Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 1

God se liefde bly vir ewig

God se liefde bly vir ewig

“Die liefde vir God beteken dat ons sy gebooie gehoorsaam. En tog is sy gebooie nie swaar nie.” – 1 JOHANNES 5:3.

1, 2. Hoekom is jy lief vir Jehovah God?

IS JY lief vir God? Jy is dalk so lief vir hom dat jy jou aan hom toegewy het. Miskien beskou jy hom as jou beste Vriend. Maar selfs voordat jy Jehovah liefgehad het, het hy jou liefgehad. Die Bybel sê: “Ons het lief omdat hy ons eerste liefgehad het.” – 1 Johannes 4:19.

2 Dink aan al die maniere waarop Jehovah vir ons wys dat hy vir ons lief is. Hy het vir ons die aarde as ’n pragtige tuiste gegee, en ook alles wat ons nodig het om die lewe te geniet (Matteus 5:43-48; Openbaring 4:11). Hy wil hê dat ons ’n goeie verhouding met hom moet hê, en hy het dit vir ons moontlik gemaak om van hom te leer. Wanneer ons die Bybel lees, luister ons na Jehovah. En wanneer ons bid, luister hy na ons (Psalm 65:2). Hy lei ons en versterk ons met sy kragtige heilige gees (Lukas 11:13). Hy het selfs sy geliefde Seun aarde toe gestuur om ons van sonde en die dood te bevry. – Lees Johannes 3:16; Romeine 5:8.

3. Hoe kan ons ’n goeie vriend van Jehovah bly?

3 Dink vir ’n oomblik aan een van jou goeie vriende, iemand wat jou in goeie en slegte tye bygestaan het. Inspanning is nodig om so ’n vriendskap sterk te hou. Dit is ook die geval met ons vriendskap met Jehovah, die beste Vriend wat ons ooit kan hê. Ons vriendskap met hom kan vir ewig duur. Daarom sê die Bybel vir ons: ‘Bly in God se liefde’ (Judas 21). Hoe kan ons dit doen? Die Bybel antwoord: “Die liefde vir God beteken dat ons sy gebooie gehoorsaam. En tog is sy gebooie nie swaar nie.” – 1 Johannes 5:3.

WAT DIE LIEFDE VIR GOD BETEKEN

4, 5. Hoe het jy lief geword vir Jehovah?

4 “Die liefde vir God” verwys na ons diep liefde vir Jehovah. Kan jy nog onthou hoe jou liefde vir Jehovah begin ontwikkel het?

Wanneer jy jou aan Jehovah toewy en gedoop word, wys jy dat jy hom liefhet en vir ewig wil gehoorsaam

5 Dink aan hoe jy gevoel het toe jy vir die eerste keer gehoor het dat Jehovah wil hê dat jy vir ewig in sy nuwe wêreld moet lewe. Jy het geleer van alles wat hy gedoen het om dit moontlik te maak. En jy het besef dat Jehovah ons ’n baie kosbare geskenk gegee het toe hy sy eie Seun aarde toe gestuur het (Matteus 20:28; Johannes 8:29; Romeine 5:12, 18). Toe jy geleer het hoe lief Jehovah vir jou is, het dit jou hart geraak, en jy het ook vir hom lief geword. – Lees 1 Johannes 4:9, 10.

6. (a) Wat beteken dit om iemand lief te hê? (b) Wat het jy al gedoen om jou liefde vir God te bewys?

6 Maar daardie gevoel was net die begin. As jy vir iemand lief is, sal jy meer doen as om net te sê: “Ek is lief vir jou.” Wanneer ons iemand liefhet, wil ons graag dinge doen wat daardie persoon gelukkig maak. Net so het jou liefde vir Jehovah jou beweeg om op ’n manier te lewe wat hom gelukkig maak. Jou liefde vir hom het al hoe groter geword en het jou waarskynlik beweeg om jou aan hom toe te wy en gedoop te word. Deur dit te doen, het jy belowe om Jehovah vir ewig te dien. (Lees Romeine 14:7, 8.) Hoe kan jy daardie belofte hou?

‘ONS GEHOORSAAM SY GEBOOIE’

7. (a) Wat sal ons doen as ons vir Jehovah lief is? (b) Wat is party van Jehovah se gebooie?

7 Omdat ons vir Jehovah lief is, ‘gehoorsaam ons sy gebooie’. In die Bybel leer ons hoe Jehovah wil hê ons moet lewe. Hy sê byvoorbeeld vir ons dat dit verkeerd is om dronk te word, om te steel of te lieg, om seks te hê met iemand met wie ons nie getroud is nie of om iets of iemand anders as Jehovah te aanbid. – 1 Korintiërs 5:11; 6:18; 10:14; Efesiërs 4:28; Kolossense 3:9.

8, 9. Hoe weet ons wat Jehovah wil hê ons moet doen in situasies waarvoor daar nie ’n spesifieke wet in die Bybel is nie? Gee ’n voorbeeld.

8 Maar as ons Jehovah se hart bly wil maak, moet ons meer doen as om net sy gebooie te gehoorsaam. Hy het ons nie ’n lang lys wette vir elke situasie in die lewe gegee nie. Soms sal daar dus nie ’n spesifieke wet in die Bybel wees wat vir ons sê wat om te doen nie. Hoe kan ons dan goeie besluite neem? (Efesiërs 5:17). Jehovah het vir ons beginsels in die Bybel gegee. Beginsels is basiese waarhede wat ons leer hoe Jehovah dinge beskou. En terwyl ons die Bybel lees, leer ken ons Jehovah as ’n Persoon. Ons leer hoe hy dink, en ons leer watter dinge hy liefhet en watter dinge hy haat. – Lees Psalm 97:10; Spreuke 6:16-19; sien Eindnota 1.

9 Wat kan ons byvoorbeeld help om te besluit waarna ons op die TV of op die Internet sal kyk? Jehovah sê nie vir ons presies wat ons moet doen nie. Maar die beginsels wat hy ons gee, sal ons help om goeie besluite te neem. Baie van vandag se vermaak is vol geweld en seks. In die Bybel sê Jehovah vir ons dat hy ‘elkeen haat wat geweld liefhet’ en dat hy ‘seksueel onsedelike mense sal oordeel’ (Psalm 11:5; Hebreërs 13:4). Hoe kan hierdie beginsels ons help om goeie besluite te neem? As ons weet dat Jehovah iets haat of iets as onsedelik beskou, moet ons dit vermy.

10, 11. Hoekom gehoorsaam ons Jehovah?

10 Hoekom gehoorsaam ons Jehovah? Ons doen dit nie net omdat ons bang is dat ons gestraf sal word of omdat ons die gevolge van slegte besluite wil vermy nie (Galasiërs 6:7). Nee, ons gehoorsaam Jehovah omdat ons vir hom lief is. Net soos kinders hulle pa wil bly maak, wil ons ons hemelse Vader bly maak. Daar is niks beters as om te weet dat ons Jehovah se goedkeuring het nie! – Psalm 5:12; Spreuke 12:2; sien Eindnota 2.

11 Ons is nie net gehoorsaam aan Jehovah wanneer dit vir ons maklik is of wanneer ons geen ander keuse het nie. En ons kies nie watter van sy wette en standaarde ons sal volg en watter nie (Deuteronomium 12:32). Ons gehoorsaam hom in alles, net soos die psalmis wat gesê het: “Ek vind vreugde in u gebooie, ja, ek is lief vir hulle” (Psalm 119:47; Romeine 6:17). Ons wil soos Noag wees, wat sy liefde vir Jehovah getoon het deur alles te doen wat Jehovah hom beveel het. Die Bybel sê van Noag: “Hy het net so gedoen” (Genesis 6:22). Wil jy hê dat Jehovah dit van jou moet sê?

12. Hoe kan ons Jehovah se hart bly maak?

12 Hoe voel Jehovah wanneer ons hom gehoorsaam? Ons ‘maak sy hart bly’ (Spreuke 11:20; 27:11). Dink net! Ons maak die Skepper van die heelal gelukkig wanneer ons hom gehoorsaam. Maar hy dwing ons nooit om gehoorsaam te wees nie. Hy het ons vrye wil gegee. Dit beteken dat ons die vryheid het om te kies of ons die regte of die verkeerde ding wil doen. Jehovah wil hê dat ons liefde vir hom ons moet beweeg om goeie besluite te neem sodat ons die beste lewe kan hê wat daar is. – Deuteronomium 30:15, 16, 19, 20; sien Eindnota 3.

‘SY GEBOOIE IS NIE SWAAR NIE’

13, 14. Hoe weet ons dat God se gebooie nie te moeilik is om te gehoorsaam nie? Gee ’n voorbeeld.

13 Miskien dink ons dat dit net te moeilik is om Jehovah se gebooie te gehoorsaam of dat dit ons vryheid wegneem. Maar die Bybel sê duidelik: ‘Sy gebooie is nie swaar nie’ (1 Johannes 5:3). Die Griekse woord wat hier met “swaar” vertaal is, word in ander Bybeltekste gebruik vir onredelike reëls of om “wrede” mense te beskryf wat ander probeer beheer of seermaak (Matteus 23:4; Handelinge 20:29, 30). Die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (1983) stel dit so: “Sy gebooie is . . . nie moeilik om te gehoorsaam nie.” Jehovah is altyd redelik in wat hy van ons vra.

14 Stel jou voor dat jy ’n vriend help wat na ’n ander huis toe trek. Hy het al sy goed in bokse gepak. Party van die bokse is lig en maklik om te dra, maar ander is so swaar dat twee mense dit moet optel. Sal jou vriend jou vra om ’n baie swaar boks alleen op te tel? Natuurlik nie! Hoekom nie? Want hy wil nie hê dat jy jou moet seermaak nie. Soos daardie vriend sal Jehovah ons nooit vra om iets te doen wat vir ons te moeilik is nie (Deuteronomium 30:11-14). Jehovah verstaan ons goed. “Hy weet goed hoe ons gevorm is, en hy hou in gedagte dat ons stof is.” – Psalm 103:14.

15. Hoekom kan ons seker wees dat Jehovah se gebooie tot ons voordeel is?

15 Moses het vir die nasie Israel gesê dat dit ‘altyd met hulle goed sou gaan en dat hulle sou bly lewe’ as hulle Jehovah se gebooie gehoorsaam (Deuteronomium 5:28-33; 6:24). Dit is ook vandag die geval. Enigiets wat Jehovah ons vra om te doen, sal ons lewe verbeter. (Lees Jesaja 48:17.) Ons Vader, Jehovah, weet altyd wat vir ons goed is (Romeine 11:33). Die Bybel sê vir ons: “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Dit beteken dat alles wat Jehovah sê en doen, op liefde gebaseer is.

16. Hoe weet ons dat ons gehoorsaam kan wees, hoewel ons onvolmaak is en in ’n goddelose wêreld lewe?

16 Dit is nie altyd vir ons maklik om God te gehoorsaam nie. Ons lewe in ’n goddelose wêreld wat in die mag van die Duiwel is, en hy probeer mense beïnvloed om te doen wat sleg is (1 Johannes 5:19). Ons moet ook teen ons eie onvolmaakte gedagtes en gevoelens stry, want dit kan veroorsaak dat ons ongehoorsaam aan God word (Romeine 7:21-25). Maar ons liefde vir Jehovah gee ons die krag om te doen wat reg is. Hy sien hoe hard ons probeer om hom te gehoorsaam, en hy gee ons sy kragtige heilige gees om ons te help (1 Samuel 15:22, 23; Handelinge 5:32). Heilige gees help ons om eienskappe te ontwikkel wat dit vir ons makliker maak om God te gehoorsaam. – Galasiërs 5:22, 23.

17, 18. (a) Wat sal ons in hierdie boek leer? (b) Wat sal ons in die volgende hoofstuk bespreek?

17 In hierdie boek sal ons leer hoe ons moet lewe om Jehovah se goedkeuring te hê. Ons sal leer hoe om sy beginsels en sedelike standaarde in ons eie lewe toe te pas. Onthou dat Jehovah ons nooit dwing om hom te gehoorsaam nie. As ons kies om gehoorsaam te wees, sal ons lewe verbeter en sal ons ’n wonderlike toekoms hê. En die belangrikste is dat ons deur ons gehoorsaamheid vir God wys hoe lief ons vir hom is. – Sien Eindnota 4.

18 Om ons te help om te weet wat reg en wat verkeerd is, het Jehovah vir elkeen van ons ’n gewete gegee. As ons ons gewete oplei, kan dit ons help om ‘sy gebooie te gehoorsaam’. Maar wat is ons gewete, en hoe kan ons dit oplei? Kom ons kyk.