Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

AANHANGSEL

Vlagsaluering, stemmery en burgerlike diens

Vlagsaluering, stemmery en burgerlike diens

Vlagsaluering. Jehovah se Getuies glo dat die handeling om voor ’n vlag neer te buig of dit te salueer, dikwels terwyl ’n volkslied gesing of gespeel word, ’n godsdiensdaad is wat redding aan die Staat of sy leiers toeskryf, en nie aan God nie (Jesaja 43:11; 1 Korintiërs 10:14; 1 Johannes 5:21). ’n Voorbeeld van so ’n leier was koning Nebukadnesar van eertydse Babilon. Om die volk met sy majesteit en godsdiensywer te beïndruk, het hierdie magtige koning ’n groot beeld opgerig en van sy onderdane vereis om daarvoor neer te buig terwyl musiek gespeel is. Maar drie Hebreërs—Sadrag, Mesag en Abednego—het geweier om voor die beeld neer te buig, selfs op straf van die dood.—Daniël, hoofstuk 3.

“Die vlag is [in ons tyd] nasionalisme se vernaamste simbool van geloof en die middelpunt van aanbidding”, het die geskiedkundige Carlton Hayes geskryf. “Mans haal hulle hoed af wanneer die vlag verbykom; en tot eer van die vlag skryf digters odes en sing kinders lofsange.” Nasionalisme, het hy bygevoeg, het ook sy “heilige dae”, soos die Vierde Julie in die Verenigde State, sowel as sy “heiliges en helde” en sy “tempels”, of heiligdomme. Tydens ’n openbare seremonie in Brasilië het die Minister-generaal van die leër erken: “Die vlag word vereer en aanbid . . . net soos die Vaderland aanbid word.” Ja, “die vlag, soos die kruis, is heilig”, het The Encyclopedia Americana eenkeer gesê.

Die voormelde ensiklopedie het in onlangser tye gesê dat volksliedere “patriotiese gevoelens uitdruk en dikwels ’n gebed om goddelike leiding en beskerming vir die volk of hulle heersers insluit”. Jehovah se knegte is dus nie onredelik as hulle patriotiese seremonies waartydens die vlag gesalueer en volksliedere gesing word, as godsdienstige geleenthede beskou nie. Trouens, waar die boek The American Character kommentaar lewer oor die kinders van Jehovah se Getuies in Amerikaanse skole se weiering om die vlag te vereer of die eed van getrouheid af te lê, het dit gesê: “Die Hooggeregshof het uiteindelik in ’n aantal sake bevestig dat hierdie daaglikse rituele godsdienstig is.”

Hoewel Jehovah se knegte nie deelneem aan seremonies wat hulle as onskriftuurlik beskou nie, respekteer hulle wel die reg van ander om dit te doen. Hulle respekteer ook landsvlae as embleme en erken regmatig ingestelde regerings as “hoër owerhede” wat as “God se dienaar” optree (Romeine 13:1-4). Daarom gehoorsaam Jehovah se Getuies die vermaning om te bid “aangaande konings en almal wat ’n hoë posisie beklee”. Maar ons doen dit “sodat ons kan voortgaan om ’n kalm en stil lewe met volkome godvrugtige toegewydheid en erns te lei”.—1 Timoteus 2:2.

Stemmery in politieke verkiesings. Ware Christene respekteer die reg van ander om te stem. Hulle voer nie veldtogte teen verkiesings nie, en hulle gee hulle samewerking aan die verkose owerheid. Maar hulle bly streng neutraal ten opsigte van die politieke aangeleenthede van die nasies (Matteus 22:21; 1 Petrus 3:16). Wat moet Christene doen in lande waar dit verpligtend is om te stem of in ’n situasie waar gemoedere hoog loop teen dié wat nie na die stembus gaan nie? Met die oog op die feit dat Sadrag, Mesag en Abednego tot by die vlakte Dura gegaan het, besluit ’n Christen in soortgelyke omstandighede dalk om na die stembus te gaan as sy gewete dit toelaat. Maar hy sal versigtig wees om nie sy neutraliteit te skend nie. Hy moet die volgende ses beginsels in gedagte hou:

  1. Jesus se volgelinge is “geen deel van die wêreld . . . nie”.—Johannes 15:19.

  2. Christene verteenwoordig Christus en sy Koninkryk.—Johannes 18:36; 2 Korintiërs 5:20.

  3. Die Christengemeente is verenig in sy oortuigings, en die lede daarvan word deur Christelike liefde saamgebind.—1 Korintiërs 1:10; Kolossense 3:14.

  4. Diegene wat ’n sekere amptenaar in sy amp verkies, is saam met hom aanspreeklik vir sy dade.—Let op die beginsels agter die woorde in 1 Samuel 8:5, 10-18 en 1 Timoteus 5:22.

  5. Jehovah het Israel se begeerte om ’n sigbare heerser te hê, beskou as ’n teken dat hulle Hom verwerp het.—1 Samuel 8:7.

  6. Christene moet vrymoedigheid van spraak hê wanneer hulle met mense van alle politieke oortuigings oor God se Koninkryksregering praat.—Matteus 24:14; 28:19, 20; Hebreërs 10:35.

Burgerlike diens. In party lande vereis die Staat dat diegene wat weier om militêre diens te doen, ’n tyd lank die een of ander burgerlike diens verrig. Wanneer ons hieroor moet besluit, moet ons daaroor bid, dit dalk met ’n ryp mede-Christen bespreek en dan ons besluit op grond van ’n ingeligte gewete neem.—Spreuke 2:1-5; Filippense 4:5.

God se Woord sê vir ons “om gehoorsaam te wees aan regerings en owerhede as heersers, om gereed te wees vir elke goeie werk, . . . om redelik te wees” (Titus 3:1, 2). Ons kan ons dus die volgende vrae afvra: ‘Sal dit my Christelike neutraliteit skend of my by valse godsdiens betrokke laat raak as ek die voorgestelde burgerlike werk aanvaar?’ (Miga 4:3, 5; 2 Korintiërs 6:16, 17). ‘Sal hierdie werk dit vir my moeilik maak om my Christelike verantwoordelikhede na te kom of my selfs verhinder om dit te doen?’ (Matteus 28:19, 20; Efesiërs 6:4; Hebreërs 10:24, 25). ‘Aan die ander kant, kan ek, terwyl ek in hierdie diens is, my geestelike bedrywighede uitbrei, dalk selfs aan die voltydse bediening deelneem?’—Hebreërs 6:11, 12.

As ’n Christen op grond van sy gewete besluit dat hy burgerlike diens kan doen in plaas daarvan om tronk toe te gaan, moet mede-Christene sy besluit respekteer (Romeine 14:10). Maar as hy voel dat hy nie sulke diens kan doen nie, moet ander ook daardie standpunt respekteer.—1 Korintiërs 10:29; 2 Korintiërs 1:24.