Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 4

Hoekom moet ons gesag respekteer?

Hoekom moet ons gesag respekteer?

“Eer alle soorte mense, wees lief vir die hele gemeenskap van broers, vrees God, eer die koning.” – 1 PETRUS 2:17.

1, 2. (a) Wie se leiding moet ons volg? (b) Watter vrae sal ons in hierdie hoofstuk bespreek?

TOE jy ’n kind was, was daar seker tye wat jou ouers jou gevra het om iets te doen wat jy dalk nie wou doen nie. Jy was lief vir jou ouers en het geweet dat jy aan hulle gehoorsaam moet wees. Maar soms wou jy dalk nie gehoorsaam wees nie.

2 Ons weet dat Jehovah, ons Vader, vir ons lief is. Hy sorg vir ons en maak seker dat ons alles het wat ons nodig het om die lewe te geniet. Hy gee ons die leiding wat ons nodig het om suksesvol te wees. En soms gebruik hy ander mense om ons leiding te gee. Ons moet Jehovah se gesag respekteer (Spreuke 24:21). Maar hoekom is dit soms vir ons moeilik om leiding te aanvaar? Hoekom vra Jehovah ons om leiding te volg? En hoe wys ons dat ons sy gesag respekteer? – Sien Eindnota 9.

HOEKOM IS DIT MOEILIK?

3, 4. (a) Hoe het mense onvolmaak geword? (b) Hoekom kan dit vir ons moeilik wees om leiding van ander te aanvaar?

3 Mense is geneig om opstandig te wees. Dit is die geval vandat die eerste man en vrou, Adam en Eva, gesondig het. Hulle was volmaak toe hulle geskep is, maar hulle het teen God se gesag in opstand gekom. Van toe af word mense in onvolmaaktheid gebore. Dit is een rede waarom dit vir ons moeilik kan wees om leiding van Jehovah en van ander mense te aanvaar. Nog ’n rede is dat dié wat Jehovah gebruik om ons leiding te gee, ook onvolmaakte mense is. – Genesis 2:15-17; 3:1-7; Psalm 51:5; Romeine 5:12.

4 Omdat ons onvolmaak is, is ons geneig om trots te wees. Trots maak dit vir ons moeilik om leiding te aanvaar. Byvoorbeeld, in die ou tyd het Jehovah Moses gekies om Sy volk, Israel, te lei. ’n Man met die naam Korag, wat Jehovah jare lank gedien het, het trots geword en was baie disrespekvol teenoor Moses. Al het Moses God se volk gelei, was hy nie ’n trotse man nie. Die Bybel sê dat hy die nederigste man was wat in daardie tyd gelewe het. Maar Korag het geweier om Moses se leiding te aanvaar. Hy het selfs ’n groot groep mense oortuig om ook teen Moses in opstand te kom. Wat het met Korag en die ander opstandige mense gebeur? Hulle het hulle lewe verloor (Numeri 12:3; 16:1-3, 31-35). Daar is baie voorbeelde in die Bybel wat ons leer dat trots gevaarlik is. – 2 Kronieke 26:16-21; sien Eindnota 10.

5. Hoe het party mense hulle mag misbruik?

5 Jy het dalk al gesien dat mense wat mag het, dikwels geneig is om dit te misbruik. Daar is baie voorbeelde hiervan in die geskiedenis. (Lees Prediker 8:9.) Saul was byvoorbeeld ’n goeie en nederige man toe Jehovah hom gekies het om die koning van Israel te wees. Maar Saul het toegelaat dat trots en jaloesie in sy hart wortelskiet, en dit het veroorsaak dat hy Dawid, ’n onskuldige man, vervolg het (1 Samuel 9:20, 21; 10:20-22; 18:7-11). Later het Dawid koning geword, en hy was een van die beste konings wat Israel ooit gehad het. Maar selfs Dawid het later sy mag misbruik. Hy het seksuele omgang gehad met Batseba, die vrou van ’n man met die naam Uria. Daarna het hy sy sonde probeer wegsteek deur te reël dat Uria in die oorlog sterf. – 2 Samuel 11:1-17.

HOEKOM ONS JEHOVAH SE GESAG RESPEKTEER

6, 7. (a) Wat beweeg ons liefde vir Jehovah ons om te doen? (b) Hoe kan ons Jesus se voorbeeld van gehoorsaamheid navolg?

6 Ons is liewer vir Jehovah as vir enigiets of enigiemand anders. Daarom respekteer ons sy gesag en wil ons sy hart bly maak. (Lees Spreuke 27:11; Markus 12:29, 30.) Van Adam en Eva se tyd af wou Satan nie hê dat mense Jehovah se gesag moet respekteer nie. Die Duiwel wil hê dat ons moet dink dat Jehovah nie die reg het om vir ons te sê wat om te doen nie. Maar ons weet dat dit ’n leuen is. Ons stem saam met die volgende woorde: “U is waardig, Jehovah ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep.” – Openbaring 4:11.

7 Toe jy ’n kind was, het jy seker geleer dat jy jou ouers moet gehoorsaam selfs wanneer jy dit nie wou doen nie. Net so kan dit soms vir knegte van Jehovah moeilik wees om gehoorsaam te wees. Maar omdat ons Jehovah liefhet en respekteer, doen ons ons bes om hom te gehoorsaam. Jesus het vir ons die voorbeeld gestel. Hy het Jehovah gehoorsaam selfs wanneer dit nie maklik of gerieflik was om dit te doen nie. Daarom het hy vir sy Vader gesê: “Laat nie my wil nie, maar u wil plaasvind.” – Lukas 22:42; sien Eindnota 11.

8. Wat is ’n paar maniere waarop Jehovah vir ons leiding gee? (Sien die venster “ Luister na raad”.)

8 Vandag gee Jehovah vir ons leiding op verskillende maniere. Hy het byvoorbeeld vir ons die Bybel gegee. Hy het ook vir ons die ouermanne in die gemeente gegee. Ons wys dat ons Jehovah se gesag respekteer as ons die persone respekteer wat hy gebruik om ons te lei. As ons hulle hulp verwerp, is dit amper asof ons Jehovah verwerp. Toe die Israeliete Moses verwerp het, was dit vir Jehovah ’n baie ernstige saak. Vir Jehovah was dit asof hulle Hom verwerp het. – Numeri 14:26, 27; sien Eindnota 12.

9. Hoe sal liefde ons beweeg om leiding te volg?

9 As ons gesag respekteer, wys dit ook dat ons lief is vir ons broers en susters. Dink aan hierdie voorbeeld: Wanneer ’n natuurramp plaasvind, sal ’n reddingspan gewoonlik gestuur word om te help. Om soveel mense as moontlik te red, moet daar iemand wees wat die werk organiseer. En die ander spanlede moet die instruksies volg. Maar wat sal gebeur as een van hulle nie die instruksies volg nie en dinge op sy eie manier doen? Al bedoel hy goed, kan dit probleme vir sy spanmaats veroorsaak. Hulle kan selfs ernstig beseer word. Net so kan dit vir ander probleme veroorsaak as ons nie gehoorsaam is aan Jehovah en die mense aan wie hy gesag gegee het nie. Maar wanneer ons aan Jehovah gehoorsaam is, wys ons dat ons lief is vir ons broers en dat ons Jehovah se reëling respekteer. – 1 Korintiërs 12:14, 25, 26.

10, 11. Wat gaan ons nou bespreek?

10 Enigiets wat Jehovah ons vra om te doen, is tot ons voordeel. As ons gesag respekteer in ons gesin, in die gemeente en wanneer ons met regeringsamptenare te doen het, vind almal daarby baat. – Deuteronomium 5:16; Romeine 13:4; Efesiërs 6:2, 3; Hebreërs 13:17.

11 As ons verstaan hoekom Jehovah wil hê dat ons aan ander respek moet toon, sal dit makliker wees om dit te doen. Kom ons bespreek hoe ons op drie gebiede respek aan ander kan toon.

RESPEK IN DIE GESIN

12. Hoe kan ’n man wys dat hy gesag respekteer?

12 Jehovah het die gesinsreëling ingestel en het aan elke gesinslid ’n rol gegee. As elke gesinslid verstaan wat Jehovah van hom of haar verwag, sal die gesinsreëling goed werk en sal die hele gesin daarby baat vind (1 Korintiërs 14:33). Jehovah het die man die hoof van die gesin gemaak. Dit beteken dat Jehovah van hom verwag om vir sy gesin te sorg en om op ’n liefdevolle manier leiding te gee aan sy vrou en kinders. Jehovah hou ’n man dus verantwoordelik vir die manier waarop hy vir hulle sorg. ’n Christenman is liefdevol en behandel sy gesin soos Jesus die gemeente behandel. As ’n man dit doen, wys hy dat hy Jehovah respekteer. – Efesiërs 5:23; sien Eindnota 13.

As ’n pa goed na sy gesin omsien, volg hy Jesus na

13. Hoe kan ’n vrou wys dat sy gesag respekteer?

13 ’n Christenvrou het ook ’n belangrike en eerbare rol. Sy ondersteun haar man se pogings om ’n goeie gesinshoof te wees. Sy het die verantwoordelikheid om haar man te help om die kinders op te lei. Een manier waarop sy haar kinders leer om respekvol te wees, is deur haar eie voorbeeld (Spreuke 1:8). Sy respekteer haar man en ondersteun sy besluite. Selfs as sy nie met hom saamstem oor iets nie, verduidelik sy haar gevoelens op ’n liefdevolle en respekvolle manier. As ’n Christenvrou se man nie ’n Getuie is nie, kan dit vir haar baie moeilik wees. Maar as sy aanhou om haar man met liefde en respek te behandel, kan dit hom beweeg om Jehovah te leer ken en te aanbid. – Lees 1 Petrus 3:1.

14. Hoe kan kinders wys dat hulle gesag respekteer?

14 Kinders is vir Jehovah kosbaar, en hulle het beslis beskerming en leiding nodig. As kinders gehoorsaam is aan hulle ouers, maak dit hulle ouers baie bly. Nog belangriker, as hulle gehoorsaam is, wys hulle dat hulle Jehovah respekteer en maak hulle sy hart bly (Spreuke 10:1). In baie gesinne word kinders deur net een ouer grootgemaak. Dit kan vir die ouer sowel as die kinders baie moeilik wees. Maar as die kinders gehoorsaam is en hulle ma of pa ondersteun, sal hulle ’n gelukkiger gesinslewe hê. Geen gesin is volmaak nie, maar elke gesin kan gelukkiger wees as elkeen in die gesin Jehovah se leiding volg. So verheerlik hulle Jehovah, die Een wat die gesinsreëling ingestel het. – Efesiërs 3:14, 15.

RESPEK IN DIE GEMEENTE

15. Hoe kan ons wys dat ons gesag in die gemeente respekteer?

15 Jehovah lei ons deur middel van die Christengemeente, en hy het Jesus volle gesag daaroor gegee (Kolossense 1:18). En Jesus het “die getroue en verstandige slaaf” die verantwoordelikheid gegee om na God se volk op aarde om te sien (Matteus 24:45-47). Vandag is “die getroue en verstandige slaaf” die Bestuursliggaam. Die Bestuursliggaam help ons om ons geloof sterk te hou deur op die regte tyd te voorsien wat ons nodig het. Ouermanne, bedieningsknegte en kringopsieners gee ondersteuning aan gemeentes regoor die wêreld en ontvang leiding van die Bestuursliggaam. Al hierdie broers het die verantwoordelikheid om na ons om te sien. Jehovah hou hulle verantwoordelik vir hoe hulle hierdie toewysing uitvoer. Wanneer ons hierdie manne respekteer, wys ons dat ons Jehovah respekteer. – Lees 1 Tessalonisense 5:12; Hebreërs 13:17; sien Eindnota 14.

16. Hoekom kan ons sê dat ouermanne en bedieningsknegte deur die heilige gees aangestel word?

16 Ouermanne en bedieningsknegte help die gemeente om verenig en getrou te bly. Soos ons almal is hulle onvolmaak. Maar hoekom kan daar gesê word dat hulle deur die heilige gees aangestel word? Wel, hierdie broers moet aan die vereistes voldoen wat in die Bybel gevind word (1 Timoteus 3:1-7, 12; Titus 1:5-9). Jehovah het sy heilige gees gebruik om Bybelskrywers te inspireer om hierdie vereistes neer te skryf. En die ouermanne vra Jehovah vir sy heilige gees wanneer hulle bespreek wie as ’n ouerman of bedieningskneg aangestel moet word. Dit is duidelik dat die gemeentes deur Jesus en Jehovah gelei word (Handelinge 20:28). Die manne wat aangestel is om ons te ondersteun en na ons om te sien, is gawes van God. – Efesiërs 4:8.

17. Wat moet ’n suster soms doen om te wys dat sy gesag respekteer?

17 Soms is daar nie ’n ouerman of ’n bedieningskneg wat na ’n toewysing in die gemeente kan omsien nie. ’n Ander gedoopte broer kan in so ’n geval help, maar as daar nie een beskikbaar is nie, sal ’n suster dalk ’n taak moet verrig wat gewoonlik deur ’n gedoopte broer verrig word. As dit die geval is, moet sy haar kop bedek, dalk met ’n serp of ’n hoed (1 Korintiërs 11:3-10). So wys sy dat sy respek het vir Jehovah se hoofskapreëling, in die gesin sowel as in die gemeente. – Sien Eindnota 15.

RESPEK VIR REGERINGSAMPTENARE

18, 19. (a) Wat leer ons uit Romeine 13:1-7? (b) Hoe wys ons dat ons regerings respekteer?

18 Vandag laat Jehovah regerings toe om ’n mate van gesag te hê, en ons moet hulle respekteer. Hulle organiseer sake in die land en voorsien basiese dienste aan mense. Christene is gehoorsaam aan die instruksies in Romeine 13:1-7. (Lees.) Ons respekteer “die hoër owerhede” en gehoorsaam die wette van die land of plek waar ons woon. Hierdie wette kan ons gesin, besigheid of besittings raak. Ons betaal byvoorbeeld belasting en voorsien inligting wat die regering vereis. Maar wat moet ons doen as die regering ons vra om iets te doen wat teen God se wette is? Die apostel Petrus het gesê: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.” – Handelinge 5:28, 29.

19 As ons te doen het met ’n regeringsamptenaar, soos ’n regter of ’n polisieman, moet ons altyd respekvol wees. Jong Christene toon respek vir hulle onderwysers en ander personeel by die skool. By die werk toon ons respek vir ons werkgewer, selfs as die ander werkers dit nie doen nie. As ons dit doen, volg ons die apostel Paulus na, wat respekvol was teenoor regeringsamptenare, al was dit soms moeilik (Handelinge 26:2, 25). Selfs as ander ons sleg behandel, bly ons respekvol. – Lees Romeine 12:17, 18; 1 Petrus 3:15.

20, 21. Wat kan gebeur as ons aan ander respek toon?

20 Regoor die wêreld toon mense al hoe minder respek vir ander. Maar Jehovah se volk is anders. Ons wil almal respekteer. Ons doen wat die apostel Petrus sê: “Eer alle soorte mense” (1 Petrus 2:17). Wanneer ons ander respekteer, let hulle dit op. Jesus het gesê: “Julle [moet] julle lig voor mense laat skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, kan verheerlik.” – Matteus 5:16.

21 As ons respek toon in die gesin, in die gemeente en op ander gebiede in die lewe, kan ons goeie voorbeeld ander beweeg om meer van Jehovah te wil leer. En deur respek vir ander te toon, toon ons respek vir Jehovah. Dit maak Jehovah se hart bly en wys vir hom dat ons hom liefhet.