Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

AANHANGSEL

Hoe om ’n uitgesette persoon te behandel

Hoe om ’n uitgesette persoon te behandel

Min dinge veroorsaak soveel pyn as wanneer ’n familielid of ’n goeie vriend weens onberouvolle sonde uit die gemeente gesit word. Ons reaksie op die Bybel se raad oor hierdie saak kan openbaar hoe innig ons liefde vir God is en hoe lojaal ons aan sy reëling is. * Kom ons kyk na ’n paar vrae wat oor hierdie onderwerp ontstaan.

Hoe moet ons ’n uitgesette persoon behandel? Die Bybel sê: “Hou [op] om met enigeen om te gaan wat ’n broer genoem word maar wat ’n hoereerder of ’n gierigaard of ’n afgodedienaar of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n afperser is, en [moenie] eens saam met so iemand . . . eet nie” (1 Korintiërs 5:11). Aangaande enigiemand wat “nie in die leer van die Christus bly nie”, lees ons: “Moet . . . hom nooit in julle huise ontvang of hom groet nie. Want wie hom groet, het deel aan sy goddelose werke” (2 Johannes 9-11). Ons het geen geestelike of sosiale omgang met uitgesettenes nie. Die Wagtoring van 1 Desember 1981, bladsy 22, het gesê: “Net om vir iemand ‘Hallo’ te sê, [kan] die eerste stap . . . wees wat tot ’n gesprek of moontlik selfs ’n vriendskap kan lei. Wil ons daardie eerste stap teenoor ’n uitgesette persoon doen?”

Is dit werklik nodig om die persoon heeltemal te vermy? Ja, om etlike redes. Eerstens, dit is ’n kwessie van lojaliteit aan God en sy Woord. Ons is nie net gehoorsaam aan Jehovah wanneer dit ons pas nie, maar ook wanneer dit werklik ’n uitdaging is. Liefde vir God beweeg ons om al sy gebooie te gehoorsaam, omdat ons erken dat hy regverdig en liefdevol is en dat sy wette altyd vir ons beswil is (Jesaja 48:17; 1 Johannes 5:3). Tweedens, as ons omgang met ’n onberouvolle oortreder vermy, beskerm dit ons sowel as die res van die gemeente teen geestelike en sedelike besoedeling en word die gemeente se goeie naam hooggehou (1 Korintiërs 5:6, 7). Derdens, ons ferm standpunt vir Bybelbeginsels kan selfs die uitgesettene tot voordeel strek. As ons die besluit van die regterlike komitee ondersteun, sal dit moontlik die hart raak van ’n oortreder wat tot dusver nie gereageer het op die ouer manne se pogings om hom te help nie. Die verlies van kosbare omgang met geliefdes sal hom dalk help om “tot besinning” te kom, die erns van sy oortreding in te sien en stappe te doen om tot Jehovah terug te keer.—Lukas 15:17.

Sê nou ’n familielid word uitgesit? In so ’n geval kan die hegte band tussen familielede ’n ware toets van lojaliteit wees. Hoe moet ons ’n uitgesette familielid behandel? Ons kan nie elke moontlike situasie hier bespreek nie, maar kom ons kyk na twee basiese situasies.

In party gevalle woon die uitgesette familielid dalk nog saam met sy gesin in dieselfde huis. Aangesien sy uitsetting nie ’n einde maak aan die gesinsband nie, kan normale daaglikse gesinsbedrywighede en omgang voortgaan. Maar deur sy gedrag het die uitgesette persoon die geestelike band tussen hom en sy gelowige gesin verbreek. Daarom het lojale gesinslede nie meer geestelike omgang met hom nie. Byvoorbeeld, as die uitgesettene teenwoordig is wanneer die gesin saamkom om die Bybel te bestudeer, sal hy nie aan die studie deelneem nie. Maar as die uitgesettene ’n minderjarige kind is, het die ouers nog steeds die verantwoordelikheid om hom te onderrig en te dissiplineer. Gevolglik sal liefdevolle ouers ’n Bybelstudie met die kind hou. *Spreuke 6:20-22; 29:17.

In ander gevalle woon die uitgesette familielid dalk nie saam met die gesin in dieselfde huis nie. Hoewel daar by uitsondering tye kan wees wanneer beperkte kontak nodig is om na ’n belangrike familiekwessie om te sien, moet sulke kontak tot die minimum beperk word. Lojale Christenfamilielede soek nie na verskonings om kontak te hê met ’n uitgesette familielid wat nie in die huis woon nie. Lojaliteit aan Jehovah en sy organisasie sal hulle eerder beweeg om die skriftuurlike uitsettingsreëling te ondersteun. Hulle lojale optrede is in die belang van die oortreder en kan hom help om baat te vind by die dissipline wat hy ontvang het. *Hebreërs 12:11.

^ par. 1 Bybelbeginsels oor hierdie onderwerp geld net soveel vir diegene wat hulle van die gemeente dissosieer.

^ par. 2 Vir meer inligting oor uitgesette minderjarige kinders wat nog in die huis woon, sien Die Wagtoring van 1 Oktober 2001, bladsye 16-17, en 15 November 1988, bladsy 20.

^ par. 3 Vir meer inligting oor hoe om uitgesette familielede te behandel, sien die skriftuurlike raad wat bespreek word in Die Wagtoring van 15 April 1988, bladsye 26-31, en 1 Desember 1981, bladsye 23-8.