Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 17

Bly in God se liefde

Bly in God se liefde

“Julle . . . moet julle op julle allerheiligste geloof opbou . . . sodat julle in God se liefde kan bly.” – JUDAS 20, 21.

1, 2. Wat kan ons doen om in God se liefde te bly?

ONS wil almal sterk en gesond wees. Daarom probeer ons om gesond te eet, gereeld te oefen en om goed na ons liggaam te kyk. Al verg dit inspanning, het dit goeie resultate, en daarom hou ons aan om dit te doen. Maar ons moet ook in ’n ander sin sterk en gesond wees.

2 Ons het wel die eerste stappe geneem om Jehovah te leer ken, maar ons moet aanhou om ons verhouding met hom te versterk. Toe Judas Christene aangespoor het om ‘in God se liefde te bly’, het hy verduidelik hoe hulle dit kan doen. Hy het vir hulle gesê: “Julle . . . moet julle op julle allerheiligste geloof opbou” (Judas 20, 21). Hoe kan ons sterk geloof opbou?

HOU AAN OM JOU GELOOF OP TE BOU

3-5. (a) Hoe wil Satan hê moet jy oor Jehovah se standaarde voel? (b) Hoe voel jy oor Jehovah se wette en beginsels?

3 Dit is belangrik om persoonlik oortuig te wees dat Jehovah se standaarde die beste is. Satan wil hê dat jy moet dink dat dit te moeilik is om by God se standaarde te bly en dat jy gelukkiger sal wees as jy self besluit wat reg is en wat verkeerd is. Satan het hierdie leuen al in die tuin van Eden gebruik (Genesis 3:1-6). En tot vandag toe probeer hy hard om mense daarvan te oortuig.

4 Is Satan reg? Is Jehovah se standaarde te beperkend? Nee. Dink aan die volgende voorbeeld. Sê nou jy stap in ’n pragtige park. Dan sien jy ’n hoë heining wat keer dat jy in ’n sekere deel van die park kan stap. Dalk wonder jy: ‘Hoekom is hierdie heining in my pad?’ Maar op daardie oomblik hoor jy ’n leeu wat aan die ander kant van die heining brul. Hoe voel jy nou oor die heining? Jy is dankbaar dat die heining keer dat jy die leeu se volgende maaltyd word! Jehovah se beginsels is soos daardie heining, en die Duiwel is soos die leeu. God se Woord waarsku ons: “Bly helder van verstand, bly wakker! Julle teenstander, die Duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.” – 1 Petrus 5:8.

5 Jehovah wil hê dat ons die beste lewe moontlik moet hê. Hy wil nie hê dat ons deur Satan mislei moet word nie. Daarom het hy vir ons wette en beginsels gegee om ons te beskerm en om ons te help om gelukkig te wees (Efesiërs 6:11). Jakobus het geskryf: “Die een wat diep kyk in die volmaakte wet wat tot vryheid lei en wat daarby bly, . . . sal gelukkig wees in wat hy doen.” – Jakobus 1:25.

6. Wat kan ons help om oortuig te wees dat God se standaarde die beste is?

6 Wanneer ons Jehovah se leiding volg, verbeter ons lewe en word ons vriendskap met hom sterker. Byvoorbeeld, ons vind daarby baat as ons sy uitnodiging aanvaar om dikwels tot hom te bid (Matteus 6:5-8; 1 Tessalonisense 5:17). Dit maak ons gelukkig as ons sy opdrag gehoorsaam om saam te vergader sodat ons hom kan aanbid en mekaar kan aanmoedig en as ons ons bes doen in die predikings- en onderrigtingswerk (Matteus 28:19, 20; Galasiërs 6:2; Hebreërs 10:24, 25). Wanneer ons nadink oor hoe hierdie dinge ons gehelp het om ons geloof sterk te hou, raak ons al hoe meer daarvan oortuig dat dit die beste is om Jehovah te gehoorsaam.

7, 8. Wat sal ons help om nie bekommerd te wees oor toetse wat dalk voorlê nie?

7 Miskien is ons bekommerd dat ons geloof nie sterk genoeg is vir toetse wat dalk voorlê nie. As jy ooit so voel, moet jy Jehovah se woorde in gedagte hou: “Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel, die Een wat jou lei op die weg wat jy moet volg. As jy maar net aan my gebooie aandag sal skenk! Dan sal jou vrede net soos ’n rivier word, en jou regverdigheid soos die golwe van die see.” – Jesaja 48:17, 18.

8 As ons Jehovah gehoorsaam, sal ons vrede soos ’n rivier wees wat nooit opdroog nie en sal ons regverdigheid soos die golwe van die see wees wat heeltyd oor die strand spoel. Maak nie saak wat in ons lewe gebeur nie, ons kan getrou bly. Die Bybel belowe: “Gee jou las vir Jehovah, en hy sal jou ondersteun. Hy sal die regverdige nooit laat val nie.” – Psalm 55:22.

‘WERK HARD OM GEESTELIK VOLWASSE TE WORD’

9, 10. Wat beteken dit om geestelik volwasse te wees?

9 As jy jou verhouding met Jehovah versterk, sal jy ‘geestelik volwasse word’ (Hebreërs 6:1). Wat beteken dit om geestelik volwasse te wees?

10 Ons word nie outomaties volwasse Christene as ons ouer word nie. As ons geestelik volwasse wil word, moet ons Jehovah ons beste Vriend maak en dinge probeer beskou soos hy dit beskou (Johannes 4:23). Paulus het geskryf: “Dié wat volgens die vlees lewe, bly dink aan die dinge van die vlees, maar dié wat volgens die gees lewe, bly dink aan die dinge van die gees” (Romeine 8:5). Iemand wat geestelik volwasse is, stel nie plesier of materiële dinge eerste in sy lewe nie. Hy stel eerder sy diens aan Jehovah eerste en neem wyse besluite in die lewe. (Spreuke 27:11; lees Jakobus 1:2, 3.) Hy laat hom nie beïnvloed om te doen wat verkeerd is nie. ’n Volwasse persoon weet wat reg is en is vasbeslote om dit te doen.

11, 12. (a) Wat het Paulus gesê oor ’n Christen se “denkvermoë”? (b) Watter voorbeeld help ons om te verstaan wat nodig is om ’n volwasse Christen te word?

11 Dit verg inspanning om geestelik volwasse te word. Die apostel Paulus het geskryf: “Vaste voedsel is vir volwasse mense, vir dié wat hulle denkvermoë geoefen het deur dit te gebruik, sodat hulle kan onderskei wat reg en wat verkeerd is” (Hebreërs 5:14). Die woord “geoefen” laat ons moontlik dink aan die oefening wat nodig is om ’n atleet te word.

12 Wanneer ons ’n goeie atleet sien, weet ons dat dit baie tyd geneem het en baie oefening geverg het om so goed te wees. Hy is nie as ’n atleet gebore nie. Wanneer ’n baba gebore word, weet hy nie presies hoe hy sy armpies en beentjies moet gebruik nie. Maar hy leer mettertyd hoe om dinge vas te hou en hoe om te loop. Met oefening kan hy dalk selfs ’n atleet word. Net so neem dit tyd en verg dit oefening om volwasse Christene te word.

13. Wat sal jou help om te leer dink soos Jehovah dink?

13 In hierdie boek het ons bespreek hoe ons kan dink soos Jehovah dink en dinge kan beskou soos hy dit beskou. Ons het waardering en liefde vir Jehovah se standaarde opgebou. Wanneer ons besluite neem, vra ons ons af: ‘Watter wette of beginsels in die Bybel is van toepassing op hierdie situasie? Hoe kan ek dit toepas? Wat wil Jehovah hê moet ek doen?’ – Lees Spreuke 3:5, 6; Jakobus 1:5.

14. Wat moet ons doen om ons geloof op te bou?

14 Ons hou nooit op om ons geloof in Jehovah op te bou nie. Net soos ons ons liggaam versterk deur gesonde kos te eet, kan ons ons geloof versterk deur meer van Jehovah te leer. Toe ons die Bybel begin studeer het, het ons basiese waarhede oor Jehovah en sy weë geleer. Maar met verloop van tyd moet ons dieper dinge begin verstaan. Dit is wat Paulus bedoel het toe hy gesê het: “Vaste voedsel is vir volwasse mense.” As ons die dinge toepas wat ons leer, word ons wys. Die Bybel sê vir ons: “Wysheid is van die grootste belang.” – Spreuke 4:5-7; 1 Petrus 2:2.

15. Hoe belangrik is dit om werklik lief te wees vir Jehovah en ons broers en susters?

15 ’n Persoon is dalk sterk en gesond, maar om so te bly, moet hy aanhou om goed na homself te kyk. Net so moet ’n geestelik volwasse persoon hard werk om sy verhouding met Jehovah sterk te hou. Paulus gee ons hierdie herinnering: “Hou aan om seker te maak dat julle in die geloof is. Hou aan om julleself te toets” (2 Korintiërs 13:5). Maar dit is nie genoeg om net sterk geloof te hê nie. Dit is ook belangrik dat ons liefde vir Jehovah en vir ons broers en susters al hoe sterker word. Paulus het gesê: “As ek . . . kennis ontvang het en soveel geloof het dat ek berge kan verskuif, maar geen liefde het nie, is ek niks.” – 1 Korintiërs 13:1-3.

FOKUS OP JOU HOOP

16. Hoe wil Satan hê moet ons voel?

16 Satan wil hê ons moet dink dat ons nooit goed genoeg kan wees om Jehovah se goedkeuring te hê nie. Hy wil hê dat ons moedeloos moet voel en moet dink dat daar geen oplossing vir ons probleme is nie. Hy wil nie hê dat ons ons mede-Christene moet vertrou nie, en hy wil nie hê dat ons gelukkig moet wees nie (Efesiërs 2:2). Satan weet dat negatiewe denke skadelik vir ons en ons verhouding met God kan wees. Maar Jehovah het ons iets gegee wat ons kan help om teen negatiewe denke te stry. Hy het ons hoop gegee.

17. Hoe belangrik is hoop?

17 In 1 Tessalonisense 5:8 vergelyk die Bybel ons hoop met ’n helm wat ’n soldaat se kop tydens ’n geveg beskerm. Die Bybel noem hierdie helm “die hoop op redding”. Die hoop wat Jehovah se beloftes ons gee, kan ons verstand beskerm en ons help om teen negatiewe gedagtes te stry.

18, 19. Hoe het hoop Jesus versterk?

18 Jesus se hoop het hom versterk. Op die laaste aand van sy lewe op die aarde het hy voor die een moeilike situasie ná die ander te staan gekom. ’n Goeie vriend het hom verraai. ’n Ander vriend het gesê dat hy hom nie ken nie. Van sy ander vriende het hom verlaat en gevlug. Sy eie volk het daarop aangedring dat hy doodgemaak moet word. Wat het hom gehelp om al hierdie pynlike dinge te verduur? “As gevolg van die vreugde wat voor hom gestel is, het hy ’n folterpaal verduur en het die skande nie vir hom saak gemaak nie, en hy het aan die regterhand van die troon van God gaan sit.” – Hebreërs 12:2.

19 Jesus het geweet dat sy getrouheid sy Vader sou verheerlik en sou bewys dat Satan ’n leuenaar is. Hierdie hoop het hom groot vreugde gegee. Hy het ook geweet dat hy kort daarna weer saam met sy Vader in die hemel sou wees. Hierdie hoop het hom gehelp om te volhard. Net soos Jesus, moet ons ook op ons hoop fokus. Dit sal ons help om te volhard, maak nie saak wat gebeur nie.

20. Wat kan jou help om positief te wees?

20 Jehovah sien jou geloof en volharding. (Jesaja 30:18; lees Maleagi 3:10.) Jehovah belowe om jou “die begeertes van jou hart [te] gee” (Psalm 37:4). Bly dus gefokus op jou hoop. Satan wil hê dat jy hoop moet verloor en moet dink dat Jehovah se beloftes nooit sal waar word nie. Maar jy moet stry teen negatiewe gedagtes! As jy agterkom dat jou hoop nie meer vir jou so werklik is nie, moet jy Jehovah vra om jou te help. Hou die woorde in Filippense 4:6, 7 in gedagte: “Moet oor niks bekommerd wees nie, maar vra God in elke situasie om julle te help deur tot hom te bid, hom te smeek en hom te dank. Dan sal die vrede van God, wat alle denke oortref, julle harte en julle verstande beskerm deur middel van Christus Jesus.”

21, 22. (a) Wat het Jehovah in gedagte vir die aarde? (b) Wat is jy vasbeslote om te doen?

21 Dink gereeld na oor die wonderlike toekoms wat Jehovah belowe. Binnekort sal almal wat lewe, Jehovah aanbid (Openbaring 7:9, 14). Dink net hoe die lewe in die nuwe wêreld gaan wees. Dit sal beter wees as enigiets wat ons ons kan voorstel! Satan, sy demone en alle goddeloosheid sal nie meer bestaan nie. Jy sal nie siek word nie, en jy sal nie sterf nie. Jy sal elke oggend vol energie opstaan en lus wees vir die lewe. Almal sal saamwerk om die aarde ’n paradys te maak. Almal sal gesonde kos hê, en ’n veilige plek om in te woon. Mense sal nie wreed of gewelddadig wees nie. Hulle sal eerder opregte liefde vir mekaar hê. Uiteindelik sal almal op die aarde “die glorieryke vryheid van die kinders van God” geniet. – Romeine 8:21.

22 Jehovah wil hê dat jy hom jou beste Vriend moet maak. Doen dus alles wat jy kan om Jehovah te gehoorsaam en om elke dag nader aan hom te kom. Ja, mag elkeen van ons vir ewig in God se liefde bly! – Judas 21.