Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 10

Die huwelik – ’n Gawe van God

Die huwelik – ’n Gawe van God

“’n Driedubbele tou kan nie maklik gebreek word nie.” – PREDIKER 4:12.

1, 2. (a) Watter soort huwelik wil ’n pasgetroude paartjie hê? (b) Watter vrae sal ons in hierdie hoofstuk bespreek?

OP HULLE troudag straal die bruid en bruidegom van vreugde. Hulle is opgewonde en sien uit na ’n wonderlike lewe saam. Hulle hoop dat hulle ’n lang en gelukkige huwelik sal hê.

2 Maar al begin baie huwelike goed, bly dit ongelukkig nie so nie. ’n Paartjie het God se leiding nodig as hulle ’n lang en gelukkige huwelik wil hê. Kom ons bespreek dus die Bybel se antwoord op die volgende vrae: Wat is ’n paar voordele van die huwelik? Hoe kan jy ’n goeie huweliksmaat kies? Hoe kan jy ’n goeie huweliksmaat wees? En wat kan jou help om ’n sukses van die huwelik te maak? – Lees Spreuke 3:5, 6.

MOET EK TROU?

3. Dink jy dat ’n mens moet trou om gelukkig te wees? Verduidelik.

3 Party dink dat ’n mens net gelukkig kan wees as jy getroud is. Maar dit is nie waar nie. Jesus het gesê dat die ongetroude lewe ’n gawe kan wees (Matteus 19:11, 12). En die apostel Paulus het gesê dat ongetroude mense sekere voordele geniet (1 Korintiërs 7:32-38). Maar jy moet self besluit of jy wil trou. Jy moenie trou omdat jou vriende, familie of kultuur druk op jou plaas om te trou nie.

4. Wat is ’n paar voordele van ’n goeie huwelik?

4 Die Bybel sê dat die huwelik ook ’n gawe van God is en dat dit sekere voordele het. Jehovah het van die eerste man Adam gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek gaan vir hom ’n helper maak, ’n maat wat by hom pas” (Genesis 2:18). Jehovah het Eva geskep as ’n vrou vir Adam, en hulle het die eerste mensegesin geword. As ’n paartjie kinders het, moet hulle huwelik ’n stabiele omgewing skep waarin hulle hulle kinders kan grootmaak. Maar om kinders te hê, is nie die enigste doel van die huwelik nie. – Psalm 127:3; Efesiërs 6:1-4.

5, 6. Hoe kan die huwelik soos “’n driedubbele tou” wees?

5 Koning Salomo het geskryf: “Twee is beter as een, want hulle het ’n goeie beloning vir hulle harde werk. Want as een van hulle val, kan die ander sy maat ophelp. Maar wat sal gebeur met die een wat val as hy niemand het om hom op te help nie? . . . En ’n driedubbele tou kan nie maklik gebreek word nie.” – Prediker 4:9-12.

6 Wanneer ’n man en vrou mekaar help, vertroos en beskerm, ondervind hulle die hegste vriendskap wat tussen twee mense kan bestaan. Liefde kan ’n huwelik sterk maak, maar die huwelik sal selfs sterker word as die man en vrou Jehovah aanbid. Dan kan hulle huwelik soos “’n driedubbele tou” word – ’n tou met drie stringe wat styf inmekaargedraai is. So ’n tou is baie sterker as ’n tou met net twee stringe. ’n Huwelik sal sterk wees as Jehovah deel is daarvan.

7, 8. Watter raad het Paulus oor die huwelik gegee?

7 Nadat ’n paartjie getrou het, kan hulle mekaar se natuurlike seksuele begeertes bevredig (Spreuke 5:18). Maar as iemand net trou om hierdie begeertes te bevredig, sal hy of sy dalk nie ’n huweliksmaat wyslik kies nie. Daarom sê die Bybel dat dié wat wil trou, moet wag totdat hulle “verby die bloei van die jeug is”, die stadium in die lewe wanneer seksuele begeertes baie sterk is (1 Korintiërs 7:36). Dit is beter om te wag totdat hierdie begeertes nie meer so sterk is nie. Dan kan ’n mens helderder dink en ’n beter keuse maak. – 1 Korintiërs 7:9; Jakobus 1:15.

8 As jy daaraan dink om te trou, moet jy realisties wees en besef dat elke huwelik uitdagings sal hê. Paulus het gesê dat dié wat trou, ‘probleme sal ondervind’ (1 Korintiërs 7:28). Selfs die sterkste huwelik sal deur moeilike tye gaan. As jy besluit dat jy wil trou, moet jy jou huweliksmaat dus wyslik kies.

MET WIE MOET EK TROU?

9, 10. Wat sal gebeur as jy met iemand trou wat Jehovah nie aanbid nie?

9 Hou hierdie belangrike Bybelbeginsel in gedagte wanneer jy ’n huweliksmaat kies: “Moenie onder ’n ongelyke juk kom saam met ongelowiges nie” (2 Korintiërs 6:14). ’n Juk is ’n stuk hout wat op die nek van twee diere geplaas word sodat hulle ’n landery saam kan bewerk. ’n Boer sal nie twee diere onder een juk plaas as die een dier baie groter of sterker is as die ander nie. Dit sal wreed wees, want albei diere sal swaarkry. Net so sal ’n huwelik tussen iemand wat Jehovah aanbid en iemand wat hom nie aanbid nie, waarskynlik tot baie probleme lei. Daarom gee die Bybel ons die wyse raad om “net in die Here” te trou. – 1 Korintiërs 7:39.

10 Party Christene het al gevoel dat hulle eerder met iemand sal trou wat Jehovah nie aanbid nie as om alleen te wees. Maar as ons die Bybel se raad ignoreer, lei dit dikwels tot pyn en hartseer. As aanbidders van Jehovah is ons diens aan hom die belangrikste ding in ons lewe. Hoe sou jy voel as jy nie die belangrikste ding in jou lewe met jou huweliksmaat kan deel nie? Baie het besluit om eerder ongetroud te bly as om met iemand te trou wat nie vir Jehovah lief is nie en hom nie dien nie. – Lees Psalm 32:8.

11. Hoe kan jy ’n huweliksmaat wyslik kies?

11 Beteken dit dat enigiemand wat Jehovah aanbid, ’n goeie huweliksmaat vir jou sal wees? Nee. As jy graag wil trou, moet jy iemand soek van wie jy baie hou en met wie jy goed oor die weg kom. Wag totdat jy iemand vind wat dieselfde doelwitte as jy het en wat Jehovah se diens eerste stel. Daar is nuttige raad oor die huwelik in die publikasies wat voorsien word deur die getroue slaaf. Neem tyd om dit te lees en daaroor na te dink. – Lees Psalm 119:105.

12. Wat leer ons in die Bybel oor gereëlde huwelike?

12 In party kulture glo mense dat ouers weet wie die beste by hulle kind sal pas, en daarom kies ouers gewoonlik ’n huweliksmaat vir hulle seun of dogter. Dit was ook ’n algemene gebruik in Bybeltye. As ’n familie besluit om hierdie gebruik te volg, kan die Bybel ouers help om te weet na watter eienskappe hulle in ’n huweliksmaat vir hulle kind moet soek. Toe Abraham byvoorbeeld ’n vrou vir sy seun Isak gekies het, was geld of status nie vir hom belangrik nie. Wat vir hom belangrik was, was dat die vrou vir Jehovah lief moet wees. – Genesis 24:3, 67; sien Eindnota 25.

HOE KAN EK VIR DIE HUWELIK VOORBEREI?

13-15. (a) Hoe kan ’n man hom voorberei om ’n goeie huweliksmaat te wees? (b) Hoe kan ’n vrou haar voorberei om ’n goeie huweliksmaat te wees?

13 As jy daaraan dink om te trou, moet jy seker maak dat jy gereed is daarvoor. Miskien voel jy dat jy gereed is, maar dit sal goed wees om te bespreek wat dit werklik beteken om gereed te wees vir die huwelik. Die antwoord sal jou dalk verbaas.

Neem tyd om die Bybel se raad oor die huwelik te lees en daaroor na te dink

14 Die Bybel wys dat mans en vrouens verskillende rolle in die gesin het. Om gereed te wees vir die huwelik, beteken dus nie dieselfde vir ’n man as wat dit vir ’n vrou beteken nie. As ’n man wil trou, moet hy hom afvra of hy gereed is om ’n gesinshoof te wees. Jehovah verwag dat ’n man in sy vrou en kinders se materiële en emosionele behoeftes moet voorsien. Maar sy belangrikste verantwoordelikheid is om die leiding te neem in sy gesin se aanbidding van Jehovah. Die Bybel sê dat ’n man wat nie vir sy gesin sorg nie, “erger [is] as iemand sonder geloof” (1 Timoteus 5:8). ’n Man wat wil trou, moet dus nadink oor hierdie Bybelbeginsel: “Reël eers jou werk wat buite gedoen moet word, en maak alles op die landery gereed. Daarna moet jy jou huis bou.” Met ander woorde: Voordat jy trou, moet jy seker maak dat jy die soort huweliksmaat sal wees wat Jehovah wil hê jy moet wees. – Spreuke 24:27.

15 ’n Vrou wat wil trou, moet haar afvra of sy gereed is vir die verantwoordelikhede wat ’n vrou, en moontlik ook ’n ma, moet nakom. Die Bybel noem ’n paar van die dinge wat ’n goeie vrou doen om na haar man en kinders om te sien (Spreuke 31:10-31). Vandag dink baie mans en vrouens net aan wat ’n huweliksmaat vir hulle kan doen. Maar Jehovah wil hê dat ons moet dink aan wat ons vir ons maat kan doen.

16, 17. Waaroor moet jy nadink as jy graag wil trou?

16 Voordat jy trou, moet jy nadink oor wat Jehovah sê oor die rol van ’n man en ’n vrou in die huwelik. Die feit dat die man die hoof van die gesin is, beteken nie dat hy sy vrou en kinders fisies of emosioneel mag mishandel nie. ’n Goeie gesinshoof volg Jesus na, wat dié onder sy sorg altyd liefdevol behandel (Efesiërs 5:23). ’n Vrou moet dink aan wat dit sal beteken om haar man se besluite te ondersteun en om haar samewerking aan hom te gee (Romeine 7:2). Sy moet haar afvra of sy haar aan ’n onvolmaakte man se hoofskap sal kan onderwerp. As sy voel dat sy nie kan nie, sal sy dalk besluit dat dit beter is om nog nie te trou nie.

17 Mans en vrouens moet meer besorg wees oor hulle maat se geluk as oor hulle eie. (Lees Filippense 2:4.) Paulus het geskryf: “Elkeen van julle moet sy vrou liefhê soos homself, en die vrou moet diep respek vir haar man hê” (Efesiërs 5:21-33). Mans sowel as vrouens het liefde en respek nodig. Maar in die huwelik is dit veral belangrik dat ’n man weet dat sy vrou hom respekteer en dat ’n vrou weet dat haar man haar liefhet.

18. Hoekom moet paartjies versigtig wees terwyl hulle mekaar beter leer ken?

18 Wanneer ’n paartjie mekaar beter leer ken, is dit vir hulle ’n vreugdevolle tyd. Dit is ook ’n tyd om realisties en eerlik te wees sodat hulle kan besluit of hulle die res van hulle lewe saam wil spandeer. Terwyl hulle mekaar beter leer ken, leer hulle om met mekaar te kommunikeer en probeer hulle uitvind wat regtig in die ander persoon se hart is. Met verloop van tyd sal hulle verhouding sterker word, en dit sal dan net natuurlik wees dat hulle fisies tot mekaar aangetrokke sal voel. Maar hulle moet hierdie gevoelens beheer sodat hulle nie voor hulle troudag iets doen wat onsedelik is nie. Ware liefde sal hulle help om selfbeheersing te hê en sal hulle keer om iets te doen wat hulle verhouding met mekaar en met Jehovah kan laat verswak. – 1 Tessalonisense 4:6.

Wanneer ’n man en ’n vrou mekaar beter leer ken, kan hulle leer om met mekaar te kommunikeer

HOE KAN EK ’N SUKSES VAN MY HUWELIK MAAK?

19, 20. Hoe beskou Christene die huwelik?

19 Baie boeke en flieks eindig met ’n groot, pragtige troue. Maar die troue is eintlik maar net die begin. Jehovah wil hê dat die huwelik ’n permanente reëling moet wees. – Genesis 2:24.

20 Vandag beskou baie die huwelik as ’n tydelike reëling. Dit is maklik om te trou en maklik om te skei. Party dink dat hulle hulle maat moet los en die huwelik moet beëindig as probleme ontstaan. Maar dink aan die Bybel se illustrasie van ’n sterk tou wat bestaan uit drie stringe wat inmekaargedraai is. So ’n tou sal nie eers onder groot druk breek nie. As ons op Jehovah vertrou om ons te help, kan ons huwelik suksesvol wees. Jesus het gesê: “Wat God . . . onder een juk saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.” – Matteus 19:6.

21. Wat sal ’n man en vrou help om mekaar lief te hê?

21 Ons almal het sterk punte en swakhede. Dit is baie maklik om te fokus op die swakhede van ander, veral dié van ons huweliksmaat. As ons dit doen, sal ons nie gelukkig wees nie. Maar as ons op ons maat se goeie eienskappe fokus, kan ons ’n gelukkige huwelik hê. Is dit realisties om so ’n beskouing van ’n onvolmaakte huweliksmaat te hê? Ja! Jehovah weet hoe onvolmaak ons is, en tog fokus hy op ons goeie eienskappe. Sê nou hy het nie! Die psalmis het gesê: “As u boekgehou het van oortredings, o Jah, wie sou dan kon bly staan, o Jehovah?” (Psalm 130:3). Huweliksmaats kan Jehovah navolg deur op die goeie in hulle maat te fokus en deur gou te wees om te vergewe. – Lees Kolossense 3:13.

22, 23. Hoe het Abraham en Sara ’n goeie voorbeeld vir getroude paartjies gestel?

22 Met verloop van tyd kan die huwelik sterker word. Abraham en Sara het ’n lang en gelukkige huwelik gehad. Toe Jehovah vir Abraham gesê het om sy huis in die stad Ur te verlaat, was Sara moontlik meer as 60 jaar oud. Dink hoe moeilik dit vir haar moes gewees het om hulle gerieflike huis te verlaat om in tente te gaan woon. Maar Sara was ’n goeie vriendin en helper vir haar man, en sy het groot respek vir hom gehad. Daarom het sy Abraham se besluite ondersteun en hom gehelp om dit te laat werk. – Genesis 18:12; 1 Petrus 3:6.

23 Al is ’n man en vrou gelukkig getroud, beteken dit nie dat hulle altyd oor alles sal saamstem nie. Toe Abraham eenkeer nie met Sara saamgestem het nie, het Jehovah vir hom gesê: “Luister na haar.” Abraham het dit gedoen, en dinge het goed uitgewerk (Genesis 21:9-13). As jy en jou maat soms nie saamstem nie, moet jy nie mismoedig word nie. Wat belangrik is, is dat julle aanhou om mekaar met liefde en respek te behandel.

Die Bybel moet van die begin af ’n belangrike rol in jou huwelik speel

24. Hoe kan ’n huwelik Jehovah verheerlik?

24 In die Christengemeente is daar duisende paartjies wat gelukkig getroud is. As jy wil trou, moet jy in gedagte hou dat jou keuse van ’n maat een van die belangrikste besluite is wat jy ooit sal neem. Dit sal die res van jou lewe beïnvloed. Daarom moet jy op Jehovah vertrou vir leiding. Dan sal jy jou maat wyslik kan kies, jou goed kan voorberei vir die huwelik en ’n sterk, liefdevolle band met jou huweliksmaat kan vorm wat Jehovah sal verheerlik.