Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 15

Geniet jou werk

Geniet jou werk

“Elkeen moet . . . al sy harde werk . . . geniet.” – PREDIKER 3:13.

1-3. (a) Hoe voel baie mense oor hulle werk? (b) Watter vrae sal ons in hierdie hoofstuk bespreek?

REGOOR die wêreld werk mense hard om vir hulle en hulle gesin te sorg. Baie mense hou nie van hulle werk nie, en vir party is dit ’n stryd om elke dag werk toe te gaan. Is dit hoe jy voel? Wat kan jy doen om jou werk meer te geniet? Hoe kan jy goed voel oor jou werk?

2 Jehovah sê vir ons: “Elkeen moet eet en drink en al sy harde werk . . . geniet. Dit is die gawe van God” (Prediker 3:13). Jehovah het ons geskep met die behoefte en begeerte om te werk. Hy wil hê dat ons goed moet voel oor wat ons doen. – Lees Prediker 2:24; 5:18.

3 Wat kan ons dus help om ons werk te geniet? Watter soort werk moet Christene vermy? Hoe kan ons seker maak dat ons werk nie veroorsaak dat ons ons aanbidding van Jehovah afskeep nie? En wat is die belangrikste werk wat ons kan doen?

DIE TWEE BESTE VOORBEELDE

4, 5. Wat is Jehovah se beskouing van werk?

4 Jehovah geniet dit om te werk. Genesis 1:1 sê: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.” Nadat God die aarde en alles daarop gemaak het, het hy gesê dat sy skepping “baie goed” is (Genesis 1:31). Ons Skepper was tevrede met alles wat hy gemaak het. – 1 Timoteus 1:11.

5 Jehovah hou nooit op om te werk nie. Jesus het gesê: “My Vader het tot nou toe aanhou werk” (Johannes 5:17). Jehovah doen wonderlike dinge. Ons weet nie van alles wat hy al gedoen het nie, maar ons weet wel van ’n paar van hierdie dinge, soos die uitkiesing van die persone wat saam met sy Seun, Jesus Christus, in die hemel sal regeer (2 Korintiërs 5:17). En Jehovah lei mense en sorg vir hulle. As gevolg van die wêreldwye predikingswerk leer miljoene mense Jehovah ken en het hulle die hoop om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe. – Johannes 6:44; Romeine 6:23.

6, 7. Watter soort werker is Jesus?

6 Net soos sy Vader, geniet Jesus dit om te werk. Voordat Jesus aarde toe gekom het, was hy God se “meesterwerker”. Hy het God gehelp om alles in die hemel en op die aarde te skep (Spreuke 8:22-31; Kolossense 1:15-17). Toe Jesus op die aarde was, het hy ook hard gewerk. As ’n jong man het hy geleer om ’n timmerman te wees. Hy het waarskynlik meubels gemaak en huise gebou. Jesus het sy werk so goed gedoen dat hy bekend geword het as “die timmerman”. – Markus 6:3.

7 Maar Jesus se belangrikste werk op die aarde was om die goeie nuus te verkondig en mense van Jehovah te leer. Hy het drie en ’n half jaar gehad om sy bediening te voltooi, en hy het van vroeg in die oggend tot laat in die aand hard gewerk (Lukas 21:37, 38; Johannes 3:2). Jesus het honderde kilometers op stowwerige paaie geloop om soveel mense as moontlik van die goeie nuus te vertel. – Lukas 8:1.

8, 9. Hoekom het Jesus sy werk geniet?

8 Om God se werk te doen, was vir Jesus soos voedsel. Hierdie werk het hom energie en krag gegee. Daar was dae dat Jesus so hard gewerk het dat hy nie eers tyd geneem het om te eet nie (Johannes 4:31-38). Hy het elke geleentheid gebruik om ander te help om van sy Vader te leer. Daarom kon hy vir Jehovah sê: “Ek het u op die aarde verheerlik, omdat ek die werk voltooi het wat u my gegee het om te doen.” – Johannes 17:4.

9 Dit is duidelik dat Jehovah en Jesus baie hard werk en dat hulle werk vir hulle vreugde en tevredenheid gee. Ons wil “navolgers van God” word, en ons wil Jesus se “voetstappe noukeurig . . . volg” (Efesiërs 5:1; 1 Petrus 2:21). Daarom wil ons hard werk en ons bes doen in alles wat ons doen.

HOE MOET ONS ONS WERK BESKOU?

10, 11. Wat kan ons help om ’n positiewe gesindheid teenoor ons werk te hê?

10 As Jehovah se knegte werk ons hard om vir onsself en ons gesin te sorg. Ons wil goed voel oor ons werk, maar dit is nie altyd maklik nie. Wat kan ons doen as ons nie ons werk geniet nie?

’n Positiewe gesindheid kan jou help om enige werk te geniet

11 Verkry ’n positiewe gesindheid. Ons kan dalk nie ons werksomstandighede verander nie, maar ons kan ons gesindheid verander. As ons verstaan wat Jehovah van ons verwag, kan dit ons help. Byvoorbeeld: Jehovah verwag dat ’n gesinshoof sy bes moet doen om in sy gesin se behoeftes te voorsien. Volgens die Bybel is iemand wat nie vir sy gesin sorg nie, “erger as iemand sonder geloof” (1 Timoteus 5:8). As jy ’n gesinshoof is, werk jy hard om vir jou gesin te sorg. En of jy van jou werk hou of nie, jy weet dat jy Jehovah bly maak as jy vir jou gesin sorg.

12. Hoekom moet ons hard werk en eerlik wees?

12 Wees hardwerkend en eerlik. Dit kan jou help om jou werk meer te geniet (Spreuke 12:24; 22:29). Jou werkgewer sal jou kan vertrou. Werkgewers waardeer eerlike werkers, want hulle sal nie geld, tyd of enigiets anders steel nie (Efesiërs 4:28). Nog belangriker, Jehovah sien as jy hardwerkend en eerlik is. Jy kan “’n eerlike gewete” hê omdat jy weet dat jy die goedkeuring het van die God wat jy liefhet. – Hebreërs 13:18; Kolossense 3:22-24.

13. Wat kan ons eerlikheid by die werk tot gevolg hê?

13 Hou in gedagte dat jou gedrag by die werk Jehovah kan verheerlik. Dit gee ons nog ’n rede om goed te voel oor ons werk (Titus 2:9, 10). Miskien sal een van jou werksmaats selfs die Bybel wil studeer as gevolg van jou goeie voorbeeld. – Lees Spreuke 27:11; 1 Petrus 2:12.

WATTER SOORT WERK MOET EK KIES?

14-16. Wat moet ons in gedagte hou wanneer ons werk kies?

14 Die Bybel bevat nie ’n lys wat sê watter werk ’n Christen mag of nie mag doen nie. Maar dit bevat wel beginsels wat ons kan help om goeie besluite oor werk te neem (Spreuke 2:6). Dink aan die volgende vrae en kyk hoe Bybelbeginsels jou kan help.

Soek na werk wat nie met Jehovah se standaarde sal bots nie

15 Sal hierdie werk vereis dat ek iets doen wat Jehovah sê verkeerd is? Ons het geleer dat daar dinge is wat Jehovah haat, soos diefstal en leuens (Eksodus 20:4; Handelinge 15:29; Efesiërs 4:28; Openbaring 21:8). Daarom moet ons sorg dat ons enige werk vermy wat bots met Jehovah se standaarde. – Lees 1 Johannes 5:3.

16 Ondersteun of bevorder hierdie werk iets wat Jehovah veroordeel? Byvoorbeeld, sê nou jy kan werk kry as ’n ontvangsdame by ’n aborsiekliniek? Dit is nie verkeerd om ’n ontvangsdame te wees nie. Maar jy weet hoe Jehovah oor aborsie voel. Hoewel jy nie self die aborsies sal doen nie, sal jy seker saamstem dat jy in Jehovah se oë ’n mate van skuld sal dra. – Eksodus 21:22-24.

17. Wat kan ons help om besluite te neem wat Jehovah se goedkeuring sal hê?

17 As ons Bybelbeginsels toepas, kan ons die soort mense wees wat in Hebreërs 5:14 beskryf word: mense wat “hulle denkvermoë geoefen het deur dit te gebruik, sodat hulle kan onderskei wat reg en wat verkeerd is”. Vra jou af: ‘Sal dit ander laat struikel as ek hierdie werk aanvaar? Sal ek my huweliksmaat en kinders moet agterlaat om in ’n ander land te gaan werk? Watter uitwerking sal dit op hulle hê?’

‘MAAK SEKER VAN DIE BELANGRIKER DINGE’

18. Hoekom kan dit ’n uitdaging wees om ons aanbidding eerste te stel in ons lewe?

18 Dit kan moeilik wees om ons aanbidding van Jehovah eerste te stel gedurende hierdie “swaar tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1). Om werk te kry en te behou, kan ’n groot uitdaging wees. Ons moet vir ons gesin sorg, maar ons weet dat ons aanbidding eerste moet kom. Ons kan nie toelaat dat materiële dinge te belangrik word in ons lewe nie (1 Timoteus 6:9, 10). Hoe kan ons “seker . . . maak van die belangriker dinge” en terselfdertyd vir ons gesin sorg? – Filippense 1:10.

19. Hoe kan vertroue op Jehovah ons help om ’n gebalanseerde beskouing van ons werk te hê?

19 Vertrou ten volle op Jehovah. (Lees Spreuke 3:5, 6.) Ons weet dat God presies weet wat ons nodig het en dat hy baie vir ons omgee (Psalm 37:25; 1 Petrus 5:7). Sy Woord sê vir ons: “Julle lewenswyse moet vry wees van die liefde vir geld, terwyl julle tevrede is met die dinge wat julle nou het. Want [God] het gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie en jou nooit in die steek laat nie’” (Hebreërs 13:5). Jehovah wil nie hê dat ons heeltyd bekommerd moet wees oor hoe ons vir ons gesin sal sorg nie. Hy het al oor en oor bewys dat hy vir sy aanbidders kan gee wat hulle nodig het (Matteus 6:25-32). Maak nie saak wat ons werksituasie is nie, ons maak seker dat ons gereeld God se Woord studeer, die goeie nuus verkondig en ons Christelike vergaderinge bywoon. – Matteus 24:14; Hebreërs 10:24, 25.

20. Hoe kan ons ons lewe eenvoudig hou?

20 Hou jou oog gefokus. (Lees Matteus 6:22, 23.) Dit beteken dat jy jou lewe eenvoudig moet hou sodat jy kan fokus op jou diens aan Jehovah. Ons weet dat dit dom sal wees om toe te laat dat geld, ’n gemaklike lewe of die nuutste toestelle vir ons belangriker word as ons vriendskap met God. Wat sal ons dus help om die dinge wat eerste moet kom, eerste te stel? Ons moet ons bes doen om nie skuld te maak nie. As jy reeds skuld het, moet jy ’n plan probeer maak om dit te verminder of gouer af te betaal. As ’n mens nie versigtig is nie, kan materiële dinge soveel van jou tyd en energie vat dat jy nie genoeg tyd sal hê om te bid, te studeer of velddiens te doen nie. Moenie toelaat dat materiële dinge jou lewe kompliseer nie. Leer eerder om tevrede te wees met die basiese dinge, soos “kos en klere” (1 Timoteus 6:8). En maak nie saak wat ons situasie is nie, dit is goed om ons omstandighede van tyd tot tyd te ondersoek om te sien hoe ons meer in Jehovah se diens kan doen.

21. Hoekom is dit belangrik om prioriteite te stel?

21 Stel die regte prioriteite. Ons moet ons tyd, energie en materiële dinge wyslik gebruik. As ons nie versigtig is nie, kan ons al ons kosbare tyd gebruik vir minder belangrike dinge, soos om opleiding te kry of geld te maak. Jesus het gesê: “Hou dan aan om eers die Koninkryk . . . te soek” (Matteus 6:33). Die keuses wat ons maak, ons gewoontes, ons daaglikse roetine en ons doelwitte wys wat vir ons die belangrikste is in ons lewe.

DIE BELANGRIKSTE WERK WAT ONS KAN DOEN

22, 23. (a) Wat is die belangrikste werk wat ons as Christene het? (b) Wat sal ons help om ons werk te geniet?

22 Die belangrikste werk wat ons het, is om Jehovah te dien en die goeie nuus aan ander te verkondig (Matteus 24:14; 28:19, 20). Net soos Jesus, wil ons ons bes doen in hierdie werk. Party het gaan dien in plekke waar meer verkondigers nodig is. Ander leer ’n ander taal sodat hulle vir mense kan preek wat daardie taal praat. Praat met diegene wat hierdie dinge gedoen het. Hulle sal vir jou sê dat hulle lewe nou gelukkiger en betekenisvoller is. – Lees Spreuke 10:22.

Ons diens aan Jehovah is die belangrikste werk wat ons het

23 Vandag moet baie van ons lang ure werk of het ons selfs meer as een werk, net om in ons gesin se basiese behoeftes te voorsien. Jehovah weet dit, en hy waardeer alles wat ons doen om vir ons gesin te sorg. Laat ons almal dus aanhou om Jehovah en Jesus na te volg deur hard te werk, maak nie saak watter werk ons doen nie. En ons moet altyd onthou: Ons belangrikste werk is om Jehovah te dien en die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig. Dit sal ons werklik gelukkig maak.