Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 10

Hoe om die ware godsdiens te vind

Hoe om die ware godsdiens te vind

As jy ’n vriend van God wil wees, moet jy die godsdiens beoefen wat deur God goedgekeur word. Jesus het gesê dat “die ware aanbidders” God in ooreenstemming met “waarheid” sal aanbid (Johannes 4:23, 24). Daar is net een regte manier om God te aanbid (Efesiërs 4:4-6). Ware godsdiens lei tot die ewige lewe, en valse godsdiens lei tot vernietiging.—Matteus 7:13, 14.

Jy kan die ware godsdiens uitken deur te kyk na die mense wat dit beoefen. Aangesien Jehovah goed is, moet diegene wat sy ware aanbidders is goeie mense wees. Net soos ’n goeie lemoenboom goeie lemoene dra, bring die ware godsdiens goeie mense voort.—Matteus 7:15-20.

Jehovah se vriende het groot respek vir die Bybel. Hulle weet dat die Bybel van God af kom. Hulle laat die Bybel hulle lewe rig, hulle probleme oplos en hulle help om van God te leer (2 Timoteus 3:16). Hulle probeer doen wat hulle vir ander leer.

Jehovah se vriende toon liefde vir mekaar. Jesus het sy liefde vir mense getoon deur hulle van God te leer en deur die siekes gesond te maak. Dié wat die ware godsdiens beoefen, toon ook liefde vir ander. Soos Jesus sien hulle nie neer op mense wat arm is of aan ’n ander etniese groep behoort nie. Jesus het gesê dat mense sy dissipels sou ken aan die liefde wat hulle aan mekaar betoon.—Johannes 13:35.

God se vriende eer God se naam, Jehovah. Sal jy iemand jou beste vriend noem as hy weier om jou naam te gebruik? Nee! As ons ’n vriend het, gebruik ons sy naam, en ons vertel vir ander goeie dinge van daardie vriend. Daarom moet mense wat graag God se vriende wil wees sy naam gebruik en ander van hom vertel. Jehovah wil hê ons moet dit doen.—Matteus 6:9; Romeine 10:13, 14.

Soos Jesus leer God se vriende mense van God se Koninkryk. God se Koninkryk is die hemelse regering wat die aarde in ’n paradys gaan omskep. God se vriende vertel ander van hierdie goeie nuus van God se Koninkryk.—Matteus 24:14.

Jehovah se Getuies probeer om vriende van God te wees. Hulle het respek vir die Bybel en het liefde onder mekaar. Hulle gebruik en eer ook God se naam en leer ander van God se Koninkryk. Jehovah se Getuies beoefen vandag die ware godsdiens op die aarde.