die hemel sou regeer. * Daardie Bybelstudente het gesien dat die getal letterlik is en dat die eerste lede daarvan reeds in die eerste eeu HJ gekies is.

11. Hoe het toekomstige lede van Christus se bruid hulle toewysing op die aarde beter begin verstaan?

11 Maar wat is hierdie toekomstige lede van Christus se bruid aangewys om te doen terwyl hulle nog op die aarde is? Hulle het gesien dat Jesus die predikingswerk beklemtoon het en dit met ’n oestyd verbind het (Matt. 9:37; Joh. 4:35). Soos ons in Hoofstuk 2 gesien het, het hulle ’n ruk lank gemeen dat die oestyd 40 jaar sou duur en ’n hoogtepunt sou bereik met die insameling van die gesalfdes na die hemel. Maar omdat die werk ná die verloop van 40 jaar nog voortgeduur het, was ’n duideliker begrip nodig. Ons weet nou dat die oestyd—die tyd dat die koring van die onkruid, getroue gesalfde Christene van naamchristene, geskei moet word—in 1914 begin het. Die tyd het aangebreek om die aandag te vestig op die insameling van die oorblywende lede van hierdie hemelse klas!

Die jaar 1914 het die begin van die oestyd aangedui (Sien paragraaf 11)

12, 13. Hoe is Jesus se illustrasies van die tien maagde en van die talente in die laaste dae vervul?

12 Vanaf 1919 het Christus die getroue en verstandige slaaf bly rig om klem te lê op die predikingswerk. Hy het hierdie toewysing in die eerste eeu gegee (Matt. 28:19, 20). Hy het ook aangedui watter eienskappe sy gesalfde volgelinge sou moes hê om hierdie predikingsopdrag uit te voer. Hoe? In sy illustrasie van die tien maagde het hy getoon dat die gesalfdes waaksaam, geestelik wakker, sou moes bly as hulle hulle uiteindelike doelwit wou bereik, naamlik om deel te neem aan die groot huweliksfees in die hemel, wanneer Christus met sy “bruid” van 144 000 verenig word (Op. 21:2). Toe het Jesus, in sy illustrasie van die talente, geleer dat sy gesalfde knegte die predikingswerk wat hy aan hulle toevertrou het, met ywer sou uitvoer.—Matt. 25:1-30.

13 Die gesalfdes was inderdaad gedurende hierdie afgelope eeu waaksaam sowel as ywerig. Hulle waaksaamheid sal vir seker beloon word! Maar sou die groot oeswerk beperk wees tot die insameling van die res van Christus se 144 000 medeheersers?

Die Koninkryk samel sy aardse onderdane in!

14, 15. Watter vier groepe is in The Finished Mystery bespreek?

14 Getroue mans en vroue stel al lank intens belang in die identiteit van die “groot menigte”, wat in Openbaring 7:9-14 gemeld word. Maar voordat dit Christus se tyd was om die identiteit van hierdie groot groep te openbaar, het baie van die verduidelikings in verband met die onderwerp natuurlik grootliks verskil van die duidelike, eenvoudige waarhede wat ons vandag ken en liefhet.

15 In 1917 het die boek The Finished Mystery gesê dat daar “twee range of soorte Hemelse redding is, en twee range of soorte aardse redding”. Uit wie het die vier groepe mense met die hoop op hierdie verskillende soorte redding bestaan? Eerstens was daar die 144 000, wat saam met Christus sou regeer. Tweedens was daar die groot menigte. Destyds is daar geglo dat hulle verklaarde Christene is wat nog in die kerke van die Christendom is. Hulle het ’n mate van geloof gehad, maar nie genoeg om ’n ferm standpunt van onkreukbaarheid in te neem nie. Hulle sou dus laer posisies in die hemel gegee word. Wat die aarde betref, is daar geglo dat ’n derde groep, die “waardiges uit die ou tyd”—getroues soos Abraham, Moses en ander—gesaghebbende posisies oor die vierde groep, die mensewêreld, sou hê.

16. Watter flitse van geestelike lig was daar in 1923 en in 1932?

16 Hoe het die heilige gees Christus se volgelinge gelei tot die begrip wat vandag vir ons so kosbaar is? Dit het progressief gebeur, deur ’n reeks flitse van geestelike lig. Reeds in 1923 het The Watch Tower die aandag gevestig op ’n groep wat geen begeerte het om hemel toe te gaan nie en wat onder Christus se heerskappy op die aarde sal woon. In 1932 het The Watch Tower Jonadab bespreek, wat by God se gesalfde Israelitiese koning Jehu aangesluit het om hom in die stryd teen valse aanbidding te ondersteun (2 Kon. 10:15-17). Die artikel het gesê dat daar in hedendaagse tye ’n klas mense bestaan wat soos Jonadab is en het bygevoeg dat Jehovah hierdie klas “deur die benoudheid van Armageddon” sal neem om hier op die aarde te woon.

17. (a) Watter helder flits van geestelike lig was daar in 1935? (b) Watter uitwerking het die nuwe begrip van die groot menigte op getroue Christene gehad? (Sien die venster “ ’n Groot sug van verligting”.)

17 In 1935 was daar ’n helder flits van geestelike lig. By die streekbyeenkoms wat in Washington, DC, gehou is, is die groot menigte geïdentifiseer as ’n aardse klas, dieselfde as die skape in Jesus se gelykenis van die skape en die bokke (Matt. 25:33-40). Die groot menigte sou deel wees van die “ander skape”, van wie Jesus gesê het: “Ook hulle moet ek bring” (Joh. 10:16). Toe die spreker, J.F. Rutherford, gevra het: “Sal almal wat die hoop koester om vir ewig op die aarde te lewe, asseblief opstaan”, het meer as die helfte van die gehoor opgestaan! “Kyk!” het hy gesê. “Die groot menigte!” Baie was verheug om uiteindelik hulle hoop vir die toekoms te verstaan.

 

18. Waarop het Christus se volgelinge hulle pogings in die bediening toegespits, en met watter gevolg?

18 Van toe af lei Christus sy volk om hulle pogings toe te spits op die insameling van die toekomstige lede van hierdie groot menigte, wat lewend en veilig uit die groot verdrukking sal kom. Die insameling het aanvanklik nie baie indrukwekkend gelyk nie. Broer Rutherford het eenkeer selfs gesê: “Dit lyk asof die ‘groot menigte’ tog nie so groot gaan wees nie.” Ons weet natuurlik nou hoe ryklik Jehovah die oes sedertdien geseën het! Onder die leiding van Jesus en die heilige gees het die gesalfdes sowel as hulle metgeselle, die “ander skape”, geword presies wat Jesus voorspel het—“een kudde” wat saam onder “een herder” dien.

Broer Rutherford kon nie vooruitsien hoe talryk die groot menigte sou word nie (Van links na regs: Nathan H. Knorr, Joseph F. Rutherford en Hayden C. Covington)

19. Hoe kan ons help om die groot menigte te laat toeneem?

19 Die oorgrote meerderheid getroue mense sal vir ewig in ’n aardse paradys woon, onder die heerskappy van Christus en sy 144 000 medeheersers. Verskaf dit jou nie vreugde om na te dink oor die manier waarop Christus God se volk gelei het tot so ’n duidelike begrip van hulle skriftuurlike hoop vir die toekoms nie? Wat ’n voorreg is dit tog vir ons om hierdie hoop bekend te maak aan mense wat ons in die bediening ontmoet! Laat ons so bedrywig wees as wat ons omstandighede toelaat, sodat die groot menigte sal aanhou toeneem, wat Jehovah se naam selfs meer sal verheerlik!—Lees Lukas 10:2.

Die groot menigte neem voortdurend toe

Wat lojaliteit aan die Koninkryk behels

20. Uit watter elemente bestaan Satan se organisasie, en hoe hou Christelike lojaliteit daarmee verband?

20 Terwyl God se volk voortgegaan het om van die Koninkryk te leer, moes hulle ook ten volle verstaan wat dit beteken om lojaal te wees aan hierdie hemelse regering. In hierdie opsig het The Watch Tower in 1922 daarop gewys dat daar twee organisasies is, Jehovah s’n en Satan s’n, en dat Satan s’n uit kommersiële, politieke en godsdienselemente bestaan. Diegene wat lojaal is aan God se Koninkryk onder Christus, moenie hulle lojaliteit prysgee deur middel van ongepaste betrokkenheid by enige aspek van Satan se organisasie nie (2 Kor. 6:17). Wat beteken dit?

21. (a) Hoe het die getroue slaaf God se volk teen die sakewêreld gewaarsku? (b) Wat het Die Wagtoring in 1963 omtrent “Babilon die Grote” geopenbaar?

21 Die geestelike voedsel wat van die getroue slaaf kom, het deurgaans die korrupsie van die sakewêreld blootgelê en God se volk gewaarsku om nie beïnvloed te word deur die wydverspreide materialisme wat dit bevorder nie (Matt. 6:24). Ons publikasies het ook deurentyd die soeklig laat val op die godsdiensdeel van Satan se organisasie. In 1963 het Die Wagtoring duidelik getoon dat “Babilon die Grote” nie net die Christendom verteenwoordig nie, maar ook die hele wêreldryk van valse godsdiens. Soos ons duideliker in Hoofstuk 10 van hierdie boek sal sien, is God se volk in elke land en kultuur dus gehelp om ‘uit haar uit te gaan’ en hulle van alle valse godsdiensgebruike te reinig.—Op. 18:2, 4.

22. Hoe het baie van God se knegte gedurende die Eerste Wêreldoorlog die vermaning in Romeine 13:1 verstaan?

22 Maar wat van die politieke deel van Satan se organisasie? Kan ware Christene aan die oorloë en konflikte van die nasies deelneem? Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het die Bybelstudente oor die algemeen verstaan dat Christus se volgelinge nie hulle medemens moet doodmaak nie (Matt. 26:52). Maar baie het gemeen dat die vermaning in Romeine 13:1 om aan “die hoër owerhede” gehoorsaam te wees, beteken dat hulle by die weermag moet aansluit, soldate-uniforms moet dra en selfs wapens moet dra; maar wanneer hulle beveel word om die vyand dood te maak, moet hulle in die lug skiet.

23, 24. Hoe het ons Romeine 13:1 gedurende die Tweede Wêreldoorlog verstaan, en tot watter juister begrip is Christus se volgelinge gelei?

23 Kort nadat die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitgebreek het, het The Watchtower ’n breedvoerige bespreking van neutraliteit bevat. Die artikel het duidelik getoon dat Christene geen aandeel aan die oorloë en konflikte van die nasies van Satan se wêreld moes hê nie. Watter tydige leiding was dit tog! Christus se volgelinge is sodoende beskerm teen die verskriklike bloedskuld wat die nasies in daardie oorlog aangekleef het. Maar vanaf 1929 het ons publikasies ook geredeneer dat die hoër owerhede van Romeine 13:1 glad nie die sekulêre heersers is nie, maar Jehovah en Jesus. ’n Juister begrip was nog nodig.

24 Die heilige gees het Christus se volgelinge in 1962 tot presies so ’n begrip gelei toe betekenisvolle artikels oor Romeine 13:1-7 in The Watchtower van 15 November en 1 Desember verskyn het. * Uiteindelik het God se volk die beginsel van relatiewe onderdanigheid verstaan wat Jesus in sy bekende woorde geopenbaar het: “Betaal . . . aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort” (Luk. 20:25). Ware Christene verstaan nou dat die hoër owerhede die sekulêre magte van hierdie wêreld is en dat Christene aan hulle onderdanig moet wees. Maar hierdie onderdanigheid is relatief. Wanneer die sekulêre owerhede van ons vereis om aan Jehovah God ongehoorsaam te wees, antwoord ons soos die apostels van ouds: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense” (Hand. 5:29). In Hoofstukke 13 en 14 van hierdie boek sal ons meer leer omtrent hoe God se volk die beginsel van Christelike neutraliteit toegepas het.

Wat ’n voorreg is dit tog om die Bybel se hoop op ewige lewe bekend te maak!

25. Waarom waardeer jy die leiding van die heilige gees om God se Koninkryk te verstaan?

25 Dink aan alles wat Christus se volgelinge oor die afgelope eeu omtrent die Koninkryk geleer is. Ons het uitgevind wanneer God se Koninkryk in die hemel opgerig is en hoe belangrik dit is. Ons het ’n duidelike beeld van die twee verwagtinge wat aan getroue mense voorgehou word, die hemelse hoop en die aardse hoop. En ons weet hoe om ons lojaliteit aan God se Koninkryk te bewys terwyl ons relatiewe onderdanigheid aan wêreldse owerhede toon. Vra jou af: ‘Sou ek enige van hierdie kosbare waarhede geken het as Jesus Christus nie sy getroue slaaf op die aarde gelei het om dit te verstaan en dit dan aan ander te leer nie?’ Wat ’n seën is dit tog dat Christus en die heilige gees ons lei!

^ par. 3 Volgens ’n naslaanwerk beteken die Griekse woord vir ‘lei’ in hierdie vers “om die weg te wys”.

^ par. 7 Voor hierdie tyd is daar gemeen dat die visioen na ’n oorlog tussen heidense Rome en pouslike Rome verwys.

^ par. 10 In Junie 1880 het Zion’s Watch Tower te kenne gegee dat die 144 000 vleeslike Jode sou wees wat teen 1914 bekeer sou wees. Maar later in 1880 is ’n begrip gepubliseer wat nouer ooreenstem met die begrip wat ons vandag huldig.

^ par. 24 Die Wagtoring van 1 Februarie en 15 Februarie 1963.