Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Eindnotas

Eindnotas

 1 BEGINSELS

God se wette is op sy beginsels gebaseer. Hierdie beginsels is basiese waarhede wat ons in die Bybel vind. Dit help ons om te verstaan wat God se beskouing van sake is. Beginsels help ons om goeie besluite in die lewe te neem en om te doen wat reg is. Dit help ons veral wanneer daar nie ’n wet van God is wat vir ons sê presies wat om te doen nie.

Hoofstuk 1, paragraaf 8

 2 GEHOORSAAMHEID

Gehoorsaamheid aan Jehovah beteken dat ons gewillig doen wat hy van ons vra. Jehovah wil hê dat ons uit liefde aan hom gehoorsaam moet wees (1 Johannes 5:3). As ons vir God lief is en hom vertrou, sal ons sy raad in elke situasie volg. Ons sal hom gehoorsaam selfs wanneer dit vir ons moeilik is. Dit is vir ons goed om aan Jehovah gehoorsaam te wees, want hy leer ons hoe ons nou ’n gelukkige lewe kan hê, en hy belowe om ons baie seëninge in die toekoms te gee. – Jesaja 48:17.

Hoofstuk 1, paragraaf 10

 3 VRYE WIL

Jehovah het vir elkeen vrye wil gegee. Dit beteken dat ons ons eie keuses kan maak. Hy het ons nie geskep om soos robotte te wees nie (Deuteronomium 30:19; Josua 24:15). Ons kan ons vryheid gebruik om goeie keuses te maak. Maar as ons nie versigtig is nie, kan ons onwyse besluite neem. Omdat ons vrye wil het, moet ons self besluit of ons lojaal aan Jehovah wil wees en wil bewys dat ons werklik vir hom lief is.

Hoofstuk 1, paragraaf 12

 4 SEDELIKE STANDAARDE

Jehovah het vir ons sedelike standaarde, of riglyne, gegee oor hoe ons moet optree en hoe ons ons moet gedra. Ons kan in die Bybel leer wat hierdie standaarde is en hoe dit ons kan help om ’n goeie lewe te lei (Spreuke 6:16-19; 1 Korintiërs 6:9-11). Hierdie riglyne help ons om te weet wat God as reg en verkeerd beskou. Dit leer ons ook om liefdevol te wees, om goeie besluite te neem en om goed te wees vir ander. Hoewel die wêreld se standaarde al hoe laer word, verander Jehovah se standaarde nooit nie (Deuteronomium 32:4-6; Maleagi 3:6). As ons dit volg, word ons fisies en emosioneel beskerm.

Hoofstuk 1, paragraaf 17

 5 GEWETE

Ons gewete is ons innerlike besef van wat reg en verkeerd is. Jehovah het elkeen van ons ’n gewete gegee (Romeine 2:14, 15). Ons gewete kan slegs reg werk as ons dit volgens Jehovah se sedelike standaarde oplei. Dan sal ons gewete ons kan help om besluite te neem wat God bly maak (1 Petrus 3:16). Ons gewete kan ons waarsku as ons die verkeerde besluit wil neem. En dit kan ons baie sleg laat voel nadat ons iets verkeerds gedoen het. Ons gewete kan swak word, maar met Jehovah se hulp kan ons iets daaromtrent doen. ’n Goeie gewete gee ons innerlike vrede en selfrespek.

Hoofstuk 2, paragraaf 3

 6 VREES VIR GOD

Om God te vrees, beteken dat ons liefde en respek vir hom so groot is dat ons niks wil doen wat hom sal teleurstel nie. Vrees vir God help ons om te doen wat goed is en om te vermy wat sleg is (Psalm 111:10). Dit beweeg ons om gehoorsaam te wees aan alles wat Jehovah sê. Ons diep respek vir hom help ons ook om ons beloftes aan hom te hou. Vrees vir God het ’n invloed op hoe ons dink, hoe ons ander behandel en op die keuses wat ons elke dag maak.

Hoofstuk 2, paragraaf 9

 7 BEROU

Berou sluit die diep hartseer in wat iemand voel wanneer hy iets verkeerds gedoen het. Mense wat vir God lief is, voel baie jammer wanneer hulle besef dat hulle iets gedoen het wat teen sy standaarde is. Wanneer ons iets verkeerds doen, moet ons Jehovah smeek om ons te vergewe op grond van Jesus se losprysoffer (Matteus 26:28; 1 Johannes 2:1, 2). As ons opreg berou toon en ophou om te doen wat sleg is, kan ons seker wees dat Jehovah ons sal vergewe. Dan hoef ons nie meer skuldig te voel oor wat ons in die verlede gedoen het nie (Psalm 103:10-14; 1 Johannes 1:9; 3:19-22). Ons moet ons bes doen om uit ons foute te leer, om verkeerde denke te verander en om volgens Jehovah se standaarde te lewe.

Hoofstuk 2, paragraaf 18

 8 UITSETTING

As iemand nie berou toon nadat hy ’n ernstige sonde gepleeg het nie en as hy weier om Jehovah se standaarde te volg, kan hy nie meer deel van die gemeente wees nie. Hy moet uit die gemeente gesit word. Wanneer iemand uitgesit word, het ons nie meer kontak met hom nie en praat ons ook nie meer met hom nie (1 Korintiërs 5:11; 2 Johannes 9-11). Die uitsettingsreëling beskerm Jehovah se naam en die gemeente (1 Korintiërs 5:6). Uitsetting is ook ’n vorm van dissipline wat die persoon kan help om berou te toon sodat hy na Jehovah kan terugkeer. – Lukas 15:17.

Hoofstuk 3, paragraaf 19

 9 INSTRUKSIES, LEIDING EN RAAD

Jehovah is lief vir ons en wil ons help. Daarom gee hy ons instruksies, leiding en raad deur middel van die Bybel en mense wat hom liefhet. As onvolmaakte mense kan ons nie sonder God se hulp klaarkom nie (Jeremia 17:9). As ons respek toon vir dié wat Jehovah gebruik om ons te lei en as ons na hulle luister, wys ons dat ons hom respekteer en hom wil gehoorsaam. – Hebreërs 13:7.

Hoofstuk 4, paragraaf 2

 10 TROTS EN NEDERIGHEID

Omdat ons onvolmaak is, is dit maklik om selfsugtig en trots te wees. Maar Jehovah verwag van ons om nederig te wees. Ons kan leer om nederig te wees wanneer ons besef hoe klein ons in vergelyking met Jehovah is (Job 38:1-4). As ons nederig wil wees, moet ons ook leer om meer aan ander en hulle belange te dink as aan onsself. Iemand wat trots is, dink gewoonlik dat hy beter as ander is. Iemand wat nederig is, is eerlik met homself en weet wat sy sterk punte en sy swakhede is. Hy is nie bang om sy foute te erken, om jammer te sê en om voorstelle en raad te aanvaar nie. ’n Nederige persoon vertrou op Jehovah en volg sy leiding. – 1 Petrus 5:5.

Hoofstuk 4, paragraaf 4

 11 GESAG

Gesag is die reg om bevele te gee en besluite te neem. Jehovah het die hoogste gesag in die hemel en op die aarde. Omdat hy alles geskep het, is hy die magtigste Persoon in die heelal. Hy gebruik sy gesag altyd tot ander se voordeel. Jehovah het party mense die verantwoordelikheid gegee om aan ons leiding te gee. Byvoorbeeld, ouers, gemeentelike ouermanne en regerings het ’n mate van gesag, en Jehovah wil hê dat ons ons samewerking aan hulle moet gee (Romeine 13:1-5; 1 Timoteus 5:17). Maar wanneer die wette van mense met God se wette bots, is ons eerder aan God gehoorsaam as aan mense (Handelinge 5:29). As ons die gesag respekteer van dié wat deur Jehovah gebruik word, wys ons vir Jehovah dat ons sy besluite respekteer.

Hoofstuk 4, paragraaf 7

 12 OUERMANNE

Die ouermanne is broers met ondervinding wat deur Jehovah gebruik word om na die gemeente om te sien (Deuteronomium 1:13; Handelinge 20:28). Hierdie manne help ons om ons verhouding met Jehovah sterk te hou en om hom op ’n georganiseerde manier en in vrede te aanbid (1 Korintiërs 14:33, 40). Ouermanne moet voldoen aan spesifieke vereistes in die Bybel, wat onder die leiding van die heilige gees geskryf is. Hulle word dus deur heilige gees aangestel (1 Timoteus 3:1-7; Titus 1:5-9; 1 Petrus 5:2, 3). Omdat ons God se organisasie vertrou en ondersteun, gee ons die ouermanne ons gewillige samewerking. – Psalm 138:6; Hebreërs 13:17.

Hoofstuk 4, paragraaf 8

 13 GESINSHOOF

Jehovah het ouers die verantwoordelikheid gegee om vir hulle kinders te sorg. Maar die Bybel sê dat die man die hoof van die gesin is. As daar nie ’n pa in die gesin is nie, is die ma die gesinshoof. Die gesinshoof het die verantwoordelikheid om dinge soos kos, klere en blyplek aan die gesin te voorsien. Dit is baie belangrik dat die gesinshoof die leiding neem en die gesin help om Jehovah te aanbid. Hy maak byvoorbeeld seker dat sy gesin gereeld die gemeentelike vergaderinge bywoon, velddiens doen en die Bybel saam studeer. Die gesinshoof moet ook die leiding neem wanneer dit kom by besluite. Hy probeer altyd om Jesus na te volg deur liefdevol en redelik te wees, nooit hard of wreed nie. So help hy om ’n liefdevolle atmosfeer te skep, sodat almal in die gesin veilig kan voel en hulle verhouding met Jehovah kan versterk.

Hoofstuk 4, paragraaf 12

 14 BESTUURSLIGGAAM

Die Bestuursliggaam is ’n groep manne wat die hemelse hoop het en wat deur God gebruik word om die bedrywighede van sy volk te organiseer. In die eerste eeu het Jehovah ’n bestuursliggaam gebruik om die aanbidding en die predikingswerk van die vroeë Christengemeente te organiseer (Handelinge 15:2). Die groep broers wat vandag as die Bestuursliggaam dien, neem die leiding daarin om God se volk te lei en te beskerm. Wanneer hierdie broers besluite neem, vertrou hulle op die leiding van God se Woord en sy heilige gees. Jesus het hierdie groep gesalfde manne “die getroue en verstandige slaaf” genoem. – Matteus 24:45-47.

Hoofstuk 4, paragraaf 15

 15 HOOFBEDEKKING

Soms kan ’n suster gevra word om iets in die gemeente te doen wat gewoonlik deur ’n broer gedoen sou word. Wanneer dit gebeur, toon sy respek vir Jehovah se reëling deur ’n hoofbedekking te dra. Maar dit sal net in sekere gevalle nodig wees. ’n Suster moet byvoorbeeld iets dra om haar kop te bedek as sy ’n Bybelstudie hou terwyl haar man of ’n gedoopte broer teenwoordig is. – 1 Korintiërs 11:11-15.

Hoofstuk 4, paragraaf 17

 16 NEUTRALITEIT

As ons neutraal is, weier ons om kant te kies in politieke sake (Johannes 17:16). Jehovah se volk ondersteun sy Koninkryk. Net soos Jesus, is ons neutraal wanneer dit kom by die sake van die wêreld.

Jehovah beveel ons om “gehoorsaam te wees aan regerings en owerhede” (Titus 3:1, 2; Romeine 13:1-7). Maar God se wet sê ook dat ons nie moet moord pleeg nie. Daarom sal ’n Christen se gewete hom nie toelaat om oorlog toe te gaan nie. As ’n Christen die opsie het om burgerlike diens te doen as ’n alternatief vir militêre diensplig, moet hy eers dink of sy gewete hom sal toelaat om dit te doen.

Ons moet Jehovah alleen aanbid, want hy is ons Skepper. Ons toon respek vir nasionale simbole, maar ons sal nie ’n vlag salueer of ’n volkslied sing nie (Jesaja 43:11; Daniël 3:1-30; 1 Korintiërs 10:14). Jehovah se knegte neem ook ’n persoonlike besluit om nie vir enige politieke party of kandidaat te stem nie. Dit is omdat ons reeds gekies het om God se regering te ondersteun. – Matteus 22:21; Johannes 15:19; 18:36.

Hoofstuk 5, paragraaf 2

 17 DIE GEES VAN DIE WÊRELD

Die wêreld bevorder Satan se denke. Hierdie denke is algemeen onder mense wat Jehovah nie liefhet en navolg nie en wat sy standaarde ignoreer (1 Johannes 5:19). Hierdie denke en die dade wat dit tot gevolg het, word die gees van die wêreld genoem (Efesiërs 2:2). Jehovah se volk doen hulle bes om nie deur hierdie gees beïnvloed te word nie (Efesiërs 6:10-18). Ons is eerder lief vir Jehovah se weë en probeer hard om altyd te dink soos hy dink.

Hoofstuk 5, paragraaf 7

 18 AFVALLIGHEID

Iemand wat afvallig is, is gekant teen Bybelwaarheid. Afvalliges kom in opstand teen Jehovah en teen Jesus, die aangestelde Koning van God se Koninkryk, en probeer ander beïnvloed om by hulle aan te sluit (Romeine 1:25). Hulle wil twyfelgedagtes laat ontstaan by dié wat Jehovah aanbid. Party mense in die vroeë Christengemeente het afvallig geword, en dit het ook in ons tyd gebeur (2 Tessalonisense 2:3). Mense wat aan Jehovah lojaal is, het niks te doen met afvalliges nie. Ons wil nooit toelaat dat nuuskierigheid of druk van ander veroorsaak dat ons afvallige idees lees of daarna luister nie. Ons is lojaal aan Jehovah en aanbid hom alleen.

Hoofstuk 5, paragraaf 9

 19 VERSOENING

Onder die Wet van Moses het die nasie Israel Jehovah gevra om hulle sondes te vergewe. Hulle het graan, olie en diere as offers na die tempel gebring om versoening vir hulle sondes te kry. Dit het die Israeliete daaraan herinner dat Jehovah bereid is om hulle sondes, as ’n nasie sowel as individue, te vergewe. Nadat Jesus sy lewe gegee het om ons sondes te bedek, was versoeningsoffers nie meer nodig nie. Jesus het die volmaakte offerande “eens en vir altyd” geoffer. – Hebreërs 10:1, 4, 10.

Hoofstuk 7, paragraaf 6

 20 RESPEK VIR DIERE

Onder die Wet van Moses is mense toegelaat om diere te eet. Hulle is ook beveel om diere as offers te bring (Levitikus 1:5, 6). Maar Jehovah het sy volk nooit toegelaat om diere wreed te behandel nie (Spreuke 12:10). Die Wet het selfs reëls bevat wat diere teen wreedheid beskerm het. Die Israeliete is beveel om goed na hulle diere te kyk. – Deuteronomium 22:6, 7.

Hoofstuk 7, paragraaf 6

 21 BLOEDFRAKSIES EN MEDIESE PROSEDURES

Bloedfraksies. Bloed bestaan uit vier hoofdele – rooibloedselle, witbloedselle, bloedplaatjies en plasma. Hierdie vier hoofdele van bloed kan in kleiner deeltjies afgebreek word, wat bloedfraksies genoem word. *

Christene weier om oortappings van heelbloed of enige van die vier hoofdele van bloed te aanvaar. Maar kan hulle bloedfraksies aanvaar? Die Bybel gee nie spesifieke riglyne hieroor nie. Daarom moet elke Christen sy eie besluit neem op grond van sy Bybelopgeleide gewete.

Party Christene besluit om alle bloedfraksies te weier. Hulle redeneer dalk dat God se Wet aan Israel vereis het dat al die bloed van ’n dier “op die grond” uitgegooi moes word. – Deuteronomium 12:22-24.

Ander neem ’n ander besluit. Hulle gewete laat hulle toe om party bloedfraksies te aanvaar. Hulle redeneer dalk dat klein fraksies nie meer die lewe verteenwoordig van die persoon of dier waaruit die bloed geneem is nie.

Wanneer jy ’n besluit oor bloedfraksies neem, moet jy nadink oor die volgende vrae:

  • Besef ek dat as ek alle bloedfraksies weier, dit beteken dat ek sekere geneesmiddels wat siektes bestry of wat kan help om bloeding te stop, nie sal aanvaar nie?

  • Hoe sal ek vir ’n dokter verduidelik waarom ek die gebruik van sekere bloedfraksies aanvaar of nie aanvaar nie?

Mediese prosedures. As Christene skenk ons nie bloed nie, en ons sal ook nie ons eie bloed voor ’n operasie laat stoor nie. Maar daar is ook ander prosedures waarby die pasiënt se eie bloed betrokke is. Elke Christen moet self besluit hoe sy bloed hanteer moet word gedurende ’n chirurgiese prosedure, mediese toets of behandelingsessie. Gedurende sulke prosedures kan die pasiënt se bloed dalk ’n tyd lank heeltemal van die pasiënt geskei wees. – Vir meer inligting, sien Die Wagtoring van 15 Oktober 2000, bladsy 30-31.

Daar is byvoorbeeld ’n prosedure wat bloedverdunning genoem word. ’n Deel van die pasiënt se bloed word onmiddellik voor ’n operasie uit sy liggaam gelei. Die bloed wat in die pasiënt oor is, word dan met ’n volume-uitdyer aangevul. Later word die bloed gedurende of kort ná die operasie na die pasiënt teruggelei.

’n Ander prosedure word selherwinning genoem. Die bloed wat ’n pasiënt tydens ’n operasie verloor, word gedurende hierdie prosedure opgevang, skoongemaak en weer gedurende of kort ná die operasie na die pasiënt teruggelei.

Die metodes wat dokters gedurende hierdie prosedures volg, kan effens verskil. Daarom moet ’n Christen uitvind presies hoe sy eie bloed hanteer sal word voordat hy instem tot enige chirurgiese prosedure, mediese toets of behandeling.

Wanneer jy besluite neem oor mediese prosedures waarby jou eie bloed betrokke is, moet jy oor die volgende nadink:

  • Gedurende sommige prosedures word van ’n pasiënt se bloed uit sy liggaam gelei en kan die vloei selfs ’n ruk lank onderbreek word. Sal my gewete my in so ’n geval toelaat om hierdie bloed nog as deel van my liggaam te beskou, sodat dit nie nodig sal wees om dit ‘op die grond uit te gooi’ nie? – Deuteronomium 12:23, 24.

  • Sal my Bybelopgeleide gewete my toelaat om ’n mediese prosedure te aanvaar waarby my bloed getrek, gewysig en in my liggaam teruggesit of op my liggaam aangewend word?

  • Besef ek dat ’n besluit om alle mediese prosedures te weier waarby die gebruik van my eie bloed betrokke is, beteken dat ek ook bloedtoetse, hemodialise en die gebruik van ’n hart-long-masjien weier?

Voordat ons besluite neem oor bloedfraksies en mediese behandeling waarby ons eie bloed betrokke is, moet ons tot Jehovah bid vir leiding en dan navorsing doen (Jakobus 1:5, 6). Daarna moet ons ons Bybelopgeleide gewete gebruik om ’n besluit te neem. Ons moenie vir ander vra wat hulle sou doen as hulle in ons situasie was nie, en ander moet ook nie ons besluit probeer beïnvloed nie. – Romeine 14:12; Galasiërs 6:5.

Hoofstuk 7, paragraaf 11

 22 SEDELIKE REINHEID

Om sedelik rein te wees, beteken dat ons gedrag en dade rein is in God se oë. Dit sluit die dinge in wat ons dink, sê en doen. Jehovah beveel ons om enige soort seksuele onreinheid of onsedelikheid te vermy (Spreuke 1:10; 3:1). Lank voordat ons in ’n situasie beland wat ons in die versoeking kan bring om iets verkeerds te doen, moet ons al besluit het dat ons Jehovah se rein standaarde sal volg. Ons moet God aanhoudend vra om ons te help om ons verstande rein te hou, en ons moet vasbeslote wees om te vlug vir versoekings om onsedelike dinge te doen. – 1 Korintiërs 6:9, 10, 18; Efesiërs 5:5.

Hoofstuk 8, paragraaf 11

 23 SKAAMTELOSE GEDRAG EN ONREINHEID

Skaamtelose gedrag verwys na spraak of dade waarin God se standaarde met ’n skaamtelose gesindheid ernstig geskend word. Iemand wat dit doen, wys dat hy geen respek vir God se wette het nie. As iemand skuldig is aan skaamtelose gedrag, sal ’n regterlike komitee die saak hanteer. Onreinheid sluit verskillende oortredings in. Afhangende van die erns van die situasie, sal party gevalle van onreinheid dalk deur ’n regterlike komitee hanteer moet word. – Galasiërs 5:19-21; Efesiërs 4:19; vir meer inligting, sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 Julie 2006.

Hoofstuk 9, paragraaf 7; Hoofstuk 12, paragraaf 10

 24 MASTURBASIE

Jehovah wil hê dat seks ’n rein blyk van liefde tussen ’n getroude man en vrou moet wees. Maar wanneer iemand masturbeer, of sy geslagsdele vir seksuele plesier misbruik, gee hy hom oor aan ’n onrein gewoonte. Hierdie gewoonte kan ’n persoon se verhouding met Jehovah benadeel. Dit kan onnatuurlike begeertes laat ontstaan en die persoon ’n verdraaide beskouing van seks gee (Kolossense 3:5). Iemand wat hierdie onrein gewoonte het en sukkel om daarmee op te hou, moenie moed opgee nie (Psalm 86:5; 1 Johannes 3:20). As jy in hierdie situasie is, moet jy opreg tot Jehovah bid en hom vra om jou te help. Vermy dinge soos pornografie, wat tot onrein gedagtes kan lei. Praat met een van jou Christenouers of met ’n vriend wat geestelik volwasse is en Jehovah se wette respekteer (Spreuke 1:8, 9; 1 Tessalonisense 5:14; Titus 2:3-5). Jy kan seker wees dat Jehovah jou pogings om sedelik rein te bly, sien en waardeer. – Psalm 51:17; Jesaja 1:18.

Hoofstuk 9, paragraaf 9

 25 POLIGAMIE

Die gebruik om meer as een huweliksmaat te hê, word poligamie genoem. Dit was Jehovah se bedoeling dat die huwelik ’n verbintenis tussen een man en een vrou moet wees. In eertydse Israel het God mans toegelaat om meer as een vrou te hê, maar dit was nie wat hy oorspronklik in gedagte gehad het nie. Vandag laat Jehovah sy knegte nie toe om meer as een huweliksmaat te hê nie. ’n Man mag net een vrou hê, en ’n vrou mag net een man hê. – Matteus 19:9; 1 Timoteus 3:2.

Hoofstuk 10, paragraaf 12

 26 EGSKEIDING EN SKEIDING

Egskeiding: Jehovah wil hê dat ’n man en vrou solank as wat hulle lewe, bymekaar moet bly (Genesis 2:24; Maleagi 2:15, 16; Matteus 19:3-6; 1 Korintiërs 7:39). Hy laat egskeiding slegs toe as een van die huweliksmaats egbreuk pleeg. In so ’n geval gee Jehovah die onskuldige maat die reg om te besluit of hy of sy ’n egskeiding wil kry. – Matteus 19:9.

Skeiding: Party Christene het al besluit om hulle maat te verlaat, al het die maat nie egbreuk gepleeg nie (1 Korintiërs 7:11). In die volgende situasies kan ’n Christen oorweeg om sy of haar maat te verlaat sonder ’n amptelike egskeiding:

  • Die man weier om vir sy gesin te sorg: Hy wil nie in sy gesin se materiële behoeftes voorsien nie en as gevolg daarvan het die gesin glad nie geld of kos nie. – 1 Timoteus 5:8.

  • Ernstige fisiese mishandeling: Die een huweliksmaat mishandel die ander so erg dat sy of haar gesondheid of lewe in gevaar is. – Galasiërs 5:19-21.

  • ’n Persoon se verhouding met Jehovah word heeltemal in gevaar gestel: ’n Persoon se huweliksmaat maak dit onmoontlik vir hom of haar om Jehovah te dien. – Handelinge 5:29.

Hoofstuk 11, paragraaf 19

 27 AANMOEDIGING

Ons almal het aanmoediging nodig (Spreuke 12:25; 16:24). Ons kan mekaar versterk en vertroos met liefdevolle en aanmoedigende woorde. Sulke woorde kan ons broers en susters help om te volhard en om aan te hou om Jehovah te dien ten spyte van groot probleme (Spreuke 12:18; Filippense 2:1-4). As iemand mismoedig voel, moet ons respekvol na hom luister en probeer verstaan hoe hy voel. Dit kan ons help om te weet wat ons kan sê of doen om hom te help (Jakobus 1:19). Maak dit jou doelwit om jou broers en susters goed te leer ken sodat jy werklik verstaan wat hulle nodig het. Dan kan jy hulle help om hulle vertroue te stel in die Bron van alle vertroosting en aanmoediging, by wie hulle nuwe krag kan kry. – 2 Korintiërs 1:3, 4; 1 Tessalonisense 5:11.

Hoofstuk 12, paragraaf 16

 28 TROUES

Die Bybel gee nie spesifieke reëls oor troues nie. Plaaslike gebruike en wetlike vereistes verskil van plek tot plek (Genesis 24:67; Matteus 1:24; 25:10; Lukas 14:8). Die belangrikste deel van ’n troue is die gelofte wat ’n paartjie voor Jehovah maak. Baie paartjies wil hê dat hulle familie en vriende teenwoordig moet wees wanneer hulle hulle huweliksgeloftes aflê en dat ’n ouerman ’n toespraak moet hou wat op die Bybel gebaseer is. Die paartjie kan besluit of hulle daarna ’n onthaal wil hê en watter soort onthaal hulle wil hê (Lukas 14:28; Johannes 2:1-11). Hulle moet seker maak dat enige troureëlings wat hulle maak, Jehovah sal eer (Genesis 2:18-24; Matteus 19:5, 6). Bybelbeginsels kan die paartjie help om goeie besluite te neem (1 Johannes 2:16, 17). As die paartjie besluit om alkohol by hulle onthaal te bedien, moet hulle seker maak dat daar behoorlike toesig is (Spreuke 20:1; Efesiërs 5:18). As hulle besluit dat daar musiek of vermaak sal wees, moet hulle seker maak dat dit Jehovah sal eer. ’n Christenpaartjie wat beplan om te trou, moet fokus op hulle verhouding met God en met mekaar eerder as net op hulle troudag. – Spreuke 18:22; vir meer wenke, sien Die Wagtoring van 15 Oktober 2006, bladsy 18-31.

Hoofstuk 13, paragraaf 18

 29 WYSE BESLUITE

Ons wil goeie besluite neem wat op Bybelbeginsels gebaseer is. Byvoorbeeld: Sê nou jou huweliksmaat is nie ’n Getuie nie en hy of sy vra jou om op ’n wêreldse vakansiedag by familie te gaan eet. Wat sal jy doen? As jou gewete jou toelaat om te gaan, kan jy dalk vir jou huweliksmaat verduidelik dat jy nie aan enige gebruike sal deelneem wat moontlik ’n heidense oorsprong het nie. Jy moet jou ook afvra of jy ander sal laat struikel as jy na die ete gaan. – 1 Korintiërs 8:9; 10:23, 24.

Of sê nou jou werkgewer wil jou gedurende die feestyd ’n bonus gee. Moet jy dit weier? Nie noodwendig nie. Jou besluit sal afhang van jou werkgewer se beskouing van die bonus. Beskou hy dit as deel van die viering? Of gee hy dit uit waardering vir die werk wat jy gedoen het? Nadat jy hierdie en ander faktore oorweeg het, moet jy besluit of jy die bonus sal aanvaar of nie.

Dit kan ook gebeur dat iemand gedurende die feestyd vir jou ’n geskenk gee en sê: “Ek weet dat jy nie vakansiedae vier nie, maar ek wil graag hierdie geskenk vir jou gee.” Dalk is die persoon net gaaf. Maar sê nou jy het rede om te dink dat hy jou geloof probeer toets of wil hê dat jy aan die viering moet deelneem? Nadat jy hierdie dinge in ag geneem het, moet jy self besluit of jy die geskenk sal aanvaar of nie. Ons wil altyd besluite neem wat ons help om ’n goeie gewete te behou en om getrou aan Jehovah te bly. – Handelinge 23:1.

Hoofstuk 13, paragraaf 22

 30 BESIGHEID EN WETLIKE SAKE

As meningsverskille vreedsaam en so gou as moontlik opgelos word, sal dit in die meeste gevalle keer dat groot probleme ontstaan (Matteus 5:23-26). Elke Christen moet besef dat daar niks is wat belangriker is as om Jehovah te verheerlik en die gemeente verenig te hou nie. – Johannes 13:34, 35; 1 Korintiërs 13:4, 5.

As Christene ’n meningsverskil het oor ’n besigheidstransaksie, moet hulle dit probeer oplos sonder om mekaar hof toe te neem. Die apostel Paulus se raad oor hofsake tussen Christene is in 1 Korintiërs 6:1-8 opgeteken. As ons ons broers hof toe neem, kan dit Jehovah en die gemeente in ’n slegte lig stel. In Matteus 18:15-17 word drie stappe genoem wat ’n Christen moet volg wanneer dit kom by ernstige aantygings, soos laster en bedrog. (1) Hulle moet die saak eers self tussen hulle probeer oplos. (2) As dit nie werk nie, kan hulle een of twee geestelik volwasse lede van die gemeente vra om te help. (3) As die saak nog nie opgelos is nie, kan hulle die ouermanne vra om die saak te hanteer. As die situasie hierdie punt bereik, sal die ouermanne die persone wat betrokke is, probeer help om Bybelbeginsels toe te pas en ’n vreedsame oplossing te vind. As party van hulle nie bereid is om te doen wat die Bybel sê nie, sal die gemeentelike ouermanne dalk regterlike stappe moet neem.

Soms sal dit om wetlike redes nodig wees om hof toe te gaan, soos in gevalle van egskeidings, toesig oor kinders, onderhoudsgeld, versekeringsuitbetalings, bankrotskap of testamente. As ’n Christen in sulke gevalle van wetlike middele gebruik maak om die saak so vreedsaam as moontlik op te los, tree hy nie in stryd met Paulus se raad op nie.

As ’n Christen ’n ernstige misdaad, soos verkragting, kindermishandeling, aanranding, ernstige diefstal of moord, by die sekulêre owerheid aangee, tree hy ook nie in stryd met Paulus se raad op nie.

Hoofstuk 14, paragraaf 14

 31 SATAN SE METODES

Satan het al in die tuin van Eden begin om mense te probeer mislei (Genesis 3:1-6; Openbaring 12:9). Hy weet dat hy ons kan beïnvloed om verkeerde dinge te doen as hy ons denke kan verdraai (2 Korintiërs 4:4; Jakobus 1:14, 15). Hy gebruik die politiek, godsdiens, die besigheidswêreld, vermaak, hoër onderwys en baie ander dinge om sy denke te bevorder en aanvaarbaar te laat lyk. – Johannes 14:30; 1 Johannes 5:19.

Satan weet dat hy nie baie tyd oorhet om mense te mislei nie. Daarom probeer hy sy bes om soveel mense as moontlik te mislei. Hy wil veral diegene mislei wat Jehovah aanbid (Openbaring 12:12). As ons nie versigtig is nie, kan die Duiwel ons denke geleidelik beïnvloed (1 Korintiërs 10:12). Byvoorbeeld, Jehovah wil hê dat huwelike permanent moet wees (Matteus 19:5, 6, 9). Maar vandag beskou baie mense die huwelik as ’n ooreenkoms wat maklik verbreek kan word. Baie flieks en TV-programme bevorder ook hierdie idee. Ons moenie toelaat dat die wêreld se beskouing van die huwelik ons beïnvloed nie.

Nog ’n manier waarop Satan ons probeer mislei, is deur ’n onafhanklike gesindheid te bevorder (2 Timoteus 3:4). As ons nie versigtig is nie, kan ons ons respek verloor vir die gesag van dié wat deur Jehovah aangestel is. Dit kan byvoorbeeld vir ’n broer moeilik begin word om die leiding van die gemeentelike ouermanne te volg (Hebreërs 12:5). Of ’n suster kan Jehovah se hoofskapreëling in die gesin begin bevraagteken. – 1 Korintiërs 11:3.

Ons moet vasbeslote wees om die Duiwel nie toe te laat om ons denke te beïnvloed nie. Ons wil eerder Jehovah se denke hê en “bly dink aan die dinge daar bo”. – Kolossense 3:2; 2 Korintiërs 2:11.

Hoofstuk 16, paragraaf 9

 32 MEDIESE BEHANDELING

Ons almal wil gesond wees en die beste behandeling kry wanneer ons siek is (Jesaja 38:21; Markus 5:25, 26; Lukas 10:34). Vandag is daar baie mediese tegnieke en behandelingsmetodes waarvan dokters en ander persone gebruik maak. Wanneer ons moet besluit watter behandeling ons sal aanvaar, is dit belangrik dat ons Bybelbeginsels volg. Ons hou in gedagte dat permanente genesing net onder God se Koninkryk moontlik sal wees. Ons wil nie so behep wees met ons gesondheid dat ons ons aanbidding van Jehovah verwaarloos nie. – Jesaja 33:24; 1 Timoteus 4:16.

Ons wil enige behandeling vermy wat dalk met die demone te doen het (Deuteronomium 18:10-12; Jesaja 1:13). Voordat ons enige behandeling of geneesmiddels aanvaar, moet ons dus soveel as moontlik uitvind oor hoe dit werk en watter denke dit bevorder (Spreuke 14:15). Ons moet in gedagte hou dat Satan ons graag wil mislei sodat ons by demonisme betrokke sal raak. Al vermoed ons net dat ’n behandeling met demone te doen het, moet ons dit eerder vermy. – 1 Petrus 5:8.

Hoofstuk 16, paragraaf 18

^ par. 98 Party dokters beskou die vier hoofdele van bloed as fraksies. Daarom sal jy moet verduidelik dat jy persoonlik besluit het om nie oortappings te aanvaar van heelbloed of van die vier hoofdele daarvan, naamlik rooibloedselle, witbloedselle, bloedplaatjies en plasma nie.