Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 12

Ons woorde moet opbouend wees

Ons woorde moet opbouend wees

“Laat ’n slegte woord nie uit julle mond kom nie, maar net wat opbouend is.” – EFESIËRS 4:29.

1-3. (a) Watter goeie gawe het Jehovah vir ons gegee? (b) Hoe kan ons dit misbruik? (c) Hoe moet ons die gawe van spraak gebruik?

’N PA gee vir sy tienerseun ’n fiets. Dit maak hom bly om vir sy seun so ’n spesiale geskenk te gee. Maar hoe sal die pa voel as sy seun roekeloos ry en iemand beseer?

2 Jehovah is die Gewer van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk” (Jakobus 1:17). Een van die goeie gawes wat hy vir ons gegee het, is die vermoë om te praat. Hierdie gawe maak dit vir ons moontlik om ons gedagtes en gevoelens aan ander oor te dra. Ons kan dinge sê wat mense help en wat hulle goed laat voel. Maar wat ons sê, kan mense ook seermaak.

3 Woorde het baie krag, en Jehovah leer ons hoe om die gawe van spraak reg te gebruik. Hy sê vir ons: “Laat ’n slegte woord nie uit julle mond kom nie, maar net wat opbouend is vir dié wat dit nodig het. So kan julle iets voordeligs deel met dié wat dit hoor” (Efesiërs 4:29). Kom ons bespreek hoe ons hierdie gawe van God kan gebruik op ’n manier wat sy hart bly sal maak en wat ander sal aanmoedig.

KIES JOU WOORDE VERSIGTIG

4, 5. Wat leer die Bybelboek Spreuke ons oor die krag wat woorde het?

4 Woorde het baie krag, en daarom moet ons versigtig wees oor wat ons sê en hoe ons dit sê. Spreuke 15:4 sê: “’n Kalm tong is ’n boom van die lewe, maar ’n slegte tong veroorsaak moedeloosheid.” Net soos die skadu van ’n pragtige boom aangenaam is, kan liefdevolle woorde ander goed laat voel. Maar ons woorde kan ander ook seermaak en hulle sleg laat voel. – Spreuke 18:21.

Woorde wat opbou, is verfrissend

5 Spreuke 12:18 sê: “As ’n mens praat sonder om te dink, sal jou woorde soos swaardsteke wees.” Die dinge wat ons sê, kan emosionele pyn veroorsaak en verhoudings vernietig. Miskien het iemand jou al baie seergemaak met hulle woorde. Maar die vers sê verder: “Die tong van die wyses is genesend.” Liefdevolle woorde het die krag om pyn te verlig en om vriendskappe te herstel wat deur misverstande beskadig is. (Lees Spreuke 16:24.) As ons in gedagte hou dat ons woorde ander kan seermaak, sal ons ons woorde versigtig kies.

6. Hoekom is dit moeilik om ons tong te beheer?

6 Daar is nog ’n rede waarom ons ons woorde versigtig moet kies: Ons is almal onvolmaak. “Die neiging van die mens se hart is . . . sleg”, en ons woorde wys dikwels wat in ons hart is (Genesis 8:21; Lukas 6:45). Dit kan baie moeilik wees om ons tong te beheer. (Lees Jakobus 3:2-4.) Maar ons moet altyd ons bes doen om te verbeter.

7, 8. Hoe kan ons woorde ons verhouding met Jehovah raak?

7 Ons moet ons woorde ook versigtig kies omdat ons aanspreeklik is teenoor Jehovah vir wat ons sê en hoe ons dit sê. Jakobus 1:26 sê: “As enigiemand dink dat hy ’n aanbidder van God is, maar nie sy tong beheer nie, bedrieg hy sy eie hart en is sy aanbidding verniet.” Dit is dus duidelik: As ons nie ons woorde versigtig kies nie, kan ons ons verhouding met Jehovah verswak of selfs vernietig. – Jakobus 3:8-10.

8 Soos ons gesien het, het ons goeie rede om versigtig te wees oor wat ons sê en hoe ons dit sê. As ons die gawe van spraak op ’n manier wil gebruik wat Jehovah bly maak, moet ons weet watter soort spraak ons moet vermy.

WOORDE WAT AFBREEK

9, 10. (a) Watter soort spraak is vandag baie algemeen? (b) Hoekom moet ons nie vuil taal gebruik nie?

9 Die gebruik van vuil taal is baie algemeen vandag. Baie mense dink dat hulle moet vloek of vuil taal moet gebruik om duidelik te maak wat hulle bedoel. Komediante gebruik dikwels vuil grappe en vuil taal om mense te laat lag. Maar die apostel Paulus het gesê: “Julle [moet] ontslae raak van al hierdie dinge: woede, slegtheid, beledigende taal en vuil praatjies uit julle mond” (Kolossense 3:8). Hy het ook gesê dat ‘vuil grappe nie eers genoem moet word’ onder ware Christene nie. – Efesiërs 5:3, 4.

10 Jehovah en dié wat vir hom lief is, hou niks van vuil taal nie. Dit is onrein. In die Bybel word “onreinheid” onder “die werke van die vlees” genoem (Galasiërs 5:19-21). “Onreinheid” kan na ’n klomp verskillende sondes verwys, en een onrein gewoonte kan na ’n ander onrein gewoonte lei. As iemand ’n gewoonte daarvan maak om taal te gebruik wat uiters onrein en vuil is en hy nie wil verander nie, kan dit ’n aanduiding wees dat hy nie meer deel van die gemeente moet wees nie. – 2 Korintiërs 12:21; Efesiërs 4:19; sien Eindnota 23.

11, 12. (a) Wat is skadelike skinderpraatjies? (b) Hoekom moet ons nie laster nie?

11 Ons moet ook skadelike skinderpraatjies vermy. Ons stel van nature belang in ander en praat graag oor ons familie en vriende. Selfs in die eerste eeu wou die vroeë Christene weet hoe dit met hulle broers en susters gaan en wat hulle kon doen om hulle te help (Efesiërs 6:21, 22; Kolossense 4:8, 9). Maar gesprekke oor ander mense kan maklik in skadelike skinderpraatjies verander. As ons skinderpraatjies oorvertel, kan ons dinge sê wat nie waar is nie of oor dinge praat wat vertroulik gehou moet word. As ons nie versigtig is nie, kan hierdie skinderpraatjies in valse beskuldigings of laster verander. Die Fariseërs het teen Jesus gelaster toe hulle hom beskuldig het van dinge wat hy nie gedoen het nie (Matteus 9:32-34; 12:22-24). Laster kan iemand se reputasie beskadig, stryery en pyn veroorsaak en vriendskappe vernietig. – Spreuke 26:20.

12 Jehovah wil hê dat ons woorde ander moet help en aanmoedig, nie dat dit vriende in vyande moet verander nie. Jehovah haat dié wat “onenigheid tussen broers veroorsaak” (Spreuke 6:16-19). Die eerste lasteraar was Satan die Duiwel, wat teen God gelaster het (Openbaring 12:9, 10). Vandag is dit iets algemeens dat mense leuens oor mekaar vertel. Maar dit moenie in die Christengemeente gebeur nie (Galasiërs 5:19-21). Ons moet versigtig wees oor wat ons sê en altyd dink voordat ons praat. Voordat jy iets oor iemand anders oorvertel, moet jy jou afvra: ‘Is dit waar? Is dit liefdevol? Is dit nuttig? Hoe sal ek voel as die persoon van wie ek praat, hoor wat ek sê? Hoe sal ek voel as iemand dit van my sê?’ – Lees 1 Tessalonisense 4:11.

13, 14. (a) Watter uitwerking kan beledigende taal op ander hê? (b) Hoekom moet Christene ander nie uitskel nie?

13 Ons almal sê soms dinge waaroor ons later spyt is. Maar ons wil nie ’n gewoonte daarvan maak om ander te kritiseer of dinge te sê wat hulle kan seermaak nie. Daar is geen plek vir beledigende taal in ons lewe nie. Paulus het gesê: “Moenie enige soort wrok koester nie, en laat vaar alle woede, geskree en beledigende taal” (Efesiërs 4:31). Ander Bybels vertaal “beledigende taal” as “bose woorde” en “skadelike taal”. Beledigende taal laat mense vernederd en waardeloos voel. Ons moet veral versigtig wees wanneer ons met kinders praat, want ons kan hulle maklik seermaak met ons woorde. – Kolossense 3:21.

14 Die Bybel waarsku ons teen die gewoonte om ander uit te skel of te beledig met die doel om hulle seer te maak. Hoe hartseer sal dit tog wees as iemand sy huweliksmaat of kinders so behandel! Iemand wat weier om op te hou om ander uit te skel, kan nie deel van die gemeente bly nie (1 Korintiërs 5:11-13; 6:9, 10). Dit is dus duidelik: As ons vuil taal gebruik of dinge sê wat nie waar of liefdevol is nie, sal dit skadelik wees vir ons verhouding met Jehovah en ander.

WOORDE WAT OPBOU

15. Watter soort spraak versterk verhoudings?

15 Hoe kan ons die gawe van spraak gebruik soos Jehovah wil hê ons moet? Al sê die Bybel nie vir ons presies wat ons mag en nie mag sê nie, sê dit wel dat ons net dinge moet sê “wat opbouend is” (Efesiërs 4:29). Spraak wat opbouend is, is rein, liefdevol en waar. Jehovah wil hê dat ons woorde ander moet help en aanmoedig. Dit kan ’n uitdaging wees. Dikwels is dit makliker om dinge te sê wat seermaak as om dinge te sê wat opbou (Titus 2:8). Kom ons bespreek ’n paar maniere waarop ons ander kan opbou deur wat ons sê.

16, 17. (a) Hoekom moet ons ander prys? (b) Wie kan ons prys?

16 Jehovah sowel as Jesus prys ander dikwels. Ons wil net soos hulle wees (Matteus 3:17; 25:19-23; Johannes 1:47). As ons iemand wil prys op ’n manier wat hom sal aanmoedig, moet ons eers dink aan wat ons wil sê en wys dat ons vir die persoon omgee. Spreuke 15:23 sê: “Hoe goed is ’n woord op die regte tyd tog!” Dit is vir ons aanmoedigend as iemand ons opreg prys vir ons harde werk of sê dat hulle dankbaar is vir iets wat ons gedoen het. – Lees Matteus 7:12; sien Eindnota 27.

17 As jy ’n gewoonte daarvan maak om na die goeie in ander te soek, sal dit makliker wees om hulle opreg te prys. Byvoorbeeld, dalk let jy op dat iemand in die gemeente goed vir sy toesprake voorberei of dat hy moeite doen om by die vergaderinge kommentaar te lewer. Dalk verdedig ’n jong persoon sy geloof by die skool of dalk neem ’n ouer persoon gereeld deel aan die bediening. Jou aanmoedigende woorde is miskien presies wat hulle nodig het. Dit is ook baie belangrik dat ’n man vir sy vrou sê dat hy haar liefhet en waardeer (Spreuke 31:10, 28). Net soos plante lig en water nodig het, het mense die behoefte daaraan om te voel dat hulle waardeer word. Dit is veral die geval met kinders. Soek na geleenthede om hulle te prys vir hulle goeie eienskappe en dade. Dit kan hulle moed gee en hulle selfvertroue opbou en kan hulle motiveer om selfs harder te probeer om te doen wat reg is.

Ons kan ander aanmoedig en vertroos deur wat ons sê en hoe ons dit sê

18, 19. (a) Hoekom moet ons ons bes doen om ander aan te moedig en te vertroos? (b) Hoe kan ons ander aanmoedig en vertroos?

18 Wanneer ons ander aanmoedig en vertroos, volg ons Jehovah se voorbeeld. Hy gee baie om vir “dié wat gebroke” is (Jesaja 57:15). Jehovah wil hê dat ons moet ‘aanhou om mekaar aan te moedig’ en dat ons ‘vertroostend moet praat met dié wat terneergedruk is’ (1 Tessalonisense 5:11, 14). Wanneer ons dit probeer doen, sien hy ons pogings raak en waardeer hy dit.

19 Jy let dalk op dat iemand in die gemeente mismoedig of terneergedruk is. Wat kan jy sê wat so iemand moontlik sal help? Al kan jy nie die probleem oplos nie, kan jy die persoon verseker dat jy omgee. Jy kan miskien reël om tyd met hom of haar te spandeer. Jy kan ’n aanmoedigende Bybelvers lees en selfs aanbied om saam met die persoon te bid (Psalm 34:18; Matteus 10:29-31). Verseker sulke persone dat hulle broers en susters in die gemeente vir hulle lief is (1 Korintiërs 12:12-26; Jakobus 5:14, 15). En praat op ’n manier wat wys dat jy regtig bedoel wat jy sê. – Lees Spreuke 12:25.

20, 21. Wat kan mense help om raad makliker te aanvaar?

20 Ons bou ander ook op wanneer ons goeie raad gee. As onvolmaakte mense het ons almal van tyd tot tyd raad nodig. Spreuke 19:20 sê: “Luister na raad en aanvaar dissipline, sodat jy in die toekoms wys kan word.” Ouermanne is nie die enigstes wat raad kan gee nie. Ouers moet vir hulle kinders leiding gee (Efesiërs 6:4). En susters kan vir mekaar goeie raad gee (Titus 2:3-5). Omdat ons lief is vir ons broers en susters, wil ons seker maak dat ons raad gee op ’n manier wat hulle nie sleg sal laat voel nie. Hoe kan ons dit doen?

21 Miskien het iemand jou al goeie raad gegee op ’n manier wat maklik was om te aanvaar. Wat het dit so doeltreffend gemaak? Jy het waarskynlik gevoel dat die persoon werklik vir jou omgee. Of dalk het hy of sy op ’n liefdevolle manier gepraat (Kolossense 4:6). Die raad was waarskynlik op die Bybel gebaseer (2 Timoteus 3:16). Of ons direk uit die Bybel aanhaal of nie, ons raad moet altyd in ooreenstemming met die Bybel wees. Niemand moet sy mening op ander afdwing of Bybeltekste verdraai om te pas by sy eie idees nie. As jy dink aan die manier waarop jy al self raad gekry het, sal dit jou help wanneer jy raad aan ander gee.

22. Hoe wil jy die gawe van spraak gebruik?

22 Die vermoë om te praat, is ’n gawe van God. Ons liefde vir hom moet ons beweeg om dit reg te gebruik. Onthou dat woorde die krag het om af te breek of om op te bou. Daarom moet ons alles doen wat ons kan om seker te maak dat ons woorde ander versterk en aanmoedig.