Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 5

Geen deel van die wêreld nie

Geen deel van die wêreld nie

‘Julle is geen deel van die wêreld nie.’ – JOHANNES 15:19.

1. Waaroor was Jesus besorg op die nag voor sy dood?

DIT was die nag voor Jesus se dood. Hy het geweet dat hy sy dissipels binnekort sou verlaat, en hy was besorg oor hulle toekoms. Hy het vir hulle gesê: ‘Julle is geen deel van die wêreld nie’ (Johannes 15:19). Later het hy in gebed tot sy Vader oor hulle gesê: “Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie” (Johannes 17:15, 16). Wat het Jesus bedoel?

2. Wat is “die wêreld” waarvan Jesus gepraat het?

2 Hier verwys “die wêreld” na mense wat God nie ken nie en wat deur Satan regeer word (Johannes 14:30; Efesiërs 2:2; Jakobus 4:4; 1 Johannes 5:19). Hoe kry ons dit reg om “geen deel van die wêreld” te wees nie? In hierdie hoofstuk gaan ons vyf maniere bespreek: Ons bly lojaal aan God se Koninkryk en is neutraal, dit wil sê, ons kies nie kant in die politiek nie. Ons weerstaan die gees van die wêreld. Ons is beskeie wanneer dit kom by ons klere en ander aspekte van ons voorkoms. Ons het ’n gebalanseerde beskouing van geld. En ons trek die wapenrusting aan wat deur God voorsien word. – Sien Eindnota 16.

WEES LOJAAL AAN GOD SE KONINKRYK

3. Hoe het Jesus die politiek beskou?

3 Toe Jesus op die aarde was, het hy gesien dat mense baie probleme het en dat hulle lewe nie maklik is nie. Hy het regtig vir hulle omgegee en wou hulle help. Het hy ’n politieke leier geword? Nee. Hy het geweet wat mense werklik nodig het: God se Koninkryk, dit wil sê God se regering. Jesus sou die Koning van daardie Koninkryk wees, en die Koninkryk was die hooftema van sy predikingswerk (Daniël 7:13, 14; Lukas 4:43; 17:20, 21). Jesus het nie by die politiek betrokke geraak nie, en hy het altyd neutraal gebly. Toe Jesus voor die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus verskyn het, het hy gesê: “My Koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie” (Johannes 18:36). Sy dissipels was ook neutraal. Die boek On the Road to Civilization het gesê dat die vroeë Christene ‘geweier het om ’n politieke amp te beklee’. Vandag volg ware Christene hulle voorbeeld. Ons is lojaal aan God se Koninkryk en ons bly neutraal wanneer dit kom by die politiek van die wêreld. – Matteus 24:14.

Kan jy verduidelik hoekom jy jou lojale ondersteuning aan God se Koninkryk gee?

4. Hoe ondersteun ware Christene God se Koninkryk?

4 Ambassadeurs verteenwoordig hulle regering in ’n ander land, en daarom raak hulle nie betrokke by die politiek van daardie land nie. Die gesalfdes, wat die hoop het om saam met Christus in die hemel te regeer, is in ’n soortgelyke situasie. Paulus het aan gesalfde Christene geskryf: “Ons is . . . ambassadeurs wat as plaasvervangers vir Christus optree” (2 Korintiërs 5:20). Die gesalfdes verteenwoordig God se regering, en daarom raak hulle nie betrokke by die politiek van hierdie wêreld nie (Filippense 3:20). Hulle het miljoene mense eerder gehelp om van God se regering te leer. Die “ander skape”, wat die hoop het om vir ewig in God se nuwe wêreld te lewe, ondersteun die gesalfdes. Hulle bly ook neutraal (Johannes 10:16; Matteus 25:31-40). Dit is duidelik dat ’n ware Christen nie betrokke sal raak by die politiek van hierdie wêreld nie. – Lees Jesaja 2:2-4.

5. Wat is een rede waarom Christene nie oorlog toe gaan nie?

5 Ware Christene beskou al hulle medegelowiges as familie. Hulle is verenig, maak nie saak waar hulle vandaan kom of wat hulle agtergrond is nie (1 Korintiërs 1:10). As ons oorlog toe sou gaan, sou ons teen ons eie familie, ons Christenbroers, moes veg. Maar Jesus het ons beveel om hulle lief te hê (Johannes 13:34, 35; 1 Johannes 3:10-12). En Jesus het vir sy dissipels gesê dat hulle selfs hulle vyande moet liefhê. – Matteus 5:44; 26:52.

6. Hoe beskou ware Christene die regerings?

6 Hoewel ons as Christene neutraal bly, probeer ons hard om goeie burgers te wees. Ons wys byvoorbeeld dat ons die regering respekteer deur die landswette te gehoorsaam en belasting te betaal. Maar ons gee altyd “aan God wat aan God behoort” (Markus 12:17; Romeine 13:1-7; 1 Korintiërs 6:19, 20). Die dinge “wat aan God behoort”, sluit ons liefde vir hom in, sowel as ons gehoorsaamheid en ons aanbidding. Ons sal eerder ons lewe verloor as om ongehoorsaam te wees aan Jehovah. – Lukas 4:8; 10:27; lees Handelinge 5:29; Romeine 14:8.

WEERSTAAN “DIE GEES VAN DIE WÊRELD”

7, 8. Wat is “die gees van die wêreld”, en watter invloed het dit op mense?

7 As ons geen deel van Satan se wêreld wil wees nie, moet ons nie toelaat dat “die gees van die wêreld” ons beheer nie. Hierdie gees verwys na die manier waarop Satan se wêreld dink en optree, en dit beheer dié wat Jehovah nie dien nie. Maar Christene weerstaan hierdie gees. Paulus het gesê: “Ons het nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die gees wat van God kom.” – 1 Korintiërs 2:12; Efesiërs 2:2, 3; sien Eindnota 17.

8 Die gees van die wêreld maak mense selfsugtig, trots en opstandig. Dit laat hulle dink dat hulle God nie hoef te gehoorsaam nie. Satan wil hê dat hulle moet doen net wat hulle wil sonder om te dink aan die gevolge. Hy wil hê dat mense moet glo dat “die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë” die belangrikste dinge in die lewe is (1 Johannes 2:16; 1 Timoteus 6:9, 10). Die Duiwel probeer baie hard om Jehovah se knegte te mislei en om ons te laat dink soos hy dink. – Johannes 8:44; Handelinge 13:10; 1 Johannes 3:8.

9. Hoe kan die gees van die wêreld ons beïnvloed?

9 Net soos die lug wat ons inasem, is die gees van die wêreld oral om ons. As ons nie ons bes doen om daardie gees te weerstaan nie, sal dit ons beïnvloed. (Lees Spreuke 4:23.) Dit kan begin met dinge wat onskuldig lyk. Ons kan byvoorbeeld toelaat dat die denke en gesindhede van mense wat Jehovah nie aanbid nie, ons begin beïnvloed (Spreuke 13:20; 1 Korintiërs 15:33). Of ons kan beïnvloed word deur dinge soos pornografie, afvalligheid of kompeterende sport. – Sien Eindnota 18.

10. Hoe kan ons die gees van die wêreld weerstaan?

10 Maar hoe kan ons keer dat die gees van die wêreld ons beheer? Ons moet na aan Jehovah bly en toelaat dat sy wysheid ons lei. Ons moet hom gereeld vir sy heilige gees vra en in sy diens besig bly. Jehovah is die magtigste Persoon in die heelal. Ons het die volste vertroue dat hy ons kan help om die gees van die wêreld te weerstaan. – 1 Johannes 4:4.

SORG DAT JOU KLEREDRAG GOD VERHEERLIK

11. Hoe het die gees van die wêreld mense se kleredrag beïnvloed?

11 Ons wys ook deur ons kleredrag en voorkoms dat ons geen deel van die wêreld is nie. Die kleredrag van baie mense in die wêreld wys dat hulle opstandig is, aandag wil trek, onsedelike gedagtes by ander wil laat opkom of wil spog met hoeveel geld hulle het. Ander is slordig of vuil omdat hulle nie omgee hoe hulle lyk nie. Ons moenie toelaat dat enige van hierdie gesindhede ons kleredrag en voorkoms beïnvloed nie.

Verheerlik ek Jehovah deur die manier waarop ek aantrek?

12, 13. Watter beginsels kan ons help om te besluit wat ons sal dra?

12 As knegte van Jehovah wil ons altyd klere dra wat netjies, skoon en smaakvol is en wat pas by die geleentheid. Ons kleredrag moet wys dat ons ‘beskeie is en gesonde verstand het’ en dat ons “aan God toegewyd is”. – 1 Timoteus 2:9, 10; Judas 21.

13 Die manier waarop ons aantrek, kan ’n invloed hê op hoe ander Jehovah en sy volk beskou. Ons wil alles doen “tot eer van God” (1 Korintiërs 10:31). As ons beskeie is, sal ons ander se gevoelens en menings in ag neem. Wanneer ons klere kies of besluite neem oor ons voorkoms, moet ons dus onthou dat ons keuses ander mense raak. – 1 Korintiërs 4:9; 2 Korintiërs 6:3, 4; 7:1.

14. Watter vrae sal ons help om klere te kies vir vergaderinge en velddiens?

14 Dit is goed om na te dink oor watter klere ons dra wanneer ons vergaderinge bywoon of velddiens doen. Vestig ons klere te veel aandag op ons? Skaam ander hulle vir ons? Voel ons dat die manier waarop ons aantrek, niks met ander te doen het nie? (Filippense 4:5; 1 Petrus 5:6). Ons wil natuurlik goed lyk, maar dit is ons Christelike eienskappe wat ons eintlik aantreklik maak. Dit is die eienskappe wat Jehovah sien wanneer hy na ons kyk en “wat baie waardevol is in die oë van God”. – 1 Petrus 3:3, 4.

15. Hoekom gee Jehovah ons nie ’n lys reëls oor ons kleredrag en voorkoms nie?

15 Jehovah gee ons nie ’n lys reëls oor wat ons mag aantrek of nie mag aantrek nie. Hy het ons eerder Bybelbeginsels gegee om ons te help om goeie keuses te maak (Hebreërs 5:14). Hy wil hê dat ons besluite, groot of klein, gebaseer moet wees op liefde vir hom en vir ander. (Lees Markus 12:30, 31.) Omdat mense se kultuur en persoonlike smaak verskil, vind ons regoor die wêreld verskillende klerestyle onder Jehovah se aanbidders. Hierdie verskeidenheid is pragtig.

’N GEBALANSEERDE BESKOUING VAN GELD

16. (a) Hoe verskil die wêreld se beskouing van geld van wat Jesus geleer het? (b) Watter vrae moet ons ons afvra?

16 Satan wil hê dat mense moet dink dat geld en materiële dinge hulle gelukkig sal maak, maar Jehovah se knegte weet dat dit nie waar is nie. Ons glo Jesus se woorde: “Selfs wanneer iemand ’n oorvloed het, hang sy lewe nie van sy besittings af nie” (Lukas 12:15). Geld kan nie ware geluk koop nie. Dit kan ons nie ware vriende, ware innerlike vrede of die ewige lewe gee nie. Ons het natuurlik materiële dinge nodig, en ons wil die lewe geniet. Maar Jesus het ons geleer dat ons gelukkig sal wees as ons ’n goeie verhouding met God het en as ons aanbidding die belangrikste ding in ons lewe is (Matteus 5:3; 6:22, voetnoot). Vra jou af: ‘Het die wêreld se beskouing van geld my beïnvloed? Is geld al waaraan ek dink en waaroor ek praat?’ – Lukas 6:45; 21:34-36; 2 Johannes 6.

17. Hoe sal jy baat vind as jy die wêreld se beskouing van geld verwerp?

17 As ons lewe om Jehovah se diens draai en ons die wêreld se beskouing van geld verwerp, sal ons lewe betekenisvol wees (Matteus 11:29, 30). Ons sal tevrede wees met wat ons het en innerlike vrede hê (Matteus 6:31, 32; Romeine 15:13). Ons sal minder bekommerd wees oor materiële dinge. (Lees 1 Timoteus 6:9, 10.) Ons sal sien hoe gelukkig dit ons maak om te gee (Handelinge 20:35). En ons sal meer tyd kan spandeer met die mense vir wie ons lief is. Miskien sal ons selfs beter slaap. – Prediker 5:12.

“DIE VOLLE WAPENRUSTING”

18. Wat wil Satan graag doen?

18 Satan wil ons verhouding met Jehovah vernietig, en daarom moet ons alles doen wat ons kan om dit te beskerm. Ons het ’n stryd “teen die bose geesmagte”, dit wil sê teen Satan en sy demone (Efesiërs 6:12). Hulle wil nie hê dat ons gelukkig moet wees of vir ewig moet lewe nie (1 Petrus 5:8). Hierdie magtige vyande veg teen ons, maar met Jehovah se hulp kan ons die geveg wen!

19. Hoe beskryf Efesiërs 6:14-18 ’n Christen se “wapenrusting”?

19 In die ou tyd het soldate wapenrusting gedra om hulle in ’n geveg te beskerm. Net so moet ons die “wapenrusting” dra wat Jehovah aan ons gegee het (Efesiërs 6:13). Dit sal ons beskerm. Ons lees van hierdie wapenrusting in Efesiërs 6:14-18: “Staan dus vas met die lyfband van waarheid om julle middel vasgemaak, met die borsplaat van regverdigheid aan en met die gewilligheid om die goeie nuus van vrede bekend te maak, aan julle voete. Dra dan ook die groot skild van geloof, waarmee julle al die brandende pyle van die Duiwel sal kan blus. En dra ook die helm van redding en die swaard van die gees, dit wil sê God se woord. Hou ook aan om by elke geleentheid in gees te bid met elke vorm van gebed en smeekgebede.”

20. Wat moet ons doen sodat die “wapenrusting” ons altyd kan beskerm?

20 As ’n soldaat vergeet om ’n deel van sy wapenrusting te dra, sal ’n deel van sy liggaam geen beskerming hê nie, en dan sal sy vyand hom daar probeer wond. As ons wil hê dat ons “wapenrusting” ons moet beskerm, moet ons elke deel daarvan dra. Ons moet dit heeltyd dra en dit in ’n goeie toestand hou. Ons stryd sal aanhou totdat Satan se wêreld vernietig is en Satan en sy demone van die aarde verwyder is (Openbaring 12:17; 20:1-3). As ons teen verkeerde begeertes of ’n swakheid stry, moet ons dus nie moed opgee nie! – 1 Korintiërs 9:27.

21. Hoe kan ons suksesvol wees in ons stryd?

21 Op ons eie is ons nie sterker as die Duiwel nie. Maar met Jehovah se hulp is ons! As ons getrou wil bly, moet ons tot Jehovah bid, sy Woord studeer en met ons broers en susters assosieer (Hebreërs 10:24, 25). Dit sal ons help om lojaal aan God te bly en om gereed te wees om ons geloof te verdedig.

WEES GEREED OM JOU GELOOF TE VERDEDIG

22, 23. (a) Wat moet ons doen om altyd gereed te wees om ons geloof te verdedig? (b) Wat sal ons in die volgende hoofstuk bespreek?

22 Ons moet altyd gereed wees om ons geloof te verdedig (Johannes 15:19). In sekere sake tree Jehovah se Getuies baie anders op as ander mense. Vra jou af: ‘Verstaan ek regtig hoekom ons so optree? Is ek oortuig dat wat die Bybel en die getroue en verstandige slaaf sê, reg is? Is ek trots daarop om een van Jehovah se Getuies te wees? (Psalm 34:2; Matteus 10:32, 33). Kan ek aan ander verduidelik wat ek glo?’ – Matteus 24:45; Johannes 17:17; lees 1 Petrus 3:15.

23 In baie situasies is dit maklik om te sien wat ons moet doen om geen deel van die wêreld te wees nie. Maar soms is dit nie so maklik nie. Satan stel verskillende strikke om ons te probeer vang. Een strik wat hy gebruik, is vermaak. Hoe kan ons ons vermaak wyslik kies? Ons sal dit in die volgende hoofstuk bespreek.