Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 1

“Dít is wat die liefde vir God beteken”

“Dít is wat die liefde vir God beteken”

“Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie bewaar; en tog is sy gebooie nie swaar nie.”—1 JOHANNES 5:3.

1, 2. Wat beweeg jou om Jehovah God lief te hê?

HET jy God lief? As jy in ’n toegewyde verhouding met Jehovah God gekom het, is jou antwoord hierop sekerlik ’n besliste ja—en heel tereg! Dit is net natuurlik dat ons Jehovah sal liefhê. Ons liefde vir God is in werklikheid ’n reaksie op sy liefde vir ons. Die Bybel stel dit so: “Wat ons betref, ons het lief omdat hy [Jehovah] ons eerste liefgehad het.”—1 Johannes 4:19.

2 Jehovah het die inisiatief geneem om te toon dat hy ons liefhet. Hy gee vir ons ’n pragtige aardse tuiste. Hy voorsien in ons fisiese en materiële behoeftes (Matteus 5:43-48). Nog belangriker, hy bevredig ons geestelike behoeftes. Hy gee vir ons sy Woord, die Bybel. Daarbenewens nooi hy ons uit om tot hom te bid met die versekering dat hy na ons sal luister en ons sy heilige gees sal gee om ons te help (Psalm 65:2; Lukas 11:13). Bowenal het hy sy allerkosbaarste Seun gestuur om ons Verlosser te wees sodat ons van sonde en die dood bevry kan word. Watter groot liefde het Jehovah tog aan ons betoon!—Johannes 3:16; Romeine 5:8.

3. (a) Wat word van ons vereis as ons in God se liefde wil bly? (b) Aan watter belangrike vraag moet ons dink, en waar vind ons die antwoord?

3 Jehovah wil hê dat ons vir ewig by sy liefde moet baat vind. Maar dit is ons keuse of ons dit sal doen of nie. God se Woord vermaan ons: ‘Hou julle in God se liefde met die ewige lewe in die vooruitsig’ (Judas 21). Die frase ‘hou julle’ gee te kenne dat dit optrede van ons vereis om in God se liefde te bly. Ons moet op duidelik waarneembare maniere op sy liefde reageer. ’n Belangrike vraag waaraan ons moet dink, is dus: ‘Hoe kan ek my liefde vir God toon?’ Die antwoord word gevind in die geïnspireerde woorde van die apostel Johannes: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie bewaar; en tog is sy gebooie nie swaar nie” (1 Johannes 5:3). Dit sal goed wees as ons die betekenis van hierdie woorde noukeurig ondersoek, want ons wil vir ons God wys hóé lief ons hom het.

“DÍT IS WAT DIE LIEFDE VIR GOD BETEKEN”

4, 5. (a) Waarna verwys die uitdrukking “die liefde vir God”? (b) Beskryf hoe liefde vir Jehovah in jou hart begin ontwikkel het.

4 “Die liefde vir God”—wat het die apostel Johannes in gedagte gehad toe hy hierdie woorde neergeskryf het? Hy verwys na die innige gevoel wat ons as individue vir God het. Kan jy die tyd onthou toe liefde vir Jehovah in jou hart begin ontwikkel het?

Toewyding en doop dui die begin aan van ’n lewe van liefdevolle gehoorsaamheid aan Jehovah

5 Dink vir ’n oomblik aan die tyd toe jy begin het om die waarheid omtrent Jehovah en sy voornemens te leer en daarin geloof te beoefen. Jy het begin verstaan dat, hoewel jy gebore is as ’n sondaar wat van God vervreemd is, Jehovah deur middel van Christus vir jou die weg gebaan het om die volmaaktheid te verkry wat Adam verloor het en die ewige lewe te beërf (Matteus 20:28; Romeine 5:12, 18). Jy het begin besef hoe groot die opoffering was wat Jehovah gemaak het toe hy sy allerkosbaarste Seun gestuur het om vir jou te sterf. Jou hart is geraak, en jy het die God wat sulke groot liefde aan jou betoon het, begin liefkry.—1 Johannes 4:9, 10.

6. Hoe word opregte liefde geopenbaar, en wat het liefde vir God jou beweeg om te doen?

6 Maar daardie gevoel was net die begin van opregte liefde vir Jehovah. Liefde is nie net ’n gevoel nie; en dit is ook nie net ’n saak van woorde nie. Ware liefde vir God behels meer as om net te sê: “Ek het Jehovah lief.” Soos geloof, word opregte liefde geopenbaar en gekenmerk deur die dade wat dit voortbring (Jakobus 2:26). In die besonder word liefde in dade uitgedruk wat die ontvanger van die liefde gelukkig maak. Toe liefde vir Jehovah in jou hart wortelgeskiet het, is jy dus beweeg om op ’n manier te wil lewe wat jou hemelse Vader gelukkig maak. Is jy ’n gedoopte Getuie? Indien wel, het hierdie diep geneentheid en liefde jou die belangrikste besluit van jou lewe laat neem. Jy het jou aan Jehovah toegewy om sy wil te doen, en jy het jou toewyding gesimboliseer deur gedoop te word (Romeine 14:7, 8). Die nakoming van hierdie plegtige belofte aan Jehovah hou verband met wat die apostel Johannes hierna noem.

‘ONS BEWAAR SY GEBOOIE’

7. Wat is ’n paar van God se gebooie, en wat beteken dit om dit te bewaar?

7 Johannes verduidelik wat die liefde vir God beteken: ‘Ons bewaar sy gebooie.’ Wat is God se gebooie? Jehovah gee ons ’n aantal spesifieke gebooie deur middel van sy Woord, die Bybel. Hy verbied byvoorbeeld dinge soos dronkenskap, hoerery, afgodediens, diefstal en om leuens te vertel (1 Korintiërs 5:11; 6:18; 10:14; Efesiërs 4:28; Kolossense 3:9). Om God se gebooie te bewaar, beteken dat ons in ooreenstemming met die Bybel se duidelike sedelike standaarde moet lewe.

8, 9. Hoe kan ons weet wat Jehovah gelukkig sal maak selfs in situasies waar daar geen uitdruklike Bybelwet is nie? Gee ’n voorbeeld.

8 Maar om Jehovah gelukkig te maak, moet ons meer doen as om net sy uitdruklike gebooie te gehoorsaam. Jehovah perk ons nie in met wette wat elke aspek van ons daaglikse lewe beheer nie. Gevolglik kan ons in die loop van elke dag baie situasies teëkom waarvoor daar geen spesifieke Bybelgebooie is nie. Hoe kan ons in sulke gevalle weet wat Jehovah gelukkig sal maak? Die Bybel bevat duidelike aanduidings van hoe God dink. As ons die Bybel bestudeer, leer ons wat Jehovah liefhet en wat hy haat (Psalm 97:10; Spreuke 6:16-19). Ons leer watter gesindhede en dade deur hom op prys gestel word. Hoe meer ons oor Jehovah se persoonlikheid en weë leer, hoe meer sal ons kan toelaat dat sy denke ons besluite vorm en ons optrede beïnvloed. Selfs in situasies waarin daar geen spesifieke Bybelse wet is nie, kan ons dus dikwels begryp “wat die wil van Jehovah is”.—Efesiërs 5:17.

9 Die Bybel bevat byvoorbeeld geen uitdruklike gebod wat vir ons sê om nie na rolprente of TV-programme te kyk wat skokkende geweld of geslagsonsedelikheid bevat nie. Maar het ons werklik ’n spesifieke wet nodig wat dit verbied? Ons weet hoe Jehovah hierdie dinge beskou. Sy Woord sê duidelik vir ons: “[Jehovah se] siel haat beslis elkeen wat geweld liefhet” (Psalm 11:5). Dit sê ook: “God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (Hebreërs 13:4). As ons oor hierdie geïnspireerde woorde nadink, kan ons duidelik sien wat die wil van Jehovah is. Ons kies dus om nie vermaak te word deur eksplisiete uitbeeldings van die soort dinge wat God haat nie. Ons weet dat dit Jehovah gelukkig maak wanneer ons die sedelike verdorwenheid vermy wat hierdie wêreld as skadelose vermaak probeer aanbied. *

10, 11. Waarom kies ons ’n weg van gehoorsaamheid aan Jehovah, en watter soort gehoorsaamheid gee ons aan hom?

10 Wat is die vernaamste rede waarom ons God se gebooie bewaar? Waarom wil ons elke dag lewe in ooreenstemming met wat ons weet God se denkwyse is? Ons kies nie so ’n weg bloot om straf vry te spring of om die skadelike gevolge te vermy wat oor diegene kom wat God se wil ignoreer nie (Galasiërs 6:7). Ons beskou gehoorsaamheid aan Jehovah eerder as ’n kosbare geleentheid om ons liefde vir hom te toon. Net soos ’n kind gretig is om sy vader se goedkeurende glimlag te sien, so wil ons Jehovah se goedkeuring verkry (Psalm 5:12). Hy is ons Vader, en ons het hom lief. Niks verskaf ons groter vreugde of dieper bevrediging as die wete dat ons op ’n manier lewe wat ‘Jehovah se goedkeuring verkry’ nie.—Spreuke 12:2.

11 Ons gehoorsaamheid is dus nie teësinnig nie; en dit is ook nie selektief of aan enige voorwaardes onderworpe nie. * Ons is nie net gehoorsaam wanneer dit ons pas of wanneer dit nie veel van ons verg nie. Inteendeel, ons is “uit die hart gehoorsaam” (Romeine 6:17). Ons voel soos die Bybelse psalmis wat geskryf het: “Ek sal ’n liefde toon vir u gebooie wat ek liefgehad het” (Psalm 119:47). Ja, ons is lief daarvoor om aan Jehovah gehoorsaam te wees. Ons besef dat hy niks minder nie as ons absolute en onvoorwaardelike gehoorsaamheid verdien—en vereis (Deuteronomium 12:32). Ons wil hê dat Jehovah van ons moet sê wat sy Woord van Noag sê. Aangaande daardie getroue aartsvader, wat liefde vir God getoon het deur baie dekades lank gehoorsaam te wees, sê die Bybel: “Noag het gedoen volgens alles wat God hom beveel het. Hy het net so gedoen.”—Genesis 6:22.

12. Wanneer maak ons gehoorsaamheid Jehovah se hart bly?

12 Hoe voel Jehovah oor ons gewillige gehoorsaamheid? Sy Woord sê dat ons daardeur sy ‘hart bly maak’ (Spreuke 27:11). Verbly dit werklik die hart van die Soewereine Heer van die heelal as ons gehoorsaam is? Beslis—en met goeie rede! Jehovah het ons met wilsvryheid geskep. Dit beteken dat ons keusevryheid het; ons kan kies om aan God gehoorsaam te wees, of ons kan kies om aan hom ongehoorsaam te wees (Deuteronomium 30:15, 16, 19, 20). Wanneer ons gewilliglik kies om aan Jehovah gehoorsaam te wees en wanneer die dryfkrag agter daardie besluit ’n hart vol liefde vir God is, behaag dit ons hemelse Vader en maak ons hom baie bly (Spreuke 11:20). Ons kies ook die beste lewensweg.

‘SY GEBOOIE IS NIE SWAAR NIE’

13, 14. Waarom kan daar gesê word dat God se ‘gebooie nie swaar is nie’, en hoe kan dit toegelig word?

13 Die apostel Johannes sê vir ons iets baie gerusstellends oor Jehovah se vereistes: ‘Sy gebooie is nie swaar nie.’ * ’n Ander Bybelvertaling sê hier: “Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie” (Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Jehovah se vereistes is nie onredelik of onderdrukkend nie. Dit is nie vir onvolmaakte mense onmoontlik om sy wette te gehoorsaam nie.

14 Ons kan dit so toelig. ’n Goeie vriend vra jou om hom te help om na ’n ander huis te trek. Daar is baie bokse wat vervoer moet word. Party is lig genoeg dat een persoon dit maklik kan dra, maar ander is swaar en moet deur twee persone opgetel word. Jou vriend kies die bokse wat hy wil hê jy moet vervoer. Sou hy jou vra om bokse op te tel wat hy weet te swaar is vir jou? Nee. Hy sou nie wou hê dat jy jou moet seermaak deur hulle alleen te probeer dra nie. Net so vra ons liefdevolle en goedhartige God ons nie om gebooie te bewaar wat vir ons te moeilik is om na te kom nie (Deuteronomium 30:11-14). Hy sou ons nooit vra om so ’n swaar las te dra nie. Jehovah verstaan ons beperkings, want “hy weet goed hoe ons gevorm is, gedagtig dat ons stof is”.—Psalm 103:14.

15. Waarom kan ons vol vertroue wees dat Jehovah se gebooie vir ons beswil is?

15 Jehovah se gebooie is allesbehalwe swaar; hulle is vir ons eie beswil (Jesaja 48:17). Moses kon dus vir eertydse Israel sê: “Jehovah het ons . . . beveel om al hierdie voorskrifte na te kom, om Jehovah ons God te vrees sodat dit altyd met ons goed kan gaan, sodat ons kan bly lewe, soos vandag” (Deuteronomium 6:24). Ook ons kan vol vertroue wees dat Jehovah sy wette aan ons gee omdat hy ons belange op die hart dra—ja, hy is besorg oor ons ewige welsyn. Hoe dan anders? Jehovah is ’n God van eindelose wysheid (Romeine 11:33). Hy weet dus wat vir ons die beste is. Jehovah is ook die verpersoonliking van liefde (1 Johannes 4:8). Liefde, die kern van sy wese, beïnvloed alles wat hy sê en doen. Dit is die grondslag van al die gebooie wat hy aan sy knegte gee.

16. Waarom kan ons ’n weg van gehoorsaamheid volg ten spyte van die invloede van hierdie verdorwe wêreld en die neigings van die onvolmaakte vlees?

16 Dit beteken nie dat dit altyd maklik is om aan God gehoorsaam te wees nie. Ons moet stry teen die invloede van hierdie verdorwe wêreld, wat “in die mag van die bose” lê (1 Johannes 5:19). Ons moet ook worstel teen die onvolmaakte vlees, wat in ons die neiging laat ontstaan om God se wette te oortree (Romeine 7:21-25). Maar ons liefde vir God kan dit alles te bowe kom. Jehovah seën diegene wat hulle liefde vir hom deur hulle gehoorsaamheid wil bewys. Hy gee sy heilige gees “aan dié . . . wat hom as heerser gehoorsaam” (Handelinge 5:32). Daardie gees bring pragtige vrugte in ons voort—kosbare eienskappe wat ons kan help om ’n gehoorsame weg te volg.—Galasiërs 5:22, 23.

17, 18. (a) Wat sal ons in hierdie publikasie ondersoek, en wat moet ons in gedagte hou terwyl ons dit doen? (b) Wat sal in die volgende hoofstuk bespreek word?

17 In hierdie publikasie sal ons Jehovah se beginsels en sedelike standaarde ondersoek, asook baie ander aanduidings van sy wil. Terwyl ons dit doen, moet ons etlike belangrike dinge in gedagte hou. Ons moet onthou dat Jehovah ons nie dwing om sy wette en beginsels te gehoorsaam nie; hy wil gewillige gehoorsaamheid hê wat uit ons hart kom. Ons moenie vergeet dat Jehovah ons vra om op ’n manier te lewe wat nóú ryk seëninge meebring en in die toekoms tot die ewige lewe sal lei nie. En ons moet besef wat ons heelhartige gehoorsaamheid werklik is—’n kosbare geleentheid om aan Jehovah te bewys hoe lief ons hom het.

18 Om ons te help om tussen reg en verkeerd te onderskei, het Jehovah ons uit liefde ’n gewete gegee. Maar om ’n betroubare gids te kan wees, moet ons gewete opgelei wees, soos in die volgende hoofstuk bespreek sal word.

^ par. 9 Sien Hoofstuk 6 van hierdie publikasie vir ’n bespreking van hoe om heilsame vermaak te kies.

^ par. 11 Selfs die goddelose geeste kan teësinnig gehoorsaam wees. Toe Jesus die demone opdrag gegee het om uit party besetenes uit te kom, was die demone onder verpligting om sy gesag te erken en aan hom gehoorsaam te wees, al was dit teësinnig.—Markus 1:27; 5:7-13.

^ par. 13 Die Griekse woord wat in 1 Johannes 5:3 as “swaar” vertaal word, word in Matteus 23:4 gebruik om die “swaar vragte”, die uitvoerige reëls en mensgemaakte tradisies, te beskryf wat die skrifgeleerdes en Fariseërs op die gewone mense gelaai het. Dieselfde woord word in Handelinge 20:29, 30 vertaal as “onderdrukkende” en verwys na dominerende afvalliges wat “verdraaide dinge [sal] spreek” en ander sal probeer mislei.