Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 6

Hoe om heilsame vermaak te kies

Hoe om heilsame vermaak te kies

“Doen alles tot heerlikheid van God.”—1 KORINTIËRS 10:31.

1, 2. Watter keuse moet ons maak met betrekking tot vermaak?

STEL jou voor dat jy ’n heerlike vrug wil eet, maar dan sien jy dat ’n deel daarvan sleg geword het. Wat sal jy doen? Wel, jy kan die hele vrug eet, selfs die slegte deel; jy kan die hele vrug saam met die slegte deel weggooi; of jy kan die slegte deel uitsny en die goeie deel geniet. Wat sal jy doen?

2 In sekere sin is vermaak soos daardie vrug. Soms wil jy ’n bietjie ontspanning geniet, maar jy besef dat baie van die vermaak wat vandag beskikbaar is, sedelik onaanvaarbaar, selfs verdorwe, is. Wat sal jy dus doen? Party duld dalk wat sleg is en aanvaar enige vermaak wat hierdie wêreld aanbied. Ander vermy dalk alle vermaak sodat hulle aan niks skadeliks blootgestel sal word nie. Nog ander is dalk versigtig om enige skadelike vermaak te vermy, maar hulle geniet van tyd tot tyd heilsame vermaak. Watter keuse moet jy maak om jou in God se liefde te hou?

3. Wat gaan ons nou bespreek?

3 Die meeste van ons sal die derde opsie kies. Ons besef dat ’n mens ontspanning nodig het, maar ons wil ons vermaak beperk tot dinge wat sedelik heilsaam is. Daarom moet ons uitvind hoe ons kan bepaal wat heilsaam en wat onheilsaam is. Maar kom ons bespreek eers watter uitwerking ons keuse van vermaak op ons aanbidding van Jehovah kan hê.

“DOEN ALLES TOT HEERLIKHEID VAN GOD”

4. Watter uitwerking moet ons toewyding op ons keuse van vermaak hê?

4 ’n Ruk gelede het ’n bejaarde Getuie wat in 1946 gedoop is, gesê: “Ek het ’n punt daarvan gemaak om by elke dooptoespraak teenwoordig te wees en aandagtig te luister, asof dit ek is wat gedoop gaan word.” Waarom? Hy het verduidelik: “Om my toewyding gedurig voor my te hou, het my baie gehelp om getrou te bly.” Jy sal ongetwyfeld hiermee saamstem. As jy in gedagte hou dat jy Jehovah belowe het dat jy jou hele lewe sal gebruik om hom te dien, sal dit jou aanspoor om te volhard (Prediker 5:4; Hebreërs 10:7). Trouens, as jy oor jou toewyding peins, sal dit nie net ’n uitwerking hê op jou beskouing van die Christelike bediening nie, maar ook op jou beskouing van alle ander gebiede van die lewe—met inbegrip van vermaak. Die apostel Paulus het hierdie waarheid beklemtoon toe hy aan Christene in sy dag geskryf het: “Hetsy julle eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot heerlikheid van God.”—1 Korintiërs 10:31.

5. Hoe help Levitikus 22:18-20 ons om die indirekte waarskuwing in Romeine 12:1 te verstaan?

5 Alles wat jy in die lewe doen, hou verband met jou aanbidding van Jehovah. In Paulus se brief aan die Romeine het hy ’n kragtige uitdrukking gebruik om hierdie waarheid vir medegelowiges te beklemtoon. Hy het hulle aangespoor: “[Bied] julle liggaam aan . . . as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is, ’n heilige diens met julle denkvermoë” (Romeine 12:1). Jou liggaam sluit jou verstand, jou hart en jou fisiese krag in. Jy gebruik dit alles in jou diens aan God (Markus 12:30). Paulus noem sulke diens met jou hele siel ’n offerande. Daardie uitdrukking bevat ’n indirekte waarskuwing. Onder die Mosaïese Wet is ’n offerande waaraan daar ’n gebrek was, deur God verwerp (Levitikus 22:18-20). As ’n Christen se geestelike offerande eweneens op die een of ander manier besmet is, sal dit deur God verwerp word. Maar hoe kan dit gebeur?

6, 7. Hoe kan ’n Christen sy liggaam besoedel, en wat kan die gevolge daarvan wees?

6 Paulus het die Christene in Rome vermaan: “[Moenie] voortgaan om julle lede [“liggaamsdele”, New International Version] vir die sonde aan te bied . . . nie.” Paulus het ook vir hulle gesê dat hulle “die gebruike van die liggaam [moet] doodmaak” (Romeine 6:12-14; 8:13). Vroeër in sy brief het hy ’n paar voorbeelde van sulke “gebruike van die liggaam” gegee. Van die sondige mensdom lees ons: “Hulle mond is vol vervloeking.” “Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet.” “Daar is geen vrees vir God voor hulle nie” (Romeine 3:13-18). ’n Christen sou sy liggaam besmet as hy sy “lede”, of liggaamsdele, vir sulke sondige doeleindes gebruik. Byvoorbeeld, as ’n Christen vandag opsetlik na verdorwe materiaal soos pornografie of sadistiese geweld kyk, ‘bied hy [sy oë] vir die sonde aan’ en besoedel hy sodoende sy hele liggaam. Enige aanbidding wat hy beoefen, sou ’n offer wees wat nie meer heilig is nie en wat vir God onaanvaarbaar is (Deuteronomium 15:21; 1 Petrus 1:14-16; 2 Petrus 3:11). Wat ’n hoë prys om te betaal vir die najaging van onheilsame vermaak!

7 Dit is duidelik dat ’n Christen se keuse van vermaak ernstige gevolge het. Ons wil dus beslis vermaak kies wat ons offerande aan God waardevoller sal maak, wat dit nie sal bederf nie. Kom ons bespreek nou hoe ons kan bepaal wat heilsaam en wat onheilsaam is.

“VERAFSKU WAT GODDELOOS IS”

8, 9. (a) In watter twee algemene kategorieë kan vermaak verdeel word? (b) Watter vorme van vermaak verwerp ons, en waarom?

8 Oor die algemeen kan vermaak in twee kategorieë verdeel word. Een sluit vermaak in wat Christene beslis vermy; die ander bevat vermaak wat Christene moontlik aanvaarbaar vind. Kom ons begin by die eerste kategorie—vermaak wat Christene vermy.

9 Soos ons in Hoofstuk 1 genoem het, vestig party vorme van vermaak die aandag op dinge wat uitdruklik in die Bybel veroordeel word. Dink byvoorbeeld aan webwerwe sowel as rolprente, TV-programme en musiek met sadistiese of demoniese temas of wat pornografie bevat of afstootlike, onsedelike gebruike bevorder. Aangesien sulke verdorwe vorme van vermaak gebruike wat Bybelbeginsels of Bybelwette skend, in ’n positiewe lig stel, moet ware Christene dit vermy (Handelinge 15:28, 29; 1 Korintiërs 6:9, 10; Openbaring 21:8). Deur sulke onheilsame vermaak te verwerp, bewys jy aan Jehovah dat jy werklik “verafsku wat goddeloos is” en altyd ‘afwyk van wat sleg is’. Sodoende openbaar jy “geloof sonder huigelary”.—Romeine 12:9; Psalm 34:14; 1 Timoteus 1:5.

10. Watter soort redenasie oor vermaak is gevaarlik, en waarom?

10 Maar party voel dalk dat dit onskadelik is om vermaak te geniet wat eksplisiete uitbeeldings van onsedelike gedrag bevat. Hulle redeneer: ‘Ek sien dit dalk in rolprente of op die TV, maar ek sou nooit self sulke dinge doen nie.’ Hierdie redenasie is bedrieglik en gevaarlik (Jeremia 17:9). Kan ons werklik sê dat ons “verafsku wat goddeloos is”, as ons dinge wat Jehovah veroordeel, vermaaklik vind? As ons ons herhaaldelik blootstel aan goddelose gedrag, sal dit ons sinne afstomp (Psalm 119:70; 1 Timoteus 4:1, 2). Dit kan ook ’n uitwerking hê op wat ons doen of op hoe ons die sondige gedrag van ander beskou.

11. Hoe is die waarheid van die woorde in Galasiërs 6:7 bewys met betrekking tot vermaak?

11 Dit het in werklikheid al gebeur. Party Christene het hulle aan onsedelike dade skuldig gemaak omdat hulle beïnvloed is deur die vermaak waarna hulle gereeld gekyk het. Hulle het deur dure ondervinding hierdie les geleer: “Wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai” (Galasiërs 6:7). Maar so ’n droewige resultaat kan vermy word. As jy versigtig is om in jou verstand te saai wat goed is, sal jy met vreugde in jou lewe maai wat heilsaam is.—Sien die venster “ Watter vermaak moet ek kies?.”

PERSOONLIKE BESLUITE WAT OP BYBELBEGINSELS GEGROND IS

12. Hoe is Galasiërs 6:5 van toepassing op vermaak, en watter leiding kry ons om persoonlike besluite te neem?

12 Kom ons kyk nou na die tweede kategorie—vermaak wat in God se Woord nie uitdruklik veroordeel of pertinent goedgekeur word nie. Wanneer daar uit sulke vermaak gekies word, moet elke Christen ’n persoonlike besluit neem oor wat hy as heilsaam beskou (Galasiërs 6:5). Maar wanneer ons voor hierdie keuse te staan kom, is ons nie sonder leiding nie. Die Bybel bevat beginsels, of grondwaarhede, wat ons in staat stel om Jehovah se denke te onderskei. Deur ag te slaan op sulke beginsels, sal ons in alle dinge, met inbegrip van ons keuse van vermaak, kan onderskei “wat die wil van Jehovah is”.—Efesiërs 5:17.

13. Wat sal ons aanspoor om vermaak te vermy wat Jehovah kan mishaag?

13 Dit is verstaanbaar dat nie alle Christene hulle sedelike onderskeidingsvermoë tot dieselfde mate ontwikkel het nie (Filippense 1:9). Daarbenewens besef Christene dat smaak op die gebied van vermaak verskil. Daar kan dus nie verwag word dat alle Christene presies dieselfde besluite sal neem nie. Nietemin, hoe meer ons toelaat dat goddelike beginsels ons verstand en hart beïnvloed, hoe gretiger sal ons wees om enige vorm van vermaak te vermy wat Jehovah kan mishaag.—Psalm 119:11, 129; 1 Petrus 2:16.

14. (a) Watter faktor moet ons in gedagte hou wanneer ons vermaak kies? (b) Hoe kan ons Koninkryksbelange altyd eerste in ons lewe stel?

14 Wanneer ’n mens vermaak kies, is daar nog ’n belangrike faktor om in gedagte te hou: jou tyd. Terwyl die inhoud van jou vermaak toon wat vir jou aanvaarbaar is, toon die hoeveelheid tyd wat jy daaraan wy, wat vir jou belangrik is. Vir Christene is geestelike sake natuurlik die belangrikste (Matteus 6:33). Wat kan jy dan doen om seker te maak dat jy Koninkryksbelange altyd eerste in jou lewe stel? Die apostel Paulus het gesê: “Let . . . voortdurend streng op hoe julle wandel, dat dit nie as onwyses is nie, maar as wyses, terwyl julle die geleë tyd vir julleself uitkoop” (Efesiërs 5:15, 16). Ja, as jy duidelike perke stel aan die tyd wat jy vir vermaak opsysit, sal dit jou help om die nodige tyd te hê vir “die belangriker dinge”—bedrywighede wat tot jou geestelike welsyn bydra.—Filippense 1:10.

15. Waarom is dit verstandig om aan die veilige kant te bly wanneer jy vermaak kies?

15 Dit is ook verstandig om aan die veilige kant te bly wanneer jy vermaak kies. Wat beteken dit? Kom ons dink weer aan die voorbeeld van die vrug. Om te keer dat jy per ongeluk van die slegte deel eet, sny jy nie net die slegte kol uit nie, maar jy sny ook ’n bietjie ekstra weg. Dit is dan ook verstandig om aan die veilige kant te bly wat jou keuse van vermaak betref. ’n Wyse Christen vermy nie net vermaak wat ooglopend in stryd is met Bybelbeginsels nie, maar ook enige soort vermaak wat twyfelagtig is of wat moontlik elemente bevat wat geestelik ongesond is (Spreuke 4:25-27). As jy by God se Woord bly, sal dit jou help om dit te doen.

“ALLES WAT KUIS IS”

As ons godvrugtige beginsels toepas in ons keuse van vermaak, beskerm dit ons teen geestelike skade

16. (a) Hoe kan ons toon dat ons Jehovah se beskouing van sedes het? (b) Hoe kan dit jou lewenswyse word om Bybelbeginsels toe te pas?

16 Wanneer ware Christene vermaak kies, neem hulle allereers Jehovah se beskouing in aanmerking. Die Bybel openbaar Jehovah se gevoelens en standaarde. Koning Salomo noem byvoorbeeld etlike dinge wat Jehovah haat, soos “’n valse tong en hande wat onskuldige bloed vergiet, ’n hart wat skadelike planne beraam, voete wat haastig is om na slegtheid te hardloop” (Spreuke 6:16-19). Hoe moet Jehovah se beskouing joune beïnvloed? “O julle wat Jehovah liefhet”, maan die psalmis, “haat die kwaad” (Psalm 97:10). Jou keuse van vermaak moet toon dat jy werklik haat wat Jehovah haat (Galasiërs 5:19-21). Hou ook in gedagte dat wat jy doen wanneer jy alleen is, nog meer as wanneer jy in die openbaar is, toon watter soort mens jy werklik is (Psalm 11:4; 16:8). As jy dus ’n opregte begeerte het om Jehovah se siening van sedelike sake in alle aspekte van jou lewe te weerspieël, sal jy altyd keuses maak wat in ooreenstemming is met Bybelbeginsels. Dit sal dan jou lewenswyse word.—2 Korintiërs 3:18.

17. Watter vrae moet ons ons afvra voordat ons vermaak kies?

17 Wat anders kan jy doen om te verseker dat jy in ooreenstemming met Jehovah se denke optree wanneer jy vermaak kies? Dink aan die vraag: ‘Watter uitwerking sal dit op my en my posisie voor God hê?’ Byvoorbeeld, voordat jy besluit om na ’n sekere rolprent te kyk, vra jou af: ‘Watter uitwerking sal die inhoud van hierdie rolprent op my gewete hê?’ Kom ons bespreek nou watter beginsels hiermee verband hou.

18, 19. (a) Hoe kan die beginsel in Filippense 4:8 ons help om vas te stel of ons vermaak heilsaam is? (b) Watter ander beginsels kan jou help om goeie vermaak te kies? (Sien voetnoot.)

18 ’n Baie belangrike beginsel word in Filippense 4:8 aangetref, wat sê: “Alles wat waar is, alles wat van ernstige belang is, alles wat regverdig is, alles wat kuis is, alles wat lieflik is, alles waarvan goed gepraat word, watter deug en watter lofwaardige saak daar ook al is, hou aan om hierdie dinge te bedink.” Toegegee, Paulus het hier nie van vermaak gepraat nie, maar van die bepeinsinge van die hart, wat altyd gerig moet wees op dinge wat God se goedkeuring wegdra (Psalm 19:14). Maar Paulus se woorde kan in beginsel toegepas word op die kwessie van vermaak. Hoe?

19 Vra jou af: ‘Vul my keuse van rolprente, videospeletjies, musiek of ander vorme van vermaak my verstand met “alles wat kuis is”?’ Byvoorbeeld, watter beelde oorheers jou gedagtes nadat jy na ’n rolprent gekyk het? As die beelde aangenaam, rein en verkwikkend is, weet jy dat jou vermaak heilsaam was. Maar as die rolprent waarna jy gekyk het, jou aan dinge laat dink wat onkuis is, was jou vermaak ongesond, selfs skadelik (Matteus 12:33; Markus 7:20-23). Waarom? Omdat dit jou innerlike vrede versteur, jou Bybelopgeleide gewete skaad en jou verhouding met God kan vernietig as jy oor dinge dink wat sedelik onrein is (Efesiërs 5:5; 1 Timoteus 1:5, 19). Aangesien sulke vermaak ’n skadelike uitwerking op jou as persoon het, moet jy vasbeslote wees om dit te vermy (Romeine 12:2). * Wees soos die psalmis wat tot Jehovah gebid het: “Wend my oë af, sodat hulle niks sien wat waardeloos is nie.”—Psalm 119:37.

SOEK DIE VOORDEEL VAN ANDER

20, 21. Hoe is 1 Korintiërs 10:23, 24 van toepassing op die keuse van heilsame vermaak?

20 Paulus het ’n belangrike Bybelbeginsel genoem wat in aanmerking geneem moet word wanneer ’n mens besluite neem oor persoonlike sake. Hy het gesê: “Alles is geoorloof, maar nie alles bou op nie. Laat elkeen aanhou om, nie sy eie voordeel nie, maar dié van die ander persoon te soek” (1 Korintiërs 10:23, 24). Hoe hou hierdie beginsel verband met die keuse van heilsame vermaak? Jy moet jou afvra: ‘Watter uitwerking sal die vermaak wat ek kies, op ander hê?’

21 Jou gewete laat jou dalk toe om ’n sekere vorm van vermaak te geniet wat jy as “geoorloof”, of aanvaarbaar, beskou. Maar as jy sien dat ander gelowiges wie se gewete hulle minder toelaat, dit aanstootlik vind, sal jy dalk besluit om dit te vermy. Waarom? Omdat jy nie ‘teen jou broers wil sondig’—of selfs, soos Paulus gesê het, ‘teen Christus wil sondig’—deur dit vir jou medegelowiges moeiliker te maak om aan God getrou te bly nie. Jy gee ag op die vermaning: “Sorg dat julle nie oorsake van struikeling . . . word nie” (1 Korintiërs 8:12; 10:32). Vandag gee ware Christene gehoor aan Paulus se bedagsame en skerpsinnige raad deur vermaak te vermy wat dalk “geoorloof” is, maar nie ‘opbou’ nie.—Romeine 14:1; 15:1.

22. Waarom laat Christene ruimte toe vir verskillende beskouings in persoonlike sake?

22 Maar daar is ’n ander sy van die saak om die voordeel van ander te soek. ’n Christen met ’n gewete wat hom minder toelaat, moenie daarop aandring dat almal in die Christengemeente hulle skik na sy enger beskouing van wat gepaste vermaak is nie. As hy dit doen, sou hy soos ’n bestuurder op ’n snelweg wees wat daarop aandring dat al die ander bestuurders op daardie pad by die spoed bly wat hy verkies. Dit sou nie redelik wees nie. Uit Christelike liefde moet iemand met ’n gewete wat hom minder toelaat, medegelowiges respekteer wie se beskouing van vermaak ietwat anders is as syne, maar nogtans binne die perke van Christelike beginsels is. Sodoende laat hy sy “redelikheid aan alle mense bekend word”.—Filippense 4:5; Prediker 7:16.

23. Hoe kan jy seker maak dat jy heilsame vermaak kies?

23 Ter opsomming, hoe kan jy seker maak dat jy heilsame vermaak kies? Verwerp enige soort vermaak met eksplisiete uitbeeldings van verdorwe, onsedelike dinge wat uitdruklik in God se Woord veroordeel word. Volg Bybelbeginsels wat toegepas kan word op enige soort vermaak wat nie spesifiek in die Bybel genoem word nie. Vermy vermaak wat jou gewete skaad, en wees bereid om jou vorme van vermaak te ontsê wat dalk die gewete van ander sal pla, veral dié van medegelowiges. Mag jou vaste voorneme om dit te doen, God verheerlik en jou en jou gesin in sy liefde hou.

^ par. 19 Nog beginsels wat op vermaak van toepassing is, word gevind in Spreuke 3:31; 13:20; Efesiërs 5:3, 4 en Kolossense 3:5, 8, 20.