Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 7

Beskou jy lewe soos God dit beskou?

Beskou jy lewe soos God dit beskou?

“By u is die bron van lewe.” – PSALM 36:9.

1, 2. Watter kosbare gawe het Jehovah ons gegee?

JEHOVAH het elkeen van ons ’n wonderlike gawe gegee: die lewe (Genesis 1:27). Hy wil hê dat ons die beste lewe moontlik moet hê. Daarom het hy vir ons beginsels gegee wat ons help om goeie besluite te neem. Ons moet hierdie beginsels gebruik om ons te help om te “onderskei” tussen “wat reg en wat verkeerd is” (Hebreërs 5:14). As ons dit doen, laat ons Jehovah toe om ons op te lei om goed te kan redeneer. Wanneer ons volgens God se beginsels lewe en sien hoe dit ons lewe verbeter, sal ons besef hoe kosbaar hierdie beginsels werklik is.

2 Die lewe kan baie ingewikkeld wees. Soms ontstaan daar situasies waarvoor daar nie ’n spesifieke wet in die Bybel is nie. Byvoorbeeld, ons moet dalk ’n besluit neem oor mediese behandeling waarby bloed betrokke is. Hoe kan ons besluite neem wat Jehovah sal bly maak? Die Bybel bevat beginsels wat ons leer hoe Jehovah lewe en bloed beskou. As ons hierdie beginsels verstaan, sal ons wyse besluite kan neem en ’n skoon gewete kan behou (Spreuke 2:6-11). Kom ons bespreek ’n paar van hierdie beginsels.

HOE BESKOU GOD LEWE EN BLOED?

3, 4. (a) Hoe wys die Bybel vir ons wat God se beskouing van bloed is? (b) Wat word deur bloed voorgestel?

3 Die Bybel leer ons dat bloed heilig is omdat dit lewe voorstel. En lewe is kosbaar vir Jehovah. Nadat Kain sy broer vermoor het, het Jehovah vir hom gesê: “Jou broer se bloed roep van die grond af na my toe uit” (Genesis 4:10). Toe God gepraat het van Abel se bloed, het hy verwys na Abel se lewe, wat deur Kain geneem is.

4 Ná die Vloed van Noag se dag, het God vir mense gesê dat hulle vleis mag eet. Maar hy het wel gesê: “Vleis met sy lewe – sy bloed – mag julle nie eet nie” (Genesis 9:4). Al Noag se nakomelinge, insluitende ons, moet hierdie bevel gehoorsaam. Dit is duidelik dat bloed vir Jehovah lewe voorstel. En ons moet dieselfde beskouing van bloed hê. – Psalm 36:9.

5, 6. Hoe wys die Wet van Moses vir ons wat Jehovah se beskouing van lewe en bloed is?

5 In die Wet wat Jehovah aan Moses gegee het, het Hy gesê: “As enigiemand . . . enige bloed eet, sal ek die persoon wat die bloed eet, beslis verwerp, en ek sal hom onder sy volk uitroei. Want die lewe van die vlees is in die bloed.” – Levitikus 17:10, 11.

6 Die Wet van Moses het gesê dat iemand wat ’n dier vir voedsel doodmaak, die bloed van die dier op die grond moet laat uitloop. Dit het gewys dat die dier se lewe heilig is en aan die Skepper, Jehovah, behoort (Deuteronomium 12:16; Esegiël 18:4). Maar Jehovah het nie verwag dat die Israeliete elke druppel bloed uit die dier moes uitkry wanneer hulle dit gebloei het nie. Solank hulle alles gedoen het wat hulle kon om die bloed te laat uitloop, kon hulle die vleis met ’n skoon gewete eet. Deur respek te toon vir die dier se bloed, het hulle respek getoon vir die Lewegewer, Jehovah. Die Wet het die Israeliete ook beveel om diere te offer vir vergifnis van sondes. – Sien Eindnota 19 en 20.

7. Hoe het Dawid gewys dat hy respek het vir bloed?

7 Kom ons kyk na ’n voorbeeld wat wys hoe kosbaar bloed is. Toe Dawid eenkeer teen die Filistyne geveg het, het Dawid se manne gesien dat hy baie dors is. Hulle het hulle lewe gewaag om in die kamp van die vyand vir hom water te gaan haal. Maar toe hulle dit vir Dawid gee, het hy geweier om dit te drink en “dit voor Jehovah uitgegooi”. Dawid het gesê: “O Jehovah, ek sal nooit eers daaraan dink om dit te doen nie! Moet ek die bloed drink van die manne wat hulle lewens gewaag het om dit te gaan haal?” Dawid het besef hoe kosbaar lewe en bloed vir God is. – 2 Samuel 23:15-17.

8, 9. Hoe moet Christene bloed beskou?

8 In die tyd van die apostels was dit nie meer vir Christene nodig om diere te offer nie. Maar hulle moes nog steeds die regte beskouing van bloed hê. Jehovah het vereis dat hulle hulle moet ‘weerhou van bloed’. Dit was een van die min dele van die Wet wat Christene nog moes gehoorsaam. Dit was net so belangrik soos om seksuele onsedelikheid en afgodediens te vermy. – Handelinge 15:28, 29.

Hoe sal ek my besluit oor die gebruik van bloedfraksies verduidelik?

9 Dit is nog steeds die geval. As Christene weet ons dat Jehovah die Bron van lewe is en dat alle lewe aan hom behoort. Ons weet ook dat bloed heilig is en dat dit lewe voorstel. Daarom moet ons altyd Bybelbeginsels in ag neem wanneer ons besluite moet neem oor mediese behandeling waarby bloed betrokke is.

DIE MEDIESE GEBRUIK VAN BLOED

10, 11. (a) Hoe beskou Jehovah se Getuies die oortapping van heelbloed of van die vier hoofkomponente van bloed? (b) Watter persoonlike besluite moet elke Christen neem?

10 Jehovah se Getuies besef dat die bevel om ons van ‘bloed te weerhou’, meer behels as om nie bloed te eet of te drink nie. Om ‘ons van bloed te weerhou’, beteken dat ons nie bloedoortappings sal aanvaar of bloed sal skenk nie en dat ons nie ons eie bloed sal stoor sodat dit later oorgetap kan word nie. Dit beteken ook dat ons nie oortappings van enigeen van die vier hoofkomponente van bloed – rooibloedselle, witbloedselle, bloedplaatjies en plasma – sal aanvaar nie.

11 Hierdie vier hoofkomponente van bloed kan afgebreek word in kleiner deeltjies wat bloedfraksies genoem word. Elke Christen moet self besluit of hy bloedfraksies sal aanvaar of nie. Dieselfde geld vir mediese prosedures waar die pasiënt se eie bloed gebruik word. Elkeen moet self besluit wat met sy bloed gedoen mag word gedurende ’n chirurgiese prosedure, mediese toets of behandelingsessie. – Sien Eindnota 21.

12. (a) Hoekom is ons besluite oor gewetensake vir Jehovah belangrik? (b) Hoe kan ons wyse besluite neem in verband met mediese prosedures?

12 Is ons besluite oor gewetensake vir Jehovah belangrik? Ja, want dit wys wat in ons hart is, en Jehovah stel baie belang in ons gedagtes en gevoelens. (Lees Spreuke 17:3; 24:12.) Voordat ons ’n besluit oor mediese behandeling neem, moet ons dus bid vir Jehovah se leiding en navorsing doen oor die behandeling. Daarna moet ons ons Bybelopgeleide gewete gebruik om ’n besluit te neem. Ons moet ander nie vra wat hulle sou doen as hulle in ons situasie was nie, en ander moet ook nie ons besluit probeer beïnvloed nie. Elke Christen “sal sy eie vrag dra”. – Galasiërs 6:5; Romeine 14:12.

JEHOVAH SE WETTE IS ’N BEWYS VAN SY LIEFDE

13. Wat leer ons oor Jehovah wanneer ons sy wette en beginsels oor bloed ondersoek?

13 Enigiets wat Jehovah van ons verwag, is tot ons voordeel en is ’n bewys van sy liefde vir ons (Psalm 19:7-11). Maar ons gehoorsaam hom nie net omdat sy gebooie tot ons voordeel is nie. Ons gehoorsaam hom omdat ons lief is vir hom. Weens ons liefde vir hom sal ons nie bloedoortappings aanvaar nie (Handelinge 15:20). En dit is ook ’n beskerming vir ons gesondheid. Vandag weet die meeste mense dat bloedoortappings gevare inhou, en volgens baie dokters is dit beter vir ’n pasiënt se gesondheid om sonder bloed te opereer. Dit is duidelik dat Jehovah ’n wyse en liefdevolle Vader is. – Lees Jesaja 55:9; Johannes 14:21, 23.

14, 15. (a) Watter wette het Jehovah aan sy volk gegee om hulle te beskerm? (b) Hoe kan ons die beginsels toepas waarop hierdie wette gebaseer is?

14 God se wette was nog altyd voordelig vir sy volk. Jehovah het die eertydse Israeliete wette gegee om hulle teen ernstige ongelukke te beskerm. Byvoorbeeld, een wet het gesê dat ’n huiseienaar ’n muurtjie om sy plat dak moet bou sodat niemand daarvan sal afval nie (Deuteronomium 22:8). Volgens ’n ander wet moes die eienaar van ’n gevaarlike bul die bul onder beheer hou sodat dit niemand sou aanval of doodmaak nie (Eksodus 21:28, 29). As ’n Israeliet hierdie wette nie gehoorsaam het nie en iemand gesterf het, sou hy verantwoordelik wees vir daardie persoon se dood.

15 Hierdie wette wys vir ons dat lewe vir Jehovah kosbaar is. Wat leer ons hieruit? Ons moet wys dat ons respek het vir lewe deur ons huis en ons voertuig in ’n goeie toestand te hou, deur versigtig te bestuur en deur ons ontspanning wyslik te kies. Party mense, veral jongmense, dink dat niks slegs met hulle kan gebeur nie, en daarom vat hulle kanse en ignoreer hulle moontlike gevare. Maar dit is nie hoe Jehovah wil hê ons moet optree nie. Hy wil hê dat ons ons lewe sowel as die lewe van ander as kosbaar moet beskou. – Prediker 11:9, 10.

16. Wat is Jehovah se beskouing van aborsie?

16 Elke menselewe is vir Jehovah kosbaar. Selfs ’n ongebore baba is vir hom kosbaar. As iemand in eertydse Israel ’n swanger vrou per ongeluk beseer het en sy of haar baba gesterf het, het Jehovah daardie persoon verantwoordelik gehou. Al was dit ’n ongeluk, het die Wet van Moses vereis dat daardie persoon doodgemaak moet word. ’n Lewe moes vir ’n lewe gegee word. (Lees Eksodus 21:22, 23.) God beskou ’n ongebore baba as ’n lewende persoon. Hoe dink jy sal hy dan voel oor aborsie? Hoe dink jy voel hy wanneer hy sien hoe miljoene ongebore babas elke jaar doodgemaak word?

17. Wat kan vertroostend wees vir ’n vrou wat ’n aborsie gehad het voordat sy Jehovah leer ken het?

17 Sê nou ’n vrou het ’n aborsie gehad voordat sy geleer het hoe Jehovah dit beskou? Sy kan seker wees dat Jehovah haar op grond van Jesus se losprysoffer kan vergewe (Lukas 5:32; Efesiërs 1:7). ’n Vrou wat so ’n fout in die verlede gemaak het, maar wat opreg spyt is daaroor, hoef nie skuldig te bly voel nie. “Jehovah is genadig en betoon medelye . . . So ver as wat die sonsopkoms van die sonsondergang is, so ver het hy ons oortredings van ons verwyder.” – Psalm 103:8-14.

VERMY HAATGEVOELENS

18. Hoekom moet ons alles doen wat ons kan om haat uit ons hart te verwyder?

18 Respek vir God se gawe van lewe begin diep in ons hart. Dit hou verband met hoe ons oor ander voel. “Elkeen wat sy broer haat, is ’n moordenaar,” het die apostel Johannes geskryf (1 Johannes 3:15). As ons nie van iemand hou nie, kan ons daardie persoon maklik begin haat. Haat kan veroorsaak dat ons geen respek vir iemand het nie, hom vals beskuldig of selfs wens dat hy dood is. Jehovah weet hoe ons oor ander mense voel (Levitikus 19:16; Deuteronomium 19:18-21; Matteus 5:22). As ons vind dat haat vir iemand in ons hart ontwikkel, moet ons ons bes doen om daarvan ontslae te raak. – Jakobus 1:14, 15; 4:1-3.

19. Op watter ander manier kan ons wys dat lewe vir ons kosbaar is?

19 Daar is nog ’n manier waarop ons kan wys dat lewe vir ons kosbaar is. In Psalm 11:5 lees ons dat Jehovah ‘elkeen haat wat geweld liefhet’. As ons gewelddadige vermaak kies, kan dit wys dat ons lief is vir geweld. Hoekom sal ons ons verstand wil vul met gewelddadige woorde, idees en beelde? Ons wil ons verstand eerder vul met dinge wat rein is en wat vrede bevorder. – Lees Filippense 4:8, 9.

MOENIE DEEL WEES VAN ORGANISASIES WAT NIE RESPEK VIR LEWE HET NIE

20-22. (a) Hoe beskou Jehovah Satan se wêreld? (b) Hoe kan God se volk wys dat hulle “geen deel van die wêreld is nie”?

20 Satan se wêreld het geen respek vir lewe nie, en Jehovah beskou dit as bloedskuldig, dit wil sê skuldig aan moord. Dwarsdeur die geskiedenis het politieke magte die dood van miljoene mense veroorsaak, insluitende baie van Jehovah se knegte. In die Bybel word hierdie magte, of regerings, as wrede en gewelddadige diere uitgebeeld (Daniël 8:3, 4, 20-22; Openbaring 13:1, 2, 7, 8). In vandag se wêreld word daar ook dodelike wapens geproduseer, en mense maak baie geld uit die koop en verkoop daarvan. Dit is duidelik dat ‘die hele wêreld in die mag van die Duiwel is’. – 1 Johannes 5:19.

21 Maar ware Christene is “geen deel van die wêreld nie”. Jehovah se volk is neutraal wanneer dit by die politiek en oorloë kom. Hulle maak nie mense dood nie, en hulle ondersteun geen organisasie wat veroorsaak dat mense doodgemaak word nie (Johannes 15:19; 17:16). Wanneer Christene vervolg word, reageer hulle nie met geweld nie. Jesus het ons geleer dat ons selfs ons vyande moet liefhê. – Matteus 5:44; Romeine 12:17-21.

22 Godsdiens is ook verantwoordelik vir die dood van miljoene mense. Die Bybel sê van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens: “In haar is die bloed van profete en van heiliges gevind, en van almal wat op die aarde doodgemaak is.” Jy kan dus verstaan hoekom Jehovah ons die bevel gee: “Gaan uit haar uit, my volk.” Diegene wat Jehovah aanbid, is geen deel van valse godsdiens nie. – Openbaring 17:6; 18:2, 4, 24.

23. Wat behels dit om uit Babilon die Grote uit te gaan?

23 Om uit Babilon die Grote uit te gaan, behels dat ons dit baie duidelik maak dat ons nie meer deel van enige valse godsdiens is nie. Byvoorbeeld, ons moet seker maak dat ons naam verwyder word van die ledelys van enige godsdiens waaraan ons behoort het. Maar dit is nie al nie. Ons moet ook die slegte dinge wat valse godsdiens doen, haat en verwerp. Valse godsdiens laat onsedelikheid, gierigheid en betrokkenheid by die politiek toe, en hulle bevorder selfs hierdie dinge. (Lees Psalm 97:10; Openbaring 18:7, 9, 11-17.) Oor die jare het miljoene mense as gevolg daarvan gesterf.

24, 25. Wat help ons om innerlike vrede en ’n goeie gewete te hê?

24 Voordat ons Jehovah leer ken het, het elkeen van ons op die een of ander manier die slegte dinge van Satan se wêreld ondersteun. Maar ons het verander. Ons het die losprys aanvaar en ons lewe aan Jehovah toegewy. Ons ondervind hoe “Jehovah self tye van verfrissing bring”. Ons het innerlike vrede en ’n goeie gewete, want ons weet dat ons God se goedkeuring het. – Handelinge 3:19; Jesaja 1:18.

25 Al was ons voorheen deel van ’n organisasie wat geen respek vir lewe het nie, kan Jehovah ons vergewe op grond van die losprys. Ons het groot waardering vir Jehovah se gawe van lewe. Ons toon ons waardering deur ons bes te doen om ander van Jehovah te leer, hulle te help om nie meer deel van Satan se wêreld te wees nie en om ’n hegte vriendskap met God te geniet. – 2 Korintiërs 6:1, 2.

VERTEL ANDER VAN DIE KONINKRYK

26-28. (a) Watter spesiale opdrag het Jehovah vir Esegiël gegee? (b) Watter opdrag het Jehovah vir ons gegee?

26 In eertydse Israel het Jehovah vir die profeet Esegiël gesê om die volk te waarsku dat Jerusalem binnekort vernietig sal word. Hy moes hulle ook vertel wat hulle moes doen om te oorleef. As Esegiël die volk nie gewaarsku het nie, sou Jehovah hom verantwoordelik gehou het vir hulle dood (Esegiël 33:7-9). Esegiël het gewys dat lewe vir hom kosbaar is deur sy bes te doen om daardie belangrike boodskap bekend te maak.

27 Jehovah het ons die opdrag gegee om mense te waarsku dat Satan se wêreld binnekort vernietig sal word en om hulle te help om Jehovah te leer ken sodat hulle in die nuwe wêreld kan lewe (Jesaja 61:2; Matteus 24:14). Ons wil ons bes doen om ander van hierdie boodskap te vertel. Ons wil soos Paulus kan sê: “Ek [is] rein . . . van die bloed van alle mense, want ek het nie gehuiwer om julle van God se hele voorneme te vertel nie.” – Handelinge 20:26, 27.

28 Ons moet ook in ander aspekte van ons lewe rein wees. In die volgende hoofstuk sal ons dit bespreek.