Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 13

Is alle vierings vir God aanvaarbaar?

Is alle vierings vir God aanvaarbaar?

“Hou aan om seker te maak van wat vir die Here aanvaarbaar is.” – EFESIËRS 5:10.

1. Waarvan moet elkeen van ons seker maak, en hoekom?

JESUS het gesê dat “ware aanbidders die Vader met gees en waarheid sal aanbid, want die Vader soek juis sulke mense om hom te aanbid” (Johannes 4:23; 6:44). Elkeen van ons moet aanhou “om seker te maak van wat vir die Here aanvaarbaar is” (Efesiërs 5:10). Dit is nie altyd maklik nie, want Satan probeer ons mislei om dinge te doen waarvan Jehovah nie hou nie. – Openbaring 12:9.

2. Verduidelik wat naby die berg Sinai gebeur het.

2 Hoe probeer Satan ons mislei? Een manier is deur die verskil tussen reg en verkeerd onduidelik te maak. Dink aan wat met die nasie Israel gebeur het toe hulle kamp naby die berg Sinai was. Moses was op die berg, en die volk het vir hom gewag om terug te kom na die kamp toe. Hulle het uiteindelik moeg geword om vir hom te wag en het Aäron gevra om vir hulle ’n god te maak. Hy het ’n goue afgod in die vorm van ’n kalf gemaak. Toe het die volk feesgevier. Hulle het om die kalf gedans en daarvoor neergebuig. Toe hulle voor die kalf neergebuig het, het hulle geglo dat hulle Jehovah aanbid. Maar net omdat die volk dit as ’n “fees vir Jehovah” beskou het, het nie beteken dat dit reg is nie. Jehovah het dit as afgodediens beskou, en daarom het baie van hulle hulle lewe verloor (Eksodus 32:1-6, 10, 28). Wat is die les vir ons? Moenie mislei word nie. “Moet aan niks raak wat onrein is nie”, en laat Jehovah jou leer wat reg is en wat verkeerd is. – Jesaja 52:11; Esegiël 44:23; Galasiërs 5:9.

3, 4. Hoekom is dit goed om uit te vind wat die oorsprong van gewilde vierings is?

3 Toe Jesus op die aarde was, het hy sy apostels opgelei sodat hulle ’n goeie voorbeeld in rein aanbidding sou stel. Ná sy dood het die apostels aangehou om Jehovah se beginsels aan die nuwe dissipels te leer. Maar ná die dood van die apostels het valse onderrigters verkeerde idees en heidense gebruike en vierings in die gemeente ingebring. Hulle het selfs party van hierdie heidense gebruike ander name gegee om dit Christelik te laat lyk (2 Tessalonisense 2:7, 10; 2 Johannes 6, 7). Baie van hierdie vierings is nog steeds gewild, en dit bevorder nog steeds valse leringe en selfs demonisme. * – Openbaring 18:2-4, 23.

4 Regoor die wêreld speel vierings en vakansiedae ’n belangrike rol in mense se lewe. Maar wanneer jy leer hoe Jehovah dinge beskou, sal jy dalk sien dat jy jou beskouing van sekere vierings moet verander. Dit sal dalk nie maklik wees nie, maar jy kan seker wees dat Jehovah jou sal help. Kom ons kyk wat die oorsprong is van party gewilde vierings om uit te vind hoe Jehovah daaroor voel.

WAAR KOM KERSFEES VANDAAN?

5. Watter bewyse is daar dat Jesus nie op 25 Desember gebore is nie?

5 In baie dele van die wêreld word Kersfees op 25 Desember gevier, en die meeste mense dink dat dit die datum is waarop Jesus gebore is. Die Bybel sê nie op watter dag of selfs in watter maand Jesus gebore is nie, maar dit sê wel iets oor watter tyd van die jaar dit was. Lukas het die volgende geskryf oor die tyd toe Jesus in Betlehem gebore is: “Daar [was] herders wat in die oop veld gebly het en hulle kuddes in die nag opgepas het” (Lukas 2:8-11). In Desember is Betlehem koud en reënerig, en dit sneeu selfs. Daarom sou herders nie in die nag buite gewees het met hulle kuddes nie. Wat leer ons hieruit? Jesus is gebore toe die weer aangenaam was, nie in Desember nie. Daar is Bybelse en geskiedkundige bewyse dat hy die een of ander tyd in September of Oktober gebore is.

6, 7. (a) Waar het baie van die gewilde Kersfeesgebruike vandaan gekom? (b) Wat moet ons beweeg om vir iemand ’n geskenk te gee?

6 Waar kom Kersfees vandaan? Dit kom van heidense feeste soos die Romeinse Saturnusfees, ’n viering wat Saturnus, die god van die landbou, vereer het. The Encyclopedia Americana sê oor die Saturnusfees: “[Dit] was ’n Romeinse fees wat in die middel van Desember gevier is, en baie van die feestelike gebruike van Kersfees is daarop gebaseer. Gebruike soos om oordadig fees te vier, geskenke te gee en kerse te brand, kom byvoorbeeld van hierdie viering.” Die verjaarsdag van die Persiese songod Mitra is ook op 25 Desember gevier.

7 Maar die meeste mense wat vandag Kersfees vier, dink nie aan die heidense oorsprong daarvan nie. Vir hulle is Kersfees net ’n tyd om saam met familie te kuier, lekker kos te geniet en geskenke te gee. Ons is natuurlik lief vir ons familie en vriende, en Jehovah wil hê dat ons vrygewig moet wees. Die Bybel sê in 2 Korintiërs 9:7: “God is lief vir iemand wat met vreugde gee.” Jehovah wil nie hê dat ons net op spesiale geleenthede vrygewig moet wees nie. Aanbidders van Jehovah geniet dit om enige tyd van die jaar geskenke te gee en saam met vriende en familie te kuier. Hulle gee omdat hulle ander liefhet, nie omdat hulle iets terug verwag nie. – Lukas 14:12-14.

As ons weet wat die oorsprong van vierings is, kan dit ons help om te weet wat ons moet vermy

8. Het die sterrevoorspellers vir Jesus geskenke gegee toe hy ’n pasgebore baba was? Verduidelik.

8 Baie mense sal sê dat hulle op Kersdag geskenke gee omdat drie wyse manne vir Jesus geskenke gebring het toe hy ’n pasgebore baba in die stal was. ’n Groep mans het Jesus wel besoek en vir hom geskenke gebring. In Bybeltye was dit iets algemeens om vir ’n belangrike persoon geskenke te bring (1 Konings 10:1, 2, 10, 13). Maar het jy geweet dat die Bybel sê dat hierdie manne sterrevoorspellers was, mense wat toorkuns beoefen het en wat Jehovah nie aanbid het nie? En hulle het Jesus nie besoek toe hy ’n pasgebore baba in ’n stal was nie. Hulle het hom later in ’n huis besoek toe hy ’n “jong kind” was. – Matteus 2:1, 2, 11.

WAT SÊ DIE BYBEL OOR VERJAARSDAE?

9. Watter verjaarsdagvierings word in die Bybel genoem?

9 Die dag waarop ’n baba gebore word, is ’n vreugdevolle dag (Psalm 127:3). Maar dit beteken nie dat ons verjaarsdae moet vier nie. Dink hieraan: Net twee verjaarsdagvierings word in die Bybel genoem. Die een was die verjaarsdag van ’n Egiptiese farao en die ander was die verjaarsdag van koning Herodes Antipas. (Lees Genesis 40:20-22; Markus 6:21-29.) Nie een van hierdie heersers het Jehovah gedien nie. En ons lees nêrens in die Bybel dat ’n aanbidder van Jehovah ’n verjaarsdag gevier het nie.

10. Hoe het die vroeë Christene verjaarsdagvierings beskou?

10 The World Book Encyclopedia sê dat die vroeë Christene “die viering van enigiemand se geboorte as ’n heidense gebruik beskou het”. Sulke gebruike is op valse leringe gebaseer. Die eertydse Grieke het byvoorbeeld geglo dat elke persoon beskerm word deur ’n gees wat by sy geboorte teenwoordig was. En hulle het gedink dat daar ’n verbintenis is tussen daardie gees en ’n god wat op dieselfde datum gebore is as die persoon. Verjaarsdae word nie net verbind met heidense idees nie, maar ook met astrologie en sterrevoorspellings.

11. Hoe voel Jehovah oor vrygewigheid?

11 Baie mense voel dat hulle verjaarsdag ’n spesiale dag is waarop ander hulle met liefde en waardering moet behandel. Maar ons kan dwarsdeur die jaar liefde betoon aan ons familie en vriende, en nie net op een spesifieke dag nie. Jehovah wil hê dat ons altyd liefdevol en vrygewig moet wees. (Lees Handelinge 20:35.) Ons is elke dag dankbaar vir die kosbare gawe van lewe wat Jehovah ons gegee het, nie net op ons verjaarsdag nie. – Psalm 8:3, 4; 36:9.

Ware Christene gee aan ander omdat hulle lief is vir hulle

12. Hoe kan ons sterfdag beter wees as ons geboortedag?

12 Prediker 7:1 sê: “’n Goeie naam is beter as goeie olie, en die sterfdag is beter as die geboortedag.” Hoe kan ons sterfdag beter wees as ons geboortedag? Wanneer ons gebore word, het ons nog niks met ons lewe gedoen nie, niks goeds of slegs nie. Maar wanneer ons ons lewe gebruik om Jehovah te dien en goeie dinge vir ander te doen, bou ons “’n goeie naam”, of reputasie, op. En Jehovah sal ons onthou selfs nadat ons gesterf het (Job 14:14, 15). Aanbidders van Jehovah vier nie hulle eie verjaarsdag of Jesus se verjaarsdag nie. Die enigste gebeurtenis wat Jesus ons beveel het om te herdenk, is sy dood. – Lukas 22:17-20; Hebreërs 1:3, 4.

WAT VAN PAASFEES?

13, 14. Waarmee hou Paasfees verband?

13 Baie mense glo dat hulle Jesus se opstanding vier wanneer hulle Paasfees vier. Maar in werklikheid hou die viering van Paasfees verband met die heidense godin Eostre. Sy was die Angel-Saksiese godin van die dagbreek en die lente. The Dictionary of Mythology verduidelik dat sy ook ’n vrugbaarheidsgodin was. Party Paasfeesgebruike hou verband hiermee. Byvoorbeeld, eiers is “simbole van nuwe lewe en opstanding”, sê die Encyclopædia Britannica. En hase word al lank in heidense aanbidding gebruik as vrugbaarheidsimbole. Dit is duidelik dat Paasfees nie verband hou met Jesus se opstanding nie.

14 Hoe voel Jehovah wanneer hy sien dat mense heidense gebruike vermeng met die opstanding van sy Seun? Hy hou natuurlik niks daarvan nie (2 Korintiërs 6:17, 18). En Jehovah het ons nooit gevra om Jesus se opstanding te vier nie.

WAT IS HALLOWEEN?

15. Waar kom Halloween vandaan?

15 Halloween, of Allerheiligeaand, hou verband met hekse, kabouters en spoke. Dit is nie ’n nuwe viering nie. Op die volmaan naaste aan 1 November het die eertydse Kelte van Brittanje en Ierland die fees Samhain gevier. Hulle het geglo dat geeste van die dooies gedurende hierdie fees terugkom aarde toe. Mense het kos en drank uitgesit sodat die geeste hulle nie sou kwaad aandoen nie. Wanneer kinders hulle vandag soos spoke, hekse of iets anders aantrek en van huis tot huis gaan en “trick or treat” sê om vir lekkergoed te vra, besef hulle nie dat hulle eintlik hierdie ou demoniese gebruik volg nie.

GEBRUIKE WAT GEWILD IS BY TROUES

16, 17. Waaraan moet ons dink wanneer ons ’n troue beplan?

16 ’n Troue is ’n vreugdevolle geleentheid. Regoor die wêreld word troues op verskillende maniere gevier. Mense weet gewoonlik nie waar huweliksgebruike vandaan kom nie, en daarom besef hulle nie dat sekere gebruike op heidense idees gebaseer is nie. Maar ’n Christenpaartjie wat hulle troue beplan, wil seker maak dat dit vir Jehovah aanvaarbaar sal wees. As hulle leer waar huweliksgebruike vandaan kom, sal hulle goeie besluite kan neem. – Markus 10:6-9.

17 Party huweliksgebruike is veronderstel om vir die paartjie geluk te bring (Jesaja 65:11). Op party plekke strooi mense byvoorbeeld rys, konfetti of iets soortgelyks oor die bruid en bruidegom. Hulle glo dit sal verseker dat die paartjie kinders, geluk en ’n lang lewe sal hê en dat dit hulle teen bose dinge sal beskerm. Maar Christene sorg dat hulle enige gebruike vermy wat met valse godsdiens te doen het. – Lees 2 Korintiërs 6:14-18.

18. Watter ander Bybelbeginsels is op troues van toepassing?

18 ’n Christenpaartjie wil hê dat hulle troue ’n vreugdevolle en waardige geleentheid moet wees wat almal sal geniet. Gaste wat by ’n Christentroue ’n paar woorde wil sê, sal ongepaste, sarkastiese of disrespekvolle aanmerkings en seksuele sinspelings vermy (Spreuke 26:18, 19; Lukas 6:31; 10:27). ’n Christentroue is nie ’n geleentheid om te ‘spog met ’n mens se besittings’ nie (1 Johannes 2:16). As jy ’n troue beplan, moet jy seker maak dat jy met goeie herinneringe daarop kan terugkyk. – Sien Eindnota 28.

DIE OORSPRONG VAN HEILDRONKE

19, 20. Wat is die oorsprong van heildronke?

19 Om heildronke in te stel, is ’n algemene gebruik by troues en ander sosiale geleenthede. Tydens ’n heildronk spreek een persoon ’n wens uit terwyl die ander hulle glase oplig. Hoe moet Christene hierdie gebruik beskou?

20 Die International Handbook on Alcohol and Culture sê dat heildronke waarskynlik afkomstig is van ’n eertydse heidense gebruik “waartydens ’n heilige vloeistof aan die gode geoffer is”. Dit is gedoen “in ruil vir die vervulling van ’n wens – ’n gebed wat saamgevat word in die woorde ‘lank lewe!’ of ‘op jou gesondheid!’” In die ou tyd het mense hulle bekers opgelig om hulle gode vir ’n seën te vra. Maar dit is nie die manier waarop ons seëninge van Jehovah vra nie. – Johannes 14:6; 16:23.

“JULLE WAT JEHOVAH LIEFHET, HAAT WAT SLEG IS”

21. Watter ander vierings moet Christene vermy?

21 Voordat jy besluit of jy aan ’n viering sal deelneem of nie, moet jy jou afvra: ‘Watter gesindheid en watter soort gedrag bevorder dit?’ Party vierings en karnavalle word gekenmerk deur erotiese danse, onbeheerste drinkery en selfs onsedelikheid. Sulke vierings bevorder dalk homoseksuele en lesbiese lewenstyle of nasionalisme. Kan ons werklik sê dat ons haat wat Jehovah haat as ons aan sulke vierings deelneem? – Psalm 1:1, 2; 97:10; 119:37.

22. Wat kan ’n Christen help om te besluit of hy aan ’n viering sal deelneem of nie?

22 Christene moet sorg dat hulle alle vierings vermy wat nie vir God aanvaarbaar is nie. Die apostel Paulus het geskryf: “Of julle dan nou eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot eer van God.” (1 Korintiërs 10:31; sien Eindnota 29.) Nie alle vierings het natuurlik te doen met onsedelikheid, valse godsdiens of nasionalisme nie. As ’n viering nie met Bybelbeginsels bots nie, sal ons self moet besluit of ons daaraan sal deelneem of nie. Ons moet ook dink aan hoe ons besluit ander sal raak.

VERHEERLIK JEHOVAH DEUR WAT JY SÊ EN DOEN

23, 24. Hoe kan ons aan familielede wat nie Getuies is nie, verduidelik waarom ons nie aan sekere vierings deelneem nie?

23 Jy neem waarskynlik nie meer deel aan vierings wat nie vir Jehovah aanvaarbaar is nie. Maar party van jou familielede wat nie Getuies is nie, dink dalk dat jy nie meer vir hulle lief is nie of nie meer saam met hulle wil kuier nie. Hulle voel dalk dat vakansiedae die enigste tyd is wanneer die familie saam kan kuier. Wat kan jy doen? Daar is baie maniere waarop jy hulle kan verseker dat jy vir hulle lief is en dat hulle vir jou belangrik is (Spreuke 11:25; Prediker 3:12, 13). Jy kan hulle dalk nooi om op ander tye saam met jou te kuier.

24 As jou familielede wil weet waarom sekere vierings nie meer vir jou aanvaarbaar is nie, kan jy navorsing doen in ons publikasies of op jw.org. Daar sal jy inligting kry wat jou sal help om jou redes aan hulle te verduidelik. Moenie by hulle die indruk skep dat jy ’n argument probeer wen of hulle wil dwing om soos jy te dink nie. Help jou familie om te besef dat jy die saak goed ondersoek het voordat jy jou besluit geneem het. Bly kalm en laat jou “woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout”. – Kolossense 4:6.

25, 26. Hoe kan ouers hulle kinders help om lief te wees vir Jehovah se standaarde?

25 Dit is belangrik dat jy goed verstaan wat jou persoonlike redes is waarom jy nie aan sekere vierings deelneem nie (Hebreërs 5:14). Ons doel is om Jehovah gelukkig te maak. En as ons ouers is, moet ons die tyd neem om ons kinders te help om Bybelbeginsels te verstaan en daarvoor lief te wees. Wanneer Jehovah vir hulle ’n werklike persoon word, sal hulle ook sy hart wil bly maak. – Jesaja 48:17, 18; 1 Petrus 3:15.

26 Dit maak Jehovah bly wanneer hy sien dat ons alles doen wat ons kan om hom op die regte manier te aanbid. Dit maak Jehovah ook bly wanneer ons eerlik is (Johannes 4:23). Maar baie mense dink dat dit onmoontlik is om eerlik te wees in hierdie oneerlike wêreld. Is dit waar? Ons sal dit in die volgende hoofstuk bespreek.

^ par. 3 Jy kan inligting oor spesifieke vierings vind in die Watch Tower Publications Index, in die Navorsingsgids vir Jehovah se Getuies en op jw.org.